JULLE HET KRAG ONTVANG...

...MET DIE HEILIGE GEES

 Ds Andrè van den Berg

PINKSTERAFSLUITING 2015

“En hulle was almal verbaas en radeloos en sê die een vir die ander: Wat kan dit tog wees?" - Hand.2:12                              

Mense maak graag ʼn ophef van verjaarsdae, hetsy by wyse van partytjies, gesellige byeenkomste of feeste.  So ook die kerk.  Christene dink jaarliks op 25 Desember aan die menswording van Christus en op Pinksterdag aan die geboorte van die Christenkerk.   Vóór hierdie dag was daar geen formele kerk vir Christene om hulle van die Joodse kerk te kon onderskei nie.

Ná Christus se hemelvaart het Christene hul begin onderskei deur nie meer op die sabbat bymekaar te kom nie, maar op Sondae.  Hulle het, deur die Heilige Gees gelei, Sondae afgesonder omdat Christus op ʼn Sondagoggend uit die dood opgestaan het.  Christene het voortaan ʼn Sondag die dag van die Here genoem.   Johannes getuig as banneling op Patmos dat hy die Openbaring op die dag van die Here (Openb.1:9) ontvang het.

Christene het hulle verder van die Joodse kerk onderskei deur nie meer die pasga te nuttig nie, maar die nagmaal te gebruik soos Christus sy dissipels beveel het.

  Daarbenewens het hulle hul kinders nie meer laat besny nie, maar laat doop soos Christus in sy laaste opdrag beveel het.  Daarom lees ons in die NT van vyf huisgesinne waar die ouers en kinders saam gedoop is.

Deur afskeiding het Christene hul duidelik van die Joodse godsdiens, wat ná die verwerping van Christus as die Messias ʼn valse godsdiens geword het, onderskei.  En dis vandag nog die teken van ware Christenskap - onderskeiding deur afskeiding.   Soos wat Christene hulle destyds van die Joodse kerk afgeskei het, het Protestante eeue later van die ontspoorde Roomse Kerk afgeskei.  So het ons eie kerk vanweë ʼn afskeiding t.w.v. die waarheid ontstaan.

Die eerste Christene het aanvanklik by die Joodse kerk gebly, maar later besef dat hul geloof in Christus net te veel van die tradisionele Jode verskil het.  Hulle was wel volksgenote maar nie meer geesgenote nie!   Christus het gelowiges bymekaar laat kom wat by mekaar hoort en in die lente van die jaar 33nC op ʼn Sondag tydens die Joodse Pinksterfees ʼn nuwe kudde in Jerusalem gevorm.

Hierdie nuwe kudde was baie anders as die Joodse kerk - dit was nuut, innig en dinamies en het met rasse skrede gegroei.  Waarom?  Omdat die Heilige Gees oor hulle vaardig geword het.   Dit word die uitstorting van die Heilige Gees genoem omdat God hierdie nuwe plantjie met sy strome van seën nat gegooi het sodat dit onmiddellik opgeskiet het.   Dink maar aan die reaksie op Petrus se preek daardie dag in die tempel toe 3000 in die hartland van die Joodse godsdiens tot bekering gekom het!

Hierdie nuwe godsdiens het soos ʼn veldbrand versprei en oral waar dit te lande gekom het ʼn vaste bedieningspatroon verkry.   Dit was die vervulling van God se beloftes eeue tevore deur twee profete – Joël en Sagaria.  Joël sê: “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien” (Joël 2:28).  Sagaria sê:  “Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade” (Sag.12:10).

Die Jode van die OT was van hierdie beloftes bewus, maar toe dit nie plaasvind nie, het die meeste van hulle dit vergeet.  Net voor die hemelvaart het dit egter weer opgevlam toe Jesus sê: “...maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea  en Samaria en tot aan die uiterstes van die aarde” (Hand.1:8).

Hierdie fenomenale uitstorting van die Heilige Gees het daardie jaar op die Jode se Pinksterfees plaasgevind.  Die woord pinkster kom van Griekse woord vir 50 pentakosta en was ʼn fees wat 50 dae ná die Paasfees gevier is.  Paasfees was die belangrikste fees omdat die Jode die uittog uit Egipte daarmee herdenk het.

God het dit bestem dat die Joodse Paasfees vir Christene nuwe betekenis sou kry.  Hy het hulle uit die slawerny van die tradisionele Joodse kerk na vryheid in Christus gelei.    Pinksterdag was die geboorteuur van die Christendom maar ook die sterwensuur van Judaïsme.

Die ou verlossingsisteem van redding deur wetsonderhouding was tot niet.   Hierdie ou brug tussen God en mens was nie meer begaanbaar nie en is gesluit.  Die nuwe brug het oor die geloof in Jesus Christus as die Messias-Verlosser geloop: “Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).

Op Pinksterdag is die Heilige Gees met groot krag, geluid en tekens uit die hemel bekend gestel.  Soos wat ʼn baba se geboorte met ʼn geluid aangekondig word, so was dit ook met die kerk die geval.  Die Christendom het ʼn godsdiens omwenteling gebring waarvan almal kennis moes neem.  Die ou pad na die hemel was gesluit en ʼn nuwe is geopen.  Om almal daarvan in kennis te stel, is dit in 14 tale bekend gemaak omdat daar waarskynlik 14 volke op daardie oomblik in die tempel teenwoordig was.

Die doel van hierdie tale word in vers 11 verduidelik: “... ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek” Die boodskap van die nuwe brug was so belangrik dat elkeen dit moes verstaan.  En hoe beter as in sy eie taal?

God het dit bestem dat die uitstorting van die Heilige Gees tydens ʼn groot fees plaasgevind het waar duisende mense byeen was.   Hulle sou elkeen na hul eie land terugkeer en van die wonderlike dinge wat in die tempel gebeur het, vertel.

Almal is egter nie deur die Heilige Gees aangegryp nie.  Sommige het gespot en gesê dat die apostels besope was.   Die spreek in ander tale het vir hulle na ʼn  dronkmansgebabbel geklink.

Benewens die spotters was daar ook talle verslae mense. “En hulle was almal verbaas en radeloos en sê die een vir die ander: Wat kan dit tog wees?” Dis toe dat Petrus na vore gekom het, hy wat eers so bang vir Joodse vervolging was dat hy Jesus drie maal verloën en na die kruisiging agter slot en grendel gaan wegkruip het.  Vervul met die Gees het dié eenvoudige visserman voor almal opgestaan en ʼn preek gelewer soos wat nog nooit in die tempel gehoor is nie.

Die Heilige Gees maak van gelowiges onverskrokke getuies.  En dis die doel van Pinksterdienste - om gelowiges met nuwe krag toe te rus sodat hulle in ʼn Godsvyandige wêreld onverskrokke getuig.  Gelowiges ontvang krag van God om koninkrykswerk op aarde te doen: “...maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea  en Samaria en tot aan die uiterstes van die aarde”.

Die sterk wind wat op Pinksterdag in die tempel gehoor is, sou in figuurlike sin al hoe sterker waai en elke wêrelddeel aanraak.  Dink aan die groot sending-ontwaking eeue later.  Satan het egter nie stilgesit nie, maar ook teenwinde teen die kerk laat aanstorm.  Dink aan die Romeinse vervolgings wat duisende gelowiges se lewens gekos het.  Toe vervolging oorwaai, het Satan ʼn nog sterker wind gestuur – dié van dwaalleer en skyngodsdiens.

Dis hoe die Roomse Kerk ontstaan het – ʼn voorsetting van die ou Babiloniese afgodsdiens met sy beelde en heidense rituele.  Die belangrikste figuur waarom heen alles gedraai het, was Semiramis, die Babiloniese hemelgodin.  Rome het net haar naam na die maagd Maria verander.  Johan Sebastiaan Bach het Semiramis selfs met sy Ave Maria (gebed aan Maria) vereer; ʼn meesterswerk in heidense kleure!

Satan het deur die eeue talle ander teenwinde teen die kerk laat aanstorm soos   filantropisme waar die mens aanbid word, sosialisme, kommunisme, Marxisme, liberalisme ens.  Elkeen het sy eie verwoesting gesaai en miljoene lewens geëis.

Ongeveer 50 jaar gelede is die Christelike kerk deur ʼn wind met orkaansterkte getref – dié van teologiese vrysinnigheid.  Dit het gebeur toe kerklui die sosio-politieke rommel wat Marxiste voor hul kerk afgelaai het by hul kerkdeure ingevee het.  Satan het die kerk, soos vir ʼn Eva van ouds, mislei om gif vir medisyne aan te sien.  Kerke het die skulp behou, maar die pêrel verloor!

Daarom dank ons God vir kerke wat hul nie laat mislei het nie en wat die waarheid liefhet en die suiwer Woord van God vanaf hul kansels verkondig.  Dis die werking van die Heilige Gees.   Soos in die vroeë kerk bring die Heilige Gees nog steeds God se uitverkorenes in kuddes saam.  Maar weet ook dat Satan nie stilsit nie.  Hy lê hom daarop toe om hierdie kuddes op te breek en soek net na die vatkans wat mense hom bied.  Laat ons wat aan die Nagmaal deel het hom geen vatkans bied nie, maar eerder die Here dank vir ons eie kudde en ons lewe aan sy saak wy.

Amen.