U kan hierdie reeks geskryf deur ds Andrè van den Berg lees by Jesus se gelykenisse
Inleiding
Mt.13:10-17
” Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? .... omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie” (:10.11).
Jesus het tydens sy aardse bediening wat slegs drie jaar geduur het baie gepreek en in sy prediking dikwels van gelykenisse gebruik gemaak. Ongelukkig is alles wat Jesus gesê het nie opgeteken nie. Een ding moet ons egter weet – dat dit wat wel opgeteken is, deur die Heilige Gees uitgesoek om is om behoue te bly. En daarvoor moet ons baie dankbaar wees!
ʼn Gelykenis is ʼn baie eenvoudige verhaal wat of by die natuur of die alledaagse menslike lewe aansluit. Die doel daarvan is om groot waarhede te beklemtoon. En dis presies wat Jesus met sy gelykenis-prediking gedoen het – Hy het praktiese lewenslesse met diep geestelike inhoude by wyse van verhale by sy hoorders vasgelê. Mense onthou verhale langer as woorde.
Die mense van die Bybelse tyd was baie goed met gelykenisse vertroud. Dit was destyds al ʼn beproefde vorm van onderrig. Daar is selfs gelykenisse in die OT. In Rigt.9 vertel Jotam vir die inwoners van Sigem ʼn gelykenis van bome wat vir hulself ʼn koning gekies en toe die slegste een gekies het. In 2 Sam.12 vertel die profeet Natan vir Dawid van die ryk man wat die arm man se ooilam geëis en vir sy gaste laat slag het. Daarmee het hy na Dawid verwys wat Uria doelbewus laat sneuwel het om sy vrou, Batseba, te bekom.
Niemand kon egter by Jesus kers vashou wanneer dit by gelykenisse gekom het nie. Met sy gelykenisse het Jesus eerstens die werking van die koninkryk van God op aarde duidelik gemaak en tweedens hoe burgers van hierdie koninkryk dienooreenkomstig moes optree. Jesus se hoorders het die gelykenisse nie onmiddellik gesnap nie. Nie eens die dissipels nie. Daarom het Jesus hulle dikwels eenkant toe geneem om dit te verduidelik: “...en sonder gelykenis het Hy tot hulle nie gespreek nie; maar afsonderlik het Hy vir sy dissipels alles uitgelê” (Mark.4:34).
Die gelykenisse was egter nie altyd ʼn verheldering van groot waarhede nie, maar dikwels ook ʼn bedekking daarvan! Die oorspronklike woord wat in die Grieks sowel as in die Hebreeus vir gelykenis gebruik word, kan met raaisel vertaal word. Om raaisels te kon verstaan, moes mense ʼn sekere begrip van die dinge wat die spreker in gedagte gehad het, verstaan het. Hulle moes basies op dieselfde golflengte as die raaisel-verteller ingestel gewees het. En dit het soms by die dissipels ontbreek.
Let maar net op die eerste gelykenis wat Jesus vertel het – dié van die saaier. Nadat Hy hierdie oënskynlik glashelder gelykenis vertel het, vra die dissipels Hom: ” Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse?”(Mt.13:10). Hulle het glad nie die strekking daarvan verstaan nie en vra Hom waarom Hy van hierdie vorm van onderrig gebruik maak?
Jesus se antwoord was baie meer omvattend as wat die dissipels verwag het. Nadat Hy die doel van sy onderrigmetode verduidelik en ʼn verduideliking van die gelykenis gegee het, gee Hy ook vir hulle die sleutel om voortaan alle toekomstige gelykenisse te verstaan.
Oor die doel waarom Hy van gelykenisse in sy prediking gebruik gemaak het, sê Jesus: “Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie... Daarom spreek Ek met hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor en verstaan nie” (Mt.13:11).
Hiermee is die godspraak van Jes.6:9,10 vervul: “En Hy het gespreek: Gaan sê aan hierdie volk: Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyd deur, maar bemerk nie. Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hulle oë en met hulle ore nie hoor en hulle hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie”.
In Mt.13 sê Jesus dat sommige mense sy gelykenisse nie sal verstaan en nooit tot bekering sal kom nie. Dit bring ons voor die voldonge feit van die Bybelse leer van die uitverkiesing. Jesus het wel aarde toe gekom om te soek, te vind en te red (Luk.19:10). Desondanks is daar mense wat uit vrye wil nie gevind en nie gered wil word nie. En hulle vorm die meerderheid: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Mt.7:13,14).
Verlorenes het geen erg aan Jesus se gelykenisse nie. Vir hulle wat egter gered is en die gelykenisse hoor, is dit ʼn verheldering van die verborgenhede van die koninkryk van die hemele. Dit geestesvoedsel!
In die gelykenisse sien ons hoedat God se tweesnydende swaard aan die werk is. Mense wat besef het dat ʼn gelykenis ʼn dieper betekenis het, het destyds na die tyd afsonderlik na Jesus gegaan om toeligting te bekom. Niemand is ooit teleurgestel van Hom af weg nie. Dink maar aan Nikodemus wat een nag na Jesus gekom het om meer van die wedergeboorte te wete te kom.
Die duidelikste uiteensetting van ʼn gelykenis, was ongetwyfeld die eerste een; dié van die saaier. Daarmee het Jesus die uitwerking wat prediking op mense het, prakties belig. En dis vandag nog net so waar! By hierdie geleentheid het Jesus ook aan sy dissipels die gawe gegee om die daaropvolgende gelykenisse te verstaan. Daarom het Hy net ʼn gelykenis uitgespreek sonder om dit te verklaar. Die dissipels het met ʼn geestelike oor daarna geluister.
Die gelykenisse leer die waarheid van die uitverkiesing baie duidelik. Lynreg teenoor diegene wat die gelykenisse verstaan het, was hulle wat buite is. Baie van hierdie mense is selfs deur die gelykenisse aangegryp sonder dat dit iets aan hulle sieleheil gedoen het. Nadat hulle klaar daarna geluister het, het hulle doodeenvoudig met hul sondige lewens voortgegaan.
Dieselfde ding gebeur vandag nog. Mense hoor die Woord, is selfs gaande oor die prediking daarvan, maar dit verander niks aan hulle lewe nie. Daar is by hulle geen behoefte om hul lewens daarvolgens in te rig nie. Dis soos water van ʼn eend se rug af – die boodskap klou nie vas nie.
Die godspraak van Jes.6 tree hier in werking: “ ... Gaan sê aan hierdie volk: Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyd deur, maar bemerk nie. Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hulle oë en met hulle ore nie hoor en hulle hart nie verstaan".
Wanneer dit by die woorde van Jesus kom, moet jou hart reg wees. Elkeen gehoorsaam die stem van sy eie hart. Desondanks toring die uitverkiesingsgenade bo elke gelykenis uit. Wie nie luister nie, is nie uitverkies nie!
Elke gelykenis is ʼn klop aan die deur van ʼn sondaarshart. In Openb.3:20 sê Jesus: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My”. Jesus se klop word nie ewe geesdriftig beantwoord nie. Dit bring ook skeiding. Sommige maak nie oop nie. Hulle uiteinde word baie duidelik in die gelykenis van die tien maagde uitgespel: “Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop. Maar hy antwoord en sê vir hulle: ek ken julle nie” (Mt.25:11,12).
Wat ʼn belangrike les - as jy die deur van jou hart vir Jesus sluit en jou doof hou as Hy daaraan klop, moet jy nie na jou dood aan sy deur gaan klop nie. Hy gaan nie oopmaak nie! Dis, soos vir die ryk man in Luk.16, te laat: “En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af... En hy roep en sê: Vader Abraham wees my genadig... want ek ly smarte in hierdie vlam” (:23,24).
Waarom is ʼn studie van Jesus se gelykenisse belangrik? Omdat dit praktiese lesse is wat alle terreine van die geloof raak. Dit sê vir gelowiges presies wat Jesus van hulle verwag. Daar is feitlik geen terrein van die geloofslewe wat nie deur ʼn gelykenis aangeraak word nie.
Tegnies kan gelykenisse onder bepaalde hoofde gegroepeer word. Sommige handel oor die koninkryk van die hemele, ander oor die verhouding tussen God en die mens of oor die optrede van mense teenoor mense. Dis alles groot heilswaarhede wat Jesus se wil vir sy kinders toelig. Vir ongelowiges bly elke gelykenis egter ʼn raaisel en die Here Jesus ʼn klip van struikeling.