U kan hierdie reeks geskryf deur ds Andrè van den Berg lees by Jesus se gelykenisse
Die Saaier
Mk. 4:1-9
“ ... wie ore het om te hoor, laat hom hoor”
Oral waar Jesus gegaan het, was daar baie mense by Hom. Dit het aanvanklik by vier begin; twee pare broers - Petrus en Andreas en Johannes en Jakobus. Die Heilige Gees het in hulle harte gewerk om alles waarmee hulle besig was, te los en Jesus te volg. Baie gou het al hoe meer mense Jesus begin volg totdat dit selfs duisende getel het!
Mense het van Jesus gehoor en uit alle dele van die land na Hom gestroom, nuuskierig oor wat Hy sê. Die rede daarvoor is: “...want Hy het hulle geleer soos een wat gesag gehad het, en nie soos die skrifgeleerdes nie” (Mt.7:29). Mense het ervaar dat Jesus baie anders as die kerklui van hulle tyd was – Hy het met gesag gepreek. Dit wat Hy gesê het, was eerstens die waarheid. Tweedens het dit uit sy hart gekom. Dis vandag nog net so waar - nie alle predikers preek met gesag nie.
By geleentheid was die mense wat by die See van Galilea na Jesus kom luister het, so baie, dat Hy in ʼn skuit moes klim en ʼn entjie invaar sodat Hy met almal kon praat. Daar was ook ʼn heuwel in daardie omgewing wat redelik reg af in die see geloop en as ʼn natuurlike amfiteater gedien het. Dit was die plek van die Bergpredikasie: “En toe Hy die skare sien, het Hy op die berg geklim; en nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom gekom; en Hy het sy mond geopen en hulle geleer...” (Mt.5:1,2). Dis die plek waar Jesus die hoorders baie dinge van die koninkryk van die hemele geleer en ʼn hele paar gelykenisse uitgespreek het.
Die gelykenisse is nie chronologies gerangskik nie. Dié van die Saaier word allerweë as die eerste gelykenis uit Jesus se mond beskou. Wat tot hierdie gelykenis aanleiding gegee het, is nie seker nie. Sekere geleerdes reken dat dit in die voorjaar was en ʼn man in die nabyheid besig was om koring te saai. Gevolglik het Jesus hom as voorbeeld gebruik. Ander geleerdes meen weer dat geen mens so ʼn skare sou sien en aanhou saai nie. Hy sou eerder alles los en eers kom hoor wat daar gesê word.
Miskien moet die aanleiding tot hierdie gelykenis eerder in Jesus se gemoed gesoek word. Op daardie tydstip het Hy al so baie gepreek en duisende mense in die omgaan ontmoet. Miskien het Jesus gewonder of sommige van die mense wel na Hom geluister en by sy woorde gebaat het. Was daar enige resultate? Dis ʼn vraag wat by elke Woordverkondiger opkom - bereik ek iets?
In hierdie gelykenis gaan dit egter nie oor die saaier of die saad nie maar oor die grond waarop die saad val. En dis ʼn belangrike klemverskuiwing. Die as waarom heen hierdie hele gelykenis draai, is die gehalte van die grond waarop die saad val- hoe die hoorder van die Woord daarop reageer. Niemand staan neutraal nie. Hy luister, of verwerp die Woord; een van die twee.
Die toneel wat Jesus aan sy hoorders voorhou, was ʼn bekende toneel. ʼn Man saai op sy grond. Driekwart van die saad lewer geen oes op nie; slegs ʼn kwart. Die saaier weet wat hy doen en doen van sy kant af om ʼn goeie oes te verkry. Nietemin gebeur dit dikwels in die heuwelagtige gedeeltes van Galilea dat die saad op plekke val waar dit nie tot wasdom kom nie. Die vrugbare grond is hier en daar tussen ander nuttelose grond. Die saaier kan dit nie met die blote oog onderskei nie. Die opbrengs is al aanduiding. Waar dit in vrugbare bodem val, kom dit tot volle wasdom.
Wat Jesus daarmee bedoel het, was vir die eerste hoorders en die dissipels ʼn raaisel. As Jesus nie die verklaring gegee het nie, was ons besmoontlik vandag nog in die duister oor die werklike betekenis. Eers toe Jesus vir hulle sê dat die saaier die een is wat die Woord verkondig (saai), het hulle sy woorde gesnap.
Maar wat was hierdie woord (boodskap)? Dat die koninkryk van God naby gekom het. Jesus praat hier van die Christenbedeling – ʼn nuwe kerkbedeling. Die sterk klem wat dit ontvang, is veral aan die begin van Jesus se prediking baie opvallend. Jesus sê vir die mense dat die ou manier van kerkhou verby is. Dis met ʼn nuwe bedeling vervang waar die redding van siele nie meer deur wetsonderhouding geskied nie, maar deur genade. Die ou pad na die hemel was te moeilik. Deur Jesus se kruisdood is dit soveel makliker gemaak: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Mk.1:15). Evangelie beteken goeie nuus.
Die saaier saai die woord al val dit nie altyd op vrugbare bodem nie. Toe Jesus die dissipels op hul eerste sendingtog uitstuur, waarsku Hy hulle vroegtydig dat die saad wat hulle gaan saai nie oral vrugbare bodem sal vind nie: “En in watter stad of dorp julle ook mag ingaan, ondersoek wie daarin waardig is... En as iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie huis uit en skud die stof van julle voete af” (Mt.10:11,14).
Die gelykenis sê nie presies wie die saaier is nie. Ons kan egter aanvaar dat dit enigeen is wat die Woord verkondig. Jesus is wel die saaier by uitnemendheid. In die uitvoering van sy taak het Hy goed en bloed op die akker van die wêreld uitgestort en in sy prediking dit duidelik gemaak dat dit elke gelowige se plig is om tot aan die voleinding die saai werk voort te sit. “Verkondig die woord, hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Tim.4:2).
Herhaaldelik ondervind die saaier dat drie uit die vier dele saad wat gesaai is geen oes oplewer nie. Die kwart wat wel sy vrug lewer, is egter voldoende. Die ander driekwart maak hom nie mismoedig nie. Gevolglik staak hy nie sy moeite nie. Die skyn van teenspoed maak hom nie pessimisties nie. Dis die tipe saaiers wat God onder sy volgelinge soek, ook vandag nog met die wekroep: “ ... wie ore het om te hoor, laat hom hoor”.
Let vervolgens op Jesus se klemverskuiwing in sy verklaring van die gelykenis. Die klem verskuif van die saaier na die gehalte van die grond waarin dit beland. En dit weerspieël die effek wat prediking op die hart en lewe van die mens het. Jesus noem vier grondsoorte waaruit ons kan aflei dat daar by die hoorders van die prediking vier uiteenlopende reaksie gevind word. Al vier kom in die eie hart voor. Die gelykenis beskryf nie net die lotgevalle wat die prediking van God se Woord in die wêreld het nie, maar ook in die hart van elke mens waar drie dele maklik verlore gaan.
Prediking vind by die eerste tipe grond volstrek geen ingang nie. Die grond is kliphard. Geen saad doen iets hieraan nie. Vers 15 sê dat hierdie hardheid deur die Satan se toedoen is. “ ... maar sodra hulle dit gehoor het, kom die Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle harte gesaai is” Dit bring ons weer voor die voldonge feit van die leer van die uitverkiesing. Satan verhinder opsetlik dat prediking ingang vind. Satan verhinder nie die saaier om sy werk te doen nie; dit wat hy doen, dra net geen vrug nie.
Die tweede en derde soorte saad is feitlik eenders. Hiermee waarsku Jesus dat die blote aanhoor van die Woord nie genoegsaam is om jou siel te red nie. Dit help nie om Sondag vir Sondag onder die geklank van die Woord te sit, maar jy bekeer jou nie. In die een geval is daar geen diepte nie. Die saad ontkiem te vroegtydig waarna dit gou verdor. Oral waar die prediking van die Woord nie lewensdiepte vind nie, skiet dit belowend op, maar dit hou nie lank nie. Die saad is goed, maar nie die grond nie. ʼn Mens dink hier aan Demas, ʼn jongman wat saam met Paulus gewerk en hom toe verlaat het, terug na die wêreld toe!
In die derde geval verhoed dorings dat die saad sy volle potensiaal bereik. Sekere teoloë verklaar dit as die sorge van die lewe wat sommige mense in die lewe onder kry; iets waarvoor ons baie versigtig moet wees. Satan doen alles in sy vermoë om jou siel van redding af weg te hou. Hy plaas selfs struikelblokke op jou lewenspad soos wat hy met Job gedoen het. Petrus skryf dat Satan soos ʼn brullende leeu rondloop en na mense soek om hul siele te verslind.
Die vierde tipe grond beskryf Lukas as volg: “En wat in die goeie grond val – dit is die wat, nadat hulle dit gehoor het, die woord in ʼn edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra” (Luk.8:15). Wat maak hierdie hoorder anders as die ander drie? Sy hart. Dis ʼn bekeerde hart en van vlees; nie van klip nie. So ʼn hart het ore om te hoor!
Lukas skryf aan hierdie hart drie eienskappe toe – dis edel, goed en volhardend. Teenoor die harde grond van die eerste saad vind saad wat hier val groeikrag in die edel hart, Teenoor die vlak grondlaag oor die rotslaag sowel as die saad wat tussen die doring beland het, lewer dié diep, goeie hart altyd goeie oeste op.
Soos wat goeie grond deeglike voorbereiding vereis, is hierdie hart die resultaat van die werking van die Heilige Gees. Die gelykenis van die saaier is ʼn wekroep aan elkeen van ons se eie adres gerig – bereik jou volle potensiaal vir Christus en sy kerk.
Jesus sê: “Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra...” (Joh.15:8). Hoe dra ʼn mens veel vrug? Deur aan te hou saai. Daarvoor moet ons elke dag ons eie lewe tot beskikking van die hemelse Saaier stel en soos ʼn Jesaja van ouds sê: “Hier is ek, gebruik my” .
Ons sal nooit die omvang van die oes op die regte grond kan bereken nie. Dit gaan alle verwagtings te bowe. Dit lewer altyd ʼn vol skuur van vrug tot seën van die mensdom op. En dis waarmee God ʼn geestelike honger wêreld voed. Jesus sê mos dat die Woord die brood van die lewe is.
Ons moet as God se saaiers volhardend saai al is daar ook nou en dan misoeste. Die volle oes is vir elke saaier in die hiernamaals weggelê. “... wees getrou tot die dood toe en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Openb.2:10).