U kan hierdie reeks geskryf deur ds Andrè van den Berg lees by Jesus se gelykenisse
Die mosterdsaad en suurdeeg
Mt.13:31-33
Sedert die profete byna 3000 jaar gelede van die koms van die Messias begin voorspel het, wag die Joodse volk tot vandag toe nog steeds op Hom. Wat dit so tragies maak, is dat toe die Messias wel gekom het, hulle Hom nie as die verwagte Een aanvaar het nie: “Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie” (Joh.1:11).
Die rede hiervoor is dat die Jode ʼn politieke bevryder verwag het wat die Romeinse owerheid uit Palestina sou verdryf en as koning in Jerusalem gekroon sou word. Toe Jesus geensins aan hierdie verwagting voldoen het nie, het hulle Hom verwerp en selfs doodgemaak. Jesus se optrede was heel anders as wat die Jode van die beloofde Messias verwag het.
Die probleem was dat etlike nuwe volksbewegings destyds op die godsdienstoneel verskyn en op die ou einde op niks uitgeloop het nie. Dit het sommige van Jesus se volgelinge ook aan die Christendom laat twyfel. Was dit nie maar net een daarvan nie? Wed hulle nie op die verkeerde perd nie?
Daarbenewens het die Jesus se harde woorde oor die uitverkiesing baie Jode nie aangestaan nie: “ ... Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie. Hieroor het talle van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie” (Joh.6:65,66). Dis vandag nog vir die Christendom onnatuurlik om gewild te wees.
Jesus het egter diegene wat in die geloof volhard het gereeld bemoedig soos waarvan dié twee gelykenisse getuig. Sy doel met hierdie gelykenisse was om sy volgelinge van die uiteindelike welslae van die Christendom te verseker en aan te moedig om in hul nuutgevonde geloof te volhard.
Albei gelykenisse handel oor die ongelooflike ontwikkelingskrag van die koninkryk van die hemele (Christendom). Al het dit ʼn nietige begin gehad, het dit in iets groots verander Net soos wat die eindproduk van ʼn volwasse boom nie in sy saad as sulks gesien kan word nie, so ook nie die Christendom nie. Dit wat Jesus tydens sy aardse omwandelings geplant het, sou eers in die toekoms volwasse word. Klein aan die begin, groot aan die einde!
Jesus laat die klem op die bykans onwerklikheid van die situasie val - dat so ʼn klein ietsie so ʼn grootse einde kan hê! Hy maak hierdie werklikheid aan die hand van mosterdsaad en suurdeeg vir sy hoorders duidelik.
Die mosterd waarvan Jesus hier praat, was eintlik nie ʼn boom nie, maar eerder ʼn groentesoort. Omdat dit so ʼn geweldige groeikrag gehad het, het die ou Jode bepaal dat dit nie in groentetuine geplant moes word nie, maar op sy eie sodat dit tot ʼn sterk struik kon groei wat daarna deur baie Jode as ʼn boom beskou is. Voëls het selfs in sy takke neste gemaak.
In die geval van die suurdeeg is ʼn groot hoeveelheid meel geneem – drie mate; in vandag se maat ongeveer 18 kg. Die effek wat daardie klein bietjie suurdeeg op hierdie groot maat meel het, is verstommend – dit deursuur die hele baksel.
In beide voorbeelde val die klem op kleinheid aan die begin en die grootheid aan die einde. Dit gaan ook oor iets wat begin is en deurwerkend verloop. Jesus vestig die aandag eers op die sigbare groei van die Christendom en daarna op die onsigbare deurwerkende krag daarvan.
Die Christendom is geplant vir almal om te sien. Dink maar aan die pelgrims in die tempel op Pinksterdag toe die Heilige Gees uitgestort is. Daarna vlam dit orals op soos die talle gemeentes in Klein Asië waarvan ons in die NT lees.
Die mosterdsaad en suurdeeg verwys na die geringe ontstaan van die Christendom by Jesus en sy dissipels. Met hierdie nietige begin het God in mense se lewens ingekom – die Evangelie van redding deur Jesus het soos suurdeeg deurgewerk en resultate verkry. Dit het selfs die hart van ʼn Christenvervolger verander - Paulus.
Luister hoe kragtig getuig hy in 2 Kor.5:17 oor die effek van die suurdeeg in sy lewe: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ʼn nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword”. Christus het nie slegte mense goed kom maak nie, maar dooie mense lewend. Jesus sê in sy Profetiese Rede: “En hierdie Evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ʼn getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mt.24:14). Wat ʼn effek het hierdie suurdeeg nie!
Die Evangelie word hoofsaaklik deur die kerk uitgedra. Uit die onaansienlike oorsprong het dit tot ʼn groot boom ontwikkel en gaan die groei nog steeds voort. Selfs voëls maak daarin nes. Dit spreek van sondaars wat, soos die verlore seun, in die Vaderhuis tuiskom.
“En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels en al die nasies sal daarheen toestroom En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel...” (Jes.2:2,3).
Die kerk is die saad wat Jesus geplant het. Dit sal t.s.v. baie teenstand nooit tot niet gaan nie. Jesus gee aan Petrus die belofte: “... en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie”(Mt.16:18). In Ges.266 sing ons: “Hou Christus self sy kerk in stand – vergeefs die hel se woede. As Here aan Gods regterhand regeer Hy ons ten goede”.
Die betekenis van beide gelykenisse is: Die kerk wat as ʼn mosterdsaad of suurdeeg begin het, ontwikkel tot ʼn heerlike, vol einde. Die aanvang val die oog nie soos die eindproduk op nie. Wat God begin het, maak Hy klaar!
Waar het die Christendom begin? Was dit met Jesus se openbare optrede of vroeër met sy geboorte in die stal? Behalwe dat Jesus die Stigter is, weet ons nie vir seker nie. Al wat die gelykenis ons leer, is dat daar uit ʼn klein begin iets groots ontwikkel het - van ʼn kindjie in ʼn stal tot ʼn godsdiens wat die hele wêreld omspan.
Wat ʼn geweldige oordeelsfout het diegene wat Jesus aanvanklik gevolg en toe na Judaïsme (Joodse godsdiens) teruggekeer het nie gemaak nie! Christendom is dan juis voltooide Judaïsme. Om met Christus die lewenspad te loop, is nie maklik nie. Maar as jy begin, moet jy enduit loop. As jy gaan kop uittrek, sal die mislukking lewenslank by jou spook.
Hierdie twee gelykenisse het ook raakpunte met die OT. Tydens die Babiloniese ballingskap profeteer Esegiël van ʼn wêreld-omvattende koninkryk wat aan die kom is en gebruik die beeld van ʼn boom wat klein begin en so groot word dat verskeie voëls neste daarin maak:
“So sê die Here HERE: Dan sal Ek self van die verhewe top van die seder ʼn steggie neem en dit insit – van die boonste van sy lootjies sal Ek ʼn teer puntjie afpluk en self dit plant .... en dit sal takke voortbring en vrugte dra en ʼn heerlike seder word, sodat al die voëls van allerhande vere daaronder kan woon; in die skaduwee van sy takke sal hulle woon... Ek die Here het dit gespreek en gedoen” (Eseg.17:22-24).
In Dan.4 lees ons van koning Nebukadneser wat een nag die droom van ʼn baie groot boom gehad het: “Die boom het groot geword en sterk, en sy hoogte het tot aan die hemel gereik, sodat hy tot aan die einde van die hele aarde sigbaar was.... en in sy takke het die voëls van die hemel gewoon, ja, alle vlees is daardeur gevoed...” (Dan.4:11,12). Dis ʼn duidelike profetiese aankondiging dat God se koninkryk alle ander koninkryke sal oorwin.
Wie plant die mosterdsaad en wie sit die suurdeeg in die meel? Gelowiges. Eenvoudige mense wie se harte in die bloed van Christus gewas is, kan selfs met die minste kraginspanning ʼn taak verrig wat onder die geseënde hand van God ʼn verbysterende uitwerking kan hê. Kyk na Jesus self – ná sy lyding en kruisdood het dit gelyk asof sy werk op ʼn mislukking uitgeloop het.
Dit was weldra duidelik dat Jesus se werk deur geen wêreldse mag uitgedoof kon word nie. Uit sy lewe het ʼn godsdiens ontstaan wat die wêreld na meer as 2000 jaar nog steeds verower! Mense put tot vandag toe nog krag uit Jesus se prediking van die koninkryk van God. Die mosterdsaad en suurdeeg doen nog steeds hul werk! Die Christendom is nie ʼn stem in die woestyn nie, maar ʼn lig in ʼn donker wêreld.