DIE GELYKENISSE VAN JESUS (4)

U kan hierdie reeks geskryf deur ds Andrè van den Berg lees by Jesus se gelykenisse

Die onkruid in die koring

Mt.13:24-30;36-43

Benewens die gelykenis van die Saaier is die gelykenis van die onkruid in die koring die enigste ander gelykenis wat Jesus self uitgelê het.   Hy het dit, net soos dié van die Saaier, ook op versoek van die dissipels gedoen.  Hy wou hulle ʼn groot waarheid laat raaksien wat hulle andersins sou gemis het.  Alhoewel hierdie gelykenis sekere raakpunte met dié van die Saaier het, beklemtoon Jesus hierin ʼn nuwe saak wat die koninkryk van God baie nou raak.

In die gelykenis van die Saaier gaan dit oor saad wat t.s.v. baie ongunstige omstandighede sonder toedoen van die saaier nogtans ʼn goeie oes opgelewer het.  In die gelykenis van die onkruid en die koring val die klem op ʼn faktor wat nie verontagsaam kan word nie – ʼn vyand wat onkruid saai en die oes belemmer.

Daardeur het Jesus ʼn groot waarheid beklemtoon - die koninkryk van God het nie uitsluitlik met goeie oeste te doen nie, maar ook met vyandige optrede wat God se werk hartstogtelik haat.   Die dissipels sou dit weldra deeglik ervaar: ” Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ʼn brullende leeu en soek wie hy kan verslind”(1 Pet.5:8).

Hierdie vyand is uitgeslape.  Hy kom in die nag wanneer mense slaap en geen gevaar verwag nie.  Dit gebeur ook op kerklike terrein.  Satan wil die groei van die kerk verydel deur mense uit mekaar te jaag soos wat met die gelowiges ná die steniging van Stefanus gebeur het toe hulle Jerusalem moes verlaat het en vir hul lewe vlug.  Jesus het hulle vooraf gewaarsku: “Hy wat nie met My is nie, is teen My; hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi” (Mt.12:30).

Met hierdie woorde asook die gelykenis van die onkruid tussen die koring het Jesus sy dissipels aan die stryd tussen die koninkryk van God en dié van die Satan bekend gestel.  En dit kom van vroeg af - die nimmereindigende stryd tussen die saad van die vrou en dié slang: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad ...” (Gen.3:15).   Die geskiedenis van Israel staan in die teken van hierdie oeroue stryd; die Satan wat magte saamsnoer om die volk van God te probeer vernietig.

In die gelykenis van die onkruid tussen die koring maak Jesus dit baie duidelik dat waar God saai, die Satan ook in dieselfde akker saai.   Dit lei tot ʼn stryd wat tot en met die wederkoms sal duur.  Daaroor is Openbaring baie duidelik wat die Satan se woede in skrikaanjaende beelde beskryf, maar nooit nalaat om die gelowiges as burgers van die koninkryk van God te bemoedig en te vertroos nie.   God verseker hulle dat hulle in Christus meer as oorwinnaars is.  Die gelykenis van die onkruid tussen die koring bevestig ook hierdie oorwinning.

Satan is in stryd met God wanneer hy onkruidsaad op die akker van God saai.  In hierdie gelykenis het Jesus aansluiting gevind by iets wat die mense destyds baie goed geken het – ʼn sekere onkruid wat saam met koring opgekom en die ontwikkeling daarvan belemmer het.   Hierdie onkruid het sekere ooreenkomste met koring vertoon.  Dit het tussen die koring op dieselfde land gegroei en die selfde tyd ryp geword.  Desondanks het dit radikaal van koring verskil.  Koring het tot mense se lewensonderhoud bygedra.  Die onkruid was ʼn plaag wat van geen nut was nie.

Die Woord van God is die gesaaide saad.  Wie dit saai, doen goeie werk.  Satan laat hierdie goeie werk egter nie met rus nie en dring op onbewaakte oomblikke in mense se lewens in: “Maar terwyl die mense slaap, het die vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai ...” (Mt.13:25).

Die Satan saai die saad van versoeking en sonde.  So gebeur dit dat ʼn lewe wat al die moontlikheid het om vrugbaar en nuttig te wees, soms onverwags en onverklaarbaar eers kragteloos en daarna vrugteloos word.  Die mens is en bly ʼn sondaar.  Daarom is die versoeking om sleg te wees soms aanlokliker as om goed te wees. Versoekings kom graag by deure in wat met opset oopgelaat is.  Versoeking is soos ʼn muisvalletjie – dis makliker in as uit.  Vermy liewer die aas as om te sukkel om van die hoek ontslae te raak!

In die gelykenis van die onkruid tussen die koring is die saailand die mensdom.  Dis die grond waarheen die Here saaiers uitstuur om die boodskap van redding aan ʼn verloregaande wêreld uit te strooi.   Ongelukkig word hierdie saailand nie met rus gelaat nie.  Satan laat nie toe dat dit met die Woord van God alleen besaai word nie, maar besmet dit met die saad van leuens, haat, vyandskap en die dood.  Daarom is daar stryd onder mense en owerhede. “Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge?  Die konings van die aarde staan gereed en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp” (Ps.2:1-3).

Die Woord van God is hemelse saad.  Dit het oneindige krag.  Desondanks is daar herhaaldelike pogings om dit d.m.v. onkruidsaad kragteloos te maak.  Dit het alreeds in die Tuin van Eden begin toe die Satan nie gehuiwer het om dié skoon terrein te betree en ongeskonde harte met sy onkruidsaad te besoedel nie.

Satan se bose werke is altyd donker.   Die gelykenis sê dat goeie saad in die dag maar slegte saad in die nag gesaai word.   En dis waar.   Die meeste boosheid word snags gepleeg. “Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie” (Mt.24:43).

Die tragiese gebeure in die Tuin van Eden toon die invloed wat woorde op mense het.   Kyk hoe het Adam en Eva nie die Satan se misleidende woorde ter harte geneem nie!  Die mens reageer op dit wat hy hoor.

In die uitleg van die gelykenis van die onkruid tussen die koring is daar ʼn verrassende wending.  Jesus verklaar dat die goeie saad die kinders van die koninkryk van God en die onkruid die kinders van die Bose is.  In hierdie geval is die saad nie die Woord van God nie, maar mense – twee soorte; gered en verlore.  Daar is niks tussen-in nie.  Jy is of koring of onkruid.

In die betrokke gelykenis word daar niks van die vrug van die saad gesê nie omdat dit hier uitsluitlik om die skeiding van die graan van die onkruid tydens die oes gaan.   Let daarop dat daar nie te haastig met die oordeel begin word nie; eers as die oes ingesamel word.   Dit was soms vir Jesus nodig om die dissipels te waarsku om nie te vinnig te oordeel nie.  Hulle was seker ook maar soms ongeduldig en gemeen het dat Jesus die oordeel gouer moes voltrek sodat reg en geregtigheid onder mense kan regeer.

In die gelykenis waarsku Jesus baie duidelik dat die skeiding tussen onkruid en koring nie by die mens lê nie, maar by God.  En wat meer is, dat dit nie in hierdie lewe afgehandel sal word nie.   Kinders van God sal altyd deur kinders van die Satan omring wees en benadeel word, selfs in die kerk.  Satan plant ook sy mense in die kerk.  Daarvan kan enige predikant getuig!   Wie het dit sterker ervaar as ons Here Jesus?!   Hy het gedurig met Satan se mense in die kerk gebots en hulle tereg addergeslag genoem!

Tydens die Bergpredikasie waarsku Jesus: “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.  Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ʼn Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie” (Mt.7:15,16).   Paulus het dikwels met Satan se kinders in die kerk te doen gekry: “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus.  En geen wonder nie!   Want die Satan self verander hom in ʼn engel van die lig” (2 Kor.11:13,14).

Die vertraging van God se oordeel oor die onkruid staan nie in die teken van onverskilligheid nie.  Vir God is die welstand van die koring nommer een.   Met die uitstel van die skeiding het Hy egter ʼn goeie bedoeling.  “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet.3:9).

Die dag dat Hy die koring van die onkruid gaan skei, kom vir seker.   Die bose word saam met die goeie vir die oordeel ryp.  Hulle sal egter nie na die oordeel saam bestaan nie.  “Want die Here ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal vergaan” (Ps.1:6).  God verhef die koring tot ewige vrug:  “Die Here ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly” (Ps.37:18).

Die oordeel vind gelyktydig plaas en deur dieselfde handeling van mekaar geskei.  Die bose word struikelblokke genoem.   Dit word drie keer in die Evangelies van iemand gesê wat gelowiges belemmer om hul werk te doen.   Elkeen wat die groei van die saad op een of ander manier probeer vertraag, is vir God ʼn struikelblok en word deur Hom weggeneem.

Daarom moet elkeen hom gedurig voor God verootmoedig en die vraag afvra: “Verhinder ek nie miskien die werk van die Here en word ek daardeur ʼn struikelblok vir die uitbreiding van die koninkryk van God nie?” In Ps.139 bid Dawid: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ʼn weg is van smart, en lei my op die ewige weg” (:23,24).

Hierdie gelykenis gee vir gelowiges die troos dat God se oordeel vir seker sal plaasvind.  Al kry hulle as koring tussen die onkruid swaar, dit sal nie vir altyd  wees nie.   God se geregtigheid sal geskied en hulle die ewige geluksaligheid van die Vader ingaan.  Kom ons vra onsself die vraag af – is ek koring of is ek onkruid?