DIE GELYKENISSE VAN JESUS (6)

U kan hierdie reeks geskryf deur ds Andrè van den Berg lees by Jesus se gelykenisse

Die hoë eise van die koninkryk van God

Luk.17:7-10; Mt.20:25-28

Alhoewel Lukas in hierdie gelese gedeelte nie duidelik sê dat dit oor die dinge van die koninkryk van die hemele handel nie, blyk dit uit die inhoud wel so te wees. Dit gaan in die gelykenis oor die eise waaraan burgers van die koninkryk van God gehoor moet gee om burgers te wees.  Moenie vergeet dat hierdie koninkryk nie ʼn fisiese maar eerder geestelik een is nie en dat burgerskap nie deur die doen van goeie dade verkry word nie.

Hoe verkry sondaars dan burgerskap van die koninkryk van God?   Net deur die reddende genade van God in Christus.  En daarvoor gebruik Hy die Heilige Gees wat mense tot burgerskap oproep en daarna ʼn geestelike metamorfose in hul lewe bewerkstellig en alles nuut word.  Paulus getuig van hierdie geestelike metamorfose: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ʼn nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword”.

Sodat hierdie innerlike verandering plaasvind, is die mens se lewe aan ʼn  nuwe wet onderhewig.   Hy staan nog in dieselfde vlees en lewensverhoudings maar die bose begeertes van sy hart en neigings tot die sonde het nie meer die bindende mag oor hom soos tevore nie.   Hy het aan die eise van die koninkryk van God onderhewig geword.  En hierdie eise is baie hoog soos verskeie dele van die NT dit baie duidelik uitspel.  Dink maar net aan die talle voorskrifte van die Bergrede.  Dis alles behalwe maklik om aan gehoor te gee!

Een van die heel moeilikste eise van die burgerskap van die koninkryk van God is dat ʼn burger ʼn slaaf moet wees.  Dit bepaal sy grootheid in hierdie koninkryk.  Wie hier groot wil wees, moet dien.  Jesus kom wys dan ook hoe dit in die praktyk werk.  Dink maar aan Joh.13 toe Hy die dissipels se voete gewas het: “As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was” (:14).  Jesus het as kneg van God aarde toe gekom om vir ons ʼn voorbeeld van ʼn burger van die koninkryk van God te wees.  ʼn  Burger van hierdie koninkryk is ʼn dienaar.

Hierdie burgerskap waarborg egter geen vreedsame, sorgelose aardse lewe nie.  Dis nie ʼn ongeluksvrywaringspolis nie.  Gevolglik vind die burgers daarvan geen ware rus en vrede in die wêreld nie, maar slegs in Christus: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle, nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie.  Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie” (Joh.14:27).

Christus beklemtoon gereeld die eise van volhardende waak- en werksaamheid soos in die gelykenis in Luk.17.   Met die eerste deurlees daarvan klink dit redelik negatief en onbillik.   Dit vertel van ʼn slaaf wat na ʼn dag se harde werk baie moeg by sy eienaar aankom en nuwe bevele kry om hom eers te bedien alvorens hy na sy eie dinge omsien.  Dit getuig van ʼn streng, rigiede verhouding tussen baas en slaaf en nie juis Christelik nie!  Daarbenewens is dit veronderstel om die verhouding tussen God en mens voor te stel.  Is God dan ʼn hartelose slawedrywer? Nee, allermins!

Die klem van hierdie gelykenis val op die ekstra werk benewens die normale dagtaak wat van die slaaf verwag asook sy gesindheid daaroor.    Dit gaan dus nie oor die gesindheid van die baas teenoor sy slaaf nie. maar oor die houding van die slaaf teenoor sy baas.  As sy normale dagtaak afgehandel is, aanvaar hierdie slaaf sy aandtaak asof dit vanselfsprekend is.  Hy voel nie bitter daaroor nie want hy is ʼn slaaf sonder enige menseregte wat sy taak gewillig uitvoer.  Hy put om die waarheid te sê juis genoegdoening in die take wat vir hom opgelê word.   Wat leer Jesus sy volgelinge met hierdie gelykenis?  Dat dit vir burgers van die koninkryk van God oor die gesindheid gaan waarmee hulle God dien.  Hulle word soms tot hoë geestelike kraginspanning en beproewing opgeroep.

“Vyf maal het ek van die Jode ontvangveertig houe op een na,  Driemaal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ʼn nag en ʼn dag het ek op die diepe water  deurgebring – dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van heidene, in gevare in die stad,  in gevare in die woestyn, in gevare op die see, in gevare onder valse broeders, in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger  en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid.  Behalwe dit alles, my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes” (2 Kor.11:24-28).

Christus verwag van gelowiges om hulle lig onder alle omstandighede te laat skyn.  In die vroeë kerk en later ook in die Roomse Kerk het sekere mense hierdie strydperk probeer ontvlug en afgesonderd agter die mure van ʼn klooster gaan skuil.  Dis glad nie wat Jesus van volgelinge wil hê nie!  Hoe kan jy jou lig dan versprei?  Plaas jy dit dan nie juis onder ʼn maatemmer nie?  Dis niks anders as die ontduiking van die Christelike plig nie.  Jesus laat die klem in die gelykenis juis op onvermoeide werk in diens van God val.

Let daarop dat die gelykenis die volgelinge van Christus slawe noem.  Wat sê dit?  Dat daar geen dagloners in sy koninkryk werksaam kan wees nie.   ʼn Dagloner het teen betaling gewerk.  Daarbenewens was sy ure vasgestel.  Vir alles wat hy ekstra gedoen het, was daar ekstra loon.  In die koninkryk van God bestaan daar nie arbeidsreëls nie.   Hier is die dienaar ʼn slaaf wat deur sy eienaar gekoop is om te dien.  Hy het geen vasgestelde werksure gehad en geen loon ontvang nie.  Hy moes tydig en ontydig in volle onderdanigheid dienste verrig.   Desondanks het hy in die onvoorwaardelike onderwerping aan sy baas se bevele genoegdoening ervaar,

So is dit ook in die koninkryk van God – daar is nie rusgeleenthede nie, slegs plig.   As slaaf van Christus is elke gelowige deur die bloed van die Lam gekoop en tot die hoogste arbeidsinset geroep.  Die uitvoering van die wil van sy Meester is nie net tot slegs sy dagtaak beperk nie, maar ook in daardie ure wat hy as rustyd beskou.  Gelowiges moet 24 uur per dag op hul pos wees, gereed om enige taak wat Christus hul mag oplê, af te handel.

Daar is egter ʼn groot verskil tussen ʼn gewone slaaf en die slaaf van Christus.  Hierdie verskil lê in die kwessie van vryheid.  ʼn Slaaf was sy vryheid kwyt.  Hy moes sy werk doen omdat hy geen ander keuse gehad het nie.  Daar is vir hom gesê:  Jy moet!  Gevolglik was daar maar min vreugde in sy lewe.

In die geval van die slaaf van Christus is dit baie anderste.  Hy weet in sy siel dat hy ʼn vrygekoopte is en vind derhalwe genoegdoening in sy werk vir sy Meester.  Hy geniet dit om Jesus te dien.  Gevolglik doen hy dit vrywillig en met blydskap.   Hy is slaaf maar ter selfde tyd ook ʼn vrygemaakte.

Die wete dat hy nie vir sy getroue diens betaal word nie, pla hom nie in die minste nie.   Die sekerheid van redding uit die slawediens aan die Satan is vir hom voldoende.   Hierdie genade verhef hom bo die status van ʼn gewone slaaf want dit maak van hom ʼn kind van God.   “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word” (Joh.1:12).

Hierdie sekerheid stel hom in staat om sy veeleisende roeping met die regte gesindheid suksesvol uit te voer.  Uit hierdie gelykenis sien ons hoedanig sy gesindheid moet wees – hy moet geduldig en nederig wees.  Dit vrywaar hom van ʼn hoë dink van homself asook enige roem op eie prestasies.  Die gevaar van selftevredenheid onder kerklui is groot.  Dit was juis die Fariseër se probleem met die tollenaar; hy het geglo dat hy ʼn beter mens as die tollenaar was omdat hy as Fariseër in die kerk diensbaar was.  Sonder bekering besorg geen gemeentediens aan niemand ʼn plek in die hemel nie.   Pas op vir die vangstrik van die Satan.  Hy vang in elke gemeente mense daarmee!

Alhoewel hierdie gelykenis aan die adres van die dissipels gerig is, is dit ook ʼn les vir elke gelowige. Vrugbare diens in belang van die koninkryk van God is slegs deur nederige toewyding moontlik. Mag elkeen eendag die stem van Christus hoor: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg (slaaf).  Gaan in, in die vreugde van jou Heer” (Mt.25:14).