DIE DUISTERNIS VAN HIERDIE EEU (9)

Frank Peretti

Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu

Daardie aand dek Kate drie plekke aan eettafel. Dis ’n geloofsaksie, want hulle het nog niks van Sandy gehoor nie. Die polisie kon nog geen leidrade vind nie en niemand het Sandy met ’n oog gesien nie.

Marshall en Kate sit teenoor mekaar aan tafel met Sandy se leë plek tussen hulle.

“Marshall, moenie jouself so martel nie,” sê Kate simpatiek.

“Dis alles my skuld. Ek het ’n gemors van die hele situasie gemaak.”

Kate reik oor die tafel en neem sy hand in hare. “Sy sal terugkom, Marshall, en dan sal ons sake regstel. Sy is oud genoeg om na haarself te kyk. En sy het nie baie klere saamgeneem nie. Ek dink nie sy beplan om lank weg te bly nie.”

Skielik lui die voordeurklokkie en albei ruk soos hulle skrik. “Seker die posbode of een of ander verkoopsman, of die Jehova Getuies,” se Marshall effens bitter.

“Wel, Sandy sal sekerlik nie die voordeurklokkie lui nie,” mompel Kate en staan op om te gaan kyk wie gelui het. Marshall volg haar, maar hy is vinniger en is eerste by die deur. Hy maak dit oop.

 

Nie een van hulle het verwag om ’n blonde jongman voor die deur te sien nie. Hy is netjies en beleefd en is beslis nie iemand wat geestelike literatuur versprei nie.

“Meneer Hogan?” vra hy.

“Ja. Wie is jy?”

“Ek is Shawn Ormsby en ek studeer ook by Whitmore. U dogter, Sandy, is ’n vriendin van my.”

Kate wil hom innooi, maar Marshall vra dringend: “Sê my  net, weet jy waar sy is?”

“Ja, ek weet.”

“Maar waar is sy, kêrel?” hou Marshall vol.

“Mag ek binnekom, asseblief?” vra die jongman beleefd.

Kate staan dadelik opsy en druk Marshall uit die pad. “Asseblief, kom gerus binne,” nooi sy vriendelik.

In die woonkamer neem Shawn plaas en Kate hou Marshall se hand styf vas om hom tot kalmte te maan. Hy is beslis baie opgewonde.

“Vertel ons asseblief wat aangaan?” pleit hy. Die jongman lyk effens ongemaklik, maar sê dan ernstig: “Ek het haar gister op die kampus raakgeloop. Sy het by die Jones kafeteria gesit, alleen en baie hartseer. Ek het gevoel dat ek met haar moes gesels.”

“Hartseer!” Marshall is opgewerk. “Wat makeer? Het iets gebeur?”

“Nee, daar is niks fout nie. Ek bedoel, niks buitengewoons nie. Maar ek is hier om met u oor haar te praat. Sy het my haar kant van die storie vertel.” Hy breek af. Albei ouers luister aandagtig. “En sy wil graag huistoe kom.”

“Waarom kom sy dan nie?” vra Marshall opgewonde.

“Dis juis die probleem. Ek dink sy’s skrikkerig vir verwyte en sy voel ook skaam oor wat gebeur het.”

“Dink sy dis my skuld?”

“E . . . wel, sal u kan aanvaar dat u moontlik skuld het?” vra Shawn versigtig.

“Ja, ek sal,” erken Marshall. “Ek dink ek soek al jare na ’n konfrontasie.”

Shawn lyk verlig en sê met ’n glimlag: “Ai, ek is so dankbaar. Ek wil so graag die familie weer verenig sien. En ek is nie ’n sielkundige nie. Ek studeer geologie.”

“Ons wil ook graag vir Sandy terug hê,” sê Kate opreg.

“Ja,” stem Marshall saam. “Shawn, ek sal regtig alles in my vermoë doen om sake met Sandy reg te stel, maar ek is ’n moeilike man.”

“Nee, jy is nie,” keer Kate.

“Ek is,” hou Marshall vol. “Maar ek wil probeer.” Hy kyk Shawn dringend aan. “Het Sandy jou na ons toe gestuur?”

Shawn kyk na die venster en beduie dan na buite: “Sy sit in die motor, maar sy is bang om in te kom.”

“Bang?” Marshall krimp ineen. Sy stem klink amper desperaat: “Sê vir haar sy moet terugkom, asseblief. Ek sal niks doen nie . . . regtig nie ...”

“Hy het haar lief,” verseker Kate dringend.

“Het u Meneer?” vra Shawn. “Sê dit dan hardop.”

Marshall kyk hom ’n paar oomblikke in stilte aan. Dan sê hy: “Ek het haar lief. Sy’s my dogter en ek het haar lief. Sê sy moet terugkom, asseblief.”

Shawn glimlag verlig en staan op. “Ek sal haar gaan haal.” Die aand is daar vier plekke aan tafel gedek.

 

Die Vrydag-uitgawe van die Basuin is gereed en Bernice het ’n bietjie tyd tot haar beskikking. Sy het daarin geslaag om ’n afspraak vir ete met een van die professore van Whitmore Kollege te maak.

Die Noord Kafeteria op die kampus is ’n nuwe gebou, met blou getinte vensters en mooi plante en struike. ’n Mens kan binne sit, of indien jy dit verkies, buite op die stoep. ’n Buffet-ete word aangebied en die kos is goed.

Bernice en Ruth Williams, professor in Ekonomie, stap op die stoep uit, elkeen met ’n skinkbord met ’n ligte slaai en koffie. Hulle gaan kry ’n tafel effens eenkant onder ’n skaduryke boom sit. Aanvanklik gesels hulle oor gemeenplase.

“Wel, Bernice,” se Ruth eindelik, “ek is oortuig dat jy iets spesiffieks op die hart gehad het toe jy my vir ete genooi het.”

“Ja, ek het,” erken Bernice. “Ongelukkig is dit onprofessoneel en nie baie aangenaam nie.”

“Het jy iets oor Pat uitgevind?”

“Nee, nie oor haar nie.” Sy frons en skud haar kop. “Soms wonder ek of ek ooit iets oor my arme suster sal uitvind.”

“Ek verseker jou van my innige simpatie en meegevoel, Bernice, maar ek moet saamstem dat ek nie verwag dat jy ooit iets wys sal word nie. Dit was maar net ’n tragiese gebeurtenis.”

Bernice trek haar skouers op. “Miskien het jy reg. Daarom het ek nou ander dinge wat my besig hou. Sê my, het jy gehoor dat ek Sondagaand gearresteer is en die nag in die tronk deurgebring het?”

“Wat? Waarvoor?” roep Ruth ontsteld uit.

“Ek het glo as prostituut ’n polisieman probeer verlei.”

Ruth is stomgeslaan. Haar gesig is bleek en sy skud haar kop driftig: “Dis twak, absoluut ondenkbaar! Ek glo dit nie.”

“Dankie vir die vertroue in my. In elk geval, ek wil graag Brummel se motiewe vasstel. Waarom het hy my laat arresteer? En daarom het ek jou hulp kom vra.”

“Ek wil graag help, maar ek kan nie sien hoe ek moontlik behulpsaam kan wees nie.”

“Het jy al vir professor Juleen Langstrat van die Sielkundedepartement ontmoet?” vra Bernice en hou haar vriendin stip dop.

“E . . . ja, so een of twee keer. Ons het eenmaal aan dieselfde tafel gesig tydens ’n ete.”

Bernice kom dadelik agter dat Ruth nie van die persoon onder bespreking hou nie. Sy vra taktvol: “Is daar iets fout?”

“Elkeen het seker die reg om sy vriende te kies,” antwoord Ruth en speel met haar vurk. “Maar ek kon nie vat aan die vrou kry nie. Dis byna onmoontlik om ’n logiese gesprek met haar te voer.”

“Wat se soort mens is sy? Is sy voorbarig, teruggetrokke, irriterend?”

“Ek sou sê ‘afsydig' is die regte beskrywing. Sy lewe in haar eie wêreld. Dit lyk asof mense haar verveel. Haar belange is baie geheimsinnig . . .”

“Wie is haar vriende?”

“Ek weet nie. Ek dink nie sy is iemand wat juis veel vriende het nie.”

“Het jy haar en Alf Brummel al ooit in mekaar se geselskap gesien?”

“Nee, nog nooit nie.”

“Maar jy sien haar in elk geval nie dikwels nie, ne?”

Sy skud haar kop. “Nee, en ek glo nie ek kan jou verder help nie. Maar ek ken iemand wat wel sal kan help. Albert Darr is ook ’n professor in Sielkunde en hy ken Langstrat taamlik goed. Ek kan jou sê hy hou niks van haar nie. En wat belangriker is, hy’s iemand wat graag praat. Ek sal ’n afspraak vir jou reël.”

 

Albert Darr is ’n jong professor met ’n seunsagtige gesig en hy is maar te bly om die pragtige verslaggewer van die Basuin te woord te staan. Sy tref hom in sy kantoor aan, besig om papiere te sorteer.

“Dagsê,” groet hy vriendelik toe sy na binne tree.

“Hallo, ek is Bernice Kreuger, ’n vriendin van Ruth Williams.”

“Ja, ek weet.” Hy kyk soekend rond om ’n leë sitplek te vind. Dan tel hy ’n hoop boeke van ’n stoel af en beduie daarheen. “Sit asseblief. Verskoon die gemors. Waarmee kan ek help?”

“Dis nie eintlik ’n offisiële besoek nie, professor Darr ...”

“Noem my Albert.”

“Dankie, Albert. Ek is eintlik in my persoonlike hoedanigheid hier, maar as my teorieë korrek is, kan ek dalk tog iets nuuswaardigs uitsnuffel.” Sy kyk hom ernstig aan. “Ruth sê my jy ken Juleen Langstrat . . .”

Darr glimlag breed en leun gemaklik terug. Bernice kom dadelik agter dat hy skynbaar die onderwerp verwelkom.

“Aha . . . jy waag dit om op heilige grond te trap.” Hy kyk rond asof hy verwag dat iemand moontlik die gesprek kan afluister. “Die liewe professor het nog nooit geskroom om my te verneder of te beledig nie, en daarom sal ek graag oor haar praat. Wat wil jy weet?”

“Goed,” begin Bernice met haar pen en notaboekie gereed, “ek het gehoor dat Langstrat en Alf Brummel, die hoof van polisie, mekaar dikwels sien. Is dit so?”

“Ja, definitief.”

“Is daar ’n verhouding tussen hulle?”

“Nee,” hy skud sy kop. “Ek dink nie so nie. Niks romanties nie.”

“Maar hy besoek haar tog gereeld.”

“Baie mense besoek haar gereeld. Sy is ’n konsultant in haar vrye tyd. Brummel sien haar een keer per week, as ek dit reg verstaan.”

“Ja, op Dinsdae,” erken Bernice teleurgesteld.

“Vir konsultasie,” bevestig Darr.

‘‘Maar waarom is hy so geheimsinnig daaroor?”

Sarr leun vooroor en laat sy stem sak: “Aha, dis die kern van die saak. Die Geheime Binnekring, soos hulle dit noem. Net die bevoorregtes word daartoe toegelaat. Dis een of ander geheime organisasie.”

“Maar wat op aarde vang hulle aan?”

“Wat ek jou nou vertel, is baie vertroulik. Ek weet ook nie hoe betroubaar dit is nie. Maar wat ek die afgelope tyd kon uitvind met al my snuffelwerk, is dat Juleen Langstrat met dinge besig is wat nie op die normale vlak plaasvind nie. Sy is ’n mens vir die bonatuurlike . . . die oorsprong van alle dinge, die Universele gedagte en sulke dinge ...”

“Ek is bevrees ek verstaan glad nie. Waarvan praat jy?”

“Dis juis die probleem. Die meeste van ons verstaan ook nie. En ons kan nie besluit of sy op die punt van een of ander groot ontdekking staan en of sy dalk net van lotjie getik is nie.”

“Maar wat is hierdie . . . Geheime Binnekring . . . Universele . . . gedagte?”

“Dit word afgelei van Oosterse godsdienste, sover ek kan vasstel. Ek dink haar studies op hierdie terreine het veroorsaak dat sy alle kontak met die realiteit verloor het. Wat ek nou gaan sêe, kan dalk baie kritiek uitlok, maar as jy my vra is sy besig met heksery.”

“Ek het gehoor sy het ’n vreemde invloed op mense . . .”

“Dis absolute onsin. Sy dink sy kan beheer oor my uitoefen, my gedagtes beheer en sulke twak! Maar ek skakel net af.”

“Maar is daar enige geloofwaardigheid in die hele besigheid?”

“Ek glo nie. Miskien is daar ’n klompie dwase in die sogenaamde Binnekring wat onnosel genoeg is om al hierdie dinge te glo . . .”

“Die Binnekring ... Wat beteken dit?”

“Sommer my eie term . . . ek het geen feite nie. Ek het gehoor dat baie mense na haar toe kom vir konsultasie en sommige is nogal vooraanstaande persone. Maar hoe iemand soos sy ’n ander persoon kan help, gaan my verstand te bowe. Wie weet, miskien hou sy seance; dalk kan sy gedagtes lees; miskien speel sy met die bonatuurlike . . .”

“Dink jy regtig dis moontlik?”

“Ek is feidik oortuig dat sy met die okkulte eksperimenteer.”

“En die mense van die Geheime Binnekring — sien hulle haar gereeld?”

“Ja, sover ek weet.”

“Kan jy name noem?”

“Alf Brummel, ons het hom reeds gemeld. En dan Ted Harmel. Ken jy hom?”

Bernice laat byna haar pen val. “Die vorige redakteur van die Basuin?”

“Ja. Soos ek die saak sien, is hy nie net hier weg nie. Hy het gevlug.”

“En wie nog?” vra Bernice.

“Mevrou Pinckston, ’n openbare trustee.”

“So dis nie net mans nie?”

“O nee. En dan Dwight Brandon . . .”

“Wie’s Dwight Brandon?”

“Die persoon op wie se grond die Kollege gebou is. En Eugene Baylor. Hy is ook iemand wat baie met die beheer van die Kollege te doen het. En dan natuurlik ook daardie predikant. . . wie is hy nou weer?” .

“Young? Oliver Young?”

“Ja, dis reg.”

 

Dit is Vrydagaand en Hank kan nie sy gedagtes van die komende gemeentevergadering afkry nie. Hy sit in sy kantoortjie met ’n lang dame oorkant hom. Haar naam is Carmen en sy het gevra om hom te kom sien. Sy het glo geestelike hulp nodig. Om aan die veilige kant te wees, het Hank vir Mary gevra om naby te bly, aangesien hy geen ruimte vir misverstand wil laat nie. Maar op die oog af lyk Carmen opreg. Sy klink soos iemand wat hulp dringend nodig het.

“Ek . . . ek is baie eensaam,” begin sy verduidelik. “En nou hoor  . . . ek . . . stemme . . .” Sy kyk hulle gespanne aan om te sien hoe hulle reageer. Maar na wat onlangs met hulle gebeur het, is niks meer vir Hank snaaks nie.

“Wat se soort stemme?” vra hy vriendelik. “Wat sê die stemme?”

Sy dink ’n oomblik na. Haar groot blou oe kyk hom met kinderlike onskuld aan.

“Hulle praat gewoonlik snags. Gisteraand was ek alleen en toe begin die stemme . . Sy verduidelik wat gesê is. Vir Hank klink dit byna soos In pornografiese sessie. Mary is baie ongemaklik en alhoewel Hank ook huiwerig voel, besef hy dat die meisie dalk ook demoniese aanvalle beleef.

“Carmen” vra Hank simpatiek. “Sê hierdie stemme ooit wie hulle is?”

“Ja,” sê sy na ’n oomblik se nadenke. “Een van hulle is Spaans of Italiaans klink dit vir my. Sy naam is glo Amano of Amanzo. Hy wil net altyd ’n seksuele verhouding met my hê . . .”

Die telefoon lui en Mary staan op om dit te beantwoord. Hank roep dringend agterna: “Kom gou terug, asseblief.”

Carmen plaas haar hand op Hank s’n. “Jy glo my tog,” soebat sy. Hank is verbouereerd en trek sy hand terug. ’n blos kleur sy wang.

“E . . . ja, natuurlik. Maar wie het eerste met jou gepraat? Wanneer het die stemme begin?”

“Toe ek hier in Ashton aangekom het. Dit was net na my egskeiding. Ek . . . ek was so eensaam. En toe, een aand, het Jim, my man, met my gepraat. O, dit was so wonderlik. Hy het gesê hy verlang so na my. Hy het die hele nag by my deurgebring.” Sy begin sag snik. Hank is verslae. Hy weet glad nie hoe om die situasie te beoordeel nie.

Weer rus die groot, pleitende blou oe op hom en sy vervolg tranerig: “Ek het geweet jy sou my glo. Almal sê jy is so ’n simpatieke mens ... so vol begrip . . .” Hank voel weer haar hand op syne. Hierdie geselsie moet so spoedig moontlik beëindig word.

“Kyk,” begin hy taktvol,” ek dink ons sal hierdie gesprek op ’n ander geleentheid moet voortsit. Ek . . . ek het nog ander afsprake. Jy kan volgende week weer kom ...”

“Ja, ja . . . asseblief.”

“Nou goed, dan reël ons dit vir volgende Vrydag.” Hank staan op om aan te dui dat die gesprek verby is. Hy weet hy moet haar so gou moontlik wegkry. “Ons sal albei oor hierdie sake nadink en dan kan ons volgende keer weer daaroor gesels.” Sy oë flits na die deur. Waar bly Mary tog?

Sy kom meteens ingestap en lyk verbaas. “Is jy al op pad?”

“Ja . . . baie dankie. Dit was wonderlik om my hart te kon uitpraat.”

Toe Carmen uit is, leun Hank teen die deur en vee die sweet van sy voorkop af.

"Sjoe,” is al wat hy kan sê. Mary het beslis net betyds opgedaag. “Hank,” fluister Mary ontsteld. “Ek hou nie van hierdie besigheid nie.”

“Ek ook nie. Wie het gebel?”

“Jy sal my nie glo nie. Dis ’n dame van die Basuin. Sy wil weet of ons gemeente vir Alf Brummel onder sensuur geplaas het!” Hank fluit sag. Hy is stomgeslaan.

 

Marshall is in sy kantoor besig toe Bernice ingestap kom. Sy lyk teleurgesteld.

“Nee, dis nie Brummel nie. Ek het met die pastoor se vrou gepraat en ek kon hoor dat sy niks van my vraag gehou het nie. Daar In blykbaar ’n hele onenigheid in die gemeente.

“Ja, ek weet. Toe ek my hare laat skeer het, het ek twee ouens hoor gesels. Die gemeente stem glo vanaand of hy as pastoor moet aanbly.”

“Dan het hulle ook probleme.”

“Ja, maar dit het niks met ons te doen nie.” Hy sug en kyk na die lys name voor hom. “Deksels Bernie, hoe moet ’n man sy werk gedoen kry as daar so baie onderbrekings kom. Jy is die laaste tyd regtig lastig.”

“Dankie,” glimlag sy. “Maar het jy al na daardie brosjure van Langstraat  se studiemateriaal gekyk?”

Marshall skud sy kop in ongeloof. Hy blaai deur die pamflet: "Nugter weet wat dit alles beteken: ’n Inleiding tot God en die Goddelikheid van die mens, Hekse, die Rooi Medisynekaart . . .” Hy slaan met sy hand op die lessenaar.

“Lees, Marshall,” por sy hom aan.

"Weë na die Innerlike Lig; Harmoniseer jou verstandelike, emosionele, fisiese en geestelike vlakke deur meditasie en hipnose.” Hy lees ’n  oomblik of twee in stilte. Dan roep hy uit: “Hoor net hier, Bernie!

Hoe om die Hede te geniet deur die Verlede en die Toekoms te beleef.”

“Maar dis ongelooflik dat niemand hiervan weet nie — ek bedoel die ouers en ander belanghebbendes.”

“Darr sê dit word net onder belangstellende studente gesirkuleer. Alles word baie geheimsinnig gehanteer.”

“En my Sandy sit in die vroumens se klasse . . .”

“Ja, en ook al die mense op daardie lys. Hulle word almal deur Liar geïndoktrineer. En hulle is belangrike mense. Kyk net daar — die eienaar van die grond, die tesourier, mense wat op die kollegeraad dien, die regter van die distrik ...”

“En Young, die gerespekteerde predikant. Nou verstaan ek al die niksseggende woorde wat hy my in sy kantoor toegevoeg het. Hy het ’n godsdiens van sy eie. Hy is nie ’n tradisionele Baptis nie, sowaar nie.”

“Wat van Ted Harmel? Hoe goed het jy hom geken?” “Redelik. Jy weet mos hy is weg as gevolg van ’n skandaal wat hy heilig ontken.”

“Ek dink jy moet hom bel. Miskien kan hy ons iets meedeel. Ek het sy nommer. Hy woon tans naby Windsor. Dit wil voorkom asof hy soos ’n kluisenaar leef.”

Marshall kyk na sy lessenaar wat vol papiere lê. Hy sug en skud sy kop. “Hoe sal ek ooit my werk afgehandel kry?”

“Daar is Saterdag en Sondag,” sê Bernie tergend. “Ek het al baie navrae gedoen. Die minste wat jy kan doen is om Ted te skakel.”

“Reg, gee my sy nommer.”

 

Dis Vrydagaand en die twee jongmense kniel in die donker langs hulle bed en bid ernstig. Die Here weet wat die aand gaan oplewer. Hulle is in sy hande en wat Hy oor hulle beskik, sal hulle aanvaar. Die gemeentevergadering sal oor hulle toekoms besluit.

Alf Brummel het ’n sleutel van die kerkgebou en hy is reeds besig om die ligte aan te skakel. Hy voel nie lekker nie. Daar is so baie op die spel. Die gemeente moet vanaand reg stem, dis die enigste uitweg!

Buite begin die eerste motors stilhou. Dis nog meer as ’n halfuur voordat die vergadering ’n aanvang moet neem, en tog is daar al heelwat bedrywighede buite. Sam Turner bring sy groot Mercedes voor die kerk tot stilstand en help sy vrou, Helen, na buite. Hy is Brummel se groot ondersteuner. Hy lyk gedetermineerd en sy vrou ook. John Coleman en sy vrou, Patricia, kom ook nader. Hulle het ’n groot kerk verlaat om na Ashton Gemeenskapskerk te kom en hulle het opregte waardering vir Hank. Hulle skroom ook nie om dit te sê nie en besef maar te goed dat Brummel nie bly sal wees om hulle te sien nie.

Oral vorm groepies en almal gesels in gedempte stemme. Die op winding loop hoog. Almal wonder wat die aand gaan bring.

Verskeie donker skaduwees huiwer bokant die kerkgebou en hou elke gebeurlikheid stip dop. Lucius voel onrustig. Ba-al Rafar het hom vanaand aangestel om hierdie operasie te beheer en hy weet hy moet suksesvol wees om so sy verlore aansien te herwin.

Wat Lucius die meeste ontstel, is die ander geeste wat oral teenwoordig is. Weliswaar hou sy trawante hulle terug, maar hulle is daar en hulle voorspel niks goeds nie. Dis die Hemelse Leërskare en daar is nuwe gesigte wat Lucius nog nooit eers gesien het nie.

Op Tal se bevel het Signa en die ander hemelse wesens die bose geeste toegelaat om die kerkgebou binne te gaan. Maar elke beweging word gemonitor en tot dusver was daar nog geen insidente nie. En dis presies wat Tal wil hê.

Lucius is dadelik omgekrap toe hy die Colemans by die deur sien inkom. In die verlede het hulle baie probleme gehad en hulle huwelik was feitlik op die rotse, maar die laaste tyd het dinge verander. Hulle het bevriend geraak met Hank Busche, die biddende pastoor, en dit het sake deurmekaar gekrap. Maar wat Lucius nog die meeste ontstel, is die feit dat hulle vergesel is van ’n groot, blonde krygsman. Toe hulle plaasgeneem het, daal Lucius neer om die nuweling te gaan konfronteer.

“Ek het jou nog nooit voorheen gesien nie,” sê hy grommend. “Waar kom jy vandaan?”

Die vreemdeling is Chimon, van Europa. Maar hy beantwoord nie die demoon se vrae nie. Hy staan doodstil en penregop. Dit irriteer Lucius en hy begin hom terg: “O so, jy kan nie praat nie, kan nie hoor nie, arme, onnosele skepsel.” Die ander bose geeste lag en geniet die petalje. “Kan jy veg?” vra Lucius.

Chimon antwoord nie.

Meteens pluk Lucius sy gekromde swaard uit. Al die bose geeste by hom doen dieselfde. Die lig reflekteer op die lemme en die geeste vorm ’n kring om Chimon. Die Hemelse Leëerskare buite, word deur hordes demone weggehou.

Lucius loer na sy opponent wat roerloos staan en sy geel oë peul byna uit hulle kaste. Sy swaar swawelasem blaas oor die vreemdeling. Lucius swaai met sy swaard na alle kante, kort, hakkerige bewegings. Hy wil die nuweling uitlok en hy hou elke beweging gespanne dop.

Maar Chimon beweeg nie. Lucius kan dit nie meer hou nie. Met 'n onderaardse gil swaai hy na Chimon en hak die punt van sy waard in Chimon se soldatebaadjie. Die kledingstuk skeur. Al die demone lag en skreeu. Lucius staan wagtend, gereed om te veg, sy  swaard in albei hande vasgeklou.

Maar Chimon met sy geskeurde soldatebaadjie, beweeg nie. Lucius is woedend.

“Waarom veg jy nie, jou lafaard!” Lucius kerf Chimon se wang oop.

“Moet ek jou ore afkap, en jou tong uitsny, as jy een het?” lag Lucius.

“Ek dink ons moet begin,” klink Alf Brummel se stem deur die kerkgebou en al die gesprekke doof uit. Dit word stil.

“Gaan staan by die ander papbroeke,” se Lucius minagtend en beduie dat Chimon moet terugstaan. Hy gehoorsaam sonder om ’n woord te sê en sluit aan by die Hemelse Leërskare wat agter die demone staan.

Elf engele het daarin geslaag om toegang tot die gebou te kry. Triskal en Krioni het saam met Hank en Mary ingekom. Aangesien hulle altyd by die pastoor en sy vrou is, lok hulle nie veel belangstelling van die demone uit nie. Guilo is ook daar, groot en imposant, maar om een of ander rede stel die bose geeste nie juis veel belang in hom nie.

Chimon word deur ’n groot engel van die Verre Ooste welkom geheet en nadat sy wond versorg is, neem hy sy plek in. Almal wonder wat van Tal geword het, en van Ba-al Rafar is daar ook geen teken nie.

Brummel is gereed om te begin. Hy staan langs die preekstoel en kyk na die ongeveer vyftig mense wat voor hom in die banke sit. Hy probeer raai hoe die stemming sal verloop, maar besef dadelik dat dit baie moeilik sal wees om die uitslag te bepaal. Daar is beslis heelwat van Hank se ondersteuners teenwoordig.

“Baie dankie aan u almal wat die moeite gedoen het om vanaand hier te wees,” begin hy. “Ek het so gehoop hierdie aand sou nie nodig wees nie, maar ons wil almal hê dat God se wil moet geskied en daarom moet ons probeer om die beste vir ons gemeente te doen. Laat ons dan open met gebed en die Here vra om die verdere verrigtinge te seën.” Brummel se gebed is so ’n skynheilige geroep tot die Here dat Guilo vererg wegdraai. Hoe wens hy dat hy op Brummel kon spoeg! Daar is geen krag in die mooi woorde nie.

Nadat hy ‘amen’ gesê het, gaan Brummel voort: “Die doel van die byeenkoms is om die gemeente se gesindheid en houding teenoor pastoor Busche te bepaal. Ek hoop dat ons vanaand ’n finale besluit sal kan neem wat ’n einde sal maak aan al die agteraf pratery en die dwarstrekkery wat beslis nie voordelig vir ons gemeente is nie.”

Daar is ’n effense geskuifel in die banke. Hier en daar kug iemand. Dan gaan Brummel voort: “Ek sal aan elke spreker drie minute tyd gee om sy saak te stel, net drie minute asseblief.” Hy kyk na Hank en Mary. “Miskien moet ons pastoor Hank die eerste kans gee en nadat hy gepraat het, sal hy en Mary die vergadering verlaat sodat die ander sprekers vrymoedigheid sal hê om te sê wat op hulle harte druk.”

Hank staan op en Mary druk sy hand bemoedigend. Hy stap die kansel toe en gaan daarop staan. Hy hou die kante styf vas sodat sy kneukels wit deurslaan. Sy hart klop moeisaam. Sy oë beweeg oor die banke en al die bekende gesigte. Vir ’n geruime tyd kan hy niks sê nie. Dis asof sy gemoed te vol is. Hy besef nou eers hoe lief hy die gemeente en die meeste van die lidmate het. Op sommige gesigte sien hy antagonisme, koudheid en selfs haat. Maar op ander weer diepe deernis en simpatie. Hy kan aanvoel dat sommige van die teenwoordiges vir hom bid.

“Dit was nog altyd vir my ’n voorreg en ’n eer om op hierdie kansel te staan en die Woord van die Here in waarheid te verkondig.” Sy oë dwaal oor die gesigte: “En selfs vanaand mag ek nie afwyk van daardie opdrag en daardie waarheid wat die Here aan my opgedra het nie. Ek is nie hier om myself te verdedig nie. Jesus is my Regter en ek gee myself volkome in sy hande. Laat ons dan nou luister wat die Here ook op hierdie aand wil sê.”

Hy maak sy Bybel oop by 2 Timoteus 4 en begin lees: “Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap: verkondig die woord,  hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, want daar sal ’n tyd kom wanneer die mens die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal hoor wat hulle graag wil hoor . . . Maar bly jy in alle opsigte nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie.” Hank maak die Bybel toe, kyk vlugtig deur die vertrek en sê: “Mag ons vanaand  ekeen ons eie lewe en oorwegings aan die Bybel toets. Dis wat ek in alle opsigte van myself gaan doen. God het my hierheen geroep, soos wat die gelese gedeelte gesê het. Ek het my roeping van Hom ontvang en al dink sommige van u dat ek met die Bybel behep is, kan ek nie anders nie. Want vir my is daar geen ander opsie nie. Ek moet God se Woord verkondig, of mense daarvan hou of nie.”

Hy klink aangedaan. “As God se Woord onenigheid bring en mense verdeel, kan die fout nooit by God gesoek word nie. Sy Woord verander nie; dis die mens wie se standaarde verander. Daarom glo ek dat ons nooit God se Woord mag verontagsaam nie. Sy Woord alleen bring ware vrede en vreugde in ons lewens.

“Daarom wil ek eerlik met u almal wees. U moet weet wat u in die toekoms van my kan verwag indien u sou stem dat ek hier aanbly. Ek sal u almal liefhê en alles in my vermoë doen om u geestelik te versorg en op te bou. Maar ek sal nie kompromie aangaan nie. Ek sal nie nalaat om te vermaan en tereg te wys nie. Ek sal volhou om die evangelie van Jesus Christus te verkondig, want dit is my roeping. Ek het ’n diepe las vir hierdie gemeente, maar ook vir die dorp as geheel en ek is van plan om hier te bly, solank as wat die Here my hier wil hê.

“Indien u so ’n leraar wil hê, moet u my vanaand in kennis stel. En as u dalk anders voel, sê my dan ook, asseblief. Ek het u almal lief en wil net die beste vir die gemeente hê. Baie dankie.”

Hy stap van die kansel af en gaan na Mary toe, neem haar hand en saam loop hulle in die gang op na die deur. Hy voel almal se oë op hulle. Hier en daar is ’n bemoedigende gesig; maar daar is ook ander wat geslote en koud lyk.

Krioni en Triskal beweeg saam met Hank en Mary na buite. Lucius hou hulle minagtend dop. Guilo voel rusteloos en Chimon wonder waarom Tal nog nie opgedaag het nie.

Vervolg...