Frank Peretti
Lees reeks by Die duisternis van hierdie eeu
Toe die telefoon lui, weet Kate sommer dat dit Marshall is en dat hy weer nie vir ete huistoe kom nie.
“Marshall,” sê sy toe sy sy stem hoor. “Ek maak vanaand kos vir vier.”
“Ag Kate ...” begin hy en sy draai haar rug, sodat Sandy en Shawn wat in die woonkamer gesels, nie moet agterkom hoe ontsteld sy is nie.
“Asseblief, Marshall, ek wil jou vanaand tuis hê vir aandete. Jy is nooit meer by ons nie.”
“Kate, ek bel nie om te sê ek sal nie huis toe kom nie,” verduidelik Marshall. “Ek sal net ’n bietjie laat wees.”
“Hoe laat kom jy?”
“Ag . . . e . . . ek weet nie. So oor ’n uur miskien.”
“Marshall,” vervolg Kate dringend. “Ek is regtig bekommerd oor Sandy.”
“Oor Sandy? Waarom?”
“As jy net af en toe tuis is, sal jy self agterkom,” fluister Kate ontsteld. “Ek weet self nie presies wat fout is nie, maar sy’s nie meer die ou Sandy nie. Ek . . . ek dink dit het iets met Shawn te doen.”
“Met Shawn? Liewe wêreld, Vrou!” Hy klink verslae.
“Ek . . . ek kan nie oor die foon verduidelik nie.”
“Nou goed, Kate, ons sal daaroor gesels. Sodra ek tuis is. Ek belowe.”
“Kom dan net huis toe, asseblief,” pleit sy desperaat.
“Goed dan,” sê Marshall, maar in so ’n stemtoon dat hy self besef hy het haar seergemaak. Dis egter te laat! Hy het reeds die gehoorbuis neergeplaas en daar is so baie dinge wat hom besig hou. Die eerste prioriteit is nou om Juleen Langstrat te gaan sien. Dit kan nie langer wag nie.
Dis Vrydagaand en sy behoort tuis te wees. Sonder verdere oponthoud skakel by haar private nommer. Die foon lui.
“Hallo,” dring ’n stem tot hom deur.
“Hallo, dis Marshall Hogan hier, redakteur van die Basuin. Is dit professor Langstrat?”
“Ja, dit is. Wat kan ek vir u doen, meneer Hogan?”
“My dogter, Sandy is een van u studente. Ek sou graag een of ander tyd ’n bietjie met u gesels,” verduidelik hy.
“As dit oor u dogter se vordering gaan, sal u met een van my assistente moet gesels. Ek hanteer nie self probleme van studente nie.”
“Nee, ek wil nie oor my dogter praat nie. Daar’s sake wat ek met u moet bespreek.”
“Ek glo nie ek sal u eintlik kan help nie.”
“Ek wil graag iets oor u klasse uitvind en ook die spesiale indiwiduele sessies wat u saans hou . . . "
“Ee . . . ek dink nie ek wil graag ’n onderhoud met die pers voer nie.”
“U wil dus nie met my gesels oor die invloedryke persone wat u gereeld in u woning besoek nie.”
“Ek verstaan nie wat u bedoel nie,” sê sy geïrriteerd.
“Alf Brummel, die hoof van polisie, pastoor Oliver Young, Dolores Pinckton, Dwight Brandon, Eugene Baylor en regter John Baker om maar net ’n paar te noem, besoek u gereeld . . .”
“Geen kommentaar nie,” sê sy skerp. “As daar niks anders is nie, moet u my nou verskoon.”
“Wel, die enigste ander vraag wat ek seker kan stel, is om te vra waarom u my uit u klaskamer uitgejaag het?”
“Ek weet nie waarvan jy praat nie,” sê sy en nou is sy regtig ontsteld.
“So twee weke gelede het u my een Maandag uit die klas uitgejaag. Die groot man! Kan u nie onthou nie?”
“Daar is iewers ’n fout.” Sy begin lag. “U dink seker aan iemand anders.”
“O nee, dit was u,” sê Marshall beslis. “U het mos lang blonde hare.”
“Tot siens meneer Hogan,” sê sy en plaas die gehoorbuis neer. Toe hy deur die kantoor stap, kyk Bernice op. Sy glimlag begrypend.
“Jy’t ’n bloutjie geloop met Langstraat?”
“Ja,” sê hy en bloos vuurrooi. “Sy’s erger as Harmel. Sy kan glo nie onthou dat sy my uit haar klas uitgejaag het nie.”
“Dis darem snaaks hoe almal deesdae alles vergeet,” mymer Bernice. “Dit lyk my ons is deesdae onsigbaar.”
Na ’n oor en weer tergery sê Marshall eindelik nadenkend: “Dink jy ek moet weer vir Harmel bel?”
“Ek dink hy en oud-rektor Strachan is doodbang. Hulle weet te veel.”
“Hmm. Harmel het feitlik erken dat hy hier weggewerk is . . . soos al die ander, het hy gesê.”
“Ek wonder wie ‘al die ander’ is,” se Bernice fronsend. Sy kyk deur haar notas. “Die meeste mense hier rond is redelik nuwe itrekkers.”
“In wie se posisies het hulle hierheen gekom? Dis iets wat ons moet ondersoek.” Marshall gooi Bernice met ’n opgerolde balletjie papier en sy gooi weer terug.
“Ek dink die aangewese ding is om Strachan te bel,” sê Bernice toe sy weer ’n papierballetjie met al haar krag na Marshall slinger.
“Goed,” sê Marshall laggend. “Ek sal hom bel. Maar ek moet nou huis toe gaan. My vrou wag.”
By ’n spesiale vergadering van demone wat Rafar in die kelder belê het, woed hy homself uit oor sy mislukte poging om Tal op te spoor. Die groot afskuwelike demoon met sy warm swawelasem, vloek en skel en Lucius geniet die situasie terdeë. Om die groot Rafar so te sien, is vir hom ’n absolute vreugde en hy kan nie help om so ’n bietjie sout in die wonde te smeer nie.
“O grote Rafar, wou die klein engel toe nie sê waar die Kaptein is nie?” vra hy onskuldig, maar op so ’n wyse dat Rafar bewe van woede.
“Sy naam is Tal,” skreeu Rafar. “Onthou dit. En moet dit nie waag om met my, die grote Rafar, te speel nie, Lucius. Ek sal jou in stukke opkerf.”
“Ag, verskoon tog, o grote Rafar,” pleit Lucius met oordrewe nederigheid.
“ Nou goed, gaan soek dan vir Tal.” Hy swaai om en bekyk die ander terwyl rookdampe en walms uit sy neusgate en ore uitstroom. “Gaan soek vir Tal en bring hom na my toe. Ek wil hom uitmekaar skeur.”
Die volgende oomblik ruis die swart vlerke en dan vlieg Rafar deur die dak en weg die ruimtes in. Vir ure lank vlieg hy oor Ashton soos ’n groot aasvoël soekend na sy prooi.
Onder in ’n versteekte kelder hou Scion, Tal, Guilo, Triskal en Mota die alleenvlug dop. Die hemelse wesens probeer Triskal se wonde versorg.
“Wat doen hy?” vra Scion fronsend. “Waarom gaan hy so te kere?”
“Hy wil my uitlok,” sê Tal.
“Ja,” sê Mota. “Hy wil die Kaptein hê. Hy het al die bose magte aangesê om ons kaptein te soek. Daarom is hulle so bedrywig by die kerkie.”
“Ek moet sorg dat hy my nie nou opspoor nie,” sê Tal ernstig. “As hy my nou aanval, sal ek beslis verloor. Daar is te min bidders. Ek is nie genoegsaam deur die gebede van gelowiges gedek nie.”
Hulle hoor die geruis van Rafar se vlerke soos hy bokant die gebou verbyvlieg, op soek na Tal.
“Ons moet versigtig wees, baie versigtig!”
Hank stap in die strate van Ashton op en af. Terwyl hy stap, bid hy. Hy is oortuig dat die Here ’n plan met hierdie dorp het, maar hy weet nog nie wat nie. Krioni en Triskal stap langs hom. Hulle het ander krygers ingeroep om Mary te bewaak.
Hank bevind homself in ’n deel van die dorp wat hy glad nie ken nie. Voor ’n groot gebou gaan hy staan. Dis ’n bedrywige area en hy sien baie jongmense in die omgewing. Dan val sy oog op ’n klub wat die Grot genoem word. Baie jeugdiges stap by die groot deur in en uit.
’n Paar oomblikke staan hy besluiteloos en dan stap hy nader. Miskien moet hy die klub so ’n bietjie gaan verken. Krioni en Triskal volg hom. Binnekant is dit redelik donker van baie rook en ’n eienaardige blou lig skyn vanaf die plafon neer. Swaar rockmusiek weerklink deur die vertrek en dit tesame met die geluide van video-speletjies en growwe grappe, klink soos ’n duiwelse simfonie. Die eienaar sit by die toonbank agter ’n kasregister en lees ’n pornografiese tydskrif.
Die Grot is die bymekaarkomplek van jeugdiges en daar beoefen hulle vrye seks, gebruik dwelms en drank en gee hulle drange vrye teuels. Hank besef die plek is ’n voorportaal van die hel en hy ril behoorlik. Die hele atmosfeer is swaar en neerdrukkend en hy verbeel hom amper hy kan die demone voel en ruik.
Krioni en Triskal sien die honderde geel oë wat hulle uit die donker aanstaar. Hulle hoor hoedat swaarde getrek word, maar lig hulle hande om te wys dat hulle ongewapen is en nie gekom het om te veg nie. Die bose geeste antwoord nie, maar hou nogtans hulle swaarde gereed.
’n Groot swart, nukkerige gees kom skielik nader. Hy lyk dreigend en die twee engele verstyf.
“Julle is nie welkom nie,” sê hy grommend. “Wat wil julle he?”
“Ons waak oor die man van God,” antwoord Krioni.
Die demoon kyk na Hank en dan verstyf hy: “Busche,” fluister hy hees. “Wat maak hy hier?”
“Dit het niks met julle te doen nie.”
Vir ’n paar oomblikke is die demone aggressief en tartend, maar dan meteens, verander sake. Krioni en Triskal voel hoedat nuwe krag hulle deurstroom en die bose geeste begin retireer. Hulle oë lyk verskrik en hulle probeer in die donker hoeke wegkruip. Triskal kyk na Hank en sien dat die jongman besig is om te bid.
“Here,” bid hy in stilte. “Help ons om hierdie jongmense te bereik. Help ons om hulle lewens aan te raak.”
Skielik is daar ’n gedoente by die agterdeur. Drie demone kom die gebou binnegesluip, kermend en klaend, hulle arms en vlerke oor hulle koppe gehou. Hulle word aangejaag deur ’n sterk en magtige hemelse kryger.
“Dis Seth. Hy het Ron Forsythe gebring. Maar lyk my daar is baie demone by hom,” se Triskal.
“Ek het dit verwag,” merk Krioni op.
Die jongman word sigbaar, ’n maer, verwarde en gedisoriënteerde karakter, totaal beheer deur die klouende, grypende demone. Hulle klou aan hom vas soos bloedsuiers en hy strompel en struikel soos die demone hom rondpluk. Hulle spartel om aan Seth se skerp swaard te ontkom. Seth het hulle egter goed onder beheer en hy lei hulle reguit na Hank Busche toe.
“Haai, Ron,” roep iemand.
Maar Ron skenk nie veel aandag aan hulle nie. Hy lyk beslis ongelukkig.
Hank hoor die naam en kyk op. Hy sien Ron Forsythe aangestap kom. Vir ’n enkele oomblik wonder hy of hy nie moet wegglip nie, maar dan besluit hy om die verwaarloosde jongman in te wag. Hy sien dat Ron voor hom uitstaar, so asof hy in ’n ander wêreld inkyk. Strompelend kom hy nader. Hy leun teen ’n videospeletjie aan en kyk die man voor hom fronsend aan. Hy ken mos die gesig.
Die demone wat aan Ron vasklou, kerm en kla. Hulle kyk van Seth na Krioni en Triskal en wonder wat nou gaan gebeur. Die ander demone in die vertrek het lus vir ’n geveg. Hulle geel oë flits heen en weer en hulle rooi swaarde glinster. Maar iets hou hulle terug — die biddende man!
“Hallo,” groet Hank vriendelik. “Ek is Hank Busche.”
Ron se glaserige oë rek en hy staar Hank aan: “Hmm, jy is daardie predikant van wie my ouers so baie praat. . sê hy mompelend.
Hank weet nou verseker wie Ron is en steek sy hand uit: “Ron Forsythe . . . Natuurlik. Mag die Here jou seën.”
Die demone hou nie van die begroeting nie, maar die drie hemelse krygers hou hulle in toom. Triskal het intussen die drie demone geïdentifiseer.
“Waarsêery, Towery en Opstand, ons ken julle.”
“Hierdie man behoort aan ons,” antwoord die demone aggressief. “Kom ons kry hom uit hierdie plek,” se Krioni aan Triskal. Hank raak Ron aan die skouer en sê vriendelik: “Kom ons stap ’n bietjie na buite. Dis so benoud hier.”
“Nee,” protesteer Ron. “Waarom?”
Maar Hank neem hom aan die skouer en lei hom na buite. Triskal staan by die deur en sorg dat die ander demone binnekant bly. Slegs Waarsêery, Towery en Opstand is buite by Ron. Hulle klou so al wat hulle werd is.
Ron sak op ’n bank neer en sy kop val op sy bors. Hank kom by hom staan en plaas sy hand op die jongman se skouer. Onwillekeurig wonder hy waar en hoe om te begin. Een van die demone vou sy lang, slymerige arms om Ron se kop en druk hom vas.
Seth druk die punt van sy swaard teen Towery se kop vas. Die demoon lag roggelend.
“Hy sal my nooit opgee nie, nooit nie,” gil hy.
Hank voel skielik iets vreesaanjaends wat oor hom toevou, byna soos daardie nag toe hy so deur die demone geteister is. Sou dit weer bose geeste wees? In hierdie jongman? Here, wat moet ek doen? Hoe kan ek hierdie saak hanteer?
Dan weet Hank wat om te doen. Hy gee Ron se skouer ’n bemoedigende druk. “Ron, ek wil vir jou bid? Mag ek maar?”
“Ja, asseblief...” pleit die seun en sy oë kyk Hank smekend aan. Maar dan kom die demone in hom in opstand. “Nee! Nee!” roep hulle uit en Ron worstel in hulle greep. Hy begin vorentoe en agtertoe wieg en mompel: “Nee, moenie bid nie . . . nie bid nie . . . Nee!”
“Ek voel ek moet vir jou bid, Ron,” hou Hank vol. Iets is vreemd aan die jongman. Hy weet nie wat hy wil hê nie. Is dit ooit hy wat praat?
“Nee . . . moenie bid nie . . .” sê hy en dan onmiddellik gaan hy aan: “Ja, bid . . . asseblief . . . bid vir my.”
“Bid vir hom,” moedig Krioni aan, maar die demone protesteer. Hank besef egter dat hy nou die situasie in beheer moet neem. Hy moet bid. Hy hou dus sy hand op Ron en begin bid: “Here Jesus, ek bid vir Ron. Raak hom aan, asseblief en bevry hom van hierdie magte wat hom beheer.”
Die demone klou aan Ron vas. Hy probeer orent kom en skud sy kop. Dan struikel hy en val weer op die bank terug. Sy hele lyf bewe.
“Towery, in Jesus se Naam, gaan uit Ron uit!” gebied Hank. Die Heilige Gees het die naam van die bose gees aan hom openbaar.
Ron begin worstel en wurg en skreeu hard, maar Towery gehoorsaam die bevel. Al kermende gaan hy uit Ron uit en vlieg na ’n boom daar naby. Skielik is dit of Ron ’n oomblik van helderheid kry. Hy kyk Hank dringend aan en sê: “Gaan aan, asseblief. Hou vol!”
Verslae staar Hank die jongman aan. Sy oê lyk helderder, maar daar is nog ’n pleitende uitdrukking op sy gesig. Desperaat roep Hank tot die Here: “Wat nou, Here? Wat moet ek nou doen?”
Die Here fluister nog ’n naam in Hank se gedagtes. “Waarsêery, laat los vir Ron. In Jesus se Naam, gaan weg!”
Ron kyk Hank aan met ’n wilde, amper waansinnige blik in sy oë. Sy stem klink desperaat: “Nee, nooit nie!”
Maar Hank huiwer nie. Hy herhaal die bevel, beslis en met gesag. Ron sidder asof hy ’n verskriklike worsteling deurgaan. Dan sê hy: “Ja, gaan! Gaan weg, Waarsêery, gaan weg!”
Die bose gees gehoorsaam. Hy kan die krag van gebed nie weerstaan nie.
Seth steek sy swaard in Opstand sê sy: “Toe, wat van jou. Wil jy nie ook padgee nie?”
“Gaan weg, asseblief,” smeek Ron. “Ek het genoeg gehad. Los my uit!”
“In Jesus se Naam, gaan uit die man uit!” beveel Hank. En dan is Opstand ook uit. Ron gee ’n diepe, sidderende sug. Hank hou sy hand vas. Die jong predikant sien hoe die man voor hom verander, stadig, maar seker. Dis of hy ontspan, asof die angs wegwyk en rus neerdaal.
“Hoe voel jy, Ron?” fluister hy eindelik.
“Baie beter, dankie.” Hy glimlag verlig. “Ek het vanoggend gedink ek . . . ek wens iemand wou vir my bid. Ek . . . ek het net nie kans gesien om langer so aan te gaan nie.”
“Die Here het dit so beplan.”
“Maar niemand het nog ooit vir my gebid nie.”
“Nee, jy’s verkeerd. Jou ouers bid elke dag vir jou.” Hank praat ernstig. “En ons by die kerk ook.” Hy glimlag bemoedigend. “Ons is doodgewone mense, maar ons het Jesus in ons harte. En Hy help ons om mekaar lief te hê.”
En hulle begin gesels, oor baie dinge, maar Ron kom spoedig agter dat Hank altyd weer die gesprek in Jesus se rigting stuur. Hulle gesels oor Jesus en geleidelik besef Ron dat hy nie omgee nie — glad nie omgee nie. Inteendeel, hy wil graag oor Jesus praat, meer oor Hom uitvind en Hom beter leer ken.
Vervolg...