AFRIKANERS OF BOERE?

Wie is ons, Afrikaners of Boere?

Vir sommige mense is dit deesdae oënskynlik belangrik om te probeer bewys dat die Afrikaanssprekende Blanke bevolking van Suid-Afrika in werklikheid uit twee volkere, naamlik Afrikaners en Boere, bestaan. Vanuit ‘n volkekundige oogpunt is dit natuurlik heeltemal onwaar en in die huidige politieke tydstip van ons volk se geskiedenis totaal onvanpas.

Definisie van ‘n volk

Alvorens die aangeleentheid van naderby bekyk word, moet ons eers probeer bepaal wat ‘n volk is.

‘n Volk is ‘n groep mense wat van ander groepe mense onderskeibaar is op grond van gemeenskaplike faktore soos ras-identiteit, bloedverwantskap, taal, kultuur en geskiedenis.

Daar is ‘n groot verskil tussen die begrippe volk en nasie. ‘n Nasie is ‘n groep mense wat binne die grondgebied van ‘n bepaalde staat woonagtig is en dus onderworpe is aan die gesag van die betrokke regering. Daar is dus nie noodwendig gemeenskaplikheid van ras, taal, kultuur en geskiedenis nie. Daar is dus ‘n Suid-Afrikaanse nasie, maar nie ‘n Suid-Afrikaanse volk nie.

Daarteenoor is die Duitse volk nie in ‘n enkele staat saamgebind nie, hulle woon in meer as een staat, naamlik Duitsland, Oostenryk en Switserland. Verder woon daar ook groot Duitse gemeenskappe in byna alle aangrensende Europese lande tot so vêr oos as Rusland en in ander wêrelddele soos Namibië en Argentinië.

‘n Mens verloor nie sy volksidentiteit wanneer hy na ‘n ander land migreer nie. Gewoonlik behou so ‘n persoon sy identiteit en soos wat sy kinders en kleinkinders algaande by die nuwe gemeenskap inskakel, verloor hulle geleidelik hul oorspronklike identiteit en word mettertyd deel van die nuwe gemeenskap.

‘n Volk is dus ‘n objektiewe gegewe. ‘n Portugees kan nie ‘n Duitser wees nie, net so min as wat ‘n Duitser ‘n Portugees kan wees. Wat wel kan gebeur, is dat ‘n Duitser na Portugal kan migreer en sy kinders en kleinkinders kan geleidelik in die Portugese volk opgeneem word, mits hulle assimileerbaar is. ‘n Nederlander of Duitser kan na Suid-Afrika migreer en sy nageslag kan geleidelik deur assimilasie in ons volk opgeneem word. ‘n Zoeloe se kinders en kleinkinders kan egter nie in ons volk opgeneem word nie, omdat hulle vanweë hul ras-identiteit nie assimileerbaar is nie.

Afrikaner of Boer

Die historikus, Herman Giliomee, wys daarop dat sedert die begin van die 18de eeu ons na onsself as Afrikaners of Boere verwys het. Die twee terme is daarna dwarsdeur ons geskiedenis as wisselvorme gebruik. Ten tye van die bestaan van die Suid-Afrikaanse Republiek (ZAR) en die Republiek van die Oranje-Vrystaat (OVS) is die twee terme steeds op dieselfde wyse as wisselterme gebruik. Geen persoon het nog ooit getwyfel wat Afrikaner of Boer beteken nie.

Skielik is daar egter nou mense wat van mening is dat “Afrikaner” en “Boer” nie slegs verskillende terme is nie, maar in werklikheid verskillende volkere beteken. Daar word beweer dat die “Boere” die konserwatiewe Blankes is wat in die noordelike provinsies gebore is en daar woon. Slegs hulle het glo ‘n vryheidstrewe en vertoon nie eienskappe van verraad nie. Daarteenoor word gestel dat die “Afrikaners” die liberale Blankes is wat in die suidelike provinsies gebore is en daar woon, nie belangstel in vryheid vir ons volk nie en tot verraad geneigd is. Daar word soms so vêr gegaan as om te sê die term “Afrikaners” is die naam van ‘n beesras.

In terme van die definisie van ‘n volk kan daar nie twee volkere van dieselfde ras, taal, kultuur en geskiedenis in dieselfde land bestaan nie. Die genealogie bewys in elk geval baie duidelik dat elke enkele Afrikaanssprekende Blanke ‘n noue bloedverwant is van elke ander Afrikaanssprekende Blanke in hierdie land, tot so ‘n mate dat ons volk niks anders is as ‘n uitgebreide familie nie. Ons voorsate was terdeë bewus hiervan; by die ontmoeting van ‘n vreemde het die handdruk gepaard gegaan met: “Dagsê neef / niggie, hoe voer jy die van?” Familiebande is dus vermoed en gewoonlik dan ook baie vinnig uitgelê.

Verskille tussen noordelike en suidelike Afrikaners

Natuurlik was daar in die geskiedenis verskille tussen die noordelike en suidelike gemeenskappe van ons volk. So byvoorbeeld was die “Boere” van die ZAR sedert die laat 1870’s in ‘n ernstige konflik met Engeland betrokke wat uiteindelik in die militêre stryd van die Eerste Vryheidsoorlog (1880 – 1881) oorgegaan het. Gedurende dieselfde tyd het die “Afrikaners” in die Kaap ‘n taalstryd onder leiding van “Die Genootskap van Regte Afrikaners” aangepak.

Die feit dat daar verskille in die geskiedenis van die Kaapse en Transvaalse gemeenskappe van ons volk voorkom, is egter geen bewys dat daar twee verskillende volkere bestaan nie. Gedurende die tydperk van die unifikasie van Duitsland, onder leiding van Otto von Bismarck in die 19de eeu, was daar ook ‘n verskil in die geskiedenis van die Suid-Duitsers en die Noord-Duitsers. In die tydperk voor die Frans-Pruisiese Oorlog van 1870 – 1871 het die Suid-Duitsers hulle aan die kant van die Franse teen die Noord-Duitsers geskaar en wou hulle nie saam met die Noord-Duitsers staan ten einde Duitsland te verenig nie, omdat hulle die Katolieke godsdiens met die Franse gedeel het. Dit beteken egter nie dat die Suid-Duitsers Franse was en nie meer Duitsers nie.

Daar is dan ook baie voorbeelde van hierdie tipe verskille in die geskiedenis van byna elke volk op aarde.

Kaapse leiers van ons volk

Ten opsigte van die argument dat die “Boere” en “Afrikaners” in die noordelike en suidelike provinsies respektiewelik gebore is en woon, kan die volgende teenargument gevoer word. Indien dit onbetwisbaar so is dat mense wat in die Kaap gebore is nie lede van ons volk is nie, dan is die grootste leier wat ons volk nog ooit opgelewer het, genl. J. B. M. Hertzog, sekerlik nie ‘n lid van ons volk nie – dieselfde geld vir dr. D. F. Malan, adv. J. G. Strijdom, mnr. Jaap Marais, dr. Andries Treurnicht en mnr. Eugene Terre’Blanche.

Die ergste van alles is dat Andries Pretorius, Hendrik Potgieter en selfs Paul Kruger nie “Boere” was nie, maar “Afrikaners” aangesien hulle almal van die Kaap afkomstig was.

In terme van die argument is ons almal in elk geval Afrikaners, want ons almal se voorouers is van die Kaap afkomstig!!!

Voortrekkers en Trekboere

Soms word ‘n variasie op bogenoemde argument gevoer, naamlik dat diegene wat om bepaalde redes aan die Groot Trek deelgeneem het “Boere” is en diegene wat om bepaalde redes in die Kaap agtergebly het “Afrikaners” is. Indien dié argument waar is, is die held van Bloedrivier, Andries Pretorius, weereens nie werklik ‘n “Boer” nie, maar ‘n “Afrikaner,” aangesien hy nie in 1836 saam met die res van die Trekkers getrek het nie. Boonop het hy na die Britse anneksasie van Natalia in 1842 heel gerieflik onder Britse bewind gebly en nie die gebied dadelik saam met die tweede Trek verlaat nie – hy was ‘n agternatrekker.

Verder was daar baie Trekboere wat nie om politieke redes uit die Kaapkolonie getrek het nie, maar om suiwer ekonomiese redes, soos dat hulle beter weiding vir hulle beeste gesoek het. Indien hulle dus nie werklik “Boere” is nie, maar “Afrikaners,” dan is Paul Kruger weereens ‘n “Afrikaner” aangesien sy vader ‘n Trekboer was wat eers later by die Groot Trek aangesluit het.

Vryheidstrewe en verraad

Ten opsigte van die argument dat die “Boere” ‘n vryheidstrewe het en nog nooit die volkstryd verraai het nie en dat die “Afrikaners” nie in vryheid vir ons volk belangstel nie en verder tot verraad geneigd is, die volgende: Aan die einde van die Tweede Vryheidsoorlog (1899 – 1902) was daar ongeveer 22 000 Bittereinders en 24 000 “hensoppers,” “joiners,” “National Scouts” en verraaiers in die ZAR en OVS – dit wil sê amper net soveel mense in die noordelike provinsies wat ons volk se vryheid ten alle koste wou handhaaf as mense wat bereid was om die Engelse oorlogspoging teen ons volk te steun. Daarbenewens het baie Kapenaars as Rebelle tydens die Tweede Vryheidsoorlog aan die twee Boererepublieke se kant geveg en gesterf.

Verder, genl. Christiaan de Wet was sekerlik die grootste vryheidsvegter wat ons volk nog ooit opgelewer het, terwyl sy eie broer, genl. Piet de Wet, ‘n “National Scout” was wat teen sy eie volksgenote geveg het. Beteken dit dat Christiaan de Wet ‘n “Boer” en Piet de Wet ‘n “Afrikaner” was? Kan dit werklik so wees dat ‘n pa en ma se een seun van een volk kan wees en hul ander seun van ‘n ander volk? Dit is tog onmoontlik. Die waarheid is egter baie eenvoudig: die een was ‘n held en die ander een ‘n swakkeling en verraaier.

Dit dien ook vermeld te word dat toe sekere Afrikanerleiers in 1914 besluit het om ons volk se vryheid te herstel, het generaal Manie Maritz, wat in bevel van die militêre kamp in Upington was, met ongeveer 2000 Kapenaars teen die Unie-regering gerebelleer.

Kapenaars en Transvalers

Onthou verder dat die Gesuiwerde Nasionale Party, wat vanaf 1934 tot 1940 die vaandel van volksnasionalisme gedra het, hoofsaaklik ‘n Kaaplandse politieke party was, terwyl die Transvalers en Vrystaters hoofsaaklik die pro-Engelse Verenigde Party onder genl. Jannie Smuts gesteun het.

Daarteenoor was diegene wat ons volk se politieke mag gaandeweg ondergrawe en uiteindelik die land aan die ANC oorgegee het van die noordelike provinsies afkomstig. Beide John Vorster en F. W. de Klerk is in die Transvaal gebore en het daar gewoon, terwyl P. W. Botha in die Vrystaat gebore is.

Meerdere benamings

Dit is ook belangrik om daarop te let dat verskeie ander volkere ook meer as een naam het. So byvoorbeeld verwys die Duitsers na hulleself as “Deutsch” terwyl die Franse na hulle as “Allemande” verwys.

Bees en perderasse

Bestaan daar ‘n beesras bekend as “Afrikaners?” Ja, natuurlik. Die woord “Fries” verwys eweneens na ‘n volk sowel as ‘n sekere bees en perderas. Dieselfde geld vir “Brahmaan” of “Brahmane” wat na ‘n Indiese godheid, ‘n Indiese kas of ‘n beesras verwys. Dit is dus glad nie ongewoon dat sekere diere, soos beeste of perde, na ‘n volk of groep mense vernoem word nie.

Vraag

Indien die storie van ‘n afsonderlike Boerevolk en Afrikanervolk werklik waar is, ontstaan ‘n baie interessante vraag, naamlik: Indien ‘n man wat in Noord-Transvaal woonagtig is met ‘n dame uit die Wes-Kaap trou, is hulle kinders “Afrikaners” of “Boere?”

Slot

Daar is nie twee verskillende Blanke Afrikaanssprekende volkere in Suid-Afrika nie. Selfs al sou dit waar wees, moet ons, ons energie veel eerder daarop fokus om die verskille tussen hulle te oorkom en die ooreenkomste tussen hulle te beklemtoon ten einde eensgesindheid te bevorder. Ons as Boere of Afrikaners staan almal voor dieselfde vernietigende gevaar, naamlik dat ons voortbestaan in Afrika bedreig word. Om dié bedreiging te oorkom moet ons almal saamstaan en eenheid bevorder, selfs met die ander Blanke gemeenskappe in Suid-Afrika soos die Engelse, Duitsers, Nederlanders, Portugese en Grieke.

President Stefanus Johannes Paulus Kruger

Kruger, Joubert en Jorissen het tydens hul besoek aan die Kaap die Afrikaanssprekende Kapenaars as volg toegespreek:

“Wij zijn toch een natie, een bloed, een been en een vleesch.”

Bron

F. A. van Jaarsveld

Die Ontwaking van die Afrikaner Nasionale Bewussyn

Johannesburg

Voortrekkerpers

1959

pagina 137

Generaal Christiaan Rudolf de Wet

Kort voor sy dood op 3 Februarie 1922 het genl. Christiaan Rudolf de Wet die volgende politieke testament opgestel:

“Ek voel my einde kom. Soos die Here wil. As ek die dag op my sterfbed lê en my verstand het, sou ek sê: Doen geregtigheid, maar bly Afrikaners. As ek tog maar my volk bymekaar kon bring – my Afrikanervolk! En almal wat in siel by ons is, al is dit ‘n Engelsman. Dan sal ons die hand om sy nek sit, nes hy ‘n gebore Afrikaner sou wees.”

Bron

H. J. May en I. Hamilton

Die Dood van Generaal De la Rey

Kaapstad

Nasionale Boekhandel Beperk

1968

pagina 136