DIE 4e EN 5e KRUISTOGTE

Nadat die derde Kruistog ook maar feitlik, soos ons aangetoon het, op ‘n mislukking uitgeloop het, wou die Kruisvaarders in Europa weer graag ‘n volgende een organiseer.  Daarvoor het hulle die hulp van die ryk Venisië baie nodig gehad , om hulle van skepe en voorrade te voorsien.  Venisië was gewillig om dit te lewer, indien die Kruisvaarders vir Venisië die gebiede van Zara en Dalmasië in Joegoslawië gaan verower en oorhandig.   Die Kruisvaarders het dit tot groot teleurstelling van die Christene in Europa gedoen en toe nog ‘n ander skelm plan van die Venisiërs uitgevoer, naamlik om die Christenstad Constantinopel, die hoofstad van die Bisantynse keiserryk, te gaan aanval.  So het die vierde Kruistog geëindig, sonder dat die Kruisvaarders ooit die Heilige land bereik het, met ‘n tweede verowering van Konstantinopel.  Dit is die “Skandalige Kruistog” genoem.

Die vyfde Kruistog was ook ‘n mislukking.  Die Kruisvaarders het hier onder leiding van Johannes van Brienne ‘n ander plan gehad om Jerusalem weer in die hande van die Christene te kry.  Hulle wou Damiëtta, ‘n belangrike hawestad in Egipte, aanval en verower en hom dan aan die Mohammedane verruil vir Jerusalem.  Die verowering van Damiëtta was geslaag en die Sultan van Egipte was gewillig om Jerusalem te oorhandig indien hy net weer beheer oor Damiëtta kan verkry.  Maar toe besluit kardinaal Pelagius dat dit baie beter sou wees om  die hele Egipte eers te verower, as om net Jerusalem alleen terug te kry.  Hulle het hard geveg maar kon Egipte nie verower nie en moes Damiëtta  weer aan die Egiptenare teruggee.  So was die vyfde Kruistog ook ‘n mislukking, want hulle het nie Jerusalem teruggekry nie.  Kardinaal Pelagius het alles verbrou.