BLANKHEID EN SALIGHEID (1)

'n Reeks akademiese studies oor die tien stamme van Israel

deur Prof H G van der Westhuizen

  1. Bestemming van die tien stamme van die Noordryk

Baie energie en tyd word verspil deur mense wat “glo dat elke eerlike soeker na die Waarheid tot die GROOT ONTDEKKING sal kom dat die kern van die Westerse Blanke Protestantse Nasie van vandag die letterlike afstammelinge van daardie TIEN STAMME van Israel is. Dit is hoofsaaklik wat ons in hierdie REEKS STUDIES wil bewys” (1:3). ’n Sentrale gedagte in hierdie stelling is dat God se beloftes in hierdie verband tweërlei is, naamlik “grace” en “race”: “The promises of GRACE were spiritual, pertaining to the ONE ‘Seed' - Jesus Christ (Galatians 3:16). But the physical, national birthright promises related to numerous seeds (Genesis 22:17; 32:12).” (6:3).

In hierdie kringe word die eerste tema (grace) grootliks verder agterweë gelaat en oorvloei met die tweede tema (race).

Die tweede tema word tot die evangelie verhef, 'n ander evangelie as die waarvan Paulus spreek (Gal 1:8). In hierdie kringe word ook goedskiks erken dat hulle met ’n ander veronderstelde blye boodskap besig is - net: hulle regverdig dit uit die Bybel. Hulle sê dat dit die evangelie is waarvan in Matteus 24:14 sprake is (1: Deel 5 p 19). Hierdie evangelie is glo dié van die jagters, wat die Israeliete vir die afgelope 150 jaar uit al die nasies uitruik, en wat dan in die eindtyd noodwendig sou moet volg op die evangelie van die vissers wat, gedurende die hele tyd tussen koms en weerkoms van Christus deur die kerk verkondig is (1: Deel 5, p 16-20). Jeremia 16:16 se verband oor die vissers en jagters spreek van die onvermydelikheid van die ballingskap as ’n oordeel van God oor die volk. Die beelde van vissers en jagters (vgl Habakuk 1:14-17) vir die vyandsfront wat oral in die land die oorwonnenes sal saambring vir die reis na die ballingsoord, “is so plastisch en dichterlijk, dat wij hier een stukje authentieke prediking .. . voor ons hebben” (21:224). Kenners wys daarop dat die opeenvolging van die aksie van die vissers en die jagters nie chronologies is nie, maar digterlike segswyse vir deeglikheid en volledigheid (21:224). Dit beklemtoon die gewisheid van die ballingskap - net soos verse 14 tot 15 dit ook beklemtoon.

Die vissers en jagters is dus beeldspraak vir die vyande van Juda en nie vir predikante en Israelisme-pastore nie! Hoofstut by die aanvang vir die tweede tema is onder andere Genesis 17:4—6 se “menigte van nasies” wat as ’n nageslag van Abram beloof word (3:18). Daar moet egter dadelik aan die begin onthou word: Die vertolking van Bybeltekste moet Bybels geskied en nie willekeurig nie. Met Bybelse uitleg of eksegese word minstens bedoel dat die betrokke teks se eie aard van samestelling die primêre draer van sy betekenis is. Die teks se literêre struktuur, grammatika, historiese verband, plasingsposisie en verdere Skrifverband, en so meer, bied die teks se inhoud aan die leser - en nie die leser se towerkrag met woorde om hulle soos osse van oor die hele weikamp saam te roep en in sy idee-wa in te span nie. Genoemde teks wil God se grote genademag deur die oue kinderlose enkeling aantoon. Uit Abraham is dan ook die volke: Israel (met twee ryke en baie konings); Ismael; volke uit sy tweede vrou Ketura (Gen 25:1—4); Edomiete, en in geestelike sin alle volke wat in Christus volgens Genesis 12:3 en Romeine 4:16, 17 deel het aan Abraham se vaderskap (7:63).

Verder is dit so dat daar in die Bybel baie gevind kan word wat byvoorbeeld as politieke voorspellings of beskrywings deur sommige gesien word, maar dit het as sodanig nie belang vir ons verlossing in Christus nie. As die volmaakte gekom het, dan gaan wat den dele is, soos profesieë (1 Kor 13:8, 10), tot niet. Die chiliaste is reg: “Jesus het nie hierdie nasionale verwagting van Israel (die terugkeer, heerlike Jerusalem, tempel en kultus) vervul nie. Maar hierin het hulle verkeerd as hulle sê: Hy moet dit nog vervul. Hy het dit afgewys en eens en vir altyd stukkend gebreek en afgedaan (soos die Hebreërbrief ons weer en weer laat sien)” (8:54).

Dit meen nie dat sekere gedeeltes uit die Bybel verwyder mag word nie, maar dat elke deel van die Bybel vir ons sy betekenis daarin het dat dit van Christus getuig. Moses (of die Wet of die Pentateug) en die Profete - al die Skrifte (hele Ou Testament) getuig van Christus (Luk 24:25—27; Joh 5:39). Dit gaan vir ons in die Bybel nie maar net om van geloof of politiek of genesings en so meer te lees nie. Ook Marta het soos die Fariseërs (teenoor die Sadduseërs) en soos baie volke, godsdienste en persone, in ’n opstanding geglo (of ’n ewige lewe), maar waar dit op aankom is dat Christus die opstanding en die lewe is. Dit moet geglo word (Joh 11:24—27). Om soos Marta die tweede belydenis te hê, is die lewe. Dit help nie om die belydenis van die opstanding te hê - sonder Christus nie. Dit help nie om ’n belydenis van Westerse, Europese of Blanke hoop te hê en ons met hierdie belydenis as sodanig te bemoei nie. Die belydenis van hoop is alleen waar in Christus - en nie in ’n Blankeskap of watter mooi en goeie erflatings ook al nie. Daarom moet ons soos Paulus ons voorneem, “om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde” (1 Kor 2:2). Weer eens - dit gaan vir ons as gelowiges om Jesus Christus (1 Tim 1:4; Titus 1:14; Filip 1:21). Ons moet soek na die Israel van God (Rom 9:7, 8; Gal 6:16). Christus alleen is die weg van saligheid - hoe jou kleur, kultuur, taal, land, afkoms of politiek ook al is (Joh 3:8; Hand 10:34, 35; Joh 10, en so meer).

Die mees fantastiese verhale word, veral sedert die Brits-Israel- teorie van Richard Brothers (1757—1824), saamgeflans om die Europese afstamming van Israel te bewys, sodat die Europeër bewus moet word van sy godgegewe wêreldplek as die afsonderlike huis van Israel - teenoor die afsonderlike huis van Juda, wat Jesus gekruisig het (2:2; 3:4). In hierdie beweging word chiliasme, Brits- imperialisme, anti-Semitisme, rassisme, wettisisme, en so meer, in mindere of meerdere mate met die politiek van die dag verbind. Die sewende dag wat nie onderhou word nie (3:59), word selfs as die rede aangevoer waarom die tien stamme hulle nasionale identiteit verloor het (4:166).

Een van die fantastiese verhale is rondom die profeet Jeremia. Met sy ontsnapping na Egipte (Jer 41:10; 42:7-16; 43:5-7; 44:28; 45:2—5) sou hy uiteindelik in Ierland die Saksers (Saac’s sons, Isaac’s sons!) gevestig het. “I’ve been informed that the royal family of two or three generations ago did know that the British sovereign is in fact a continuation of the dynasty of King David of ancient Israel. The dynasty continued to the time of Zedekiah, last King of Juda, overthrown by Nebuchadnezzar, king of Babylon. The throne was moved by the prophet Jeremiah, through a daughter of Zedckiah, to Northern Ireland. It was overturned a second time and laken to Scotland. A third time and moved to London. It will be once more overturned by Jesus Christ, at His approaching second coming to earth, and moved to Jerusalem where Jesus Christ will sit on that throne, ruling over all nations of the earth” (6:3). Jeremia sou ook die sware klip waarop Jakob by Betel geslaap het, en wat oor al die eeue bewaar gebly het, saamgedra het na Egipte en van daar na Ierland. Van Ierland af het die Saksers dan, met die klip en al, na Engeland gegaan, waar hierdie klip die “stone of Scone” geword het waarop al die Britse konings tot vandag toe gekroon word! Behalwe dat hierdie fantastiese verhaal nie historisiteit of Bybelse begronding het nie, het wetenskaplike toetse ook bewys dat die betrokke Engelse klip van oorsprong uit Skotland afkomstig is (5:13).

Ons handel later verder oor die bestemming van die tien stamme. Tot sover is ’n aanduiding gegee hoe na die bestemming gesoek word en wat ons daarvan dink.
Vervolg...