'n Reeks akademiese studies oor die tien stamme van Israel
deur Prof H G van der Westhuizen
Lees reeks by Blankheid en saligheid
2. Vermaning teen selfroem
Ironies dat juis Jeremia waarsku: “Vertrou nie op bedrieglike woorde nie, wat sê: “Die Here se tempel (se Israel), die Here se tempel (se Israel) die Here se tempel (se Israel) is dit!” (Jer 7:4). Ons Nederlandse Geloofsbelydenis waarsku ons om op geen literatuur vir ons geestelike onderrig te steun waar dit van die Bybel verskil nie (art 6). Daarby is die Heilige Skrif volledig genoeg vir ons saligheid en geen woorde (of verhale) van mense, kerkvergaderings of engele kan by die Bybel gevoeg word om ons daarmee te red nie (NGB art 7). Ons stel ons as gelowiges daarmee tevrede dat ons as leerlinge van Christus slegs leer wat Hy ons in sy Woord openbaar - sonder om die grense daarvan te oorskry (NGB art 13).
3. Ons geloofsbelydenis
Ons Nederlandse Geloofsbelydenis sê dat ons die 66 boeke van die Bybel van die Reformasie kanoniek noem, omdat die kerk hierdie boeke aanneem as van God, omdat die Heilige Gees in ons harte getuig dat hulle van God is en omdat hulle die bewys daarvan ook in hulleself het vanwee die vervullings waarvan hulle self getuig (NGB 5). As die apokriewe boeke (9:257) dan ook ’n enkele keer in IV Esra, wat ’n halfeeu na Christus geskryf is, onvolledig en vaag oor die verlore tien stamme handel, is dit feitlik van nul en gener waarde (10:27). So ook met ander geskrifte waarna ons later nog sal verwys.
4. Volkekundige spekulasies
Interessantheidshalwe noem ek nog sommige van die taalkundige en volkekundige spekulasies van hierdie beweging (1: Deel 4, p 30—48). Berit = verbond, sou ’n Brit aandui. Beritish = man van verbond, is dan British. Berit ain = land van verbond, is Britain (4:166). Soos die Saksers en Skittiers (1 Deel 4, p 37) Isak se seuns sou wees, word met allerlei name wat met Da, Dan, of Dn begin op die stam van Dan gedui - Denemarke, Danzig, Don, Dnjeper, Danube, Donau (10:29). Die Skotte met McDonald is seuns van Dan! Die Amerikaners as groot nasie is die nageslag van Josef (Gen 49:22); van Manasse in besonder, terwyl Efraim, Engelse, ’n gemenebes van nasies is (4:123-128, 169, 175). Die Franse is van Ruben (4:166); die Duitsers is die moderne Assiriërs (4:166, 199); Oos-Duitsland is Gomer (3:154), en die Italianers is die moderne Babiloniërs (4:199). Ook die Indiane van Amerika en sekere groepe Japanners is al as die verlore tien stamme aangedui (10:28)! Buitendien: as Sem ’n kandidaat as voorvader van die Westerse Blanke nasies is, is Jafet dalk ’n beter kandidaat (Gen 10:2-5).
’n Moslem-groep beweer dat Jesus na ’n skyndood in Afganistan onder die verlore tien stamme gaan werk het (GC Oosthuizen, Die
Godsdienste van die wêreld, 1978, p 340). Vergelyk ook Johannes 7:35.
Behalwe dat veral die Blanke volke geweldig ondertrou het en die bewys van spesifieke afkoms dus in baie gevalle onmoontlik is, is die gevalle waar name of afkoms miskien werklik met Bybelse inhoude verband hou, waardeloos vir ons verlossing, wat alleen in die geloof in Christus geleë is.
5. Israelisme apartheid
Om tot al die detail oor Israel se tien stamme-nageslag te kom, word uitgegaan van die skerpe skeiding tussen Israel en Juda (10:28; 3:44; 1:15). Die Engelse en ander is dan in die afkomslyn van Israel en die Jode (hoe vermeng is ook hulle met ander nasies, dat die meeste feitlik net godsdienstig Joods is) is in die afkomslyn van Juda. Merkwaardig dat die sage van Sedekia se dogter wat deur Jeremia se hulp die vorstehuis van Engeland oprig, nie uit die huis van Israel nie, maar uit die huis van Juda stam. Dieselfde geld ook van die Britse wapen as dit met die leeu van Juda (Gen 49:9) in verband gebring word (10:29).
Wanneer die Brits-Israelisme voorgee dat Israel en Juda skerp geskei is ten opsigte van mekaar en in die bestaande volke vandag in die wêreld, word die Britse volke as Israel-volke ook om die volgende redes geïdentifiseer: Aan Israel sou volgens die gewestelike eksegese ’n belofte van ’n seevarende nasie gegee wees (Num 24:7; Deut 33:13; Ps 89:26; Jes 24:14; 42:10; 43:16; 60:5) - soos die Britte! Ook groot rykdom sou Israel toekom (Deut 8:18; 28:4v; 15:6; 28:12) - soos die Britte! Verheffing van Israel bo die ander volke (Deut 28:1) - soos die Britse imperium of ryk! Genesis 22:17 en 24:60 sou dan praat van die Britse besetting van die toegangspoorte ter see, soos Gibraltar, Aden, Singapoer (10:29).
6. Puntsgewys
Die basiese pretensie van die onderskeibaarheid van die tien stamme as volke, kan om die volgende verdere redes nie aanvaar word nie:
- Die lede van die huis van Juda word ná die wegvoering na Babilonië dikwels as Israel aangespreek, sodat die skerpe onderskeid van Israel en Juda verval - want die huis van Juda of die suidryk is inderdaad ook Israeliete. Vergelyk Jeremia 2:31; 5:15; 10:1; 14:8; 17:13; 18:6; 7:3; 13:12; 21:4; 25:15; 27:4 ensovoorts en Esegiel 3:4; 11:5; 17:2; 20:27. Petrus spreek in Handelinge 2:22 en 23 sy Joodse gehoor, wat ook Israeliete is en lede van die huis van Israel of van die tien stamme bevat, aan as Israeliete wat Jesus gekruisig het. Die Brits-Israelisme is egter daarop gesteld dat Israel en Juda onderskei moet word - tot in ons tyd toe - en dat dit nie Israel is wat Jesus gekruisig het nie, maar Juda (10:28). Judas, wat Jesus verraai het, word die enigste Jood onder die twaalf dissipels geag (3:90). In hierdie opsig word ook die Jode en die kerk met ’n harde oordeel as blind bestempel (1: Deel 4; p 24) omdat hulle Jesus as ’n Jood sien, terwyl Hy nie ’n Jood wou wees nie (1: Deel 4, p 16), maar ’n Judeër (1: Deel 4, p 22)! In die Nuwe Testament word dieselfde mense wat 174 keer Jode genoem word, 75 keer Israel genoem.
- Die Bybel, wat buitendien as geloofsboek nie ’n handboek vir volkekunde of geskiedenis wil wees nie (2:4), spreek in Sagaria 8:13; 10:6 die teruggekeerdes uit die ballingskap toe as die huis van Juda en die huis van Israel (2:4).
- Ná die ballingskap is twaalf bokke volgens die getal van die stamme van die hele Israel geoffer (Esra 6:17; 8:35).
- Jeremia 3:18 en 50:4 is ’n profesie wat die huis van Juda en die huis van Israel uit die destyds heersende ballingskap sien terugkeer.
- Nadat die Babiloniese ryk vernietig is, het die Persiese koning Kores ’n skriftelike oproep deur sy hele wêreldryk, waar ook die verstrooide tien stamme was, laat gaan: "... Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort - mag die Here sy God met hom wees, en laat hy optrek” (2 Kron 36:22—23; Esra 1:3; 2:70; 3:1; Eseg 47:13).
- Esegiël 37 wat die chiliasme as fondamentsteen gebruik (11:107), spreek in vers 19 duidelik oor die hereniging van die twee ryke wat in daardie stadium nog verskeur, geoksileer en verstrooid - ja dood was! Die twee houtsepters met die name Josef en Juda, word in die profeet se hand van God tot 66n. Ds GWA van der Lingen (1804—1869), vader van die pinksterbidure in Suid-Afrika, wat ook die grondlegger van die chiliasme in Suid-Afrika is, het, na aanleiding van Esegiël 38 ook al in 1833 merkwaardige dinge geprofeteer (12:236-257). Brothers het in Londen in 1822 ’n boek gepubliseer: “A correct account of the Invation and Conquest of this Island by the Saxons, necessary to be known by the English nation, the Descendants of the greater Part of the Ten Tribes” (10:28). Ds Van der Lingen hou sy voorlesings in 1833 en publiseer dit in 1842 by Richert, Pike en kie, Kaapstad, onder die titel: “Aanwijzingen betreffende de Afkomst en Bestemming van sommige Noordsche Volken” (12:236).
- Esra 2:64 en Nehemia 7:66 stel die getal teruggekeerdes op 42360, wat byna vier maal meer is as die getal van Juda wat maar omtrent ’n halfeeu vroeër weggevoer is. En dan het alle Jode ook nie eers uit die ballingskap wou terugkeer nie! Dus moes daar ook ander, van die huis van Israel, by gewees het (13:450).
- 1 Kronieke 9:3: “En in Jerusalem het gewoon van die seuns van Juda en van die seuns van Benjamin en van die seuns van Efraim en Manasse”. Dus: nie net lede van die huis van Juda (en Benjamin) nie! En dit ná die ballingskap!
- Nehemia 7:61, 62 dui daarop dat met die terugkerendes nie soseer gelet is op afstamming uit Juda nie, maar wel uit die hele Israel (13:450). Diegene wat hier genoem word, is stellig tien stamme-lede wat weens hulle langer verblyf van omtrent 200 jaar (722—537), teenoor Juda se ballingskap van omtrent 50 jaar (586—537), nie meer hulle afkoms duidelik kon identifiseer nie.
- Lukas 1:5 noem die priester Sagaria, Elizabeth se man en Johannes die Doper se vader, as uit die afdeling van Abia, wat daarop dui dat die priesterindeling in die Nuwe-Testamentiese tyd minstens simbolies nog met Dawid se twee dosyn-indeling vir al twaalf stamme rekening gehou het (1 Kron 24; Luk 1:8). Vergelyk die 24 ouderlinge van Openbaring.
- Handelinge 27:6 gebruik die enigste keer in die Nuwe Testament die woord dodekafulon (twaalf stamme), en in die gebruik daarvan dui Paulus hier aan dat hy nie iets van die latere fiksie van die “verlore” tien stamme weet nie (14:442).
- Ook die feit dat dit in die Nuwe-Testamentiese tyd ’n rabbi se gebruik was om twaalf dissipels te kies, dui op die verteenwoordiging (minstens simbolies) van die hele Israel.
- In Matteus 10:5, 6 en 15:24 word die verlore skape van die huis van Israel, Matteus se beklemtoning van die volk Israel se verwerping van Jesus, gestel teenoor die heidene wat nie in die Joodse land woon nie (15:199—200).
- Anna, ’n profetes in Jerusalem in die tyd van Jesus se geboorte, is uit die stam van Aser (Luk 2:36)!
- Paulus se voorstellings van homself maak geen onderskeid tussen Israeliet, Jood, Hebreër nie (Hand 22:3; 26:7; Rom 11:1, 2 Kor 11:22; Filip 3:5).
- Joodse gelowiges “uit elke nasie wat onder die hemel is” sluit lede van die huis van Israel nie uit nie (Hand 2:5, 10).
- Johannes 7:35. Al sou ons wil sê dat daar inderdaad nog Israeliete was wat nie na Palestina teruggekeer het nie, en wat Jesus volgens hierdie vers, na die vraag van die Jode sou wou gaan leer, word so ’n moontlike betekenis afgesny. Die kwalifikasie dat Jesus daar die Grieke, en nie die Israeliete nie, op die oog kan hê, bevestig die vertaling van die diaspora as die gebied van die verstrooides en nie die verstrooides self nie. In hierdie vers vra die Jode hulleself dus ongelowig af of Jesus na die gebied van die diaspora wil gaan, dit wil sê na die gebied buitekant die Joods-Palestynse gebied. Hierdie buitelandse gebied is ’n gebied van die Grieke ofte wel die heidene. Daarom is die Jode so verbaas toe hulle Jesus se hemelvaartberig nie begryp nie! Want hulle dink dat hierdie verwerplike Joodse rabbi van plan is om heidene te gaan leer. Die Jode was in hierdie verkeerde gedagte van daardie argument nie verkeerd wat die totale intensie van Jesus betref nie. Deur die verstrooiing na Stefanus se dood het die kerk van Jesus inderdaad na hierdie gebied van die verstrooiing in ’n tweede diaspora gegaan - vergelyk 1 Petrus 1:1 en Jakobus 1:1.
- 1 Petrus 1:1 en Jakobus 1:1. Die diaspora of verstrooiing verwys hier na die verstrooide Christene vanweë die martelaarskap van Stefanus. Dit verwys nie na die ou diaspora van die Israeliete of die tien stamme wat dan nie na Palestina sou teruggekeer het nie. Jakobus skryf aan die twaalf stamme. Indien minstens twee stamme teruggekeer het, sou Jakobus nie meer van twaalf kon praat nie. Hier word dus figuurlik die geheel van die Godsvolk aangedui. Hierdie Godsvolk is die nuwe Israel, omdat die lesers uitdruklik Christene is: “My broeders (... vanweë) julle geloof in onse Here Jesus Christus ...” (Jak 2:1).
7. Gevolgetrekking oor die tien stamme
Uit alles wat ons tot hier toe nagegaan het, kan onder andere die
volgende gevolgtrekkings gemaak word (16:6):
- Omdat die tien stamme omtrent vier keer langer as die twee stamme in die verstrooiing geleef het, het hulle veel meer geassimileer geraak onder die heidene as die twee stamme, ook omdat hulle nie die sterker godsdienstige inslag van die Jerusalem-volk gehad het nie. Dat lede van die tien stamme ook verspreid is onder die nasies van die wêreld en tot vandag toe miskien taalkundige en ander invloede nagelaat het, kan korrek wees. Maar dat hulle volgens die Bybel as volke geïdentifiseer moet of kan word, is onwaar.
- Van die tien stamme wat met die wegvoering agtergebly het, het met die ingevoerde Assiriërs verbaster tot die Samaritaanse volk (2 Kon 17:24). Dus kan ook hulle nie as verlore en ontdekbare volkskomponent gesien word nie.
- Die res, behalwe dié wat permanent deur verskillende nasies geassimileer is en die Samaritaanse oorblyfsels, is maar ’n klein persentasie van die tien stamme, maar verteenwoordig die tien stamme, en het in hulle terugkeer na Palestina, na die samesmelting in die smeltkroes van die diaspora, saam met die Joodse ballinge wat teruggekeer het, die historiese voortsetting van die volk Israel geword. Statisties het die tien stamme relatief gesproke hulle so te sê geheel in die vreemde land gevestig, soos Josefus (37—100 n.C.), die Joodse geskiedskrywer vertaald (17: VII), sê: “. . .but then the entire body of the people of Israel remained in that country; wherefore there are but two tribes in Asia and Europe subject to the Romans, while the ten tribes are beyond Euphrates till now, and are an immense multitude, and not to be estimated by numbers” (17:XI, V, 2, p 234). Simbolies het die tien stamme in ’n klein getal verteenwoordigers met die twee stamme na die ballingskap verenig.
8. Ander vrae
Teen die agtergrond van wat ons tot nou toe aangestip het, hoef ons nie meer breedvoerig by die ander vrae van die aanvanklik genoemde lidmate stil te staan nie. Dit is egter nodig dat dit wel kortliks behandel word. Sommige is reeds in bogenoemde behandeling direk beantwoord, soos die vraag: “Op wie het Christus se woorde betrekking as hy in Matteus 10:5, (en 15:24 praat van die verlore skape van die volk van Israel?". Ook die vraag: “Waarom is die apokriewe boeke uit die Bybel weggehaal?", is reeds aangeraak. Implisiet is die volgende vraag ook reeds beantwoord: “As ons na die Blanke Christelike Westerse nasies vandag kyk, dink u nie dat hulle afstammelinge van die verlore tien stamme is nie?” Oor die gedagte van “verlore” het ons reeds ’n drieërlei aanduiding gegee van waar die tien stamme is. Hulle is nie “verlore" nie Dat hulle ’n komponent in die bestaande volke van ons dag is, het egter niks te doen met die verlossing van welke volkslid ook al in Christus nie. Matteus 28:19, Jesus se laaste opdrag, sluit alle nasies in (18:25). Al behoort al die koninkryke van die wêreld aan die duiwel volgens sy mening (Matt 4:8) en vanweë die sonde (1 Joh 5:19), sal “die nasies in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde (sal hulle skatte daarheen bring” (op. 21:24); “En hulle sal sy volke wees ". (Op. 21:3).
Vervolg...