BLANKHEID EN SALIGHEID (4)

'n Reeks akademiese studies oor die tien stamme van Israel

deur Prof H G van der Westhuizen

Lees reeks by Blankheid en saligheid

11. Die land van Jesaja 18

’n Volgende vraag wat handel oor die land van “vlerkegegons” van Jesaja 18, veronderstel dat dit Suid-Afrika kan wees!

Die verband waarin Jesaja 18 staan, mag egter nie los gelaat word nie, en so ook nie die letterkundige struktuur daarvan nie. In poëtiese taal word iets eerder digterlikvry as tegnies-stiptelik beskryf.

Die tyd van Jesaja se profesie (± 725 vC) is blykbaar toe Etiopië ook oor Egipte geheers het. In hierdie tyd was Assirië in die noorde en Egipte-Etiopië in die suide kompeterende magte om die guns van volke soos Israel en Juda.

Koning Hosea van Israel het op die suid- magte teen Assirië begin steun (2 Kon 17:4). Jesaja verhaal nou dat daar gesante van Etiopië kom om koning Agas van Juda ook tot so ’n aksie oor te haal. Jesaja 18 berig dat Jesaja die boodskappers adviseer dat die Here en nie die suid-magte nie, Juda van die noord- magte sal verlos.

Jesaja se kennis ook van die gesante en hulle land het hy sekerlik van die gesante self verkry. Die vlerkgegons van die land verwys na die tsetsevlieë, muggies, muskiete en talle insekte in die Nyl-delta met sy vele takriviere. “’n Ander vertaling is: ‘land van die dubbele skaduwee’, omdat die skaduwee in die omgewing van die ewenaar agtereenvolgens noord en suid val” (AVB). Die gesante het van hierdie land, Kus, langs of oorkant die riviere van die land (die takriviere van die Nyl lê gedeeltelik noord van Etiopië) met papirusbote aangekom. In Sefanja 3:10 word ’n dergelike lokalisasie gebruik om die verste uithoeke aan te dui. Die Septuagint vertaal meer helder by Sefanja 3:10: ek peraton potamon Aithiopias, en by Jesaja 18:1: epekeina potamon Aithiopias. Stefanus haal in sy preek in Handelinge 7:43 uit die vuis aan uit die Septuagint Amos 5:27, en vervang Damaskus met Babilon, maar sê dan ook epekeina Babulo- nos - anderkant Babilon - vir die plek van ballingskap. Jesaja roep die gesante toe om na hulle land en mense, blink van lyf (vetgesmeer?) en groot van gestalte (“die Griekse geskiedskrywer Herodotus noem die Etiopiërs die grootste en mooiste van alle mense” - AVB), terug te gaan! Hulle nasie word dan verder beskryf as “geducht, heerszuchtig en wreed” (20: 195). Dit dui op die tyd van hierdie nasie “se eerste politieke optrede ... toe Sabako die troon van die farao’s bestyg het as die grondvester van die 25e Egiptiese dinastie” - AVB).

Vervolgens word die inhoud van Jesaja se boodskap aan die gesante verhaal (v 3-6), naamlik dat alle aardbewoners, sekerlik veral die Etiopiërs, hulle oë en ore moet oop hou vir wat gaan gebeur - om uiteindelik na Sion getrek te word (v 7). Intussen sal die Here dinge ’n tyd lank op aarde hulle loop laat neem asof Hy stil en rustig in die hoogte is (vgl Ps 2:4). Wanneer Assirië so ver gevorder het dat hulle die oes reeds voorsien, sal God ingryp en hulle verwagtings vernietig (vgl 10:28-34; 14:25; 17:12-14). Etiopië moet dus, soos Juda, ook weet en wag op die uitkoms van die Here, en hulle moet nie op mekaar vertrou nie. God se optrede sal ook Etiopië tot die Here laat nader (v 7).

In verband met die waarheid van hierdie profesie kan Jesaja 37:36 gelees word. Vergelyk ook 2 Kronieke 32:23; Psalm 68:32; Sefanja 3:10; Handelinge 8:26 v; Openbaring 21:26.

Vervolg...