'n Reeks akademiese studies oor die tien stamme van Israel
deur Prof H G van der Westhuizen
Lees reeks by Blankheid en saligheid
- Mensagtige diere
’n Ander vraagstuk, is die veronderstelling dat die Bybel van ’n dier praat wat “veel laer as die Blanke is, maar tog veel hoër as die gorilla”. Die dokument wat my ter hand gestel is (23), beskryf hierdie wonderlike dier soos volg: “Opsommenderwys is hierdie ’n menswaardige dier. Hy word die wilde dier van die aarde genoem en word onderskei van vee en viervoetige diere van die aarde. Gevolglik is dit ’n dier met twee bene, eet gesaaides, olywe en druiwe, dus kos wat ’n mens eet. God straf hierdie dier met swere wat in blare uitbreek. ’n Man en vrou kan met so ’n dier geslagsgemeenskap beoefen. Hulle dien die mens en ontvang loon vir hulle arbeid. Hierdie dier het hande en voete en woon ook in stede. Hierdie wilde dier maak van ’n land ’n wildernis en kan ’n mens verhinder om daardeur te gaan. Die dier dra klere van materiaal en kan met God kommunikeer en berou hê oor sy sonde. Verder kan hierdie dier alles belaster waarvan hulle niks weet nie; hulle kan dus met mense kommunikeer ..."
Al bogenoemde afleidings waarvan sommige totaal sonder grond en ongeoorloof is, word uit die volgende Skrifverwysings gemaak:
- 1Genesis 1:24
In hierdie en die volgende vers handel die Bybel oor die skepping van die gronddiere, afgesonder van die skepping van die seediere en die lugdiere aan die een kant (v 20—22), en die mens aan die ander kant (v 26 v). Die gronddiere word dan basies in drie groepe genoem: behemah (vee), remes (reptiele) gaijah (wild). Die Griekse vertaling van die Ou Testament, wat ’n paar eeue voor Christus gedoen is, Septuaginta (LXX), vertaal dit met tetrapoda, herpeta en theria onderskeidelik. Hier is dus geen sprake van ’n soort mensdier nie. Onder bogegoemde drie woorde word net diere en wel alle diere ingesluit – ook insekte, spinnekoppe, en so meer.
- 2Genesis 1:25
Presies die diere van vers 24 word net in ’n ander volgorde genoem: wild, vee (LXX: ktene), reptiele. Dit is heeltemal foutief om uit die woord vir wild af te lei: “Hierdie dier beskik dus oor die vermoë om selfstandigheid van denke en handeling aan die dag te lê” (23). Die woord vir wild, met die veronderstelde besondere betekenis, word teenoor die woord vir vee deur die dokument afgesonder as die woord vir die mens-dier. Maar in latere tekste wat die dokument aanhaal, word juis ook weer vee as die mens-dier aangewys!
- 3Eksodus 23:11
Die reëling dat die Israeliete hulle land die sewende jaar moet laat rus, en wat daarop groei deur die armes en die wild moet laat benut, word suggestief voorgestel asof ’n mens-dier ook graan, olywe en druiwe eet. Intussen word slegs gewoonweg die wild bedoel! En hoe erg kan bobbejane, duikers, jakkalse en so meer nie ’n mielie- en waatlemoenland verniel nie!
- 4Eksodus 9:9
Die vee van mense is gereken as deel van die mens se lewe. Daarom offer Israel gewoonlik vee uit sy krale (Lev 1:2) en nie wild van die veld nie - omdat die vee iets van die persoon self is (27:38). Vee soos die os en die esel, kry dan ook selfs ’n plek in die Tien Gebooie. As vee nou in hierdie teks ook swere soos die mense kry, wat die uitgebreide aantasting van die samelewing aandui, kan tog nie afgelei word dat vee hierdie keer ’n mens-dier is nie! Die onderhawige dokument is in teëspraak met homself omdat hy by Genesis 1:25 oor vee opmerk dat dit ’n “vierbenige spraaklose dier” beskryf, terwyl wild die mens-dier is! In Eksodus 9:9 word vee egter die mens-dier!
- 5Levitikus 20:15, 16
Die dokument wil ook dat “hierdie dier nie ’n vierbenige dier is nie, want sulke dade (vleeslike gemeenskap) word tog nie (deur mense) met diere gepleeg nie”. Tog staan daar in hierdie verse weer van vee geskryf! Oorspronklik staan daar albei keer behemnh, en die LXX vertaal met tetrapodi (viervoetige v 15) en ktenos (v 16).
Hierdie saak van vleeslike gemeenskap tussen mens en vee, word meer kere in die Bybel genoem: Eksodus 22 10; l evitikus 18:23; 20:15, 16; Deuteronomium 27:21. Israel word so ten strengste verbied dat ’n man met vee gemeenskap sal hê of ’n vrou dit sal probeer doen. Hierdie bestialiteit het destyds veral onder die omringende nasies van Israel voorgekom. Die Hetiete het selfs wetlike voorskrifte daarvoor gehad wat sekere diere verbied en ander goedkeur! Die opvatting was soms in die omliggende nasies, dat sekere mense nageslagte van mens-dier seks is. So is die Egiptiese koning Ramses II gesien as ’n nageslag van ’n bok en ’n vrou. God verbied Israel hierdie bestialiteit omdat dit in die omringende nasies dikwels by afgodsdienste voorgekom het, en ook omdat die verskynsel wat veral by veeherders voorgekom het, ’n vermenging van skeppingsdinge is (24:158). Selfs vandag nog kom die probleem soms voor!
- 6Eksodus 19:13
Die intensiewe wyse waarop Israel verbied is om die heilige berg (vanweë God se koms daarheen) te verontreinig, is deur te sê dat geen hand dit mag aanraak nie. Ons sou miskien sê jy moet nie met ’n tang daaraan raak nie! Daarom ook dat ’n aanraker nie gevang
moet word nie, maar op ’n afstand gestenig of met ’n pyl geskiet moet word. Om die hand in hierdie vers van toepassing op ’n mens- dier te maak, is totaal onmoontlik. Die vee (LXX = ktenos) as randdeel van die menslike samelewing, word dus ook hier verbied om die berg te verontreinig. Die mens (Israel) het die opdrag tot hierdie weerhouding ook van die vee, gekry. Hebreers 12:20 vertaal vee in die oorspronklike nie soos die LXX nie, maar met wild.
- 7Jeremia 7:20
God se toorn word oor Jerusalem uitgestort oor al sy mense, sy vee en sy bome. Hierdie uitdrukking van God se omvattende straf laat geen afleiding toe van ’n mens-dier wat “dus stadsbewonders (is nie). (Want) God bedoel dus hier sekerlik nie troeteldiere nie” (23)!
- 8Jeremia 21:6 en 27:6
Die grootheid van die pes word weer omlyn deurdat dit mens en vee sal tref. Dat hierdie vee mens-diere is wat “soos slawe die koning (Nebukadnesar) dien” (23) - omdat die tweede teks stel dat God selfs die wild onder Nebukadnesar se omvangryke heerskappy bring - bevat in sigself al ’n kontradiksie met die woorde vee en wild - albei vir mens-dier!
- 9Esegiel 14:15
Dit is tog so empiries dat wild in wildernis realiseer, dat die suggestie dat hierdie vers se wild mens-diere is, ongelooflik verregaande is.
- 10Esegiel 29:11
Die dokument gebruik deurentyd soos ook hier ’n Engelse vertaling om die oorspronlike teks te bewys! Hier sê die dokument dat hierdie vers se dier - wat veronderstel word dat dit die mens-dier is, maar wat in der waarheid vee is - voete het, maar dat die Afrikaanse vertaling dit verander het na pote! In die gebruikte Engelse vertaling staan natuurlik by “man” en “beast”: “foot”. Die Hebreeuse regel beteken natuurlik voet, poot en selfs tafelpoot!
- 11Jona 3:8
Die omvang van Nineve se bekering word weer met die terme mens en vee uitgedruk. In die lig van vers 7 waar vee nadcr omskryf word met grootvee en kleinvee, sou ons kon sê die bedoeling is: alles wat leef en beef en asem haal! As verstand en sinkonstruksie enige bydrae lewer, is dit tog onmoontlik om van vers 8 te sê dat die roep tot God, bekering, ook betrekking het op die vee - wat dan die mens-diere sou wees!
- 12Handelinge 10:12
Die dokument sê “die dier (mens-dier) word onderskei van die viervoetige diere as wilde diere”. Maar soos hierbo aangedui, is die veronderstelde mens-dier van Jona 3:8 die vee, soos Handelinge 10:12 juis ook van die vee (tetrapoda = viervoetige diere) en die reptiele spreek. Baie van die ou handskrifte waaruit die oorspronklike teks saamgestel is, spreek in hierdie teks ook van wild. Nêrens is sprake van ’n soort mens-dier nie!
- 13Judas 1:10
Die opgewondenheid van die dokument spreek uit die volgende: “Nou raak die prentjie van die dier (mens-dier: HG van der Westhuizen) interessanter soos in Judas 1:10: Die Engelse vertaling lees: ‘But these speak evil of those things which they know not; but what they know naturally, as brute beasts, in those things they corrupt themselves’. Die Afrikaanse vertaling veronderstel dat ‘brute beasts’ redelose diere is. In die lig van bostaande versie sou ek reken is ‘brute’ nader aan onbeskof as aan redeloos” (23:2). Die Afrikaanse vertaling gebruik nie die Engelse vertaling as oorspronklike nie! En veronderstel nie dat ‘brute beasts’ redelose diere is nie, maar dat die oorspronklike, “aloga zdoa”, wat ook in 2 Petrus 2:12 voorkom, met redelose diere, of verstandelose wilde diere (NAV), vertaal kan word. Letterlik beteken dit die deel van die skepping wat logikalose lewe is; dus geen sprake van ’n mens-dier nie!
Vervolg...