'n Reeks akademiese studies oor die tien stamme van Israel
deur Prof H G van der Westhuizen
Lees reeks by Blankheid en saligheid
- Waarskuwing teen Wit Teologie
Bybelvertaling is ’n hoogs verantwoordelike en moeilike taak. Alle vertalings is ook maar feilbare mensewerk. Daarom kan in alle vertalings vertalingsfoute uitgewys word. Hoe vryer die vertaling, hoe groter is seker die moontlikheid om interpretasie-foute in die vertaling te maak. Dat die vyandige magte van die kerk ook op dikwels onnaspeurbare wyse sal probeer om met Bybelvertalings Bybelverdraaiings te bewerkstellig, is seker. Die duiwel het na Adam en na Christus self sogenaamd met die Woord van God gekom! Dat die geskiedenis en ons dag, pogings ken om selfs dele van die Bybel te verduister, is so (3:65). Maar ’n Skrifhantering wat resultate lewer, soos dié wat ons in hierdie studiewerk bespreek het, is eweneens niks minder as sonde nie.
As daar “ongetwyfeld teoloë (is) wat in (sulke) breingimnastiek ’n intense belangstelling mag toon” (23:1), moet hulle dadelik hulle van hierdie nuttelose en sondige oefeninge onttrek. Die Bybel is nie ’n gimnasium waar die mens sy brein verder moet verderf nie.
Swart Teologie, wat onlangs weer sterk gekritiseer is (25), is geen teologie wanneer dit die Skrif misbruik nie. Wanneer Paulus ’n “rassis, aristokraat en huigelaar” genoem word, omdat hy “sosiaal en polities konserwatief” was deur byvoorbeeld slawe gehoorsaamheid aan hulle here te leer (26:57), toon Swart Teologie geen eerbied wat die Skrif toekom nie. Aan die ander kant toon die tema wat ons in hierdie studiewerk ontleed het baie boustene wat as komponente van ’n Wit Teologie geïdentifiseer kan word!
Die naïewe en deursigtige willekeur wat uitgewys is, maak dat so ’n moontlike Wit Teologie eweneens geen teologie genoem kan word nie.
Wit en Swart, ten spyte van vele reéle biologiese, kulturele en geestelike verskille - waarmee ook objekticf rekening gehou moet word - is as sondaars voor God gelyk. Gelykelik moet jy, of jy Wit of Swart is, by die enigste Middelaar, Jesus Christus, die opening en weg tot die ewige lewe vind. Ons bely dan ook op grond van Deuteronomium 10:14, 15 en in Matteus in die Dordtse Leerreéls, hoofstuk 1, punt 9 dat ons “verwerp die dwalinge van diegene wat leer dat die oorsaak waarom God die evangelie liewer na een volk stuur as na die ander, nie enkel en alleen die welbehae van God is nie, maar omdat die een volk beter en waardigcr is as die ander waaraan die evangelie nie meegedeel word nie".
Daar is waarlik ’n gesonder basis waarop die Blanke (soos ook die Swarte) sy reg kan grond om in die volke-wêreld homself te wees, te bly, en te ontwikkel, as om dit te grond op so ’n soort Wit Teologie (of Swart Teologie). Sulke soort teologieë doen die Chrislelike geloof net skade aan.
Swartheid is nie God se witbroodjie nie; net soos Blankheid nie God se swartskaap is nie. Swartheid is nie verdoemenis nie; en Blankheid is nie Saligheid.
EINDE