Dr Cas Vos
Lees reeks by DIE SIN VAN DIE LEWE
Voorwoord
Friedrich Nietzsche se “Die frohliche Wissenschaft” (1882), is ’n profetiese gelykenis van die kranksinnige mens. Die mens is op ’n helder oggend met sy lanterntjie op soek na God. Hy roep: “Waar is God heen? Ek sal julle sê! Ons het Hom doodgemaak — ek en julle!” Hy gaan voort: “Hoe sal ons, die grootste van alle moordenaars, onsself troos? Die bloed van die heiligsteen, magtigste wat die wêreld tot dusver besit het, is aan ons hande — wie reinig ons van die bloed? Is die omvang van die daad nie te groot vir ons nie? Moet ons nie self gode word om die daad waardig te word nie?” Wat doen die omstanders?
Hulle lag hom uit. Dit is vir hulle geen ramp dat daar geen spoor van God te sien is nie. Maar die kranksinnige mens sien dit as die grootste ramp wat die mens ooit oor homself gebring het. Hy verklaar: “Ons het die son op die aarde uitgedoof. Ons het geen uitsig na bo nie en net maar ’n afgrond na onder. Ons dwaal deur ’n eindelose niks”. Wanhopig sug die kranksinnige: “Ek het te vroeg gekom. Hierdie verskriklike gebeure is nog aan die gang ...”
Dié gelykenis laat ons in meer as een opsig aan die oortreding van Genesis 3 dink. Aan die een kant is die mens sedert daardie rampspoedige dag ywerig besig om God se spore dood te vee, maar aan die ander kant soek die mens tevergeefs na God. Dit is die groot paradoks van die mens se “Godsverduistering” (Martin Buber). Nietzsche se troos in die “Godsverduistering” is die koms van die Ubermensch* in die toekoms, terwyl die verteller van Genesis ons daarmee troos dat God die mens wat sy spore probeer uitwis en Hom tevergeefs probeer soek, te hulp kom. Hoe doen Hy dit? Hy omring die soekende mens in sy selfbeskikkingswaan met sy geborgenheid (H. Berkhof). Onder Ubermensch verstaan Nietzsche die mens as ’n superwese. Dit is die mens as hoogste tipe menssoort. Maar hoe bereik die mens die ideaal? Volgens Nietzsche moet die mens deur sy wil tot mag heer en meester word. Dit bring mee dat alles wat sy heerskappy in die weg staan, tot die grond toe afgebreek moet word. Hiertoe behoort voor alles die Godsgeloof en in besonder die Christendom.
Augustines het hierdie onvergelyklike woorde gebring: “Die mens is vir God gemaak en vind geen rus totdat hy rus vind in God nie!”
U word uitgenooi om die dwaalspore van die twintigste eeuse mens na te spoor en om te ontdek dat God ons met sy geborgenheid omring en verbly.
Wat bly oor van soene?
Nadat die eerste atoombom Hirosjima verwoes het, was die wanhoopskreet van talle Amerikaanse natuur- en skeikundiges: “Wat het ons mense tot stand gebring?” Die wanhoopsvraag word nog steeds gevra, want daar is pyn omdat daar ’n vrou en ’n man by die bars van die bom in die Tuin betrokke was. “Wat het ons tot stand gebring?” Anders gevra: wat het oorgebly van soene (Hennie Aucamp)? Wonde! ’n Man en ’n vrou wat mekaar verwyt en beskuldig. Wat het oorgebly van die verhouding tussen broers? Niks nie! Want die een broer het ’n swerwer geword en die ander een ’n lyk.
Die ontstellende is dat ons wat ná dieTuin-episode leef, nie van die verwonde man-vrou verhouding kan loskom nie. Die verhouding tussen ’n man en ’n meisie begin altyd so belowend. In die verhouding is daar egter nie net soene nie, maar ook wonde. Daar is pyn en seer. Ons kan ons ook nie losmaak van ons broer nie. As ons ons oë oopmaak, staan ons broer voor ons. Die vraag is net: hoe behandel ons ons broer? Ons en ons broer: dit is ’n belangrike motief in Gen. 4.
Eva het twee seuns: Kain en Abel. Die een word ’n saaiboer en die ander een ’n veeboer. Die twee boere is albei godsdienstig. Daarom is dit nie vreemd nie dat altwee ’n offer aan God bring. Die offer waarom dit hier gaan is die oudste offer waarvan ons kennis dra: die eerstelingoffer (Deut. 26). Die eerstelingoffer het nie tot ’n bepaalde afgesonderde plek of tydgebonde kultus behoort nie. Die offer hang ten nouste saam met die verkryging van lewensmiddele: die insameling van die oes, die pluk van die vrug, die jag van die prooi. Daarom is die plek waar die offer gebring is nie die altaar nie, maar daar waar die lewensmiddele verkry is.
Die eerstelingoffer is ’n gawe. Kain offer van die eersteling van sy oes en Abel van sy kudde. Die gawe is ’n produk van die mens se arbeid, maar die ryk oes en die vet kudde is slegs aan God se seën toe te skryf. Die offerhandeling is daarom ’n erkenning van God se seen op die mens se arbeid.
Die spanning in die vertelling begin waar God op die offerhandeling reageer. God sien die offer van Abel aan, maar nie dié van Kain nie (4:4-5). As die een se offer van die hand gewys word beteken dit: vloek en mislukking. As die ander een se offer aanvaar word, beteken dit: seën en geluk. In die aanvaarding en nie-aanvaarding lê daar iets onverklaarbaars. Die rede vir die aanvaarding en die nie- aanvaarding lê nie in Abel se fluksheid en in Kain se luiheid nie. Dit is ook nie daarin te vind dat Abel met die regte gesindheid en Kain met ’n bose gesindheid geoffer het nie. Albei is immers seuns van Adam! In die Nuwe Testamentiese vertellings is Abel se offer vanuit die geloof verklaar (Heb. 11:4) en Kain word as kind van die Bose geteken (1 Joh. 3:12). Abel is die vrome wie se onskuldige bloed vergiet is (Matt. 23:35). Ons moet in gedagte hou dat die Nuwe Testamentiese vertellings elkeen die Genesis-vertelling vir sy eie doel benut. In Genesis self word daar geen rede vir die aanvaarding en die nie-aanvaarding verstrek nie. God is vrymagtig in sy handelinge!
Hoe het Kain geweet dat God nie sy offer aanvaar het nie? Die aanvaardingsteken was nie dat Abel se offerrook opgestyg het en Kain s’n nie — Kain het die afwending van God in die wegbly van die seën ervaar.
Hoe reageer Kain? ’n Gloeiende nyd ontbrand in sy binneste en hy laat sy kop hang (4:5). As iemand sy gesig optel, is dit ’n vriendelike gebaar (Num. 6:26), maar wanneer iemand sy kop laat sak, dui dit op die teendeel: onvriendelikheid (Jer. 3:12). Kain laat sy vriendelikheid nie meer oor Abel skyn nie. En tog is Kain se reaksie menslik en begryplik. Die vertelling verstaan nie Kain se reaksie as ’n teken van sy boosheid nie. Hy het nie die seën ontvang nie, en dit is mos pynlik.
Kain gaan egter verder. Hy begin gedagtes van moord koester. Die motief vir die moord is om die een wat in die weg van sy seën staan, uit die weg te ruim.
Kain word op die waansin van sy voorneme gewys. God stel ’n waarskuwende vraag aan Kain om hom tot besinning te bring en om Kain se volle verantwoordelikheid vir sy daad aan te wys (4:6). God wys hom op ’n ander moontlikheid: om goed te doen (4:7). Maar as Kain die kwaad wil doen, moet hy weet: dit wag vir een misstap. En as dit gebeur, is die kwaad soos ’n roofdier byderhand om hom te oorrompel en te oorweldig (4:7),
Wat gaan Kain doen? Hy steur hom nie aan die goddelike waarskuwing nie. Die moorddaad word bondig en sonder emosie beskryf. Dit is in die Hebreeus gebruiklik om die verloop en afloop van ’n handeling deur twee feite te beskryf: Kain oorweldig Abel. Kain maak Abel dood (4:8).
Die ontstellende is dat ’n mens wat net soos ’n ander mens werk en aan God sy gawe bring, tot moord in staat is. Die verskriklike is dat een broer ’n ander broer om die lewe kan bring. In broerskap is daar altyd konflikmoontlikhede, maar die ergste is dat die konflik tot moord kan lei.
Wat gaan God met die eerste mensemoordenaar maak? Wat kan Kain verwag? Die ergste — dat God die broedermoord met die dood gaan straf. Maar dit gebeur nie! Wat gebeur, is verbasend: aan die eerste mensemoordenaar word ’n woord gegee.
Toe Adam ná sy misstap vir God wou wegkruip, het God hom met ’n vraag opgesoek (3:9). Nou doen God dieselfde met Kain: “Waar is jou broer Abel?” Kain reken dat God soos enige mens met die vraag inligting verlang. Gevolglik skuil hy agter sy onkunde. “Ek weet nie” (4:9). Kain wil deur die ontkenning sy bloedspore doodvee. Hy ontken ook enige verantwoordelikheid vir sy broer deur te vra: “Moet ek dan my broer oppas?” (4:9). Natuurlik is Kain reg dat dit nie sy taak is om sy broer soos ’n babatjie op te pas nie. Maar hy is ver verkeerd ten opsigte daarvan dat daar wel ’n situasie kan intree waar hy vir sy broer verantwoordelik is.
Dit moes vir Kain ’n skok gewees het om te hoor dat hy tog werklik onkundig was, want: “Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer roep van die aarde af na My” (4:10). Abel se laaste woord is nog nie gespreek nie. Sy vergote bloed roep om vergelding ... om die ingrype van die goddelike Regter. Dit blyk dat die roep nie tevergeefs was nie!
Kain word gestraf. ’n Lewenslange vonnis word hom opgelê (4:11-12). Sy vonnis is ’n vloek, en die vloek is effektief en kragtig. Daarom word hy uit die gemeenskap gedryf. Hy word ’n gejaagde, geplaagde, rustelose swerwer (4:14). Kain vind nie meer beskerming by God nie, want God se toorn rus op hom. Sy toekoms lyk, om die minste te sê, hopeloos, want elkeen wat hom raakloop, kan ho« om die lewe bring (4:14). En tog is God se oordeel nie sy laaste woord aan Kain nie, maar wel sy genade. Hy betoon sy genade deur ’n woord (4:15a) en ’n handeling (4:15b). God spreek ’n “nee!” oor Kain uit. Hierdie “nee!” het slegs betrekking op die vervolging van Kain. Die strafspreuk (4:11-12) word egter gehandhaaf. Selfs 'n moordenaar kan nie voëlvry verklaar word nie. Geen mens het die reg om in die strafvoltrekking van God in te gryp nie. Daarom geld God se woord: “Wie vir Kain vermoor, sal sewemaal gestraf word” (4:15a). God bevestig sy woord met ’n teken (4:15b). Die sin van die teken bestaan in dit wat daardeur bewerk word. In die lig hiervan is ’n paar moontlikhede oor wat die teken was, uitgeskakel; die teken is nie karakterhouding (’n woeste onrus) of ’n siektetoestand (melaatsheid) nie; dit is nie ’n stamteken nie, ook nie ’n beskermingsteken nie en selfs nie ’n teken wat aandui dat Kain aan God behoort nie. Uit die Genesis- teks is dit duidelik dat die teken ten doel het om Kain daarteen te beskerm dat mense jag op hom maak. Dit is egter nie uit die Genesis-teks duidelik wat die teken was nie. Die broedermoord is egter 'n onloënbare werklikheid. Daarom word hier miskien op die verskriklike feit gesinspeel dat ’n moord die dader soos geen ander daad merk nie. ’n Moordenaar se reputasie loop hom vooruit. Die slot van die vertelling vermeld Kain se tragiese lewensverloop: hy het God die rug toegekeer en oos van Eden gaan woon — sonder God en sonder sy broer (4:16)!
Ons en ons broer! Ons en ons naaste! Om mens te wees, beteken om ’n broer, ’n naaste te hê. En om met ’n naaste op pad te wees, kan 'n pad vol duwweltjies wees: vol pyn, seer en verdriet. Daar is soveel konflik, stryd en botsing opgesluit in die verhoudings tussen mense. Natuurlik is die pad met ’n broer, ’n naaste, ook vol vreugde, vrolikheid en jubeling.Die raaiselagtige is dat die stryd tussen broers ook in die godsdiens gebore kan word. Wanneer gebeur dit? As God my broer seën! As my broer meer as ek geseën word; as die vrug op sy arbeid geseën word; en as die seën op my werk uitbly. Wat maak ek dan? Miskien is ek ontsteld; miskien is daar pyn, seer en wonde.
Maar ek kan ook verder gaan. Ek kan te ver gaan! Ek kan my broer onderdruk, beledig, kwets, verag, beskinder, verdagmaak. In een woord: liefdeloos behandel. En wat is liefdeloosheid anders as moord? Want hoe kan ek God liefhê as ek my broer haat (I Joh. 3:11-17)?
Talle geskiedenisbladsye is met die bloed van broers geskryf. Maar die bloed van my broer word nie deur die geskiedenis tot swye gebring nie. Dit roep na God, en Hy weet alles.
Ons durf nie met bloed aan ons hande by God se fees opdaag nie. As ons met haat by die Nagmaal aansit, eet ons ’n oordeel oor onsself. Ons durf nie die wyn drink nie: dit sal soos bloed in ons monde stol.
Hoe kan ons hande skoon kom? Hoe kan ons bevry word van broederstryd, broederhaat en broedermoord? Hoe kan ons bevry word tot naasteliefde?
Dit kan net van Godsweë gebeur! Dit het gebeur toe Jesus Christus ons Broer geword het — ons Broer aan die kruis, ons Bloedbroer wat roep om ons vryspraak.
Die vryspraak word by die Nagmaaltafel sigbaar, want daar word ons bewus van die genadige God wat Hom oor Abel en Kain ontferm. Die maaltyd van die Lam, skryf Luther, “is ’n maaltyd vir mense met die Kainsteken”. Dit is die maaltyd vir ons. Dit is die maaltyd waar ons die wolf, Kain, in ons erken. Maar dit is ook die maaltyd waar ons tot die besef kan kom dat ons in Christus is. As ons deur die geloof aanvaar dat ons in Christus is, is ons al ons skuld kwyt. As ons daarom brood en wyn neem, word ons daardeur opgeroep om God se vergifnis te ontvang en om dit ook aan ons naaste te gee. Rondom die Nagmaalstafel eet en drink ons op ons broerskap en op God se Vaderskap. As ons dit inderdaad doen, kan ons die feessaal verlaat om ons Godsdiens en broerskap in die wêreld te gaan vier. En dit beteken dat ons mekaar nie haat, beskuldig, verwyt of vermoor nie, maar dat ons mekaar aanvaar: mekaar liefhet, vertrou, vergewe, omdat ons deur God aanvaar en vergewe is.