Dr Cas Vos
Lees reeks by DIE SIN VAN DIE LEWE
By die gode
Die gode het vergadering gehou. Vir ons as Westerlinge is dit ’n vreemde gedagte, maar die Oosterlinge was goed met die soort vergaderings vertroud. In die Oud-Oosterste literatuur kom ons telkens die begrip “godevergadering” teë. Die vergadering kon bestaan uit die gode van een land, byvoorbeeld Babel; maar dit kon ook ’n internasionale geselskap wees: alle gode van vele volke wat saamtrek om hulle gemeenskaplike take en belange te bespreek.
Psalm 82 nooi ons uit om toeskouers van so ’n godevergadering (godesinode) te wees. Daar is spanning in die vergadering, want die God van die klein volkie Israel staan op om uitspraak te lewer (82:1). Die opstaan is’n handeling wat God se grootheid en mag aandui. In sy uitspraak distansieer Hy Hom van die gode se optrede. Wat het hulle dan verkeerd gedoen? Dit gaan nie om wat hulle gedoen het nie, maar om wat hulle nie gedoen het nie. Hulle versuim word een vir een ter tafel gelê: hulle het nie reg aan die swakke, die hulpelose en die weerlose laat geskied nie. Hulle het nie die ellendige op die been gehelp nie en ook nie ’n vinger verroer om mense in nood te bevry nie (82: 3-4). Enige god wat sy sout werd is, sou so gehandel het.
Ons moet net nie dink dat die gode niks gedoen het nie. Hulle het hulle daarvoor beywer om die bestaande orde te bewaar en die maghebbers teen rewolusies beskerm deur die aanwending van die wet en mag. Verder het hulle met groot sukses daarin geslaag om die armes arm en die rykes ryk te hou. Uit dankbaarheid vir die uitmuntende wyse waarop die gode hulle beskermingstaak uitgevoer het, is hulle gereeld deur hulle onderdane met offers en eerbewyse oorlaai.
Hoe reageer die gode op die beskamende klag wat teen hulle gelê word? Met stomme verbasing, verstarde oë en onbegrip. Want “julle weet niks, julle verstaan niks, julle gaan eenvoudig in duisternis voort. . .” (82:5)
Die waarheid oor die gode kan nie langer verdoesel word nie: dit is nie waar dat hulle die bestaande orde skep en onderhou nie. Die omgekeerde is waar: die bestaande orde skep en handhaaf die gode. Soos T. T. Cloete dit stel:
Die gode sal graag wil doodgaan maar die aarde het aan die gode behoefte en laat hulle nie met rus nie en nie sterf nie —
Die gode bewaar nie die orde nie en bevestig nie die lewe nie, want hulle is doof vir die reg deur die onreg te handhaaf. Hulle vel onregverdige beslissings en begunstig deur hulle partydigheid die goddelose (82:2). Onder hulle regering is die wêreld nie langer ’n plek van reg en liefde nie; onder hulle regering wankel die fondamente van die aarde (82:5).
As ons na ons wêreld wil terugdraai omdat die godevergadering waarna Ps. 82 verwys verdaag het, kom ons tot die ontnugterende gevolgtrekking dat daar ook ’n godevergadering vir ons dag belê is. Die verrassende is dat dit dieselfde ou Oosterse gode in ’n Westerse baadjie is. ’n Mens is verbaas oor al die gode wat sulke lang en ver reise onderneem het. Die vergadering is vervuil deur al die dom ou gode wat septers tot in harte swaai, (Ernst van Heerden)
Soos die sterre in Hollywood, skitter die gode by die vergadering: daar is Zeus — die hoofgod van die Grieke: die god van die lugruim, die storms en die helder dae. Hy was ook die vader van die gode en die mense. In ons dag het hy... liefliker en brutaler geword. In nuwe wit klere speel hy op die Centre Court. (T. T. Cloete)
Wat vra Zeus van ons? Hy vra al ons aandag en toewyding, want hy wil die middelpuntvan ons lewe wees. Die aanspraak van Zeus stel ons voor die vraag: waarom draai ons lewe? Wie/wat is vir ons die belangrikste in die lewe? Wie/wat neem speel-speel God se plek in ons lewe in?
Kyk net wie is nog by die godevergadering! Natuurlik! Afrodite! Die godin van die liefde. Sy is ’n beeldskone jong dame.
Afrodite sit vrypostig sonder eggenoot — sy is glo darem verloof — met 'n kind op haar skoot en ’n kontant oureool op haar hoof. (T. T. Cloete)
In ons dag is die versoeking groot om Afrodite se handjies vas te hou. Maar Afrodite stel nie daarin belang dat ’n man haar om haar hand vra nie. Sy is deeglik bewus van al die beskikbare mededingers. Daarom is die liefde wat sy bied, onstuimig en kortstondig. Dit is ook geen geheim dat Afrodite se liefde in oomblikke van droefheid en pyn geen troos bied nie.
Daar is nog ’n god wat sy plek volstaan en daarom hoë aansien geniet — die god Mammon. Sy naam kom van die woordstam amn, wat beteken: om vas te staan, om vas te maak, om te bevestig, om betroubaar te wees. Ons woord amen kom van dieselfde stam. Mammon verteenwoordig vastigheid, sekerheid en betroubaarheid. Wat gee aan ons vastigheid? Wanneer voel ons veilig? As ons R50 000 en meer verdien? As die groeikoers 3% of minstens 3,5% per jaar is? Wat moet ons besit om veilig te voel? Wanneer is die staat militêr weerbaar? Hoeveel vegvliegtuie en kernwapens moet hy hê en hoe doeltreffend moet ons verdediging wees? Wanneer voel ons veilig? Ons weet eintlik nooit wanneer om “amen” te sê nie!
Dit is natuurlik nie verkeerd om vastigheid en sekuriteit op aarde te soek nie, maar dit is verkeerd om in Mammon-diens te verval: om al ons heil van Mammon te verwag. Mammon word ons god as ons net daarvoor leef, werk, en streef om ryk te word, om besittings soos herfsblare bymekaar te maak. Ons moet egter nooit die fout maak om die bekoring van Mammon te onderskat nie.
As ons die gode na waarde skat, besef ons ons heil lê nie by Zeus, Afrodite en Mammon nie. By wie dan?
Op die vraag gee Ps. 82:6-7 ’n duidelike antwoord waarin God sy vernietigende oordeel oor die gode uitspreek:
“Ek het wel gesê: Julle is almal gode, almal met mag beklee. Maar, nou, julle sal elkeen sterwe soos ’n mens en aan julle einde kom soos enige maghebber.”
Met hierdie onthullende woorde verklaar God oor die gode: “Julle sterf net soos mense en julle val net soos konings, want julle is na hulle beeld gemaak!”
In die godegeskiedenis lê daar talle gevalle beelde: skerwe wat in die son skitter. Daar is die Egiptiese gode, die Filistynse en die Kanaänitiese gode. In 538 v.C. het die Babiloniese gode saam met die Babiloniese ryk verdwyn. Wanneer ons die godegeskiedenis nalees, maak ons die ontdekking dat die opkoms en die ondergang van gode deur die politieke stelsel en sosiale orde bepaal word. Daarom, as die politieke stelsel en die sosiale orde verander, verander die gode van status. Gode is dus, soos Hollywoodsterre, modefigure. Geen mens kan heil by sulke gode vind nie!
Tref dieselfde lot nie die Israelitiese God nie? Wat is die geskiedenis se uitspraak oor Hom? In 586 v.C. het die uur van waarheid vir Hom aangebreek. Sy laaste heilige en veilige vesting, Jerusalem, is verower. Die room van sy volgelinge is na Babel in ballingskap weggevoer. Dievraag is: het sy ryk daarmee verdwyn? Het Hy die onderspit gedelf? Het sy sterwensuur aangebreek?
Die profeet Jesaja getuig dat Israel se God die eerste en die laaste is, dat daar buiten Hom geen God is nie (44:6). Hy is nie ’n weerspieëling van ’n politieke mag, sosiale orde, of enige belangegroep nie. Hy oorleef alle krisisse! Daarom is Hy in die smeltkroes van die ballingskap teenwoordig as die Koning, die Verlosser en die Almagtige (44:6). Hy ontferm Hom, anders as die gode, oor die weerlose, die magtelose en die behoeftige. Wat die gode nie kon doen nie, het Hy gedoen: Hy het sy volk uit die ballingskap bevry.
Met die ballingskapsgeskiedenis agter die rug, het dit begin lyk asof mense tog maar sonder die God van die uittog sou moes klaarkom. God hou egter steeds die leisels van die geskiedenis in sy hand. Die gebed van God se volk in Ps. 82:8 weerklink dwarsdeur die eeue: al die nasies behoort aan God. Hy alleen is Koning en Regter van die wêreld. Hierdie boodskap is onverskrokke in die Nuwe Testament verkondig. God is die Koning wat sy Seun na die wêreld gestuur het om die gode te verslaan en om mense uit die gode se mag te bevry. Die daad het die Seun sy lewe gekos. God is die Regter wat sy Seun gestuur het om mense wat godediens verrig het, vry te spreek van hulle skuld teen God. Die Regter spreek mense van hulle skuld vry deur dit self te dra. Die Seun van God het egter nie vir altyd onder die mense se skuld beswyk nie. Terwyl die gode nog doodsbleek in hulle grafte lê, het die paasklokke gebeier: God se Seun het opgestaan! Hy lewe!
Daarom moet God se goeie nuus aan alle mense oorgedra word: Sedert Golgota en die leë graf is daar nie plek vir ander gode nie. Want God is ons Redder, Verlosser, Regter en Koning in ’n ver land.
Vervolg...