Soek wat verlore was
Nadat Stefanus deur ‘n aantal lede van die Sanhedrin vermoor is, het die oorblywende ses diakens onverskrokke en getrou met hulle werk voortgegaan, want daar was maar baie armes in die gemeente. Filippus, een van die ses, het egter begeer om evangelisasiewerk te doen en ons het hom laat gaan. Hy het Jerusalem verlaat en noordwaarts gegaan en by ‘n stad in Samaria gekom en ‘n tyd lank daar vertoef om die evangelie te verkondig. Die Here het hom daar wonderbaarlik geseën. Die mense van die stad het na hom gestroom toe hulle die tekens en wonders sien wat deur hom plaasvind en hoor wat hy van Christus vertel. Hy het baie bose geeste uit mense uitgedryf, wat hulle slagoffers met groot geskreeu verlaat het. Die mense het baie lammes en kreupeles na Filippus gebring. Hulle is almal genees.
Jy kan nie die Heilige Gees koop nie !
Een van die inwoners van die stad, wat gereeld na Filippus kom luister het en gesien het wat hy doen, was ‘n towenaar. Sy naam was Simon Magnus. Voor Filippus se besoek aan die stad, het hierdie Simon die inwoners gereeld verstom met asemrowende toertjies en towerkunsies, waarmee hy klein en groot vermaak het. Hulle het hom bewonder en hom die “Groot Krag van God” genoem, maar toe Filippus daar kom en hulle die wonders en tekens aanskou wat plaasvind deur die krag van die Heilige Gees en hy die evangelie van Jesus Christus aan hulle verkondig, het hulle gelowig geword. Hulle is gedoop.
Simon, wat dit alles aanskou het, het ook gelowig geword. Nadat Filippus hom gedoop het, het hy hom oral, nes ‘n waghondjie, vergesel.
Ons het in Jerusalem gehoor van die geseënde verspreiding van die evangelie in Samaria. Die apostels vaardig toe vir my en Johannes af om daar besoek te gaan aflê en moontlik hulp aan Filippus te verleen by die verkondiging van die Woord. Die Here het ons daar weer uitermate geseën. Daardie mense is deur Filippus in die Naam van Jesus gedoop, maar het nog nie die Heilige Gees ontvang nie. Ons het hulle die hande opgelê en gebid, waarna dit gebeur het.
Toe Simon die towenaar sien wat gebeur, bied hy vir my en Johannes geld aan om tog ook vir hom die vermoë te gee om mense die Heilige Gees te laat ontvang, as hy hulle die hande oplê. Ek het vir hom gesê hy moet na die verderf gaan met sy geld en al; ‘n mens kan nie die gawe van God met geld koop nie. Sy gesindheid teenoor God is verkeerd. Hy moet hom van sy dwaling bekeer en bid dat die Here hom vergewe, want die sonde het hom met al sy afguns nog stewig in sy mag.
Dit het Simon hard geslaan. Hy het gevra ons moet tog vir hom bid, sodat die dinge wat ek gesê het, hom nie tref nie.
Ek en Johannes het nog ‘n ruk lank saam met Filippus daar gewerk en die evangelie verkondig aan mense wat begerig was om dit te hoor en te aanvaar en hulle eie te maak. Daarna het ons drie die stad verlaat en begin om na Jerusalem terug te keer, maar op pad het ons by baie dorpe van die Samaritane aangegaan en die evangelie aan hulle inwoners verkondig.
Ek verstaan niks daarvan nie
Kort nadat ons weer in Jerusalem terug was, het die Here vir Filippus geroep en aan hom ‘n unieke opdrag gegee.’n Engel het aan hom verskyn en vir hom gesê hy moet na die eensame pad toe loop wat van Jerusalem af, suidweswaarts na Gasa gaan. Daar aangekom, gewaar hy ‘n wa wat met die pad afry uit Jerusalem. Die Gees het vir hom gesê hy moet saam met daardie wa gaan loop. Op die wa was net twee persone, die drywer van die perde en ‘n baie vername amptenaar van die koningin van Etiopië. Hierdie man het daarvandaan na Jerusalem gekom om hier te aanbid en was nou op pad terug na sy verre land. Hy het op die wa gesit met die groot boekrol van Jesaja voor hom oopgeslaan en was besig om hardop daaruit te lees. Dit was die gedeelte in die drie en vyftigste hoofstuk, waar die profeet die lyding van die Here Jesus voorspel.
Filippus het nadergestap en vir hom gevra of hy verstaan wat hy lees. “Nee, ek verstaan dit gladnie. Hier is niemand wat dit aan my kan verduidelik nie. Praat die profeet hier van homself?”
Filippus het op die wa geklim en onderwyl hulle verder gery het, vir hom die evangelie van die Here Jesus verduidelik. Die Etiopiër het tot geloof gekom en gevra of hy maar gedoop kon word toe hulle by ‘n spruitjie kom waar water was. Hy het sy reis daarna blymoedig en gelukkig as ‘n geredde kind van die Here voortgesit, om die blye boodskap ook in sy land te gaan verkondig.
Die Gees het vir Filippus daarvandaan na Asdod geneem. Hy het al met die kusstrook noordwaarts tot by Sesarea die evangelie verkondig.
Kyk hy kan weer loop
Nadat ek en Johannes uit Samaria na Jerusalem teruggekeer het, het daar ‘n relatiewe kort tydperk van vrede en voorspoed vir die gemeente aangebreek. Ek het gewonder of die vyand moeg geword het om ons aan te val omdat hy ons nie tot stilswye kon bring nie. Jakobus en die ander apostels en die vyf diakens wat hulle bygestaan het, het geseënde werk gedoen. Die gemeente het weer begin groei nadat so baie gelowiges weggevlug het van die vervolging wat die Sanhedrin deur middel van Paulus op tou gesit het, toe hy nog Saulus was.
Ek wou graag die Woord van ons Here Jesus wyer en verder uitdra as die grense van Jerusalem, soos ek en Johannes dit alreeds saam met Filippus gedoen het in Samaria. Ons gemeente in Jerusalem was in goeie hande. Ek het die pad gevat in ‘n noordwestelike rigting en na ‘n dag of wat in die dorpie Lidda uitgekom, waar die mense sommer spontaan begin saamstroom het om die Woord te hoor. By een van die byeenkomste het hulle ‘n lam man saamgebring wat al agt jaar lank bedlêend was. Sy naam was Eneas. Ek het vir hom gesê: “Ek sien jy wil graag gesond word, anders sou jou mense jou nie hiernatoe gebring het nie. Nouja Eneas, die Here Jesus Christus maak jou gesond. Staan op en maak jou bed op.” Hy het dit dadelik gedoen.
Daar was baie mense van die Saronvlakte teenwoordig wat dit almal gesien het en deur die wonder daarvan oortuig is dat die Here deur my met hulle praat. Hulle het deur Eneas se herstel tot geloof gekom.
Kyk, sy word lewendig !
Wes van hierdie dorpie Lidda, lê daar ‘n groter dorp, Joppe, aan die kus van die Groot See. Hier in Joppe het ‘n baie gelowige vrou met die naam Tabita gewoon. Haar Griekse naam was Dorkas. Sy was ‘n besondere mens met ‘n oop hart en ‘n helpende hand vir die ander weduwees van die dorp, vir wie sy met haar vaardige hande gereeld klere gemaak en geskenk het en aan almal om haar heen goed gedoen het.
Net voordat ek Lidda sou verlaat, het sy in Joppe skielik siek geword en gesterf. Die mense daar het van my geweet en stuur toe twee mans na Lidda om te vra dat ek tog asseblief so gou as moontlik na Joppe moet kom. Daar aangekom, het hulle my na ‘n bokamer geneem waar haar liggaam gelê het. Die vertrek was vol huilende weduwees wat vir my die klere gewys het wat Dorkas vir hulle gemaak het. Hulle het ook vir my vertel hoe ‘n wonderlike, goeie mens sy was.
Ek het almal uitgestuur, gekniel en gebid, na haar gedraai en gesê: “Tabita, staan op!” Sy het haar oë oopgemaak en toe sy my sien, het sy regop gaan sit. Ek het haar opgehelp en die ander mense geroep. Sy was weer lewendig en gesond soos voorheen. Baie mense in Joppe het daarvan gehoor. Die Here het hierdie wonderwerk wat Hy deur my gedoen het, gebruik om ‘n groot aantal mense tot geloof in Hom te laat kom.
Toe Petrus, slag en eet !
Hier in Joppe was ek tuis by Simon die leerlooier. Watter lieflike, gelowige mense was hy en sy huisgesin nie! Ek het hulle gasvryheid baie geniet en waardeer, onderwyl ek my voorberei het om verder noordwaarts te gaan om die evangelie in al die kusdorpe langs die Middellandse See te gaan verkondig.
Een middag het ek so teen twaalfuur na Simon hulle se dakstoep opgeklim om daar te gaan bid. Naderhand het ek baie honger geword en sou graag iets te ete wou gehad het onderwyl ek daar bo gesit het, maar ek het geweet die vriendelike huismense is hard besig om vir ons ‘n heerlike maaltyd voor te berei.
Toe raak ek skielik in vervoering. Die Here was besig om met my te praat. Daar het iets soos ‘n groot oopgespreide laken uit die lug afgekom. In die laken was een of meer van elke soort viervoetige en kruipende diere van die veld en van al die wilde voëls. Ek hoor ‘n stem wat sê: “Toe Petrus, slag en eet!”
Skielik was ek weer die ou Simon, toe ek antwoord: “Nooit nie, Here! Dis onrein diere; ek het nog nooit so iets geëet nie!”
Daar hoor ek sy stem toe weer duidelik vir my sê: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.”
Die gesig is drie keer herhaal, waarna die doek weer in die hemel opgetrek is.
Onderwyl ek daar sit en wonder wat hierdie eienaardige visioen tog kon beteken, het daar drie mans aan Simon se voordeur geklop en gevra of Simon, wat ook Petrus genoem word, hier tuis is. Meteens sê die Gees vir my: “Daar het drie mans aangekom wat jou soek. Gaan af na hulle toe en gaan saam met hulle. Moenie aarsel nie, want Ek het hulle gestuur.”
Ek het ondertoe gegaan om die manne te ontmoet, want Simon was in sy werkplaas besig om velle te looi. Ek het hulle binnegenooi en vir hulle gesê dis vir my wat hulle soek en ek wou weet waarom hulle gekom het. Toe het hulle my ‘n merkwaardige verhaal vertel wat my laat besef het dat die Here altyd op ‘n wonderbaarlike wyse werk.
Hulle sê hulle is twee dae gelede van Sesarea af weg met ‘n boodskap vir my van hulle geëerde militêre offisier, kaptein Kornelius, die hoof van die Italiaanse regiment wat in Sesarea gestasioneer is. Hy en sy hele huisgesin is baie godsdienstig. Ten spyte van die feit dat hy ‘n Romein is, het hy die arm deel van die Jode al baie gehelp. Een middag het ‘n engel aan hom verskyn en aan die verskrikte Kornelius gesê dat die Here sy gebede hoor en weet wat hy vir die armes doen. Hy moet dadelik mense na Joppe stuur na die huis van Simon die leerlooier wat by die see woon. Daar sal hulle ‘n ander Simon kry wat ook Petrus genoem word. Hulle moet hom dan saambring na Sesarea toe om te hoor wat hy te sê het.
‘n Romein kan ook salig word
So het die Here gesorg dat daar geen misverstand hoegenaamd met hierdie sending van my kan plaasvind nie. Ek is saam met hierdie drie manne wat Kornelius gestuur het om my te kom haal. Twee dae daarna het ons die stad bereik. By my aankoms het hierdie hoë Romeinse offisier ons tegemoet gekom en eerbiedig voor my gekniel, maar ek het vir hom gesê hy moet opstaan; ek is net so ‘n mens soos hy.
Toe ek sy groot huis binnegaan, was daar buiten sy huisgesin ‘n groot aantal mense wat gekom het om te hoor wat ek te sê het. Ek het vir hulle gesê ek begryp nou eers dat God nie onderskeid tussen volke maak nie en dat die saligheid in die hiernamaals nie net vir die Joodse volk alleen is nie, maar dat God mense aanneem uit enige volk wat Hom vereer en doen wat reg is. Ek het gedink aan die gesig van die laken met diere wat ek nie wou eet nie.
Daarna het ek vir hulle vertel dat God vir Jesus van Nasaret gestuur het om sy evangelie van liefde en vrede na die aarde te bring. Hy is Here van almal. God het Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus. Hy het goeie werke gedoen en almal wat van die duiwel besete was, gesond gemaak. Maar hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan ‘n kruis te hang. Maar God het Hom weer opgewek. Ons is getuies van sy opstanding. Hy het ons opdrag gegee om te verkondig dat God Hom aangestel het as Regter oor lewendes en dooies. Elkeen wat in Hom glo, ontvang vergewing van sondes deur sy Naam.
Onderwyl ek nog met hulle praat, gebeur daar weer ‘n wonderlike ding. Die Heilige Gees het skielik op almal van hulle gekom. Die paar gelowiges wat saam met ons daar in die huis was, was verbaas dat God sy Gees ook op nie-Jode uitstort, toe hulle hoor hoe die mense die Here in ongewone tale loof. Ek het besef dat as God sy Gees aan hulle gee, dan mag hulle ook gedoop word. Daarom het ek hulle almal in die Naam van Jesus Christus gedoop.
Dit was lekker om op hulle uitnodiging ‘n paar dae daar by hulle te bly en so die gemeenskap met die heiliges te geniet, maar toe ek weer in Jerusalem terugkom, het ek my teen die vyand se nuwe oorlogstaktiek vasgeloop. Die Joodse gelowiges het vir my gesê ek het onbesnede mense besoek en selfs saam met hulle geëet.
Ek het besef dat geen geredetwis oor die besnydenis en die wette van Moses hulle ooit sou oortuig dat ek reg gehandel het nie, want baie van ons gelowiges in Jerusalem is oud-Fariseërs, wat wel tot geloof in ons Here Jesus gekom het, maar nog klou aan die nakoming en strenge handhawing van die Mosaïese wette, wat natuurlik die besnydenis insluit. Daarom het ek die hele gemeente bymekaar geroep en tot in die fynste besonderhede verslag gedoen van my sendng na Kornelius toe, van die gesig wat die Here my laat sien het van die groot doek met diere, van die verskyning van die engel aan Kornelius en van die Heilige Gees wat oor hulle almal gekom het voordat ek hulle in Jesus se naam gedoop het. Toe het ek vir hulle gevra of hulle dan wou hê dat ek God se plan vir redding van hierdie mense moes verhinder.
Toe ek klaar gepraat het was die gemeente uiteindelik tevrede en hulle het saam met my die Here begin loof en dank dat Hy die saligheid nie net alleen vir Jode gereserfeer het nie, maar aan alle mense van ander nasies skenk, wat Hy tot inkeer bring om aan Hom te glo.