Ds Andrè vd Berg
Lees reeks by Nuwe Apostoliese Herlewing
2. Vernuwing
2.1 ʼn Nuwe keuse
Die NAH is baie sterk op vernuwing ingestel. Hulle verkondig dat daar ʼn tyd was toe godsdienstige mense tussen Roomse Katolisisme en Protestantisme moes kies. Vandag moet daar weer gekies word. Hierdie keer tussen ʼn tradisionele godsdiens of ʼn nuwe vorm van Protestantisme wat glo nuwe lewe in kerke gaan blaas.
Die vernuwing waarna gestreef word, draai om die as van die herinstelling van die apostel-amp wat as die hoogste vorm van kerkleierskap beskou word. Daar word toegegee dat die praktiese uitvoering van hierdie leierskapsmodel nie altyd Bybels geregverdig kan word nie, maar dat die doel nogtans die middel heilig. Die Hervorming het wel die grondliggende geloof in Christus herstel, maar klaaglik in gebreke gebly om die bedieningspraktyke ook te hervorm.
2.2 ʼn Foutiewe siening
Wagner glo dat die kerkgeskiedenis ʼn bepaalde verloop het. Die Hervorming het die grond vir die gesag van die Skrif gelê; Metodisme dié vir persoonlike heiligheid en die Pinksterbeweging dié van die werking van die Heilige Gees. Die NAHherstel weer die bedieningspraktyk van die apostels as die nuwe wyn in nuwe sakke watJesus vir die kerk voorsien het:
“... Niemand sit ’n lap van ’n nuwe kleed op ’n ou kleed nie; anders skeur dit die nuwe ook, en die lap wat van die nuwe af kom, pas nie by die oue nie.En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke skeur, en dit sal uitloop, en die sakke sal vergaan.Maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word, en altwee word saam behou” (Luk.5:36-38).
Die NAH verstaan baie duidelik nie Jesus se woorde nie. Met hierdie metafoor leer Hy dat die OT en NT elkeen ʼn eie waarde het. Die nuwe verbond van “genade alleen” is anders as die wettiese ou verbond. Ou en nuwe wyn word nie in dieselfde bottel gegooi word nie, maar afsonderlik omdat elkeen ʼn eie waarde het. Die koninkryk van God is met Jesus se koms na die aarde op ʼn nuwe spoor gerangeer - dié van genade alleen. Dit loop nie meer op die spoor van wetsonderhouding nie.
2.3 Hoogmoedig
Die NAH isʼn hoogsgepolitiseerde godsdiensbeweging wat ʼn ketterse kultus as geestelike vernuwing aan mense opdis. Hulle glo dat hul bediening groter as Luther s’n is en selfs die werk wat die Hervormers begin het, gaan beëindig. Ironies genoeg het Luther mense na die Bybel teruggebring terwyl die NAH hulle daarvan weglei!
Met die onverbiddelike klem op die gesag van enkelinge in die kerk, keer hulle die kerklike toneel om en bevorderdie agenda van die Antichris. Hulle poog om die pouslike stem van die Christendom te wees asof die kerk ʼn groter kakofonie van stemme benodig. Daarbenewens word leraars se taak ook heromskryf. Hulle moet soos afrigters van ʼn span te werk gaan, sel-groepe stig en toesien dat die apostels se opdragte uitgevoer word.
2.4 Soos ʼn rekenaar
Om vars te kan begin, moet die kerk soos ʼn rekenaar afgeskakel en daarna weer aangeskakel word. Hulle noem dit rebooting the church en beroep hul op Openb.2:4,5:
“Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie”.
Ironies genoeg is die NAH se kandelaar al lankal verwyder. In plaas van die kerk te reboot het hulle dit met ʼn dodelike virus besmet:
“En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thess.2:11,12).
“En die HERE het vir my gesê: Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie; hulle profeteer vir julle ’n leuengesig en nietige waarsêery en bedrieëry van hulle hart” (Jer.14:14).
2.5 Magsbehep
Talle van die wêreld se grootste veranderinge het in kerkkringe begin en daarna uitgekring. Die verwagting dat kerke omvangryke vernuwings sou ondergaan is alreeds in die 70er jare geskep. Min daarvan het met geestelike verryking gepaard gegaan. Die meeste was georkestreerde, sistematiese, rewolusionêre pogings om beheer oor mense, gemeenskappe en kulture te verkry.
Vir die NAH is vernuwing niks anders as die vernietiging van konserwatiewe geloofswaarhede nie. Hulle vat behoudende kerke nooit openlik aan nie, maar laat vreemde kerkbeskouings geleidelik in hul midde posvat waarna mense aangemoedig word om die nuwe praktyke te beproef.
Vervolg...