DWALING VAN DIE NUWE APOSTOLIESE HERLEWING (3)

Ds Andrè vd Berg

Lees reeks by Nuwe Apostoliese Herlewing

3.   Die apostel-amp

3.1   Bedieningsgebiede

Die NAH glo dat God aan sekere mense uitsonderlike genadegawes toevertrou het om die kerk mee te dien.   Hiervan is die apostel-amp die grootste. En alvorens dit nie herstel is nie, sal die koninkryk van God nie op aarde verwerklik nie. Die Bybel leer daarenteen dat God met Jesus se eerste koms na die aarde reeds sy koninkryk gevestig het en met sy tweede koms sal afsluit.

Desondanks beskou die NAH hul apostels as die bewerkers van God se koninkryk en onderskei sewe bedieningsgebiede (sewe hekke van die gemeenskap) te wete:

  1.      huis
  2.      kerk
  3.      skool

     (iv)    regering

     (v)    handel en media

     (vi)    sport en vermaak en

     (vii)  wetenskap en tegnologie.

3.2 Drie soorte apostels

Voorts onderskei die NAH drie soorte apostels

  1. Horisontale apostels wat met verhoudings-bedienings gemoeid is; sommige as ambassadeur-apostels en ander as mobilisering- en gebiedsapostels;
  2. Vertikale apostels wat met kerkorganisasie en godsdiensnetwerke;
  3. Handelswêreld-apostels wat met handel, sport en politiekgemoeid is.

So gesien, verskil die NAH in beginsel nie veel van die Vatikaan nie. Beide is Babiloniese gesagstrukture wat d.m.v. godsdiens poog om wêreldheerskappy te bekom. Die NAH verkry onder die dekmantel van die sg. herstel van Christenwaardes toegang tot talle internasionale kerklike bewegings en raak ook selfs by munisipaliteite, streeksregerings en parlemente betrokke.

3.3 ʼn Uitgediende amp

Die kerkgeskiedenis leer dat die apostel-amp uitgedien is. Dit het met die dood van die oorspronklike apostels ten einde gekom om nooit weer in die kerk hervat te word nie. Paulus getuig self dat hy die laaste verkose apostel was:

Daarna het Hy verskyn aan Jakobus; daarna aan al die apostels; en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene” (1 Kor.15:7,8).

Sy woorde “en laaste van almal” dui op ʼn afsluiting. Daarbenewens was een van die Bybelse vereistes vir ʼn apostel dat hy Jesus persoonlik moes geken en met Hom gepraat het.   Paulus het so ʼn ervaring by Damaskus gehad (Hand.9).

As hy die laaste apostel was, wie het dan die nuwes gekies en met watter gesag?   Ene Cindy Jacobs, ʼn Amerikaner en Charismatiese Isebel wat haarself as ʼn profetes beskou en glo van God opdrag gekry het om nuwe apostels aan te stel waarvan Wagner die eerste een was. Dwaalgeeste het hom tot en met sy dood in 2016 as God se hooftoesighouer oor die kerk beskou. Dis suiwer Rooms!

3.4 Duidelike waarskuwings

Die Bybel waarsku telkens teen valse apostels.

Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig” (2 Kor.11:13)

“...want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim4:3,4).

“Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1Joh.4:1).

“...en baie sal hulle verderflikheid navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie” (2 Pet.2:2,3).

Valse apostels ag hulself op gelyke voet met die oorspronklike apostels en onontbeerlik vir die kerk. Paulus waarsku:

“... dat julle van ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie ...” (1 Kor.4:6).

Die siening dat die nuwe apostels die fondament van die laaste kerk is, skreeu ten hemel!

4.   Die koninkryk van God

4.1   ʼn Onhaalbare droom

In hul strewe na mag, maak die NAH telkens van die Bybelse metafoor die koninkryk van God gebruik. Dis skynbaar ʼn nuwe aardse gemeenskaporde waarin apostels al die belangrike funksies vervul. Gevolglik vertoon dit sterk parallelle met die teologiese liberalis meen Social Gospel van weleer.

Die droom van ʼn aardse Utopia van vrede en geregtigheid o.l.v. nuwe apostels is die steierwerk van hul toekomsverwagtings. Daarom is kerkgroei nie hul agenda nie; slegs die koninkryk van die apostels. Om dit te verwerklik, moet die demokratiese strukture van die bestaande kerke verander word ten einde ʼn magslustige priesterorde te vestig en te voed. Dis allermins Protestants en eerder Rooms!

4.2 ʼn Valse evangelie

Die Bybel leer dat die koninkryk van God nie ʼn aardse bestel is nie. Dis ʼn geestelike heerlikheid. Tydens sy verhoor sê Jesus vir Pilatus dat sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie. Daarbenewens leer die Bybel nêrens dat die wêreld ooit beter gaan word nie; beslis nie weens ʼn koninkryk wat deur mense gedryf gaan word nie.  Jesus waarsku eerder dat die mensdom soos in die dae van Noag al hoe boser gaan word.

Wie dus ʼn evangelie verkondig dat die koninkryk van God sigbaar op aarde gaan aanbreek, dwaal. Om hemel op aarde te probeer skep, is om ʼn Armageddon te probeer omseil. Ongelukkig vind hierdie dwaling in feitlik elke gevoelsgodsdiensvrugbare grond.   In die NAH tel dit net stoom op!

Hierdie dwaling is ʼn herlewing van Hermetisisme, ʼn ou filosofies-okkultiese opvatting dat die mens op ʼn terugreis na ʼn eenheidstaat met God is. Om dit te laat aanbreek, moetdaar skouer aan die wiel gesit wordomdat dit nie sonder menslike moeite kan verwerklik nie.

4.3   In Jesus se tyd

Die NAH se teologie van God se koninkryk hier en nou is vreemd aan die Bybel. Tydens Jesus se aardse bediening het baie Jode na ʼn sigbare koninkryk van God gesmag. Dit was egter vir hulle gelykluidend met ʼn bevryding van Romeinse gesag. Die dissipels het tot op die dag van Jesus se hemelvaart gehoop dat so ʼn koninkryk sou verwerklik:

“Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” (Hand.1:6).

Daar was twee probleme daarmee. Dit was eerstens nie God se tyd nie en tweedens wou hulle Jesus vir die verkeerde rede koning maak. Die Bybel sê dat Jesus op God se tyd en vir die regte rede weer aarde toe sal kom. God kan nie gemanipuleer word om mense se wil te laat geskied nie.

4.4 Soldate van God

Die NAH is ʼn kookpot van misleiding en misleiers wat poog om God se magsgebied wat Adam glo in die tuin van Eden aan die Satan afgestaan het, vir Hom terug te wen. Hulle glo dat Satan se regering alleenlik omver gewerp kan word deur dit met ʼn ander regering, dié van die soldate van God, te beveg.

In die 40er jare het die Spadereën in Kanada ʼn soortgelyke dwaling verkondig en ʼn wêreldwye herlewing o.l.v. die seuns van God in die vooruitsig gestel. Laasgenoemdes sou as bewys van hul roeping dieselfde tekens en wonders doen as wat Jesus op die aarde gedoen het.

Baie Christene is ongeduldig dat die wederkoms nog nie plaasgevind het nie en soek dan uitweë om geestelike vervulling te smaak. Dwaalleraars maak mense al vir baie jare wys dat hulle die wêreld vir Christus moet wen ten einde die koninkryk van God te laat kom. Ook die NAH met hul Elia-genote uit wie se bediening ʼn nuwe geloofsgemeenskap gaan spruit. Angus Buchan se Mighty Men en Manne van Belofte sluit hierby aan.

Op 1 Junie 2008 sê Buchan in Hillcrest:God is looking for men, and for women, for boys and girls, that will change the world!   The world!  Waiting!   All creation is waiting with expectation, on tip toes, for the manifestation of the sons of God! That’s you and me”  (Internet).

Jesus waarsku:

Maar van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe word die koninkryk van die hemele bestorm, en bestormers gryp dit met geweld.Want al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer” (Mt.11:12,13).

Vervolg...