Ds Andrè vd Berg
Lees reeks by Nuwe Apostoliese Herlewing
5. Verwarde teologie
5.1 Geestesgawes
Die NAH se hermeneutiek is korrup. Dit laat val die klem op wat die vertolker seën nie op dit wat God sê nie. Hulle noem dit hermeneutiek van die Gees. Daarbenewens is hul klem en aandrang op bedieningspatrone vreemd aan die Bybel. Die Heilige Gees gee aan die kerk gawes en nie bedieningspatrone nie.
“En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is:is dit profesie, na die maat van die geloof; of bediening, in die werk van bediening; of wie leer, in die lering; of wie vermaan, in die vermaning; wie uitdeel, in opregtheid; wie ’n voorganger is, met ywer; wie barmhartigheid bewys, met blymoedigheid” (Rom.12:6-8).
“En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regerings, allerhande tale” (1 Kor.12:28).
“En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars,om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus” (Efes.4:11,12).
Omdat God die kerk met geestesgawes en nie met bedieningspatrone seën nie, het die apostels geen bedieningspatrone gevestig nie, maar die kerk wel met hul geestesgawes bedien. Oral waar na apostels verwys word, praat die Bybel van diegene wat aan die hand van die gawes wat hulle van die Heilige Gees ontvang het, baanbrekerswerk vir die kerk gedoen het, nie bedieningspatrone nie!
Ongelukkig word sektes altyd aan ʼn selektiewe verstaan van die Bybel gekenmerk. So lê die NAH bv. oordrewe klem op Handelinge omdat dit oor die baanbrekerswerk van die apostels handel. Ongelukkig verklaar hulle dit aan die hand van hul eie geestesuitleg terwyl dit in werklikheid ʼn dinamies-geskiedkundige gids is wat oor die stigting en vordering van die eerste Christenkerk handel en dus nie normatief vir die kerk is nie.
5.2 Vreemde verlossingsleer
Die NAH se verlossingsleer is vreemd aan die Bybel. Redding is vir hulle die gevolg van ʼn samewerking tussen God en mens (Sinergisme). Daarenteen leer Gereformeerdes dat God sondaars deur genade alleen red (Monergisme).
“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God” (Efes.2:8).
Gelowiges moet oor die suiwer verkondiging van die Woord van God waak. Nalatigheid is ʼn versuim van die amp van die gelowige en derhalwe sonde. Niemand durf nuwe waarhede ontdek, ʼn ander leer as die Bybelleer verkondig, daaraan byvoeg of selektief daaraan glo nie. Gelowiges moet eerder in die kennis en verdediging daarvan uitmunt:
“...een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê” (Tit.1:9).
“Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas:3).
Vervolg...