DWALING VAN DIE NUWE APOSTOLIESE HERLEWING (6)

Ds Andrè vd Berg

Lees reeks by Nuwe Apostoliese Herlewing

6. Nuwe openbarings

6.1 ʼn Oop kanon

Die kerk van Christus se gesag is alleenlik op die Skrif gegrond (Sola Scriptura) en die kanon derhalwe afgesluit:

Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” (Heb.11:1).  

In stryd hiermee leer die NAH dat God nog steeds direk met mense praat. Gevolglik is die Bybel wat geloofsake, kerkleer en die Evangeliebediening betref, nie genoegsaam nie. Die kanon is oop en ʼn vars stem uit die hemel nie onmoontlik nie. God kan selfs iets sê wat nie met die Woord ooreenstem nie!

ʼn Geslote kanon was nog altyd ʼn struikelblok vir dwaalleer.   Daarom probeer valse profete dit van meet af aan oop te dwing. God het dit juis laat sluit om dwaalleer te beperk en valse profete te waarsku:

“Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is.En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Openb.22:18,19).

Die NAH is tans besig om die kerk wêreldwyd met valse woorde, gesigte, tekens en wonders te besmet. Nogtans glo hulle dat hulle uitverkore is om die saad van herlewing in die toetsgrond van vernuwing te plant.   Die nuwe geslag van apostels en profete wat hieruit spruit, bring glo nuwe hoop vir die kerk.

6.2 Tekens en wonders

Die NAH se leer stem baie met dié van die Charismatiese bewegingsooreen. Beide glo dat hulle deur die Heilige Gees wonders kan verrig soos om bose geeste uit te dryf, siekes te genees en toekomsvoorspellings te maak.

Hulle dink en redeneer pragmaties. As ʼn sekere werkswyse slaag, is dit van God, andersins nie. Daarenteen leer die Bybel dat gelowiges hul geloof op die objektiewe Bybelse leer grond en niks anders nie.

Die NAH onderskei tussen ʼn reddingsgeloof en ʼn werksgeloof. Laasgenoemde stel hul in staat om wonders te verrig. Daarvoor beroep hulle hul op Jesus se woorde:

Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ’n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie” (Mt.17:20).

Jesus se woorde op die tekens en wonders wat die apostels ná Pinksterdag as ʼn dinamiese bekendstelling van die Christenkerk sou doen, betrekking en niks anders nie. Die kerk gaan baie beslis nie met ʼn leër van wonderwerkers die wêreld vir God verower en sy koninkryk daarna vestig nie!

Die NAH erken dat hul leer soms aan die nodige Skrifgetuienis ontbreek maar sê dat dit die manier is hoe mense hul geloof ervaar; die doel heilig die middel. Slaag dit, is dit reg, andersins nie. Dus word geloof deur sukses bepaal en nie die Bybel nie. Dis onhoudbaar. Geloof wat deur proefnemings verkry word, verwar gesonde logika en maak deure vir booshede oop!

Vervolg...