Ds Andrè vd Berg
Lees reeks by Nuwe Apostoliese Herlewing
7. Wêreldbeheer
7.1 Nuwe strukture
Die NAH leer dat hul nuwe wyn nie in die ou sakke van gevestigde kerk- en bedieningstrukture sal deug nie. Gevolglik moet gevestigde handelswyses vernuwe word. Daarvoor meng hulle gedurig in interkerklike verhoudings, finansiering van Evangelisasie, sending en veral teologiese opleidingsentra in.
Alhoewel hulle na ʼn losgestruktureerde Charismatiese netwerk lyk, is dit die segment wat tans die vinnigste op die internasionale kerktoneel groei. Dit trek mense omdat dit na groei en beweging op ʼn skynbaar stagnante godsdiensakker lyk. Hulle wen met groot sametrekke baie veld in Suid-Afrika.
7.2 Onderwerping
Die NAH beywer hulle nie vir geestelike hervorming nie, maar eerder vir ʼn magtige kerkregering waaraan aardse regerings hul sal onderwerp. Om daarin te slaag, moet alle kerkregering hervorm word en alle leraars hul aan die opsig van die nuwe apostelsonderwerp. Wagner draai in syboek Church quake (1999) geen doekies hieroor om nie.
Die NAH hou altyd ʼn donker wêreldtoneel aan mense voor en bied dan die enigste reddingsboei aan - die bediening van apostels. Dis ʼn aanhoudende getokkel op dieselfde snaar!
7.3 Sosio-politieke doelwitte
Die NAH is behep met wêreldbeheer en poog derhalwe om die kerk se aandag van die verlossing in Christus na die fisiese beheer van sosio-politieke strukture te verskuif. Hulle glo vas dat hulle ʼn mandaat van God hiervoor het en dat dit die enigste wyse is waarop sy koninkryk op die aarde gevestig sal word. Kerke moet glo net van hierdie beheermandaat bewus gemaak word en as een groot belangegroep verenig. Hierdie strewe ontbreek aan die nodige Skrifbegronding.
Die kerkgeskiedenis daarenteen leer dat mensemeerderhede selde aan God gehoorsaam is. En so sal dit wees totdat Jesus weer kom. Daarbenewens het Jesus nooit laat blyk dat Hy na ʼn gekerstende mensdom gaan terugkeer nie. Die teendeel is eerder waar:
“ ... maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Luk.18:8).
Slegs die Antichris gaan die mensdom aan die einde van die tyd beheer:
“ ... En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan” (Openb.13:3).
Gevolglik trap diegene wat hul vir mensebeheer beywer, in die slagyster van die Satan. Jesus waarsku:
“Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mt.7:22,23).
Daar was nog nooit in die kerkgeskiedenis soveel mense wat op goddelike roeping of profetiese optredes aanspraak maak soos nou nie. Hulle skaad nie net die verkondiging van die Evangelie nie, maar besmet ook die Christendom met hersenskimme wat nie van dié van vrysinnige politieke strewes verskil nie.
7.4 Beheer teologie
Die NAH voer drie redes ter begronding van hul beheerteologie aan. Eerstens dat Satan met die verleiding van Adam en Eva in die tuin van Eden, die mens van sy aardse heerskappy ontneem het. Tweedens dat die herstelde kerk God se instrument is om dit te herwin en derdens dat Christus nie na die aarde sal terugkeer voordat dié beheer herwin is nie.
Daarmee beweeg die NAH weg van ʼn passiewe teologie met gelowiges wat op die wederkoms van Jesus wag na ʼn politieke teologie met gelowiges wat beheer van aardse instellings moet neem ten einde die wederkoms te verwerklik. Dis in werklikheid ʼn herlewing van ʼn ou kettery wat mense laat glo dat hemel en die aarde verenigbaar is en in New Age bewegings floreer. Dis ʼn vorm van futurisme - die geloof dat ʼn mens sy eie toekoms kan skep deur nou sekere dinge te beheer.
Die NAH poog om agter die masker van morele heropbou en met die slagspreuk van red die land meer as net die land te red; hulle wil mense beheer! Gelowiges moet dus nie verbaas wees as sekere okkultiese leerstellings binnekort ʼn vorm van nuwe evangelisasie in sekere kerke word nie. Oral waar utopiese taal van vrede, liefde en harmonie in die kerklike wêreld gehoor word, stuur dit gewoonlik op booshede af. Dis pure wêreldbeheertaal!
Die NAH se ideaal van die verwerkliking van die koninkryk van God deur magsbeheer, is niks anders as ʼn kerklike Djihad (heilige oorlog) nie. Die Bybel leer nêrens dat die mens regverdigheid op die aarde moet vestig nie. Christus bring dit met sy wederkoms. Die Bybel weet ook nie van ʼn groot eindtyd-herlewing nie, slegs van ʼn wêreldwye godsdiensverval.
7.5 Geestelike oorlogvoering
Die NAH verberg hul bedenklike teologie baie effektief agter die masker van geestelike oorlogvoering. Dit wat hulle leer, strook egter nie met die Bybel nie. Dis eerder die teelaarde vir misleiers wat mense op ʼn ander pad as dié van die waarheid lei. Hulle verkondig ʼn ander lewe, geloof, status, wêreld en Verlosser.
Desondanks roep die NAH kerke onophoudelik op om hulle soos die eertydse kruisvaarders op die geestelike verowering van stede en gebiede toe te spits. Sulke onregstreekse oorlogsverklarings teen regerings, stede en ander instellings is vreemd aan die Skrif. Dis nie gelowiges se taak om bose geeste uit te snuffel en met ʼn magsvertoon uit te ban nie. Jesus het dit nie eers gedoen toe Hy Jerusalem vir oulaas binnegegaan het nie. Hy het wel enkelinge vir hul sonde verantwoordelik gehou.
Die NAH glo egter vas dat demoniese magte die kerk se poging om die wêreld te evangeliseer in die wiele ry en dat daar derhalwe oorlog teen hulle verklaar moet word. Dit stem met die dwaling van die Spadereën ooreen wat leer dat die seuns van God na vore gaan kom om die Christendom te red.
Dwaalleraars wakker mense wêreldwyd met geestelike magslus aan. Dit neem dikwels die vorm van Christen-humanisme aan met mense wat hul geroepe ag om die koninkryk van God sigbaar te laat verwerklik deur hul vir ʼn tipe van hemel-op-aarde bedeling as ʼn teenvoeter vir die ryk van die Satan te beywer.
Vervolg...