Ds Andrè vd Berg
Lees reeks by Nuwe Apostoliese Herlewing
9. Ontsporing
9.1 Verkrummeling
Johannes sien in ʼn hemelse gesig dat die kerk van die eindtyd ontspoor en die wêreld slaafs navolg:
“En een van die sewe engele... het gekom ... en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer .... en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery ... en sy het in haar hand ’n goue beker gehad, vol gruwels en die onreinheid van haar hoerery ...En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus... (Openb.17:1-6).
Ontsporing en verkrummeling is tans aan die orde van die dag. God is nie meer die middelpunt van die kerk nie, maar die mens.
“...hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word...” (Rom.1:25).
Die gevolg is dat die fondamente van die waarheid en geestelike inbors in talle hoofstroom Protestantse kerke verkrummel. Bybelse waarhede word soos vuil wasgoed eenkant toe gegooi en Jesus nie verder as die enigste weg, die waarheid en die lewe verkondig nie.
Daarom het baie van hierdie kerke by die Christenvermaaklikheidsindustrie betrokke geraak. Hulle bring nie meer die wêreld na die Woord nie, maar die eerder Woord na die wêreld. En waar hierdie dood in die kerklike murg beland het, bly daar spoedig net ʼn leë dop oor!
9.2 Vormgodsdiens
Die kerklike terrein het so vormgodsdienstig geword, dat gelowiges baie vas moet staan om nie deur die stroom van misleiding meegesleur te word nie.
“Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel....en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heilige” (Efes.6:11,18).
Die liste van die duiwel is Satan se pogings om mense van God te vervreem en word slegs met ʼn deeglike kennis van die Woord en kragtige gebed teengestaan.
Die ware kerk kom van God, vereer die Naam van Jesus en verkondig dieselfde boodskap as dié van die Bybel. Enigiets wat hiervan afwyk, moet in die geheel verwerp word. Die ware kerk is allermins op aardse mag ingestel. Nog minder hou sy haar met allerlei godsdienstegnieke of proefnemings op. Al wat vir haar belangrik is, is om die waarheid van God se Woord te verkondig sodat sondaars hulle kan bekeer - nie metodes nie, maar die boodskap.
9.3 Verkleurmannetjies
Dwaalleraars word nie baie maklik uitgeken nie. Hulle smelt soos verkleurmannetjies met die godsdienstige omgewing saam en verkry toegang deur die Bybel aan te haal. Indien hulle die Koran, Boek van Mormon of enige ander godsdiensgeskrif sou aanhaal, sou hulle makliker uitgeken kon word. Maar nou haal hulle die Bybel aan net om hul dwaalleer geloofwaardig te laat voorkom. Dis godsdienskamoeflering!
Dwaalgeeste word altyd deur ʼn bose orkesleier gelei; iemand wat hulle leer om op die maat van ʼn valse godsdiens te dans. Die koor van dwaalstemme wat daarna volg, benewel hul verstand sodat hulle al hoe meer van die waarheid afwyk sonder om dit agter te kom.
10. God waarsku
10.1 Oordeel
Die Bybel waarsku dat God met valse profete gaan afreken.
“’n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel. En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis. Maar die profeet wat so vermetel is om ’n woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, dié profeet moet sterwe. En as jy in jou hart sê: Hoe sal ons die woord weet wat die HERE nie gespreek het nie? —as die profeet in die Naam van die HERE spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die HERE nie gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet dit gespreek; jy mag vir hom nie bang wees nie” (Deut.18:18-22).
10.2 ʼn Ander Jesus
Die NAH verteenwoordig die verfoeilikste segment van die Charismatiese beweging van alle tye en verkondig ʼn ander Jesus as die Een van die Bybel.
“Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor.11:4).
“Vervloek is elkeen wat ’n ander boodskap verkondig as wat ons aan julle verkondig het, al sou dit ons self of ’n boodskapper uit die hemel wees” (Gal.1:8 NLV).
“Hierdie mense is so min werd soos opgedroogte fonteine, of soos miswolke wat deur die wind weggewaai word: vol belofte, maar daar kom niks van nie. Vir hulle wag die donkerste donkerte alreeds” (2 Pet 2:17 NLV).
“...woeste golwe van die see wat hulle eie skandes laat opskuim, dwaalsterre vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word” (Judas :13).
10.3 Slegte vrugte
Ten spyte van alle duidelike Skrifwaarskuwings glo die NAH steeds dat hulle noodsaaklike diens in belang van die koninkryk van God lewer en nog daarvoor beloon gaan word. Jesus waarsku egter:
“Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mt.7:22,23).
Geseënde geestelike arbeid word slegs aan die dra van goeie vrugte gekenmerk. Wie na die gawes van die Gees smag, maar aan die vrug daarvan ontbreek, dwaal.
“’n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken” (Mt.7:18-20).
Peter Wagner was een van die skadelikste dwaalleraars van alle tye wat miljoene mense na giftige weivelde gelei het. Ná sy dood in Oktober 2016 het iemand as volg oor hom geskryf:
“A heretic who thought he was an apostle. A tare who thought he was sowing wheat. A bramble who thought he was producing fruit. A goat who thought he was building the church. A blasphemer who thought he was going to heaven.
A wandering star who thought he was offering direction. A salt water spring who thought he was offering fresh water. A lost soul who thought they were leading the church through the gates of the Kingdom of God…Lest we forget Wagner – so that none ever forget the dangers of heretics in Christ’s church,
may his gravestone be a millstone”(Internet).
Slot
Die Bybel roep gelowiges op om sterk in kennis van die Bybel te staan asook God te bid dat hul medegelowiges nie in die Satan se slagyster trap nie.
“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim.3:16,17).
Al verlaat baie kerke die waarheid vir die leuen, sal dit nooit in die geheel verdwyn nie. Daarvoor sorg God altyd met gelowiges wat die boodskap van verlossing enduit bewaar en suiwer verkondig.
Gelowiges moet waak dat die NAH hulle nie ongesiens in die bose verpakkings van politieke organisasies in evangeliese vermommings toedraai nie. Die NAH is ʼn bose oesland vol valse apostels, profete, skyngenesers, egoïste, magslustiges en geldgieriges. En daar is baie van hulle aan die werk!
Jesus waarsku: “As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! — moet dit nie glo nie. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê” (Mt.24:23-25).