Ds Andrè van den Berg
2. Aan Smirna
“Vrees vir niks wat jy sal ly nie..... Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Openb.2:10).
Die geskiedenis van die kerk begin met geloofsvervolging. Gelowiges het dit verwag want Jesus het gewaarsku “ ... As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind” (Mt.16:24,25).
Net soos wat die kerkgeskiedenis met geloofsvervolging begin het, sal dit ook daarmee afsluit; net erger! “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mt.24:21,22).
Miljoene gelowiges het alreeds onder Kommunistiese regerings vir hul geloof gesterf. Baie verhale word vertel van mense wat hul lewens gewaag het om in die geheim saam te aanbid. Dis egter niks nuuts nie. Gelowiges het al in die eerste eeu in die geheim saam in Smirna aanbid. Dit was destyds een van die mees vervolgde gemeentes en om van Jesus te getuig, om die dood in die gesig te staar!
Niemand weet wanneer die gemeente ontstaan het nie. Hand.19 sê dat al die inwoners van Klein-Asië die Evangelie gehoor het. Gelowiges van Efese het waarskynlik die blye boodskap daarheen gebring wat tot die ontstaan van ʼn gemeente gelei het.
Met Efese was dit baie anders. Gelowiges kon daar hul geloof openlik bely. Dit het die kerk soos ʼn kopkool laat groei. In Smirna moes die kerk noodgedwonge soos ʼn aartappel ondergronds groei.
Op ʼn Sondagoggend kom die gemeente via ompaaie in ʼn eenvoudige gebou in Smirna byeen. Daar is nuus uit Patmos!Polikarpus lees die brief voor. Hy is die leraar van Smirna en het later ʼn marteldood gesterf.
Jesus se openingswoorde klink baie soos dié aan Efese: “Ek ken...” Hy het van hulle beproewingsomstandighede geweet. Wie in beproewing verkeer, dink so maklik dat die Here hom vergeet het. En dis wat Satan wil hê! In die tyd van Esegiël moes God aan hom ʼn hemelse gesig gee om die Joodse ballinge te verseker dat Hy ook daar in die vreemde van hul beproewing weet en nie in Jerusalem agtergebly het nie.
Die gelowiges in Smirna het deur die diep water van geloofsbeproewing gegaan. Die brief wat daardie Sondag in die gemeente voorgelees is, het egter van Iemand gekom wat deur die uiterste beproewing gegaan het. En dit het hulle laat moed skep.
Jesus skryf: “Vrees vir niks wat jy sal ly nie...” (:10). Hy wat deur die beproewing is, sal ook sy kinders daardeur dra.“... so sê die HERE... Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie...” (Jes.43:1-3).
Wat die vervolging van Christene destyds so tragies gemaak het, is dat dit deur die Joodse kerk aangehits is. Volksgenote het met die vyand saamgespan en geen vinger verroer om God se wet in die proses gehoorsaam te wees nie. So is Polikarpus bv. op ʼn Sabbat op ʼn brandstapel tereggestel.
Dis erg as volksgenote hul in die linie van die volksvyand tuismaak, veral kerklui. Kyk wat in ons eie land gebeur het toe hoofstroomkerke met die stootskrapers van hul teologiese onverskilligheid die keerwalle wat ons volk jare lank teen barbarisme beskerm het,weggestoot het!
Een van die metodes van die Smirna-owerheid om Christene te skaad, was om hul te verarm. Gelowiges is onteien en, in stryd met die agste gebod net soos die hedendaagse ANC-beleid, sonder vergoeding op hulle eiendom beslag gelê.
Enersyds het gelowiges in Smirna wel verarm, maar andersyds geestelik sterker geword. Hul verlies aan stoflike bates was ʼn geringe opoffering vir hul liefde vir Jesus en die sekerheid van ʼn ewige lewe. In die vuur van vervolging was Smirna vir Jesus ʼn welriekende offer. Dit was ʼn arm rykgemeente. Arm aan stoflike dinge maar ryk in hemelse skatte.
“Luister, my geliefde broeders — het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie? (Jak.2:5).
Waar Efese haar eerste liefde verlaat het, het Smirna s’n groter geword. En dit was die barometerlesing van hul geloof. Nie indrukwekkende geboue, batige handelsrekeninge of ywer nie; maar hul liefde vir Jesus!
Efese het sewe lofprysinge van Jesus ontvang. Dit kon egter nie opmaak vir die een enkele aanklag teen haar dat sy haar eerste liefde verlaat het nie. Smirna het weer net een lofprysing ontvang, maar geen aanklag nie. Haar geestelike rykdom was geestelike goud!
Jesus gee aan haar ʼn wonderlike belofte - die tweede dood sal geen greep op hulle hê nie. Hierdie tweede dood is die ewige dood – die hel. Wie eenmaal gebore word, sterf twee maal – ʼn fisiese dood sowel as die ewige dood. Wie twee maal gebore word – fisies en die wedergeboorte, sterf slegs eenmaal en gaan nooit hel toe nie. Jesus belowe: “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh.6:37).
Jesus het die gelowiges in Smirna vir ʼn martelaarsdood voorberei. “.... Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee”. ʼn Kroon simboliseer oorwinning. Die een in die teksvers dui op ʼn oorwinning saam met Hom en genadevergoeding. Gelowiges moet nooit van hul ewige loon vergeet nie: “Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele....” (Mt.5:12).
Wees gewaarsku – aan die einde van die tyd sal gelowiges weer vanuit ʼn kerk vervolg word nl. dié van die Antichris: “...sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess.2:4). “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God” (1 Pet.4:17).
Die Joodse kerk was ʼn werktuig in Satan se hand. So ook die laaste kerk.
Die Jode het gedink dat hulle goed doen deur die Christene te vervolg. Eva het ook gedink dat sy goed doen deur van die verbode vrugte te eet. Kerke gaan aan die einde ook dink dat hulle goed doen deur gelowiges te vervolg. Jesus bewaar egter sy kerk. Dit sal nooit uitgewis word nie. Gelowiges moet net vasstaan:
“Eindelik my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Efes.6:10-13).