Ds Andrè vd Berg
Aan Thiatire
“Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom” (Openb.2:25)
Vyf eeue voor die geboorte van Christus het die Perse die Babiloniese ryk verslaan en die nuwe wêreldheersers geword. Daarna het die Babiloniese priesters het na Pergamus gevlug om hul afgodery daar voort te sit. Soos wat Jerusalem God se setel op die aarde was, het Pergamus die Satan s’n geword soos wat die priesters beherende mag oor lidmate verkry het.
Dit was ʼn Satanshool. Jesus sê self: “Ek ken jou werke en die plek waar jy woon, waar die troon van die Satan is. En jy hou vas aan my Naam en het die geloof in My nie verloën nie; selfs in die dae waarin Antipas my getroue getuie was, wat gedood is by julle waar die Satan woon” (Openb.2:13).
Toe die Romeinse ryk begin kwyn en die burgers onregeerbaar begin word, het die keiser Pergamus besoek om by die priesters te leer hoe om mense te beheer. Dit wat in godsdiens gewerk het, kon net so wel ook in die politiek werk. Die resep was duidelik: Beheer politiek met godsdiens. En dis hoe die Roomse Kerk ontstaan het - ’n bose organisasie wat vir meer as 12 eeue ongeëwenaarde mag oor die mensdom gehad en miljoene mense laat vermoor het. Die RK is soos ’n duif met roofvoël instinkte. Jesus sê nie verniet dat die Satan ’n mense moordenaar van die begin af is nie (Joh.8:44).
Thiatire was naby Pergamus en het ook in die spervuur van die Satan beland. Alhoewel dit ’n sterk gemeente gehad het, was dit meer op getalle as op gehalte ingestel. Desondanks begin Jesus in sy brief aan hulle God met ’n aanprysing: “Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof….” (:19). Jesus het egter ’n klag teen hulle gehad – dat hulle nie oor die prediking gewaak en dwaalleer beveg het nie. “Maar Ek het enkele dinge teen jou, dat jy die vrou Isebel, wat haarself ’n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei…” (:20).
Hierdie Isebel was nie werklike ʼn aanduibare vrou nie, maar eerder die simbool van die bose invloed wat dwaalleer op die gemeente gehad het. Dit herinner aan Isebel wat haar man, Agab, die Baal-godsdiens in Israel laat wettig en ook ’n tempel vir Baal in Jerusalem laat oprig en die heidenpriesters uit die staatskas besoldig het. Dis oulaai van die Satan - oral waar die tempel van God verrys, rig hy sy kapel van misleiding op!
Agab se huwelik met ’n heiden-vrou was fataal vir Israel. Die Hollanders sê: “Twee geloven op een kussing, daar slaap de duiwel tussen!” En hoe tuis was die Satan nies op die koning se bed nie! Gelowige Israeliete was gegrief maar was te bang om te praat uit vrees vir vervolging.
Isebel het geweet dat Israel se godsdiens vas gestaan en nie sonder meer met afgode bestorm kon word nie. Sy moes ’n ander taktiek gebruik; Israel se geestes-waardes moes afgebreek word; vandag nog ʼn wenresep - besoedel die kerk met dinge van die wêreld!
Dit wat in Israel gebeur het, het ook in Thiatire gebeur – die kerk is bewustelik besoedel en dwaalleer laat ontstaan. Mense het met die “dieptes van die Satan” (:24) in aanraking gekom. Dwaalleer is Satan se spot met God en Sy waarheid. “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie…” (Gal.6:7).
Hoe het dwaalleer in Thiatire beland? Die kerkleiers wou die Christen-kerk vir heidene meer aanvaarbaar maak. Daarvoor moes die heilige muur wat die kerk van die wêreld geskei het, afgebreek word. Die kerk moes die wêreld op sy eie terrein ontmoet ten einde mekaar beter te verstaan. Die gevolg was dat die gemeente uit haar nate gebars en die kerk modern geword het.
Hierdie blink muntstuk het egter ʼn dowwe keersy gehad. Toe die heining opgelig is, het klein jakkalse die wingerd begin verniel en is God se heilige akker onteer. Thiatire was baie anders as haar beginselvaste buurgemeente Smirna wat nie van haar beproefde geestelike waardes afgewyk het nie.
Wie het die grootste invloed op Thiatire gehad – die kerk op die wêreld of die wêreld op die kerk? Ongelukkig die wêreld op die kerk. Christus veroordeel sulke knoeiery tussen kerk en wêreld as hoerery: “En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer en sy het haar nie bekeer nie” (:21). Die kerk is die bruid van Christus en moet haar van alle onheilige gemeenskap onthou!
Thiatire was ’n fatale proefneming – die kerk het nie die wêreld geheilig nie; die wêreld het die kerk besoedel. Die kerk is geroep om heilig (afgesonder) vir Christus te wees. Sodra sy haar beginsels t.w.v. verdraagsaamheid en ’n samewerking met die wêreld laat vaar, beland sy in die spoelsloot van die lewe. Dan voer die godvyandige wêreld haar net waarheen dit wil. Dit wat in Thiatire gebeur het, heteeue later ook aan die suidpunt van Afrika gebeur!
Christus laat vaar nie die werk van sy hande nie. Hy sorg vir sy kerk. As dit lyk asof die kerk gaan sterf, voorsien Hy gelowiges wat sy Woord liefhet om vas te staan. Dit het in Thiatire gebeur. Daar was gelowiges wat ten spyte van die verval vasgestaan het: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom”.
Hulle moes aan die waarheid vashou. Baie mense weet goed wat die waarheid is, maar het geen liefde daarvoor nie. Die leuen lyk, net soos die verbode vrug in Eden, tog te lekker. Sulke mense het God nie lief nie. Om Hom lief te hê, moet jy die waarheid liefhê. Daarom is die kerk van Christus oral waar die waarheid van die Woord van God suiwer verkondig word.
ʼn Liefde vir die waarheid maak gelowiges nooit baie gewild nie. Hulle ervaar dikwels sterk teenstand want in tye van misleiding is die verkondiging van die waarheid as’t ware ʼn rewolusionêre daad:
“Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Efes.6:10-13).
Om die waarheid te praat, kan lewensgevaarlik wees. Dit mag egter nie nagelaat word nie. Die stryd om die waarheid mag nooit te vermoeiend wees en die prys daaroor nooit te hoog wees nie. Niks onderskei gelowiges van ongelowiges soos ’n liefde vir die waarheid nie.
Jesus gee gelowiges opdrag om sout van die aarde en lig van die wêreld te wees. Geen kerk mag haar in ’n tipe van kloosterlewe van die wêreld onttrek nie, maar juis in die wêreld inbeweeg om dit te heilig. Dis egter ook baie gevaarlik want die kerk moet versigtig wees om nie in die wêreld te verdwyn nie!
Die kerk van Christus beteken die meeste vir die wêreld as dit die minste daarna lyk. Ongelukkig het kerke die wêreld omhels i.p.v. die dwaasheid daarvan aan die lig te bring. Gevolglik woed afvalligheid orkaansterkte in baie kerke.
Dis hartseer om te sien hoe oppervlakkig die kerklike lewe geword het. Ja, die kerklike wêreld het hol geword van al die oppervlakkige vermaak. Kerke wat ʼn denkwyse in pas met die wêreldmening huldig, bars vandag uit hul nate. En dit gaan alles oor leuens wat verkondig en deur mense geglo word!
Gelowiges sal vanjaar vir die waarheid moet stry soos nog nooit te vore nie. As ons dit nie gaan doen nie, misluk ons getuienis en word die sout laf. Ons het geen groter verantwoordelikheid teenoor Jesus as om die waarheid te laat seëvier nie. Dis die edelste ding om te doen!
Gelukkig is ons nie alleen in hierdie stryd nie. Jesus stry saam met ons en onderskraag diegene wat ter wille van die waarheid ly. Mag ons eerder in die stryd vir die waarheid sterf as om te swyg as leuens verkondig word. Laat ons liefde vir die waarheid God se beeld in ons lewens belig. Jesus se raad aan die handjievol getroues in Thiatire is ook die raad aan die kerk: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom”.