BRIEWE UIT DIE HEMEL (5)

Ds Andrè van den Berg

Aan Sardis

“.... Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood” (Openb.3:1)                                    

Verbeel jou dat jy in ʼn woestyn verdwaal. Dis ondraaglik warm en jy wil sterf van dors. Jy strompel voort en kom op ʼn verweerde teken af: Waterput twee kilometer.   Met jou laaste kragte bereik jy die put en laat die emmer sak. In plaas van die geluid van water onder in die put te hoor, is daar net ʼn dowwe geluid as die emmer droë grond tref.

Dis hoe baie mense al by kerke gekom het om lewende water te vind om net stof te kry. ʼn Put sonder water is ʼn put van die dood soos met die gemeente Sardis besig was om te gebeur. En die rede? Die kerk het nie van die stad verskil nie. Die gemeente het ʼn trotse verlede gehad, maar dit was ongelukkig al waarop sy haar kon beroem. Vir alle praktiese redes was sy geestelik dood.

Die gemeente het soos ʼn termometer die stad se klimaat weerspieël i.p.v. om dit soos ʼn termostaat te verander. Kerke moenie met die wêreld meeding nie, maar dit verander!

Die mense van Sardis was lui, onsimpatiek en selftevrede; so ook die gemeente.   Daarom het Jesus geen goeie woord vir hulle nie, maar wel goeie raad. Hy voer as’t ware ʼn geestelike lykskouing op hulle uit. Sy bevindings en raad is ook vir ons ore bedoel. Laat ons luister en uit Sardis se foute leer!

Kerke wat aan Jesus toegewy is, ding nie met die wêreld mee nie. Baie kerke probeer vandag elke metode onder die son om ʼn vrugbare bediening te hê terwyl al die krag wat hulle benodig in die Heilige Gees en die Woord van God tot hulle beskikking is.   Vrugbare suksesvolle bediening hang nie van nuwe metodes af nie, maar eerder om mense die wil van God te leer.

Jesus sê vir Sardis dat Hy hulle werke ken. Hy is alwetend en weet wat elke gemeente doen en die ware redes daarvoor. Al het Hy geen goeie woord vir Sardis se optrede nie, veroordeel hulle nie sonder meer nie.   Hulle het soos ʼn lewende gemeente gelyk; baie besig, hardwerkend en met ʼn goeie naam onder die stadsinwoners - oënskynlik aan die brand.

Dit was alles oëverblindery.  Toe die hemelse Geneesheer sy vinger op hulle pos sit, het Hy hulle dood verklaar! Ongeag wat mense van Sardis gedink het, was Hy met die waarheid vertroud.   Die bietjie lewe in die gemeente was nie van geestelike aard nie en kon niks van ewigheidswaarde opgelewer nie.   Die leraar het gepreek maar lewens het nie verander en sondaars het hul nie bekeer nie.

Vir die mense van Sardis het die gemeente aan die gang gelyk. Jesus het baie anders na hulle gekyk en hulle dood verklaar. Voorkoms kan misleidend wees net soos opgestopte diere in ʼn museum; hulle lyk lewendig maar is nie. Die wêreld is oorhoops met namaaksels van omtrent alles wat leef; selfs kerke!

Dooie gemeentes roem graag op hul verlede en is tevrede met die gang van sake. Hulle hou hul eerder met rituele en formaliteite as met werklik geestelike dinge besig. Daarbenewens is hulle meer oor gemeenskapsveranderinge begaan as om sondaars tot bekering te lei en gelowiges te versterk. En so word die Bybel opsy geskuif en gruwels versuiker.

Alles wat lewe, vertoon groei. Sardis het niks daarvan getoon nie en was dus dood al het dit gelyk of sy groei. Moet nooit die groei in ʼn gemeente aan getalle meet nie. ʼn Gemeente wat groei, ontwikkel geestelik. As dit stop, sterf dit!

Paulus skryf dat ʼn gemeente soos ʼn liggaam werk. As ʼn liggaam ʼn probleem probleem opdoen, is daar iewers disharmonie. Neem kanker as voorbeeld; sekere liggaamselle ontsteek en val die ander selle aan.   As dit nie gekeer word nie, is die dood onafwendbaar.   So ook ʼn gemeente. As dit gesond is, heers daar harmonie. Indien dit ontbreek, is dit siek en kan selfs sterf.

Nog ʼn teken van lewe is beweging.   ʼn Gebrek daaraan is ʼn duidelike teken van dood.   So ook ʼn gemeente. As daar beweging is, is daar lewe.   Hoe lyk ons vir God? Toon ons tekens van lewe of van die dood? Die groot Geneesheer voorsien elke siek gemeente van ʼn voorskrif om die dood te voorkom.

Alhoewel Sardis in ʼn tragiese staat van verval verkeer het, was alles nie verlore nie.   Daar was nog hoop. Hulle moes baie vinnig lewensreddende veranderings aanbring en soos die Verlore Seun na hul hemelse Vader terugkeer. Jesus sê vir Sardis: “Wees wakker...” (:2). Die Griekse woord wat hier gebruik word, beteken om die slaap weg te jaag.   Die gemeente het ʼn mooi verlede gehad. Ongelukkig het die suksesse van die verlede hulle in ʼn geestelike gemaksone laat verval. Sardis het ingesluimer. Jesus roep hulle om wakker te word.

Wat met Sardis gebeur het, gebeur so maklik met kerke. ʼn Gemeente sal aan die begin met ʼn handjievol mense worstel om aan die gang te kom en kop bo water hou.   Met verloop van tyd sluit daar meer mense aan en is daar meer geld, geboue ens. Dan gebeur dit so maklik dat die gemeente tevrede terugsit om die vrugte van hul arbeid te geniet. Dis ʼn voorskrif vir die dood!

Jesus gee vir Sardis ʼn voorskrif met vier medisynes daarop om as’t ware uit die dood wakker te word - vier dinge wat elke dooie gemeente lewend sal maak. Eerstens: “versterk die wat oorbly” Dit sê baie - dat nie almal in Sardis dooie lidmate is nie.   Daar is nog gelowiges wat ʼn sprankel van lewe in hul het. Hulle moet bygebring word voordat hulle ook sterf.   In Engels revive.

Tweedens sê Jesus dat Hy hulle werke nie volkome gevind het nie. Dit wat die gemeente doen, reik nie tot in die hemel nie. Sardis het wel goeie dinge gedoen soos om lekker te sing, gereeld te bid, na prediking te luister en offergawes te gee, maar niks van ewigheidswaarde tot stand laat kom nie.   Dooie gemeentes verrig dooie werke. Sardis moes haarself ondersoek en besin. Sy was met die werke van God besig sonder om die God van die werke te eer.

Derdens sê Jesus dat hulle moes onthou hoe hulle die Evangelie ontvang het. Hulle moes aan die dae toe die gemeente gestig is en hulle Jesus met ʼn blye hart gedien het in herinnering roep, vashou en voortsit.

Vierdens moes hulle hul bekeer en sonde in hul midde opruim. Die gemeente moes by ʼn punt kom waar hulle sê: Genoeg is genoeg en van rigting verander. Indien nie, sou Jesus op hul afkom soos ʼn dief. Niemand weet watter nie!

Jesus het vir Sardis ook beloftes.   Daar was gelowiges wat Hom opreg gedien het.   Hy belowe dat hulle in die hiernamaals wit klere sal dra en met God sal wandel.   Hulle name is in die boek van die lewe. Jesus sal hulle voor God bely.

Die meeste van Sardis se gemeentelede was nie bloot koud of uit voeling met Jesus nie – hulle was verlore. Jesus gee hulle die geleentheid om gered te word. Sardis het nie herlewing benodig nie maar ʼn opstanding uit die dood! Die groot Geneesheer lê ook sy vinger op die pols van hierdie gemeente waarvan ons deel is. Sy vinger is op jou pols!   Wat voel Hy? Lewe of dood?