BRIEWE UIT DIE HEMEL (7)

Ds Andrè vd Berg

Laodicea

“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My”(Openb.3:20).

Die laaste brief van Jesus aan die kerk is die hartseerste van almal.  Hy rig dit aan die gemeente in Laodicea, die rykste stad in Klein-Asië.  Wat die brief so hartseer maak, is dat dit geen aanprysing van Jesus ontvang nie.   Selfs in ʼn dooie gemeente soos Sardis was daar ʼn klein groepie getroue gelowiges wat van Jesus krediet ontvang het.  In Laodicea was daar niks van dié aard nie.

Jesus bestraf hulle uit ʼn liefdevolle hart.  Toe Hy geen lofbetuiging by hierdie bestraffing kon voeg nie, maak Hy ʼn liefdevolle uitnodiging – een van die mooistes in die ganse NT: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My”.

As jy weet dat jy siek is, kan jy iets daaraan doen.  Maar as jy dit nie weet nie en jy dink dat jy gesond is, het jy probleme.  Dit het met Laodicea gebeur; sy was nie van haar geestesarmoede bewus nie!  Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (:17).

Waarom het Laodicea geestelik verarm?  Rykdom, wat haar ʼn onafhanklike, hoogmoedige en gees laat ontwikkel het.   Die gemeente het nie besef watter negatiewe invloed die omgewing op die kerk gehad het en die stempel wat dit op die kerk gelaat het nie.

Laodicea was ʼn ryk handelsentrum met ʼn sagte, glinsterende swartwol as die hoofproduk waarvan materiaal gemaak is en kopers van heinde en verre na Laodicea gelok en geld laat inrol het. ʼn Paar jaar voordat die brief van Jesus afgelewer is, het ʼn verwoestende aardbewing Laodicea en omliggende stede getref.  Al die stede het die Romeinse Senaat om geldelike hulp gevra om met die opbou van die stede te help; almal behalwe Laodicea.  Die inwoners het dit uit eie fondse opgebou; selfs mooier as voorheen.

Die probleem was dat dit ʼn onafhanklike en selftevrede gees geskep het, wat ook in die gemeente in ʼn gevoel van onafhanklikheid van God weerklank gevind het. Hulle kon vir hulself sorg en het God dus nie nodig gehad nie.

Die gemeente het nie ophou bestaan nie.  Die eredienste is goed bygewoon, maar daar was geen ware Godsbelewenis nie.   Hulle het lou geword. “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm!Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug”(15,16).

 In ons verbeelding sien ons ʼn moeë woestynreisiger op ʼn kameel.  Hy is dors en soek na ʼn waterplek.  Dan sien hy water, haas hom daarheen.  Wanneer hy dit drink, spuug hy dit uit want dis lou en ondrinkbaar - dis die beeld van Jesus se misnoeë met die gemeente.

 Let op die teenstelling met Smirna.  Jesus sê vir Smirna dat sy arm maar ryk is. Hy sê vir Laodicea dat sy ryk maar arm is!    Jesus raai hierdie ryk maar arm gemeente aan om drie dinge te doen om haar van geestelike ondergang te red: Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien” (:18).

 Laodicea het nie na Jesus se opdrag om skatte in die hemel bymekaar te maak geluister nie.   Hulle het aardse skatte, nuttelose goud, vergaar.  Dit verloor alle waarde met die dood, maar nie geestelike goud nie.  Laodicea het verkeerd belê!

Die wit klere waarvan Jesus praat, staan in kontras met Laodicea se swart materiaal, tekenend van die sonde wat rykdom hetsy veroorsaak of volg.   Daarbenewens het Laodicea geestelik naak voor Jesus gestaan:”  ...en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie...”

Jesus het ook ʼn derde aanbod: “... en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien”. Laodicea was ook bekend vir sy aptekersbedryf wat ʼn wonderwerkende oogsalf vervaardig het – Kolluron.  In ʼn woestyngebied met baie oogprobleme het dit baie geld vir Laodicea beteken wat haar geestelik blind gemaak het.  Wie sy oog van Jesus afhaal, word geestelik blind.  Petrus het amper verdrink!

 Laodicea het geestelike genesing nodig gehad.  Hulle hoef nie na ʼn dokter te gaan nie.   Hy het na hulle gekom: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop...”  Hulle moes net oopmaak! 

 Baie jare gelede het ʼn gelowige skilder die beeld van Jesus wat by ʼn deur staan en klop geskilder.  Toe hy klaar was, het hy ʼn vriend genooi om daarna te kom kyk en moontlike kritiek te lewer.  Die man het dit deeglik besigtig en toe vir sy vriend gesê: “Alles lyk goed.  Jy het net een fout gemaak – jy het vergeet om aan die deur waaraan Jesus klop ʼn deurknop te skilder”.  Toe sê die skilder: “Nee, ek het nie vergeet nie.  Daardie deur word net van binne-af oopgemaak”. Hoe waar is dit nie!  Jesus klop, maar maak nie die deur oop nie.  Die mens  maak dit oop.

 Laodicea was siek.  Die dokter was voor die deur.  Hy het geklop, maar sy het nie oopgemaak nie.  Haar rykdom het haar nie net geestelik blind gemaak nie, maar ook doof!  Dis tragies as iemand meen dat sy lewe vol is terwyl dit in werklikheid leeg is omdat Jesus nie daarin tuis is nie.   Jy kan die mooiste huis, duurste motor en beste werk hê, as Jesus in jou lewe ontbreek, is jy siek en arm.

 Die hemelse Dokter staan elke dag voor siek mense se deure en Hy klop.  Daar is geen konsultasiefooi nie.   Dis wel ʼn duur behandeling.  Maar Hy betaal dit self met sy bloed. Jy moet net oopmaak. 

 Om hierdie deur nie oop te maak nie, loop op ʼn ewige dood uit. Laodicea het nie oopgemaak nie en is kort daarna deur nog ʼn verwoestende aardbewing met die grond gelyk gemaak om nooit weer herbou te word nie.  Die bouvalle is vandag ʼn toeriste-aanloklikheid.  Wat leer ons uit Laodicea se geskiedenis?   Dat daar met Jesus in jou lewe ʼn eindelose hoop is.  Sonder Hom is daar net ʼn hopelose einde!

BRIEWE UIT DIE HEMEL (7)

Ds Andrè vd Berg

Laodicea

“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My”(Openb.3:20).

Die laaste brief van Jesus aan die kerk is die hartseerste van almal.  Hy rig dit aan die gemeente in Laodicea, die rykste stad in Klein-Asië.  Wat die brief so hartseer maak, is dat dit geen aanprysing van Jesus ontvang nie.   Selfs in ʼn dooie gemeente soos Sardis was daar ʼn klein groepie getroue gelowiges wat van Jesus krediet ontvang het.  In Laodicea was daar niks van dié aard nie.

Jesus bestraf hulle uit ʼn liefdevolle hart.  Toe Hy geen lofbetuiging by hierdie bestraffing kon voeg nie, maak Hy ʼn liefdevolle uitnodiging – een van die mooistes in die ganse NT: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My”