GOD HAAT ONREGPLEGING
Lees reeks by Onreglesse
Lesse uit die Ou Testament
Ds. A.E van den Berg
Inleiding
Onreg is soos ʼn pessiekte wat ʼn volk vergiftig. Dit het baie voorkomste. God haat elkeen daarvanomdat dit die leuen dien en die lig van regverdiges verdof. Daarom durf gelowigesonreg nie gelate aanvaar nie. Dit moet bewustelik tot God se eer en die geestesgesondheid van hul volk teengewerk word. Daarvoor is kennis van die Bybel onontbeerlik. Dis ʼn gids deur die mynveld van onreg.
Regerings wat onreg pleeg en laat gedy, is georganiseerde plunderorganisasies wat elke gelowige teen die bors stuit. Al beskik gelowiges nie oor die staatkundige mag om onregpleging tot niet te maak nie, durf hulle nooit daaroor swyg of saam met die stroom swem nie. Hulle moet soos Daniël se drie vriende sê:
“ ... Laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie” (Dan.3:18).
1. Afgeleide gesag
Alle regspraak is afgeleide gesag en kom van God af. Die streng toepassing daarvan geld vir alle mense hetsy leiers of onderdane. Daar is nie twee stelle reëls nie; slegs een. Twee stelle maak God kwaad.
“... God staan in die vergadering van die gode; Hy hou gerig te midde van die gode. Hoe lank sal julle onregverdig oordeel en partydig wees vir die goddelose mense?” (Ps.82:1,2)
“ ʼn Leeu wat brom, en ’n beer wat hongerig is, so is ’n goddelose wat oor ’n arm volk heers” (Spr.28:15).
Soos wat engele mag in die hemel het, maar nog steeds aan God onderworpe bly, is mense met regspraak (in Ps.82 gode genoem) ook aan God ondergekik en vir hul optrede verantwoordelik. Hulle gesag moet slegs tot voordeel van die mensdom en nooit vir eie gewin uitgeoefen word nie. Dit vereis wysheid engroot omsigtigheid.
God gebruik leiers om vrede en orde in samelewings te handhaaf en te bewaar. Dis net moontlik as God se Woord gehoorsaam en die voorskrifte daarin vir reg en geregtigheid toegepas word. Kortom: wetsoortreders moet gestraf en wetsgehoorsames beskerm word.
“En hy het aan die regters gesê: Kyk wat julle doen, want julle spreek nie reg vir die mens nie, maar vir die HERE; en Hy is by julle in die regspraak” (2 Kron.19:6).
“Die beslissing is op die lippe van die koning; in die regspraak handel sy mond nie ontrou nie” (Spr.16:10).
Vervolg...