GOD HAAT ONREGPLEGING
Lees reeks by Onreglesse
Lesse uit die Ou Testament
Ds. A.E van den Berg
Onpartydig
Oud-Israel het beter wette as enige ander volk ter wêreld gehad. Dit as sulks was egter nie genoeg om hulle voorbeeldig te maak nie. Hierdie wette moes ook nougeset uitgevoer word. Talle daarvan was juis op die voorkoming van onregpleging geskoei. Ex.23 begin bv. met die opdrag om nie onskuldige mense te benadeel nie. Onregpleging onder die voorwendsel van geregtigheid is vir God ʼn gruwel.
Die Bybel eis ook dat die reg nie weens ʼn misplaaste meegevoel met booswigte verdraai mag word nie. Baie van die wêreld se probleme is juis hieraan te wyte. Onreg wat uit misplaaste meegevoel met booswigte gepleeg word, skreeu ten hemel. Daarom durf gelowiges nooit neutraal daarteen staan.Wie neutraal teenoor onreg staan, keur dit in effek goed!
Die wêreld is eintlik nie so ʼn gevaarlike plek nie. Mense wat onreg sien en niks daaraan doen nie, maak dit gevaarlik. God eis dat boosheid gestraf en goedheid beloon word. Wie oortree, durf nie vervolging vryspring nie. Dit sal onbillik teenoor wetsgehoorsames wees en God se eer skaad:
“... Neem julle broers in verhoor en oordeel regverdig tussen ’n man en sy broer en die vreemdeling wat by hom is. Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God...” (Deutr.1:16,17).
“Hy wat die goddelose regverdig verklaar en die regverdige skuldig verklaar, hulle al twee is vir die HERE ’n gruwel” (Spr.17:15).
“Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf” (Rom.13:3,4).
Van die grootste onreg ter wêreld word deur wette bekragtig. In Ex.23 word Israel beveel om die regspraak nie te verkrag deur aan die wil van meerderhede toe te gee nie:
“Jy mag geen valse gerug rondstrooi nie. Verbind jou nie met die skuldige om ’n kwaadwillige getuie te wees nie. Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie. En jy mag in ’n regsaak geen getuienis aflê agter die meerderheid aan om die reg te verdraai nie. Ook mag jy die geringe nie voortrek in sy regsaak nie” (Ex.23:1-3).
Pilatus het eeue later verkeerd opgetree:
“Toe gee Pilatus uitspraak dat aan hulle eis voldoen moet word" (Luk.23:24).
In die Bybelse tyd het ʼn bank van regters regsake verhoor en uitspraak by wyse van onderlinge meerderheidstem gelewer. Israel het dit eerbiedig. Dit het die gevaar van beïnvloeding en mense wat willoos saamstem, ingehou.
“Vervloek is hy wat sy naaste se grenslyn verlê; en die hele volk moet sê: Amen” (Deut.27:17).
Vervolg...