ONREGLESSE (4&5)

BOSE WETGEWING

Lees reeks by Onreglesse

Lesse uit die Ou Testament

Ds. A.E van den Berg

Ondankbaar

Booswigte is ondankbare mense. Hulle deel in die aardse seëninge wat God vir gelowiges bestem, maar eer Hom nie daarvoor nie:

“Word aan die goddelose genade bewys, dan leer hy geen geregtigheid nie; wat onreg is, doen hy in ʼn land van reg, en hy sien die hoogheid van die HERE nie” (Jes.26:10).

Die HERE is regverdig binne-in hom, Hy doen geen onreg nie; elke môre laat Hy sy reg aan die lig kom, dit ontbreek nooit nie; maar die kwaaddoener ken geen skaamte nie” (Sef.3:5).

Wie onreg pleeg, het geen skaamte nie en is geestelik siek. Buiten die bekering is daar geen genesing vir hulle nie. God straf hulle:

Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het, tog skaam hulle hul nie in die minste nie en weet nie om te bloos nie. Daarom sal hulle val onder die wat val; en die tyd van hulle besoeking sal hulle struikel, sê die HERE” (Jer.8:12).

 

5. Genesing

Gelowiges leef eerbaar en voorkom onregpleging. Voorkoming is beter as genesing al maak dit gelowiges selfs arm.  Armoede is egter nie ʼn geloofsdeug nie. Dit kan mense selfs in die versoeking lei om verkeerd op te tree:

“... gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is; dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie.... En dat ek nie, as ek arm geword het, steel ....... nie” (Spr.30:8.9).

Dit wat eerbaar bekom is, verskaf altyd genoegdoening. Maar nie oneerbare dinge nie. God veroordeel dit:

“Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10).

Eerbaarheid baar gemoedsrus. En dit kan nooit gekoop word nie:

“Liewer ’n bietjie met geregtigheid, as ’n menigte van inkomste met onreg” (Spr.16:8).

Dit wat op oneerbare wyse bekom word, veroorsaak dikwels onheil. Spyt kom altyd te laat as mense verkeerde dinge nie betyds laat vaar nie:

“Wee hom wat sy huis bou met ongeregtigheid en sy dakkamers met onreg...” (Jer.22:13).

Onreg het al mense ryk gemaak. Hooggeplaastes wat bedrog pleeg, is feitlik daagliks in die nuus. Die Bybel roep gelowiges tot selfondersoek op:

“...as daar ongeregtigheid in jou hand is, verwyder dit, en laat geen onreg in jou tente woon nie”(Job 11:14).

Hy wat in geregtigheid wandel en spreek wat reg is, wat gewin deur afpersing versmaad, wat sy hande uitskud om geen omkoopgeskenk aan te gryp nie, wat sy oor toestop om van geen bloedskuld te hoor nie, en sy oë sluit om wat sleg is, nie te sien nie(Jes.33:15).

Dit wat vir God verkeerd is, is ook vir sy kinders taboe. Daarom is gereelde selfondersoeke nodig asook ʼn heilige voorneme om alles wat onregmatig is, uit die eie lewe te ban:

Werp al julle oortredinge waardeur julle oortree het, van julle af weg en maak vir julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees...” (Eseg.18:31).

Dit wat deur bedrog of uitbuiting bekom is, moet met teruggawes reggestel word. “Maar Saggéüs het gaan staan en aan die Here gesê: Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug” (Luk.19:8).

Vervolg...