BOSE WETGEWING
Lees reeks by Onreglesse
Lesse uit die Ou Testament
Ds. A.E van den Berg
Saaiers
Die Bybel gebruik dikwels landboutaal om God se wil en oordeel duidelik te maak:
“Want ons is medewerkers van God; die akker van God... is julle” (1 Kor.3:9).
“Julle het goddeloosheid ingeploeë, julle het slegtigheid gemaai, die vrug van leuens geëet ...” (Hos.10:13).
Sonde maak harte hard en onbruikbaar. Dit moet soos braakland gebreek en van onkruid (onreg) bevry word alvorens God se saad daarin kan ontkiem en vrug dra:
“Wie onreg saai, sal onheil maai...” (Spr.22:8).
“Want so sê die HERE aan die manne van Juda en aan Jerusalem: Braak vir julle ’n braakland en saai nie onder die dorings nie” (Jer.4:3).
“Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai” (Gal.6:7.8).
Onreg lewer nooit goeie vrugte op nie. Namate die tyd verbygaan, verkrummel dit onder sy eie gewig omdat dit geen fondament het nie. Wie die swaard van onreg swaai, kap homself spoedig raak!
Slot
Gelowiges staan dikwels magteloos teen onregpleging en voel dat hulle in die modderpoel van onregskepping versmoor word. Desondanks durf hulle nooit ophou om kapsie teen onreg te maak nie. God sal dit op sy tyd straf en bose heerskappye soos dié van die koning van Babel beëindig:
“Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jý het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil! Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het” (Jes.14:12-14).
Leiers wat met God en sy Woord rekening hou, se wetgewing weerspieël reg en geregtigheid. Hulle is God se instrumente op aarde. Wie hom teen sulke leiers verset, kom onder God se oordeel (Num.16).
ʼn Troon van onreg het geen gemeenskap met God nie. Dis onheilig en vol onreg. God het ʼn renons daarin:
“Het die regterstoel wat onheil stig, met U gemeenskap; wat moeite versin teen die insettinge in?” (Ps.94:20).
Wie egter reg en geregtigheid beoefen, se lewe getuig van die inwonende Gees van God. Dit gaan goed met hulle. God seën hulle.
“Welgeluksalig is hulle wat die reg bewaar, die wat altyd geregtigheid doen” (Ps.106:3).