Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Hoe kom mens in die hemel?
“... Wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskryf is” (Luk.10:20)
Mense vra gedurig vrae; sommige belangriker as ander. Die belangrikste vraag is een wat elke mens homself moet afvra: IS MY SIEL GERED? Geen vraag en antwoord is belangriker as dit nie want as my siel nie gered is nie, mis ek die hemel en beland ek na my dood in die hel, ongeag hoe ʼn goeie mens ek is of watter wonderlike dinge ek doen. My siel moet gered wees om in de hemel te kan kom.
In Luk.10 lees ons van die dissipels wat op pad na hul eerste sendingtog is. Jesus sê vir hulle dat hulle groot dinge sal doen soos om bose geeste uit besete mense te dryf. Dit het hulle baie opgewonde gemaak. Dan demp Jesus hul geesdrif so ʼn bietjie as Hy vir hulle sê om eerder oor die redding van hul siele bly te wees: “ ... Wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskryf is” (Luk.10:20).
Om in die hemel te kom, moet jou siel gered wees. Daar is geen ander manier nie. In die hemel word elkeen wat tot bekering kom se naam in ʼn boek opgeteken – die boek van die lewe: “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openb.20:15).
Redding het oral ʼn gunstige betekenis. Dit getuig van dankbaarheid oor die ontkoming aan ʼn noodsituasie. Dink jou vir ʼn oomblik in die lewe van ’n passasier op ʼn skip in wat besig is om te sink. Die dood staar hom in die gesig en as die nood op sy hoogste is, daag ʼn reddingsvaartuig op wat hom van ʼn gewisse dood red.
So ook iemand wat in ʼn brandende gebou vasgekeer is en ter nouer nood deur ʼn brandweerman gered word. Oneindige dankbaarheid! In beide gevalle was die dood bykans ʼn uitgemaakte saak. Deur God se genade het die betrokke persoon die lewe behou. As daar een redding is wat bo die ander uitstaan en derhalwe die grootste dankbaarheid verdien, is dit die redding van die siel. Om van die ewige, brandende hel gered te word, is die wonderlikste redding denkbaar!
Wanneer ʼn mens in die buiteland reis, is dit goed om vooraf inligting oor die betrokke lande wat besoek gaan word te verkry. Daarvoor is daar baie boeke asook die Internet beskikbaar. Ongelukkig doen baie min mense moeite om inligting vir hul ewigheidsreis te verkry. Hulle raak so verstrengel in die tydelike dinge van die lewe, dat hulle nie daaraan dink dat daar ʼn dag gaan aanbreek dat hulle ʼn ewigheid sal moet betree nie.
Daar is ook mense wat nie aan die hiernamaals glo nie. Hulle glo in effek dat hulle, net soos ʼn dier, nie ʼn siel het wat na die dood iewers heen gaan nie. Nee, gelowiges glo aan ʼn hiernamaals en weet ook dat die hemel nie vir almal toeganklik is nie; slegs vir diegene wie se siele gered is.
Die grootste sekerheid in die lewe is en bly die redding van ʼn siel. Maar wat is redding? Hoe lyk dit? Redding is die verlossing van die liefde vir sonde. En dis net moontlik indien ons van die behoefte om te sondig bevry word want behoeftes kweek gewoontes - goeie behoeftes, goeie gewoontes en slegte behoeftes, slegte gewoontes!
Hoe raak ons van die behoefte om te sondig ontslae? Kan ons dit uit ons eie regkry? Nee, iemand wat nie kan swem nie, kan homself nie uit diep water red nie. Daarvoor het hy ʼn lewensredder nodig. So ook met sonde; ons het ʼn redder nodig om ons uit die diepsee van sonde te red.
Die Duitse baron wat so berug was vir sy spekskietstories vertel dat hy by geleentheid met sy perd op ʼn damwal gery het. Dit het gestruikel en hy in die water beland. Omdat hy nie kon swem nie, moes hy vinnig ʼn plan maak. Hy sê toe: “Was dit nie vir my kragtige arm wat my aan my eie hare beetgekry en uitgesleep het nie, het ek daardie dag verdrink!” Ons lag oor sy spekskietery maar weet ook dat ons onsself nie kan red nie; net Jesus kan drenkelinge uit die diep water van sonde red.
Redding word egter altyd deur sondevergifnis vooraf gegaan. As God nie sonde vergewe het nie, sou niemand gered kon word nie en was die hemel leeg. Maar wat is sondevergifnis? Wanneer sonde jou so pla, dat jy jou hart berouvol voor God uitstort en Hy jou daarna vergewe. Hy belowe vergifnis: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh.1:9).
Wanneer Jesus sonde vergewe, dink Hy nooit weer daaraan nie asof dit nooit begaan is nie. Dit word vertel van ‘n sewejarige Duitse dogtertjie wat eeue gelede vir haar priester vertel dat sy met Jesus kon praat, waarna hy haar gevra het om Jesus te vra of Hy sy (priester) sonde waarvoor hy belydenis gedoen het, wel vergewe het. Toe die priester weer by haar kom en vra wat Jesus van sy sonde sê, het sy geantwoord: “Jesus vra, watter sonde?” Jesus vergewe en vergeet!
Jesus hou nie boek van sonde nie. Met vergifnis vee dit geheel uit: So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons” (Ps.103:12). Koning Dawid skryf: “Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. Welgeluksalig is die mens aan wie die HERE die ongeregtigheid nie toereken nie en in wie se gees geen bedrog is nie” (Ps.32:1,2). Dit laat ʼn mens aan die woorde van Ges.75:1 dink: “Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het, sing dankbaar my verlossings lied...”
Het jy al jou lewe vir Jesus gegee? Is jy baie seker van die redding van jou siel? Moenie net so dink nie. Wees daarvan baie seker. Sonder die sekerheid van ʼn hemel, bevind elke mens hom op straat; en hierdie straat is altyd ʼn doodloopstraat. Wees daarom baie seker van jou eie redding.
En onthou: Jesus het die eerste skuif gemaak deur heel eerste sy lewe vir jou te gee. Ons word nie gered deur eerste iets vir Jesus te gee nie. Hy gee eerste; Homself.
Met die kruisiging van ons Here Jesus het God redding tot op sondaars se vlak gebring. Gevolglik is daar geen rede waarom iemand nie gered kan word nie, al is hy hoe sleg. Kyk maar na die misdadiger op Golgota wat ter elfder ure sy lewe vir Jesus gee. Wat sê dit? Dat niemand te sleg is om gered te word nie. ʼn Goeie lewe hou ʼn mens wel uit die tronk, maar net die bloed van Jesus hou ʼn mens uit die hel uit!