DIE ROOMSE GEVAAR (1)

Lees reeks by DIE ROOMSE GEVAAR

Ds. A.E van den Berg

PROTESTANTE SWIG VOOR ROME

Kerk of karikatuur?

Inleiding

Om die toekoms reg te benader, moet die verlede reg verstaan word.  Jy draai jou om na die verlede om die toekoms beter in fokus te kry. Die lewe moet terugwaarts verstaan word om dit vorentoe te kan leef.  Dit maak van die geskiedenis die bewaarder van die groot dade van die verlede, maar dien ook as ’n waarskuwing vir die toekoms.

Die geskiedenis kan nie ongedaan gemaak word nie, maar help mense wel om foute nie te herhaal nie. Geskiedenis leer mense om verantwoordelik met hul toekoms om te gaan want ʼn geslag wat sy eie geskiedenis nie eer nie, het nie net geen verlede nie maar ook geen toekoms nie.

Wie sy rug op sy verlede draai, verdien om foute te herhaal. Om onomstootlike feite en lesse uit die geskiednis te minag, is ʼn wenresep vir ʼn ramp.  Wat die geskiedenis dan nie al geleer het nie, word by wyse van flaters herhaal.

Die mensdom bevind hom op die voorstoep van die magtige een-wêreld godsdiens waarvan Openbaring praat en die geskiedenis al talle voorlopers van opgelewer het. Dis ʼn magtige kerk-staat soos in die tyd van keiser Konstantyn

1.  Wees gewaarsku

Protestantisme is besig om na 500 jaar se standvastigheid aan die hand van ʼn onheilige samewerking met die Roomse Kerk (RK) voor bose magte te swig.  Hierdie samewerkings word ekumene genoem en vorm die onderbou van die komende een-wêreldgodsdiens van die Antichris. 

Voor sy kruisiging waarsku Jesus teen ʼn vals godsdiens aan die einde:

“... Pas op dat niemand julle mislei nie.  Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Mt.24:4,5).

Dwaalleraars het die vroeë kerk van meet af aan binnegesypel en vreemde vorms van die Christendom laat ontstaanwat die kerk besmet het.

Paulus kla:

Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor.11:4).

“ Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ’n ander evangelie toe” (Gal.1:6).

Van die gemeentes was so met dwaalleer besmet, dat hulle selfs die bediening en leer van apostel Johannes en sy medewerkers geminag het:

“ Ek het aan die gemeente geskrywe, maar Diótrefes, wat onder hulle die eerste wil wees, steur hom nie aan ons nie” (3 Joh.:9).

2.    Die ontstaan van die Roomse Kerk (RK)

Besmetting bring vermenging en vermenging van die ware en valse kerk veroorsaak sinkretisme.  Dis hoe Roomse Katolisisme ontstaan het;  ʼn vermenging van die oorspronklike Christendom met die ou Romeinse en Babiloniese afgodsdienste wat ʼn karikatuur van die oorspronklike op die toneel laat verskyn het. 

Keiser Konstantyn het in ʼn wanhopige poging om sy kwynende ryk van ondergang te red,Christendom tot amptelike staatsgodsdiens verklaar.  Hy het verskeie rolspelende partye byeen gebring en ʼn leer daargestel wat vreemd aan die leer van Jesus was, maar min van die Romeinse sonaanbidding verskil het.

Daar was selfs tye in die geskiedenis dat die biskop van Rome (pous) soveel politieke en kerklike gesag gehad het, dat hy keisers op die troon kon plaas en afsit.Die onheilige verhouding tussen kerk en staat is die Heilige Romeinse Ryk genoem.

Wie nie met hierdie karikatuur vrede kon maak nie, moes swyg of vervolging te wagte wees. Dis geen geheim dat die RK miljoene mense vervolg, gefolter en vermoor het nie.  Sy is immers die spieëlbeeld van die ou Romeinse Ryk!

Eeue ná die val van die Romeinse Ryk het verskeie Europese leiers dit weer probeer oprig. Alle pogings was van korte duur.  So ook die laaste een wat op hande is.

Die RK het haar mag van die Romeinse Ryk ontvang en ook so te werk gegaan.Keiser Konstantyn het die kerk in bisdomme (administratiewe eenhede) verdeel en georganiseer, net soos sy streeksdistrikte.  Die RK is vandag nog ʼn spieëlbeeld daarvan.   Daarom waarsku die Bybel dat die mensdom vir ʼn kort tydjie deur ʼn laaste herlewing van die Romeinse Ryk geteister gaan word. 

3.   Die eindtyd kerk

Johannes sien iets van hierdie magtige eindtyd kerk:

“En ek het ’n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ’n naam van godslastering.  En die dier wat ek gesien het, was soos ’n luiperd, en sy pote soos dié van ’n beer, en sy bek soos die bek van ’n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag” (Openb.13:1,2).

Die dier ontvang sy mag van die Satan, laster teen God en tree soos ʼn wilde dier op. Sy ryk is ʼn ongeëwenaarde magsbestel met ʼn sterk militêre rugsteun:

En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (Openb.13:4).

Daarna volg ʼn ontstellende waarskuwing:

Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Openb.13:7).

Wie hierdie een-wêreldgodsdiens teenstaan, sal doodgemaak word; ʼn herhaling van die Middeleeuse Roomse vervolging van haar teenstanders.

Die dier met die staatkundige mag word deur ʼn godsdiensvennoot ondersteun:

“En uit die aarde het ek ’n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ’n lam en het gepraat soos ’n draak.  En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is” (Openb.13:11,12).

Hierdie vennoot is ʼn spieëlbeeld van die eerste dier met ʼn boodskap van die Satan – almal moet in ʼn globale kerk-staat ryk ingedwing word.  Johannes noem hierdie kerk die valse profeet wat mense met wondertekens aan boord kry:

“Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ’n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het” (Openb.13:13,14).

4.   Vervolging

Die eerste dier dwing die wêreldgodsdiens met militêre mag en staatkundige gesag op die ganse mensdom af:

“En dit is hom gegee om ’n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie” (Openb.13:15).

Die geskiedenis herhaal homself – ʼn kerklike vervolging staar die mensdom weereens in die gesig. ʼn Valse godsdiens met wortels diep in die ou Heilige Romeinse Ryk gaan op  aardbewoners afgedwing word.  Alles wat daarvan afwyk, gaan verbode wees, ook die ware kerk.Wie wat aan Bybelse beginsels vashou, gaan vervolg en selfs gedood word.

5.   Die slagyster

Om die een wêreld-godsdiens te verkry, moet kerkgangers eenders dink soos waarmee die RK tans met ekumene besig is.  Miljoene mense, hoofsaaklik Protestante, word deur haar oproep vir samewerking en eenheid geflous.  Wie saamwerk, het die merk van die dier!  Daarom moet gelowiges hul van enige kerk of godsdiensorganisasie wat ekumeniese bande met die RK het, afskei.  Dis al hoe hul aan die merk van die dier kan ontkom. Wie hierdie merk het, sal die heerlikheid van Jesus nooit sien nie:

En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ’n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word;sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het(Openb.13:16,17).

Hoofstroomkerke se klemverskuiwing na sigbare kerkeenheid, spreek boekdele van die vernietigende Roomse invloed.  Die kerkeenheid waarna gestreef word, is nie duidelik omskryf nie.  Daarom sluit dit toenemend verhoudings in wat vreemd aan ware evangelisasie is

Protestantse kerkleiers oorskry bewustelik die geskiedkundige grense tussen Protestantisme en Rooms Katolisisme. Die RK is egter nie die grootste bedreiging vir Protestante nie.  Ekumenies besielde Protestantse kerkleiers is ʼn baie groter bedreiging! 

Vervolg...

Ds. A.E van den Berg