DIE VATIKAAN (2)

Heilstaat of doodsakker?

Ds Andrè van den Berg

Lees reeks by Die Vatikaan

2.  Bose invloed

2.1   Tussengeloofvergaderings

Die Vatikaanse verlossingsleer verskil tans min van Eenheid-universalisme.  Dit poog nie net om Christenkerke met mekaar te verenig nie maar ook afgodsdienste met die Christendom. Die pous het nie baie lank terug nie ʼn reeks tussengeloofvergaderings in die Vatikaan gehou waartydens Islamitiese gebede vir die eerste keer in dié plek gehoor is.  Eenheidsbesielde kerklui het hom lof toegeswaai al was dit teen Skrifvermanings.  Die Vatikaan steur haar al lankal nie meer aan Bybelse riglyne nie en dryf kerke baie vinnig na die een wêreldkerk van die Antichris!

 

Die Vatikaan-gebede het hoofsaaklik oor die versugting na vrede in die Midde-Ooste gegaan.  Alhoewel dit prysenswaardig klink, moet politieke doelwitte nooit met geestelike opdragte van God verwar word nie.  God se opdrag ten opsigte van afgode is baie duidelik:

Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.  Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie....” (Ex.20:3,5).

Oud-Israel het telkens in die strik van ʼn afgodiese godsdiensvermenging getrap en die bittere gevolge daarvan gedra. Die NT beklemtoon ook die onreg van deelgenootskap met afgodedienaars:

Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem” (2 Kor.6:13-17).

Gelowiges durf nooit ʼn goeie woord vir afgodsdienste hê en met hul saamspan nie.  Allah, die god van die Islam, is ʼn afgod.  Desondanks glo die Vatikaan dat Christene en Islamiete een en dieselfde god aanbid–net die name verskil.  Dis ʼn leuen!  Die Koran spel dit baie duidelik uit dat Allah geen seun gehad het nie. Daarenteen verklaar Jesus sy seunskap en gelykheid met die Vader:

Ek en die Vader is een” (Joh.10:30).

2.2   In trurat

Al hoe meer kerke laat vaar ter wille van ekumeniese samewerking hul Bybelse beginsels.   Kerkleiers verhef hul eie agendas bo die waarheid van die Skrif en plaas die Christendom in trurat.   Eeue gelede het ʼn Babiloniese koning ook geglo dat hy vorentoe beweeg:

Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies!  En jý het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil” Jes.14:12-15).

2.3  Hersenskim

Die dilemma waarin talle kerke hul vandag bevind, is aan die hersenskim van wêreldvrede wat hul beetgepak het, te wyte. Die Bybel is duidelik dat daar nooit so ʼn vrede op aarde sal wees nie.  Ware vrede is slegs vir enkelinge beskore wat gehoorsaam aan God se Woordleef:

Geen vrede, sê die HERE, vir die goddelose nie(Jes.48:22).

In die tyd van Jesus was die verkondiging van vrede ʼn belangrike deel van die Romeinse rykspropoganda.  Die Pax romanais as ʼn geskenk aan onderdaniges voorgehou. Vis pacem, para bellum (wie vrede wil hê, moet gereed wees om oorlog te voer).  Hiermee is oorlogvoering en alle militêre optredes geregverdig. 

Ongelukkig baar daardie vrede wat booswigte voorstaan, dikwels die teenoorgestelde - geweld en vrees:

Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid — dan oorval ʼn skielike verderf hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.  Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ’n dief sou oorval nie. Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie” (1 Thess.5:3-5).

Die gees van die Antichris maak al eeue lank van Roomse platvorms gebruik om te sorg dat booswigte in magsposisies beland en met standbeelde en internasionale vredespryse vereer word.

Vervolg...