AS DIE WAARHEID VERTRAP WORD (5)

Ds AE vd Berg

Lees reeks by As die waarheid vertrap word

Deel 5

Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp” (2 Kor.10:3,4).

1.   Geestelike wapens

Gelowiges sal sterk teenstand van dwaalleraars ontvang. Dis niks ongewoons nie. Die waarheid kry altyd op die skerp klippe van die leuen seer.

“As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle” (Joh.15:18,19).

Elke groot era in die kerkgeskiedenis is aan ʼn ernstige stryd om die waarheid gekenmerk. Feitlik elke NT brief spreek dit ook aan. Die boodskap is altyd duidelik – moenie met die gees van die tyd flankeer nie!

“... As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red. Wat baat dit ’n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen?Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele” (Luk.9:23-26).

In hul stryd teen dwaalleer gebruik gelowiges nie aardse wapens nie:

Toe sê Jesus vir hom: Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan” (Mt.26:52).

“... My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie” (Joh.18:36).

Gelowiges gebruik geestelike wapens:

“...in die woord van waarheid, in die krag van God, deur die wapens van die geregtigheid in die regter- en linkerhand” (2 Kor.6:7).

2.   Reddingspoging

Al staan gelowiges soms magteloos teen kerkverval, durf hulle nooit ophou om dwaalleer te ontbloot en die slagoffers daarvan ernstig te waarsku nie. Net die waarheid bevry mense van dwaalleer omdat dit ʼn krag van God is:

Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eer” (Rom.1:16).

Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God” (1 Kor.1:18).

Redding en ʼn liefde vir die waarheid gaan hand aan hand:

“Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red” (1 Kor.1:21).

Dwaalleraars sien selde van hul dwaalweë af. Daarom moet gelowiges liefs na hul slagoffers uitreik en help om die pad van die waarheid te vind.

En aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartigheid bewys...” (Judas:22).

Op die verkeerde pad is daar altyd kans vir omdraai. Wie egter van dwaalleer oortuig is, word baie moeiliker bereik Hulle is alreeds in die vuur van misleiding. Gelowiges moet hulle altyd probeer red:

“...maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk... (Judas:23).

Aan geswore dwaalgeeste is daar egter geen salf te smeer nie:

“As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie” (2 Joh.:10).

“ ... en ook die kleed moet julle haat wat deur sonde bevlek is: (Judas:23).

Dis baie gevaarlik om hierdie dwaalgeeste uit die vuur te probeer ruk omdat daar naby aan hulle gekom moet word en die moontlikheid van besoedeling nie uitsluit kan word nie. Hulle moet vermy word:

“En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle” (Rom.16:17).

“... bewaar jou pand en vermy die onheilige, onsinnige praatjies en teëwerpings van die valslik sogenaamde kennis,waarvan sommige belydenis gedoen het en, wat die geloof betref, op ’n dwaalweg geraak het.(1 Tim.6:20,21).

Hulle is vir hul eie ondergang verantwoordelik:

“...en die profete sal wind word; ja, die Woord is nie by hulle nie; mag dit so met húlle gaan! Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare: Omdat julle hierdie woord spreek, kyk, Ek maak my woorde in jou mond ’n vuur en hierdie volk hout, en dit sal hulle verteer” (Jer.5:13,14).

“My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp...” (Hos.4:6).

Die dae van besoeking het gekom ... Die profeet word ’n dwaas, die man van die gees ’n waansinnige ... die net van ’n voëlvanger is op al sy weë gesprei,vyandskap in die huis van sy God” (Hos. 9:7-9).

“Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word” (Jak.1:13,14).