Dr Isak Burger
Lees volledig by Die Geesteswêreld
Almal wonder een of ander tyd oor engele, of hulle werklik bestaan; hoe weet mens die waarheid oor hulle. Die Woord van God is baie duidelik oor die bestaan en funksie van engele, en iemand wat nie in die bestaan van engele glo nie, sê inderwaarheid dat hy nie die Woord van God glo nie. So ‘n persoon kan dan nie aanspraak maak op die kosbare seën van engele se bediening in sy lewe nie; slegs gelowige kinders van die Here het die voorreg om deur engele bewaar te word.
Engele is geskape deur God voor die skepping van die heelal (Job 38:7-8; Eseg. 28:13-15; Kol. 1:16. Dit beteken dat engele, soos alle ander geskape wesens, van God afhanklik is vir hulle lewe en bestaan. Omdat God hulle geskape het, is daar 'n doel en sinvolheid in hulle bestaan. Hulle bestaan ter wille van God se eer en heerlikheid en is geskape om Hom te dien. Alle engele is goed en sonder sonde geskape. Die woord "engel" (Grieks: angelos) beteken letterlik "boodskapper".
Een van die eerste dinge wat ons oor engele moet weet, is dat hulle geeste is, dienende geeste: "Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van dié wat die saligheid sal beêrwe nie?" (Heb. 1:14). Wat beteken dit as die Bybel sê dat engele geeste is? Dit beteken dat hulle nie soos skepsels in ons sigbare, materiële wêreld 'n stoflik-vleeslike liggaam het nie.
Om te sê dat hulle geeste is, beteken wel dat hulle nie 'n fisieke liggaam het nie, maar nie dat hulle nie 'n bepaalde vorm, voorkoms of persoonlikheid het nie. Dit beteken dat hulle in die geestesdimensie deur ander geestelike wesens waargeneem kan word. Gelowiges wat by spesiale geleenthede deur die Here toegelaat is om in die geesteswêreld te sien, kon ook engele sien; dink maar aan Elisa en sy dienskneg (2 Kon. 6:16-17), Daniël (Dan. 10), Jesus self en Johannes op Patmos. Dit is ook wat gebeur op die sterfbed van sommige gelowiges; terwyl hulle nog klinies in die lewe is, sien hulle soms reeds engele terwyl hulle as't ware besig is om deur die dimensionele skeiding van die hier en die hiernamaals te beweeg. Daarom sal ook ons engele ná die dood kan sien; wanneer ons ook deur die dimensionele grens na die "ander kant" beweeg het.
Die geestelike liggaam van 'n engel moet egter nie verwar word met Christus se verheerlikte liggaam na sy dood of ons verheerlikte liggame na die opstanding nie.
Eintlik is dit heel logies en redelik om die bestaan van engele te aanvaar. As ons aanvaar dat daar 'n orde of vlak van geskapenheid laer as die mens is (die diere- en planteryk), is dit net logies dat daar ook 'n vlak van geskapenheid hoër as die mens is. Ons moet aanvaar die mens is op 'n skeppingsvlak ietwat minder of laer as die engele (Heb. 2:7). Dit beteken dat engele van nature eienskappe besit wat dié van die mens oortref. Engele is byvoorbeeld baie magtiger en intelligenter as mense en hulle weet ook baie meer as ons.
Omdat hulle nie 'n fisieke liggaam het nie, het hulle baie minder beperkings as ons. Omdat hulle inwoners van die geesteswêreld is, is hulle nie onderworpe en gebonde aan ons aardse dimensies, naamlik materie, afstand en tyd nie. Tyd en afstand het in die geesteswêreld nie dieselfde betekenis as by ons nie, alhoewel ons in gedagte moet hou dat elke enkele gees (engel of duiwel) slegs op een plek op 'n slag kan wees; hulle is dus nie alomteenwoordig nie. Hulle Skepper en ons Skepper is die enigste Een wat alomteenwoordig is. Daar is verder by hulle geen veroudering of verswakking nie. Hulle is nie aan die verganklikheid en natuurlike dood onderworpe nie (Luk. 20:36).
Vir die grootste deel van ons lewe op aarde is ons nie van die bestaan van engele bewus nie. 'n Mens aanvaar kinderlikgelowig dat hulle bestaan en dit doen wat die Bybel vir ons oor hulle leer. Daar is egter oor die eeue talle opgetekende gevalle van waar mense ondervindings met engele gehad het. Aanhaling soos die in Hebreërs 13:2 laat 'n mens dink: "Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg."
Ons kan nooit ons teologie oor engele bou op die subjektiewe ervarings van mense nie; hoe betekenisvol dit ook al is. Wat ons glo oor engele kan ons slegs met onwrikbare vertroue op die Woord van God bou. Dit is egter altyd bemoedigend om te hoor van mense se engele-ervarings wat in ooreenstemming is met wat die Skrif sê.
In beide die Ou en Nuwe Testament word talle verhale vertel van engele wat aan mense verskyn het. Daar is 'n sekere konsekwentheid aangaande hierdie verhale. Daar is gewoonlik 'n oorstelptheid by diegene wat sodanige ondervinding het. Terwyl hulle die heerlikheid van die hemelse wese ervaar, is die mens ook geneig om in aanbidding neer te val. Sodanige aanbidding word sonder uitsondering deur die engel verbied met die teregwysing dat aanbidding God alleen toekom.
Dit blyk dat engele, wat wel geeste is en in daardie ander dimensie ook 'n voorkoms het en herkenbaar is, wel die vermoë het om hier in ons fisiese wêreld soos mense sigbaar te verskyn, te praat, te handel en te eet.
Die feit dat engele nie permanente fisieke liggame het nie, beteken nie dat hulle nie persone is nie. Hulle het persoonlikhede, 'n aspek wat veral duidelik na vore kom wanneer 'n mens kyk na gevalle van duiwelbesetenheid. Jy kom dit dikwels tee dat persone met 'n aantal demone in hulle, verskillende persoonlikhede openbaar. As die persoonlikhede van die bose geeste (gevalle engele) in sulke mense duidelik onderskei kan word, is dit net logies dat engele ook eie persoonlikhede het. Dit is ook 'n eienskap van God dat Hy sy skepsels met individualiteit, eiesoortigheid en uniekheid geskape het. Engele is nie maar 'n grys massa eenderse kopieë wat deur massaproduksie voortgebring is nie. Hulle is unieke skepsels. Elkeen het 'n onderskeibare persoonlikheid en word deur God afsonderlik en individueel geken. Daarom het hulle ook name, alhoewel slegs die name van enkele van die belangrikste engele in die Bybel genoem word. In die apokriewe boeke word meer engele se name genoem. Dit is weereens interessant en ook 'n praktiese en Bybelse feit dat demone ook name het en dat hulle nogal hulle name geredelik bekend maak in gevalle van eksorsisme (Mark. 5:9).
Engele verskil ook van mense deurdat hulle geslaglose wesens is (Mark. 12:25), alhoewel hulle in die Skrif gewoonlik in die manlike vorm voorgestel word. Dit bring dan mee dat engele nie soos mense op 'n natuurlike wyse kan voortplant en vermeerder nie. Hulle getal is vandag nog dieselfde as die dag toe God hulle geskape het.
Ten opsigte van die geslagtelikheid en voortplanting van engele het ons te doen met ietwat van 'n misterie in verband met Genesis 6:1-4 en Judas vers 6-7. Die moontlike verklarings hiervan sal later gegee word. Hier moet ons ook die eienaardige realiteit noem dat alhoewel engele geslagloos is, gevalle engele dikwels 'n obsessie met die seksuele het. Dit is nie sonder rede dat seksuele perversiteit 'n prorninente rol speel in die sataniste-beweging nie. Dit is dikwels deur seksuele perversies en orgies gepaardgaande met dwelms dat nuwelinge tot satanisme oorgehaal en daarin verstrik word.
Tesame met wat reeds hierbo in verband met engele genoem is, is dit belangrik om te weet dat engele, soos die mens, sondeloos geskape is as vrye morele wesens. Van al God se skepsele is dit slegs die engele en die mens wat met 'n vrye wil geskape is. Dit was in 'n sekere sin 'n waagstuk, want dit is die enigste plek in die skepping waar dinge verkeerd kon loop; en dit was dan ook wat gebeur het. Hoe dit ook al sy, engele is vandag wat hierdie dinge betref soos Adam en Eva voor die sondeval. Hulle is sondeloos, maar omdat hulle 'n vrye wil het, is die moontlikheid daar dat hulle kan sondig. Wat die voortgang van sonde betref, is daar 'n interessante verskil tussen die engele en die mens. Omdat die mens 'n geslagtelike wese is en die hele menseras deur voortplanting vanaf Adam en Eva ontstaan het, was die sondeval van Adam en Eva nie net 'n individuele saak nie, maar het dit 'n gemeenskaplike, korporatiewe saak geword waarvan geen lid van die mense‑ras ooit kon vrykom nie: "Verder nog dit: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het" (Rom. 5:12). Die enigste uitsondering was die Een wat nie deur 'n mens verwek is nie, maar deur die Heilige Gees. Omdat engele eenmalig klaar geskape is en nie as spesie kan voortplant nie, was daar net van sonde sprake by diegene wat daarby betrokke was. Die engele wat nie gesondig het nie, het dus nie met 'n sondige natuur te kampe soos die mens nie.
In verband met die skepping van engele kan ook gevra word hoeveel engele daar is. Hier kan ons geen spesifieke getal verskaf nie. Die naaste wat ons daaraan kan kom, is Openbaring 5:11. Hier praat die Bybel van die engele rondom die troon en sê hulle getal was "tienduisende van tienduisende en duisende van duisende". Die idee wat 'n mens uit die Bybel kry, is dié van ontelbare menigtes. Die Skrif praat dikwels van die leërskare van die Here (Ps. 103:21; 1 Kon. 22:19). Dit is niks anders as die engeleleer van die Here nie. Aangesien engele geeste is, moet ons nie aan hulle clink in terme van soveel persone per vierkante kilometer nie. Ruimte speel geen rol by geeste nie. As 'n legioen - dit is 4 000-6 000 demone - in een mens kon wees (Mark. 5), kan 'n mens 'n goeie idee vorm van hoeveel geestelike wesens daar in die geesteswêreld moet wees.
Vervolg...