DIE VERSKILLENDE SOORTE ENGELE

Dr Isak Burger

Lees volledig by Die Geesteswêreld

Alhoewel alle engele dienaars van God is, blyk dit uit die Skrif dat daar 'n sekere rangorde en stand onder die engele is. Engele is waarskynlik in verskillende ordes georganiseer in ooreenstemming met die verskillende tipes dienswerk wat hulle verrig. Romeine 8:38, Kolossense 1:16 en Efesiers 3:10 dui onder andere op hierdie rangorde in die geesteswêreld. Ons vind die volgende individuele engele of ordes of groepe engele:

Die Engel van die Here

Daar word 60 keer in die Ou Testament van hierdie Engel melding gemaak. Hy kan onderskei word in die Ou Testament deurdat Hy feitlik altyd die bepaalde lidwoord "die" vooraan het. Die Afrikaanse vertalers het dit vir ons verder maklik gemaak deur telkens die woord "Engel" met 'n hoofletter te vertaal.

Soos jy nou sal sien, is hierdie "Engel" eintlik nie regtig deel van die engele-groepering nie. Omdat Hy egter ook "En­gel" genoem word, bespreek ek Hom hier kortliks. Sonder om 'n omvattende teologiese uiteensetting te gee kan ek net sê dat ons hier met niemand anders nie as die tweede Persoon in die Godheid, Jesus Christus, te make het. Die Here Jesus maak nie eers sy opwagting in die Bybel in Matteus 1 nie.

Jesus word slegs in die Ou Testament met hierdie bena­ming voorgestel. Dit is duidelik uit talle van hierdie versky­nings in die Ou Testament dat die Engel van die Here duide­lik onderskei word van God (die Vader) terwyl Hy self tog ook God genoem word. Dit kan baie verwarrend wees vir die Ou-Testamentiese denke wat God slegs as een Persoon sien, maar maak volmaak sin vanuit die Nuwe-Testamentiese per­spektief van God as een Wese, maar drie Persone.

Die Engel van die Here was aktief in die gang van die Ou Testament betrokke. Die bediening van hierdie Engel staan hoofsaaklik in verband met Israel, die verbondsvolk in die Ou Testament. Hy was aktief betrokke in die verlossing van Israel uit Egipte en hul veilige begeleiding na die beloofde land. Daarom word Hy ook die Engel van die verbond genoem (Mal. 3:1).

Kom ons kyk na enkele voorbeelde: die Engel van die Here praat met Abraham (Gen. 22:11-12); die Engel en Hagar (Gen. 16:7-12); dit was die Engel van die Here wat met Moses by die brandende doringbos gepraat het (Eks. 3:2-4:17). Met die uittog van Israel uit Egipte het die Engel van die Here vooruit getrek, maar saam met die wolk tussen die Egiptenare en Is­rael kom staan toe hulle die Israeliete weer probeer inhaal. Dit is dieselfde Persoon wat aan Josua buite die muur van Jerigo (Jos. 5:13-14) verskyn het en saam met Daniël se drie vriende in die vuuroond was (Dan. 3:25). Daar is nog baie tekste in die Ou Testament wat na hierdie Engel verwys; hou maar jou oë oop as jy weer die Ou Testament lees.

Die Engel van die Here verskyn in die Ou Testament ge­woonlik in 'n tydelike menslike vorm wat nie dieselfde is as sy vleesgeworde liggaam in die Nuwe Testament nie. Laas­genoemde was volledig 'n natuurlike, menslike liggaam.

Die aartsengel

Die voorvoegsel "aarts-" beteken hoof- of leier- of opper­(engel). Dit impliseer dat daar net een so 'n engel is. Die Bybel maak inderdaad net melding van een aartsengel, naamlik Migael. Sy naam beteken: "Wie is gelyk aan of soos die Here?" Plekke waar daar onder andere van Migael of die aartsengel gepraat word, is Daniël 10:13, 21; 12:1; 1 Tessalonisense 4:16; Judas vers 9 en Openbaring 12:7. Veral uit laasgenoemde teks blyk duidelik dat Migael die aanvoerder van die engele van die Here is. Migael sal die Here Jesus ook by sy tweede koms met 'n geroep vergesel (1 Tess. 4:16). Dit is opmerklik dat die engel Gabriël die eerste koms van die Here aangekondig het (met sy vleeswording), maar dat Migael sy tweede koms sal aankondig.

Die verwysing na Migael in Daniël is ietwat in 'n misterie gehul, alhoewel ons daar duidelik met die geesteswêreld te doen het. Dit blyk veral uit Daniël 10 dat verskillende volke in die geesteswêreld elkeen 'n eie vors het, 'n engel of gevalle engel, en dat hierdie wese die gang van daardie volk van agter die skerms beïnvloed en beheer. Tussen hierdie vorste kan daar ook stryd wees (Dan. 10:20). Omdat Israel in die Ou Tes­tament die volk van die Here was, het die belangrikste engel, Migael, as hulle vors opgetree. Dit blyk dat hierdie vorste ook ingesluit is wanneer Paulus in Efesiërs 6:12 praat van "ower­hede" en "magte" en "die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, die bose geeste in die lug". Ek reken dat ons hierdie saak nie ernstig genoeg opneem nie, aangesien die gelowiges 'n belangrike rol het om te speel in hierdie verband. Daar sal in 'n latere hoofstuk weer hierna verwys word.

Gabriël

Die betekenis van sy naam word aangegee as "man van God". In die oorspronklike Hebreeus is sy naam 'n samevoeging van die werkwoord "om sterk/groot/magtig te wees" en "God". Sy naam sou dus ook kon beteken "God is groot/sterk/ magtig" of "God is 'n held".

Mense praat dikwels van Gabriël as 'n aartsengel, alhoewel ek in die Skrif geen verwysing daarna vind nie. In die Bybel tree hy gewoonlik as boodskapper van die Here op, veral van die heilsgebeure. Ons lees alreeds in die Ou Testament van hom (Dan. 8:16; 9:21). Hy kondig beide die geboorte van Jo­hannes die Doper (Luk. 1:19) en Jesus (Luk. 1:26-38) aan.

Die gerubs                                                                                                                 

Dit is onbekend wat die woord "gerub" beteken. Alhoewel hulle dikwels in die Bybel (veral in die Ou Testament) genoem word, is dit moeilik om hulle bediening presies te omskryf. Ons weet dat hulle besonder bevoorregte engele moet wees omdat hulle gewoonlik in die teenwoordigheid van die Here verkeer en dus die naaste aan God kom. Volgens Esegiël 10, waar die woord "gerub" twintig keer voorkom, het die gerubs baie te doen met die heerlikheid van God.

In die Ou Testament word gesê dat God op die gerubs troon (2 Kon. 19:15; 1 Kron. 13:6; Ps. 99:1; Jes. 37:16), dat Hy bo-oor die gerubs troon (Ps. 80:2), selfs dat Hy op 'n gerub ry en vlieg (2 Sam. 22:11; Ps. 18:11). Dit is digterlike taal wat verstaan moet word teen die agtergrond van die Kanaanitiese gode wat dikwels afgebeeld is waar hulle op 'n dier ('n kalf of 'n stier) ry. So wil die Bybelskrywer dan die heerlikheid van die Here beklemtoon deur daarop te wys dat hierdie beerlike wesens in diens is van 'n God wie se heerlikheid en mag soveel groter is. Hy ry op gerubs, nie op kalwers of bulle nie!

Gerubs het ook die tuin van Eden en die toegang tot die boom van die lewe bewaak ná die sondeval van die mens (Gen. 3:24). Hulle is veral gestasioneer rondom die troon van God waar hulle sy troon en heerlikheid bewaak (Eseg. 28:14, 16). Uit hierdie tekste is dit ook duidelik dat Lucifer voor sy val 'n gerub was. In die lig hiervan lyk dit waarskynlik dat die "lewende wesens" waarvan Openbaring praat (4:6, 9; 5:8, 14) gerubs kan wees.

In die Ou Testament het die volk geglo dat God op 'n beson­dere wyse in die ark in die Allerheiligste van die tabernakel en tempel gewoon het; dit was sy troonsetel in Israel. Dit is dus nie vreemd dat twee afbeeldings van gerubs, oorgetrek met goud, oor die ark gewaak het nie, 'n antitipe van die werk­likheid in die hemel. Ook op die ingange van die tempel van Salomo, asook op voorwerpe, deure, mure en die voorhangsel van die heiligdom was daar afbeeldings van gerubs. Dit dui alles op die verbintenis met die heerlikheid, teenwoordigheid en heiligheid van God. Ek glo dat ons eendag, aan die ander kant, hulle besondere plek en rol beter sal verstaan.

Daar word nie in die Bybel gesê dat alle engele vlerke het nie. Die gerubs word egter gewoonlik voorgestel as wesens met vlerke.

Die serafs

Serafs word net in Jesaja 6 genoem. Hulle naam is afgelei van die woord wat "brand" beteken, dus "brandende". Daar is blykbaar 'n noue verband tussen hulle bediening en die van die gerubs. Hulle is ook in die nabye teenwoordigheid van die Here en staan in 'n besondere betrekking tot sy heiligheid. Hulle roep mekaar gedurig toe dat God heilig is. Volgens Jesaja het hulle ses vlerke waarvan twee gebruik word om mee te vlieg, twee om hulle aangesig te bedek en twee hulle voete.

Gewone engele

Behalwe bogenoemde "spesiale" engele, is daar 'n menigte engele, 'n leërskare van engele, wat net as "engele" bekend staan. Ons weet dat hulle ook magtige wesens is en dat hulle verskillende funksies in diens van God verrig. Hulle het boodskappe van God aan mense oorgedra. Hulle het individue, maar ook die volk Israel by sekere geleenthede beskerm en gered. Hulle was betrokke by gebeure in verband met Jesus se koms en bediening op aarde. Hulle is in diens van God ter wille van sy kinders. Hulle sal betrokke wees in die aankondiging en voltrekking van sekere oordele en sal ook 'n belangrike rol speel met die wederkoms van Jesus.

Dit is veral in die eindtyd dat engele meer as ooit tevore 'n prominente rol gaan speel. Byna 'n derde van die verwysings na engele kom in die boek Openbaring voor: hulle gaan veral 'n rol speel in die plae en oordele van God wat oor hierdie wêreld gaan kom asook in die finale oorwinning oor die dui­wel en sy bose trawante.

Vervolg...