Todd Burpo
Lees reeks by Die hemel is werklik
DIE KRUIP-EN-SIEN
Ons gesinsvakansie, waartydens ons nagmerrie begin het, was veronderstel om 'n viering te wees. Vroeg in Maart 2003 was ek geskeduleer om na Greeley, Colorado, te reis vir 'n streeksraadsvergadering van die Wesleyan Church. Vanaf die vorige Augustus het ons gesin baie teëspoed beleef: sewe maande van rug-aan-rug-beserings en siekte wat 'n versplinterde been, twee operasies en 'n moontlike kankerdiagnose ingesluit het. Saam het hierdie dinge ons bankrekening in so 'n mate getap dat ek amper die suiggeluide kon hoor wanneer die state in die pos opgedaag het. My klein leraarsalaris is nie geraak nie, maar ons finansiële steunpilaar was die elektriese garagedeur-besigheid wat ons besit het. Ons mediese beproewinge het hul tol geëis.
Teen Februarie het dit egter gelyk of ons aan die ander kant uitgekom het. Aangesien ek in elk geval moes reis, het ons besluit om die reis na die raadsvergadering te gebruik as 'n tipe merker in ons gesinslewe - 'n tyd om bietjie pret te hê, om verstand en gees te verkwik en die lewe met nuwe hoop tegemoet te gaan.
Sonja het van 'n lekker plek vir kinders net buite Denver gehoor. Dis Butterfly Pavilion genoem en as 'n "dieretuin van ongewerweldes" aangebied. Dit het in 1995 geopen as 'n opvoedkundige projek wat mense sou leer van die wonders van insekte, asook getypoeldiere. Deesdae word kinders buite die dieretuin begroet deur 'n reusagtige, kleurvolle metaalbeeld van 'n hottentotsgot. Maar in 2003 was die reuse insek nog nie op sy pos nie, en die lae baksteengeboutjie omtrent 15 minute van Denver se middestad, het nie juis kindervriendelik gelyk nie. Maar binne het 'n wonderwêreld gewag, veral vir kinders van Colton en Cassie se ouderdom.
Die eerste plek waar ons aangedoen het, was die "Kruip-en-Sien", 'n vertrek gevul met terrariums waarin allerhande gediertes, van besies tot kokkerotte en spinnekoppe, gebly het. Een uitstalling, die Tarantula-toring, het Colton en Cassie soos 'n magneet getrek. Nes geadverteer, was die stapel terrariums 'n toring van glas-habitats met harige dikbeenspinnekoppe in wat jou of gefassineer of laat ril het.
Colton en Cassie het beurte gemaak om op 'n trapleertjie te klim om die inwoners van die Tarantula-toring se boonste verdiepings te kon sien. In een terrarium het 'n Meksikaanse blonde tarantula in die hoek gehurk, sy skelet oordek met wat die uitstallingsbordjie beskryf het as "lieflike" ligte hare. Nog 'n habitat het 'n rooi-en-swart tarantula bevat, inheems aan Indië. Een van die meer vreesaanjaende inwoners was die "skelet- tarantula", so genoem omdat sy swart bene gesegmenteer is met wit strepe sodat die spinnekop amper soos 'n agterstevoor X-straal lyk. Ons het later gehoor dat die spesifieke skelet-tarantula 'n bietjie van 'n rebel was: Sy het eenmaal dit reggekry om te ontsnap, die habitat langsaan binne te dring en haar buurspinnekop vir middagete te verslind.
Toe Colton op die trapleertjie klim om te sien hoe die spinnekop lyk, het hy na my gekyk met 'n glimlag wat my hart warm gemaak het. Ek kon voel hoe my nekspiere begin ontspan, en iewers binne my het 'n drukklep oopgemaak, die emosionele ekwivalent van 'n diep sug. Vir die eerste keer in maande het dit vir my gevoel of ek my gesin bloot net kon geniet.
"Wow, kyk na daai een!" het Cassie gesê en na een van die terrariums gewys. My sesjarige langbeendogter was effens lomp en so slim soos die houtjie van die galg - iets wat sy van haar ma gekry het. Cassie het na die naambordjie gewys waarop gestaan het: "Goliat-voel- vreter ... die wyfies kan langer as 28 cm word."
Die een in hierdie tenk was net omtrent 15 cm lank, maar sy lyf was so breed soos Colton se gewrig. Ek het na Sonja gekyk en gesien hoe sy haar neus plooi.
Een van die vrywilligers het blykbaar ook haar uitdrukking gesien, want hy het vinnig die voelvreter verdedig. "Die Goliat kom van Suid-Amerika," het hy in 'n vriendelike, opvoedkundige stemtoon gesê, bedoelende Hulle is nie so horribaal soos jy dink nie. "Tarantulas van Noord- en Suid-Amerika is baie mak. Jy kan selfs een daar anderkant vashou." Hy het gewys na 'n ander dieretuinwerker wat 'n kleiner tarantula in sy hand vasgehou het sodat 'n groepie kinders beter kon sien.
Cassie het na die oorkant van die vertrek gehol om te sien wat almal so fassineer, en ek, Sonja en Colton het gevolg. In die hoek van 'n vertrek, versier om soos 'n bamboeshut te lyk, het die dieretuinwerker die onbetwisbare ster van die Kruip-en-Sien ten toon gestel: Rosie die Spinnekop. Rosie, 'n rooskleurige tarantula van Suid-Amerika, was harig met 'n lyf so groot soos 'n pruim en 15 cm lange bene so dik soos potlode. Maar, uit 'n kind se oogpunt was die beste ding omtrent Rosie dat indien jy dapper genoeg was om haar selfs net vir 'n oomblik vas te hou, die dieretuinwerker jou beloon het met 'n plakker.
Nou ja, as jy kinders het, sal jy weet dat hulle by tye 'n mooi plakker bo 'n handvol kontant verkies. En die plakker was spesiaal: wit met 'n prentjie van 'n tarantula in geel, met die woorde: "Ek het Rosie vasgehou!"
Hierdie was nie sommer 'n gewone plakker nie; dit was 'n kenteken van dapperheid.
Cassie het laag gebuig oor die dieretuinwerker se hand. Colton het met wye, blou oë na my gekyk. "Kan ek 'n plakker kry, Pappa?"
"Jy moet Rosie vashou om 'n plakker te kry, my seun."
Op daardie ouderdom het Colton op 'n kosbare manier gepraat: deels ernstig, deels uitasem, in grootoog- verwondering. Hy was 'n slim, snaakse mannetjie met 'n swart-en-wit-uitkyk op die lewe. lets was of pret (LEGO) of nie (Barbie). Hy het of van kos gehou (steak), of dit gehaat (boontjies). Daar was goeie ouens en slegte ouens en sy gunsteling speelgoed was goeie aksiehelde. Superhelde was baie belangrik vir Colton. Hy het sy Spider-Man-, Batman- en Buzz Lightyear-mannetjies oral met hom saamgeneem. Of hy dus vas was agter in 'n karstoeltjie en of hy in 'n wagkamer of op die kerkvloer was, kon hy steeds tonele skep waarin die goeie ouens die wêreld gered het. Swaarde, Colton se gunsteling wapen om die bose mee te oorwin, was gewoonlik hierby betrokke. Tuis kon hy die superheld wees. Ek sou dikwels die huis instap en Colton aantref bewapen tot die tande toe met 'n speelgoedswaard aan weerskante van sy belt vas en een in elke hand. "Ek speel Zorro, Pappa! Wil Pappa saamspeel?"
Nou het Colton na die spinnekop in die werker se hand gekyk en dit het gelyk of hy wens hy het sy swaard by hom gehad - al was dit dan ook net vir morele ondersteuning. Ek het my probeer voorstel hoe massief die spinnekop moes lyk vir 'n klein outjie wat skaars 'n meter lank was. Ons kind was pure seun - 'n rowwe mannetjie wat al van nader kennis gemaak het met 'n hele klomp miere, besies en ander kruipende gediertes. Maar nie een daarvan was so groot soos sy gesig en het hare gehad wat amper so lank soos syne was nie.
Cassie het regop gekom en vir Sonja geglimlag. "Ek sal haar vashou, Mamma. Kan ek Rosie vashou?"
"Coed, maar wag vir jou beurt," het Sonja geantwoord.
Cassie het agter 'n paar ander kinders in die tou gaan staan. Colton het nie sy oë van Rosie weggeneem terwyl eers 'n seun, en toe 'n meisie die enorme spinnekop vasgehou het en daarna die begeerde plakkers van die werker ontvang het nie. Cassie se groot oomblik het vinnig aangebreek. Colton het hom teen my bene geplant, naby genoeg om sy suster te kan sien, maar hy wou terselfdertyd weghol en het agtertoe teen my knieë gedruk. Cassie het haar handpalm uitgesteek en ons het almal gekyk hoe Rosie, al gewoond aan klein, nuuskierige menshandjies, een harige been op 'n slag lig en vinnig vanuit die werker se hand na Cassie s'n oorklim en toe weer terug na die werker s'n.
"Jy het dit gedoen!" het die dieretuinwerker gesê terwyl ek en Sonja hande geklap en gejuig het. "Mooi so!" Toe het die man opgestaan, 'n groot wit-en-geel-plakker van die rol afgetrek en dit aan Cassie gegee.
Dit het natuurlik sake vir Colton vererger. Nie net het sy suster die kollig gesteel nie, maar hy was nou ook die enigste plakkerlose Burpo-kind. Hy het verlangend na Cassie se prys gekyk, toe terug na Rosie en ek kon sien hoe hy met sy vrees worstel. Uiteindelik het hy sy lippe opmekaar gepers, weggekyk van Rosie en op na my. "Ek wil haar nie vashou nie."
"Oukei," het ek gesê.
"Maar kan ek 'n plakker kry?"
"Nee, al hoe jy een kan kry, is as jy haar vashou. Cassie het haar vasgehou. Jy kan ook as jy wil. Wil jy probeer? Net vir 'n oomblik?"
Colton het weer na die spinnekop gekyk, toe na sy suster, en ek kon sien hoe hy dink: Cassie het dit gedoen. Sy is nie gebyt nie.
Toe het hy sy kop beslis geskud: Nee. "Maar ek wil nog steeds 'n plakker hê!" het hy volgehou. Colton sou oor twee maande vier wees en was uitstekend daarmee om sy man te staan.
"Jy kan net 'n plakker kry as jy vir Rosie vashou," het Sonja gesê. "Is jy seker jy wil haar nie vashou nie?"
Colton het geantwoord deur Sonja se hand te gryp en haar te probeer wegpluk van die dieretuinwerker. "Nee, ek wil na die seesterre gaan kyk."
"Is jy seker?" het Sonja gevra.
Met 'n besliste knik het Colton na die Kruip-en-Sien se deur marsjeer.