Todd Burpo
Lees reeks by Die hemel is werklik
ROOKSEINE
Later daardie aand, na 'n lekker swem, het Cassie en Colton by 'n tafeltjie gesit by die Old Chicago Restaurant in Greeley, Colorado. Hulle was doodgelukkig aan die inkleur terwyl ek en Sonja met pastoor Steve Wilson en sy vrou, Rebecca, gesels het. Ons het reeds fantastiese Italiaanse kos geëet, onder andere die kinders se gunstelinge: pizza, spaghetti en knoffelbrood.
Steve was die senior leraar van 'n gemeente met tussen 1 500 en 2 000 lidmate - bykans net soveel mense as wat in ons tuisdorp, Imperial, gewoon het. Dit was 'n geleentheid vir my en Sonja om nog 'n leraar in ons distrik te leer ken en idees te kry oor hoe ander leraars hul bediening aanpak. Ons het beplan om Steve se kerk, die Greeley Wesleyan Church, die volgende dag te besoek. Sonja wou veral sien hoe die kerk se kinderprogram op Sondagoggende verloop. Rebecca het die grootmensgeselskap afgewissel met die kinders s'n en saam met hulle ingekleur.
"Sjoe, Colton, jy kleur regtig daardie pizza baie mooi in!" het sy gesê. Colton het beleef maar flou geglimlag maar hy was buitengewoon stil. 'n Paar minute later het hy gesê: "Mamma, my maag pyn."
Ek en Sonja het na mekaar gekyk. Het die maagvirus teruggekeer? Sonja het die agterkant van haar hand teen Colton se wang gedruk en gesê: "Jy voel nie warm nie, skat."
"Ek dink ek gaan opgooi," het Colton gesê.
"Ek voel ook nie baie lekker nie, Mamma,” het Cassie gesê.
Ons het gedink dit was iets wat hulle geëet het. Met twee kinders wat olik voel, het ons ons kuier kortgeknip, totsiens gesê vir die Wilsons en teruggekeer na die hotel, wat net oorkant die restaurant se parkeerterrein was. Die oomblik toe ons kamerdeur oop was, het Colton se voorspelling waar geword: Hy het opgegooi. Dit het op die mat begin en, omdat Sonja hom in die klein badkamertjie ingedra het, in die toilet geëindig.
Ek het in die badkamerdeur gestaan en kyk na Colton se klein, geboë lyfie wat krampagtig saamtrek. Dit het nie vir my na voedselvergiftiging gelyk nie.
Dis seker daai maagvirus, het ek gedink. Wonderlik.
Dit was hoe die aand begin het. Dit het voortgeduur met Colton wat klokslag elke 30 minute opgebring het. Tussendeur het Sonja op ‘n stoel gesit met Colton op haar skoot. Sy het die kamer se ysbak byderhand gehou ingeval sy die badkamer nie betyds kon haal nie. Omtrent twee ure in die siklus in, het nog 'n kind by ons partytjie kom aansluit. Terwyl Colton in die badkamer was, besig om in die toilet op te gooi met Sonja wat langs hom kniel, haar hand gerusstellend op sy rug, het Cassie ingehardloop en in die bad opgebring.
"Todd!" het Sonja geroep. "'n Bietjie hulp hierbinne sal waardeer word!"
Fantasties, het ek gedink. Nou het hulle al twee dit.
Of was dit die geval? Na ons albei kinders terug kon kry in die slaapkamer, het ek en Sonja koppe bymekaar gesit. Dit het gelyk of Colton die vorige dag die maagvirus afgeskud het. En hy was die hele dag sy ou self by die Butterfly Pavilion, doodgelukkig behalwe vir die spanning om Rosie vas te hou om daardie plakker in die hande te kry. Cassie het ook vir Rosie vasgehou ... kon tarantulas 'n dubbele dosis naarheid veroorsaak?
Nee, domkop, het ek vir myself gesê en die gedagte opsy geskuif.
"Het die kinders dieselfde kos geëet by die restaurant?" het ek vir Sonja gevra. Sy het teen die tyd op een van die dubbelbeddens gelê met 'n arm om elk van ons twee groen-om-die-kiewe-kinders.
Sonja het na die plafon gekyk en 'n oomblik nagedink. "Ek dink hulle het al twee van die pizza gehad ... maar ons het almal pizza gehad. Ek dink dis daardie maagvirus. Colton was seker nog nie heeltemal gesond nie en Cassie het aangesteek voor ons hier aangekom het. Die dokter het gesê dis baie aansteeklik."
Ongeag wat dit was, dit het gelyk of ons ontspanningsvakansie om die einde van ons foltering te vier, tot n skielike einde gekom het. En 'n paar minute later het ek die toorwoorde gehoor wat my vermoedens bevestig het: "Mamma, ek dink ek gaan opgooi."
Sonja het Colton opgeraap en hom net betyds by die toilet gekry.
Toe die pienk lig van dagbreek deur ons gordyne begin inloer, was Sonja steeds wakker. Ons het ooreengekom dat minstens een van ons die Greeley Wesleyan Church moes besoek om bedieningskennis van groot kerke te verkry wat ons in Imperial kon toepas; dus het ek probeer om 'n bietjie slaap in te kry. Sonja was dus aan diens as verpleegster, wat beteken het dat sy byna uurliks met met Colton badkamer toe moes hardloop. En toe begin sy derms ook rebeleer teen wat ook al Colton se siekte was. Net daar het ons besluit om hom terug by die huis te kry en alles so vinnig moontlik ingepak en motor toe gedra.
Sonja was bekommerd omdat Colton nie eens teëgestribbel het toe sy hom op die agtersitplek van die Expedition laat lê en die doek vir hom aangetrek het nie. Onder normale omstandighede sou hy verontwaardig gesê het: "Ek is nie 'n baba nie!" Hy het egter nie 'n geluid gemaak nie.
Hy het net sy maag vasgeklou en gekerm toe hy weer vasgemaak was in sy karstoeltjie. Na twee ure op die pad het hy heeltyd gehuil. Ongeveer elke 30 minute het hy net opgehou huil sodat hy kon opgooi. In die tru- spieëltjie kon ek die magteloosheid en hartseer in Sonja se gesig sien. Intussen het ek probeer fokus op die doelwit: Kry hom in Imperial, kry aarvoeding in sy lyf, keer die dehidrasie wat sekerlik besig is om plaas te vind terwyl die maagvirus sy gang gaan.
Ons het Imperial in net minder as drie uur bereik. By die hospitaal het 'n verpleegster ons redelik vinnig na 'n ondersoekkamer geneem. Sonja het Colton gedra en sy kop teen haar skouer vasgehou soos toe hy 'n babatjie was. Binne 'n paar minute het die dokter wat Colton die Vrydag gesien het, by ons aangesluit en ons het hom op hoogte van sake gebring. Na 'n vlugtige ondersoek het hy gesê daar moet bloedtoetse gedoen en 'n X-straal geneem word, en ek dink ek het vir die eerste keer vandat ons Greeley verlaat het, asem geskep. Dit was vooruitgang. Ons het iets gedoen. Ons sou binnekort 'n diagnose hê en waarskynlik 'n voorskrif of twee. Colton sou dan weer op die pad na herstel wees.
Ons het Colton na die patologiese laboratorium geneem, waar hy geskree het terwyl die tegnikus haar bes probeer het om 'n aar te vind. Dit is gevolg deur X-strale wat beter verloop het omdat ons Colton oortuig het dat daar geen naalde by betrokke was nie. Binne 'n uur was ons terug by die dokter in die ondersoekkamer.
"Kan dit blindedermontsteking wees?" het Sonja die dokter gevra.
Hy het sy kop geskud. "Nee. Colton se witbloedtelling stem nie ooreen met blindedermontsteking nie. Ons is egter bekommerd oor sy X-strale."
Ek het na Sonja gekyk. Op daardie oomblik het ons besef dat ons oortuig was dit was 'n uitermate goor virus. Ons was totaal onvoorbereid op iets ernstigers. Die dokter het ons in die gang af gelei, waar daar alreeds 'n X-straal vasgeknyp was aan 'n ligbord. Toe ek die prentjie sien, het my maag op 'n knop getrek. Die X-straal van ons seun se klein bolyfie het drie donker kolle getoon. Dit het gelyk of sy ingewande ontplof het.
Sonja het haar kop geskud en die trane wat vlak gelê het, het oor haar wange geloop.
"Is Dokter seker dis nie blindedermontsteking nie?" het ek gevra. Ons het 'n familiegeskiedenis daarvan."
Weer het hy nee gesê. "Dis nie wat die bloedtoetse wys nie."
"Wat is dit dan?"
"Ek is nie seker nie," het hy gesê.
Vervolg...