DIE HEMEL IS WERKLIK (6)

Todd Burpo

Lees reeks by Die hemel is werklik

"EK DINK DIS DIT"

Die radiografis het ‘n drankie gebring wat Colton moes sluk alvorens hy die skandering wou doen.

“Nee-e-e-e!"

"Maar Colton, jy moet dit drink!"

"Ne-e-e-e! Dis s-l-e-g!"

Colton se proteskrete het deur die eenheid weergalm. Hy was so uitgeput, so broos, so moeg om op te bring, en nou het ons hom probeer oorreed om 'n grillerige, dik, kersierooi oplossing te drink wat geen volwassene wat by sy volle positiewe in 'n miljoen jaar vrywillig sou drink nie. Uiteindelik het Colton 'n slukkie geneem, maar dit onmiddellik opgebring. Sonja was dadelik by om dit in die bakkie op te vang.

 "Hy bring heeltyd op," het ek aan die radiografis gesê. "Hoe gaan hy dit drink?"

"Ek is jammer, Meneer ... hy moet dit drink sodat ons die beste beeld kan kry."

"'Asseblie-e-e-f! Ek wil dit nie drink nie, Pappa!"

Ons het alles probeer. Ons het mooigepraat en gesoebat. Sonja het aangepor en ek het gedreig. Maar hoe strenger ek geraak het, hoe meer het Colton op sy tande gebyt en botweg geweier om die taai vloeistof te sluk.

Ek het probeer verduidelik: "Colton, as jy net hierdie kan afkry, kan die dokters die toets doen en dan kan ons jou laat beter voel. Wil jy nie beter voel nie?"

'n Gesnuif. "ja."

"Nou drink die dan."

"Nee-e-e-e-e-e-e! Ek wil nie-e-e-e-el"

Ons was desperaat. As hy nie die vloeistof gedrink het nie, kon hulle nie die CT-skandering doen nie. Sonder die CT-skandeerbeeld kon hulle nie 'n diagnose maak nie. Sonder 'n diagnose kon hulle nie ons seun behandel nie. Die stryd het vir byna 'n uur aangehou. Uiteindelik het 'n radiografis uitgekom wat ons genadig was. "Kom ons gaan voort en neem hom in. Ons sal maar die beste doen wat ons kan."

Binne-in die skandeerkamer het Sonja by die radio­grafis agter die skerm gestaan en ek het langs Colton gestaan terwyl die skandeerblad hom in 'n groot, vreesaanjaende tonnel in laat gly het. Sy kop het buite gebly sodat hy my kon sien. Die masjien het met 'n geruis lewendig geword en Colton het met pyndeurtrekte ogies na my gestaar.

Binne oomblikke was die toets klaar. Die radiografis het na die beelde gekyk en ons uit die skandeerkamer begelei. Hy het ons nie teruggeneem na die hoofwagkamer nie, maar na 'n afsonderlike gangetjie met 'n paar stoele teenaan die muur.

Die radiografis het my somber aangekyk. "Wag asseblief hier," het hy gesê. Op daardie oomblik het ek nie opgemerk dat hy nie vir Colton gevra het om sy klere aan te trek nie.

Ons drie het in die koue, smal gangetjie gesit. Sonja het Colton met sy kop teen haar skouer vasgehou. Sy het min of meer aanhoudend gehuil. Toe ek in haar oë kyk, kon ek sien haar hoop het weggesyfer. Hierdie was nie die gewone plek waar 'n mens moes wag nie. Die radiografis het ons afgeskei. Hy het die beeld gesien en het geweet dit was iets verskriklik.

Sonja het na Colton gekyk wat in haar arms gelê het en ek kon sien wat sy dink. Sy en Colton het alles saam gedoen. Hy was haar klein seuntjie, haar vriend. Wat meer is, hierdie klein blondekop-, blouoog-seuntjie was 'n seën uit die hemel, 'n geskenk van genesing ná die baba wat ons verloor het.

Vyf jaar vantevore was Sonja swanger met ons tweede kind. Ons was in die wolke en het hierdie nuwe lewe as die voltooiing van ons gesin beskou. Toe dit net ons twee was, was ons 'n paartjie. Toe Cassie gebore is, het ons 'n gesin geword. Met die tweede kind op pad, kon ons die buitelyne van die toekoms begin sien - gesinsportrette, 'n huis gevul met die vrolike klanke van kindwees, twee kinders wat op Kersoggend nuuskierig gaan kyk wat in hul kerskouse is. Toe Sonja twee maande swanger was, het sy die baba verloor en ons drome het soos seepbelle gebars. Sonja was deur smart oorweldig deur die realiteit van 'n verlore kind wat ons nooit sou ken nie. Daar was 'n leemte wat nie vantevore daar was nie.

Ons was gretig om weer te probeer, maar bekommerd oor of ons in staat sou wees om nog 'n kind te hê - wat ons ellende vermenigvuldig het. 'n Paar maande later het Sonja weer swanger geraak. Haar vroeë voorgeboorte-ondersoeke het 'n gesonde groeiende baba getoon. Ons was egter steeds versigtig om nie te gou verlief te raak op hierdie nuwe kind soos ons op die een wat ons verloor het verlief geraak het nie. Maar 40 weke later, op 19 Mei 1999, is Colton Todd Burpo gebore en ons was dolverlief. Vir Sonja was die klein seuntjie 'n selfs nog meer spesiale geskenk direk uit die hand van 'n liefdevolle, hemelse Vader.

Terwyl ek nou haar gesig dophou het terwyl sy na Colton se bleek gesiggie kyk, kon ek die verskriklike vraag in haar gedagtes sien vorm aanneem: Wat doen God? Gaan U die kind ook neem?

Colin se gesiggie het bleek en uitgehonger gelyk, ‘n klein maan in die donkergang. Die skadu's om sy oë het verdiep tot donker, pers holtes. Hy het nie meer geskree of selfs gehuil nie. Hy was net... stil.

Weer het dit my herinner aan daardie sterwende pasiënte wat op die drumpel tussen die aarde en die ewigheid gestaan het. Trane het my oë gevul en die beeld van my seun verdof. Sonja het opgekyk na my. Haar eie trane het gevloei. "Ek dink dis dit," het sy gesê.

Vervolg...