Todd Burpo
Lees reeks by Die hemel is werklik
COLTON BURPO, KOLLEKTE- AGENT
Nadat ons by die huis gekom het, het ons vir 'n week gevoel asof ons in ‘n motorongeluk was. Ons wonde was net nie uiterlik nie. Goed, ek oordryf - maar nie baie nie. Ek en Sonja was totaal uitgemergel. Die sielswroegende kommer en spanning het hul tol geëis.
Een aand, omtrent 'n week na ons tuisgekom het, het ek en Sonja in die kombuis gestaan en oor geld gepraat. Sy het by 'n tafel oorkant die mikrogolf gestaan en die enorme hoop pos wat gedurende Colton se hospitaalverblyf versamel het, uitgesorteer. Elke keer wat sy ‘n koevert oopgemaak het, het sy 'n getal op 'n papier neergeskryf. Selfs van waar ek teen die spensdeur aan die oorkant van die kombuis geleun het, kon ek sien die kolom getalle was besig om baie lank te word.
Uiteindelik het sy die pen op die kombuistoonbank neergesit. "Weet jy hoeveel geld het ek nodig om dié rekeninge die week te betaal?"
As gesins- en besigheidsboekhoudster het Sonja my die vraag gereeld gevra. Sy het deeltyds as onderwyseres gewerk; dus het ons haar vaste inkomste gehad, maar dit was maar taamlik min. My salaris, saamgeflans uit 'n klein maar getroue gemeente se tiendes, was ook klein. Die grootste deel van ons inkomste was dus afkomstig vanuit ons garagedeur-besigheid, en die inkomste was baie wisselvallig. Elke paar weke het sy my die syfers gewys - nie net van die huishoudelike rekeninge nie, maar ook van die besigheidsuitgawes. Nou was daar ook verskeie massiewe hospitaalrekeninge.
Ek het 'n rowwe berekening in my kop gedoen en my skatting vir haar gesê. "Seker omtrent $23 000, nê?"
"Jip" het sy met 'n sug gesê.
Dit kon netsowel 'n miljoen dollar gewees het. Omdat ek nie garagedeure kon installeer met my gebreekte been, en toe as gevolg van die hiperplasia nie, was ons spaargeld reeds op. Net toe ek weer op dreef was, het Colton se siekte toegeslaan en my vir amper nog 'n maand uit die werk gehou. Die kanse vir ons om met $23 000 vorendag te kom, was omtrent net so groot as om die lotery te wen. En aangesien ons nie aan die lotery deelgeneem het nie, was die kanse nul.
"Is daar enigiets wat jy kan invorder?" het Sonja gevra.
Sy het gevra omdat sy moes, maar sy het geweet wat die antwoord is. Ek het my kop geskud.
"Ek kan party hiervan uitstel," het sy gesê en in die rigting van die koevertpak geknik. "Maar die tiende-rekeninge moet ons beslis betaal."
Hier is 'n skets van hoe klein Imperial werklik is: Almal hou rekeninge oop by plekke soos die vulstasie, die kruidenierswinkel en die hardewarewinkel. As ons dus ons tenks moet vol maak of ons 'n brood benodig, hardloop ons net in en teken om ontvangs te erken. Op die tiende van elke maand doen Sonja die vyftienminuut-rondte om die rekeninge oor die hele dorp heen te betaal. Ons "tiende-rekeninge" is een van die voordele om in 'n klein dorpie te woon. Aan die ander kant is dit baie vernederend wanneer jy nie kan betaal nie.
Ek het gesug. "Ek kan die situasie gaan verduidelik; vir meer tyd vra."
Sonja het 'n stapel papiere uitgehou wat 'n bietjie dikker was as die ander. "Die mediese rekeninge het begin inkom. Een daarvan is $34 000."
"Hoeveel sal deur die mediese fonds gedek word?"
"Daar is 'n $3 200-bybetaling."
"Ons kan dit nie eens op die oomblik bybring nie,” het ek gesê.
"Wil jy nog steeds hê dat ek ons tiendetjek moet uitskryf?" het Sonja gevra. Sy het na ons weeklikse donasie aan die kerk verwys.
"Absoluut," het ek gesê. God het so pas ons seun aan ons teruggegee; daar was geen manier waarop ons nie aan God sou teruggee nie.
Op daardie oomblik het Colton van die sitkamer af gekom en ons met 'n vreemde uitspraak verras wat ek tot vandag toe kan hoor.
Hy het by die punt van die kombuistoonbank gestaan met sy hande in sy sye. "Pappa, Jesus het dr. O'Holleran gebruik om my gesond te maak” het hy gesê. "Julle moet hom betaal."
Toe het hy omgedraai en uitmarsjeer. Om die hoek en weg.
Ek en Sonja het na mekaar gekyk. Wat?
Ons albei was redelik uit die veld geslaan, aangesien Colton die chirurg beskou het as die bron van al die snyery, dreinering en pyn. Hier was ons nou, net 'n week uit die hospitaal uit en dit het gelyk of hy sy opinie verander het.
"Wel, dit lyk my hy hou nou van dr. O'Holleran," het Sonja opgemerk.
Selfs al het Colton dit in sy hart gevind om die goeie dokter te vergewe, was sy afkondiging in die kombuis steeds vreemd. Hoeveel nog-nie-vierjariges-nie ontleed die finansiële probleme van hul gesin en dring aan dat een van die krediteure betaal word? Veral een waarvan hy nooit juis gehou het nie?
En die manier waarop hy dit gestel het, was ook opvallend: "Pappa, Jesus het dr. O'Holleran gebruik om my gesond te maak." Vreemd.
Selfs vreemder was wat volgende gebeur het. Met $23 000 se onmiddellik betaalbare rekeninge het ons nie geweet wat ons moes doen nie. Ek en Sonja het die moontlikheid van 'n banklening bespreek, maar op die ou einde was dit nie nodig nie. Eerstens het my ouma Ellen wat in Ulysses, Kansas, gewoon het vir ons 'n tjek gestuur om te help met die hospitaalrekeninge. Toe het nog tjeks in daardie enkele week in die pos begin opdaag. Tjeks van $50, $100, $200, almal met kaartjies of briefies by wat iets sê soos: "Ons het van jul teëspoed gehoor en ons bid vir julle," of: "God het dit op my hart gedruk om die vir julle te stuur. Ek hoop dit help."
Teen die einde van die week was ons posbus weer vol, dié keer vol geskenke, nie rekeninge nie. Kerklidmate, goeie vriende en selfs mense wat ons nie eintlik goed geken het nie, het op ons nood gereageer sonder dat ons gevra het daarvoor. Die tjeks was altesaam duisende dollars. Ons was verstom om te sien dat al die tjeks, tesame met my ouma se donasie, genoeg was om daardie eerste vlaag rekeninge te betaal, amper tot op die dollar.
Nie lank na Colton 'n klein kollekte-agent geword het nie, het hy in effense moeilikheid beland. Dit was nie ernstig nie; daar was net 'n insident by 'n maatjie se huis waartydens baklei is oor speelgoed. Daardie aand het ek hom na die kombuistafel geroep. Hy het op die stoel langs my gaan kniel. Colton het op sy elmboë geleun en met ietwat beteuterde, hemelsblou oë na my gekyk.
As jy 'n kleuter het, sal jy weet dat dit soms moeilik is om verby hul oulikheid te kyk en ernstig te wees oor dissipline. Maar ek het daarin geslaag om ernstig te lyk. "Colton," het ek begin, "weet jy hoekom jy in die moeilikheid is?"
"Ja, want ek het nie gedeel nie," het hy gesê en afgekyk.
"Dis reg. Jy kan nie so maak nie, Colton. Jy moet mense mooier as dit behandel."
Colton het sy ogies gelig en na my gekyk. "Ja, Pappa, ek weet. Jesus het vir my gesê ek moet mooi wees met ander."
Sy woorde het my nogal onkant gevang. Dit was die manier waarop hy dit gesê het: Jesus het vir my gesê ...
Maar ek het my nie te veel daaraan gesteur nie. Sy Sondagskoolonderwysers kwyt hul seker goed van hul taak, het ek gedink.
"Nou ja, Jesus is reg, nie waar nie?" het ek gesê en dit was die einde daarvan. Ek dink nie ek het Colton eens enige gevolge laat dra omdat hy nie gedeel het nie. Met Jesus in die prentjie was ek per slot van sake oortref in rang.
'n Paar weke later het ek begin voorberei vir 'n begrafnisdiens wat by ons kerk sou plaasvind. Die oorlede man was nie 'n lidmaat van ons gemeente nie, maar dorpsmense wat nie gereeld kerk toe gekom het nie, wou dikwels 'n begrafnisdiens in 'n kerk hou vir 'n geliefde. Soms was die oorledene 'n vriend of familielid van iemand in die gemeente.
Colton moes my en Sonja hoor praat het oor die komende diens, want hy het een oggend in die sitkamer ingeloop en aan my hemp gepluk. "Pappa, wat is 'n begrafnis?"
Ek het al verskeie begrafnisse by die kerk waargeneem vandat Colton gebore was, maar hy het die ouderdom bereik waarop hy begin wonder het oor hoekom en hoe dinge gewerk het.
"Wel, boeta, 'n mens hou begrafnis wanneer iemand doodgaan. 'n Man in die dorp het doodgegaan en sy familie gaan kerk toe kom om vir hom totsiens te sê."
Colton se houding het dadelik verander. Sy gesig het ernstig geword en hy het my kwaai in die oë gekyk. "Het die man Jesus in sy hart gehad?"
My seun wou by my weet of die man wat dood is 'n Christen was wat Jesus as sy persoonlike Saligmaker aangeneem het. Maar sy intensiteit het my verstom. "Ek is nie seker nie, Colton," het ek gesê. "Ek het hom nie baie goed geken nie."
Colton se gesig het vertrek van bekommernis. "Hy moet Jesus in sy hart gehad het! Hy moet Jesus geken het, anders kan hy nie hemel toe gaan nie!"
Weer het sy intensiteit my verras, veral omdat hy nie eens die man geken het nie. Ek het probeer om hom so goed ek kon te vertroos. "Ek het met 'n paar van sy familielede gesels, en hulle het gesê hy het," het ek gesê.
Colton het nie oortuig gelyk nie, maar sy gesig het effens ontspan. "Oukei dan," het hy gesê en weggeloop.
Dit was die tweede keer in een week wat ek gedink het: Sjoe, maar daardie Sondagskoolonderwysers kwyt hul goed van hul taak!
Daardie naweek het Sonja Cassie en Colton in hul mooiste kerkklere aangetrek en ons het die halwe blok na die kerk gery om gereed te maak vir die begrafnis. Toe ons inry, het ek die begrafnisondernemer se lykswa buite geparkeer gesien. Binne het ons die gepoleerde eikehoutkis aan die kant van die ingangsportaal sien staan.
Twee deuropeninge het uit die ingangsportaal gelei na die vertrek waar die familie bymekaar was vir die "blommediens". Voor ons in Imperial kom bly het, het ek nog nooit van 'n blommediens gehoor nie, maar nou dink ek dis 'n baie mooi idee. Die familie kom voor die begrafnisdiens bymekaar en die begrafnisondernemer verduidelik wie elke plant, krans of ruiker gestuur het. Hy lees ook die roubriefies wat dit vergesel. ("Hierdie pragtige pers asaleas word met liefde gestuur deur die Smith-familie.")
Die leraar is veronderstel om die blommediens by te woon. Ek het in die vertrek ingeloer en die begrafnisondernemer se oog gevang. Hy het geknik, wat aangedui het dat hulle gereed was om te begin. Ek het omgedraai om Colton en Cassie te kry, toe Colton na die kis wys. "Wat is dit, Pappa?"
Ek het dit eenvoudig probeer hou. "Dis 'n kis. Die man wat dood is, is daarbinne."
Skielik het Colton se gesig weer intense kommer getoon. Hy het met sy vuiste teen sy bobene geslaan en met een vinger na die kis beduie. "Het daai man Jesus geken?" het hy amper geskree.
Sonja se oë het gerek en ons albei het na die deur van die vertrek gekyk, angsbevange dat die gesin binne die vertrek ons seun kon hoor.
"Hy moes net! Hy moes net!" het Colton voortgegaan. "Hy kan nie hemel toe gaan as hy nie Jesus in sy hart gehad het nie!"
Sonja het Colton aan die skouers gegryp en hom probeer stilmaak. Maar dit was nie moontlik nie. Hy was nou byna in trane en het in haar arms gespartel en aan my geskree: "Hy moes Jesus ken, Pappa!"
Sonja het hom weggelei van die vertrek in die rigting van die kerk se voordeur en Cassie het hulle gevolg. Deur die glasdeure kon ek sien hoe Sonja gehurk staan en met hulle praat. Toe het Cassie haar steeds ontstelde boetie aan die hand geneem en hulle het die halwe blok huis toe begin stap.
Ek het nie geweet wat om te dink nie. Waar het die skielike besorgdheid oor of 'n vreemdeling gered was of nie - of hy "Jesus in sy hart gehad het" of nie, soos Colton dit gestel het - vandaan gekom?
Wat ek wel geweet het, was dat Colton op die ouderdom was waar hy enigiets wat in sy kop gekom het, uitgeblaker het. Soos die keer in Madrid, Nebraska, toe ek hom na 'n restaurant geneem het en 'n ou met baie lang, reguit hare ingeloop het. Colton het kliphard gevra of dit 'n seun of 'n meisie was. Ons het Colton dus vir 'n tyd lank weggehou van begrafnisse af indien ons nie verseker geweet het of die oorledene 'n Christen was nie. Ons het net nie geweet wat hy sou sê of doen nie.
Vervolg...