DIE HEMEL IS WERKLIK (11)

Todd Burpo

Lees reeks by Die hemel is werklik

OOGGETUIE VAN DIE HEMEL

Eers vier maande na Colton se operasie, tydens ons reis die naweek van die vierde Julie om ons nuwe nefie te gaan ontmoet, het ek en Sonja uiteindelik begin besef dat iets buitengewoons met ons seun gebeur het. Natuurlik was daar die string snaakse dingetjies wat Colton na sy verblyf in die hospitaal gesê en doen het. Soos byvoorbeeld toe Colton daarop aangedring het dat ons dr. O'Holleran moet betaal omdat Jesus hom gebruik het om Colton te help gesond maak. Ook sy verklaring dat Jesus aan hom gesê het hy moet mooi wees met ander. En sy heftige begrafnisoptrede. Maar hierdie dinge het as vlugtige tonele in 'n besige gesinslewe verbygevlieg en almal het dit maar net as oulik afgemaak. Behalwe nou vir die begrafnisaffêre, wat regtig net vreemd was.

Maar nie vreemd op 'n bonatuurlike manier nie. Dit was nie, tot ons deur North Platte gery het op pad na Suid-Dakota toe, dat die ligte aangegaan het nie. Jy sal onthou ek het Colton 'n bietjie geterg terwyl ons deur die dorp gery het.

"Haai, Colton, as ons hier draai, kan ons teruggaan hospitaal toe," het ek geskerts. "Wil jy teruggaan hospi­taal toe?"

Dit was tydens dié gesprek dat Colton gesê het hy het "uit sy lyf opgegaan", met engele gepraat, en op Jesus se skoot gesit. En ons het geweet hy het dit nie opgemaak nie, want hy het geweet wat ons op daardie tydstip el­ders in die hospitaal gedoen het.

"Pappa was alleen in 'n klein kamertjie. Pappa het gebid. En Mamma was in 'n ander kamer. Sy het gebid en op die foon gepraat."

Nie eens Sonja het my in daardie vertrekkie gesien toe ek ingekonk het voor die Here nie.

Skielik het die insidente van die laaste paar maande net daar binne-in die Expedition, terwyl ons met vakansie was, in plek geval soos die laaste paar vinnige draaie met 'n Rubik-kubus. Ek en Sonja het besef dit was nie die eerste keer wat Colton ons laat verstaan het iets buitengewoons het met hom gebeur nie; dit was net die duidelikste keer.

By Sioux Falls was ons so besig om ons oulike baba-nefie te leer ken, na al die familienuus te luister, en die waterval te besoek dat ons nie veel tyd gehad het om Colton se vreemde openbarings te bespreek nie. Maar in die stil oomblikke voor ek gaan slaap het, het 'n vloed van beelde my oorval - veral van daardie aaklige oom­blikke in die klein vertrekkie by die hospitaal toe ek my woede teenoor God laat uitkom het. Ek het gedink ek was alleen en dat ek my smart en woede in privaatheid uitstort. Dat ek sterk gebly het vir Sonja. Maar my seun sê hy het my gesien ...

Ons mini-vakansie het sonder enige nuwe voorvalle verloop en ons was betyds terug in Imperial sodat ek die Sondag kon preek. Die volgende week is Sonja en haar vriendin Sherri Shoenholz Colorado Springs toe vir die Pike's Peak-aanbiddingsfees, 'n konferensie oor bediening deur kerkmusiek. Ek en die kinders het by die huis gebly.             

Soos enige verstandige gesin wat in 'n tornado-gebied woon, het ons 'n kelder onder ons eenverdiepinghuis. Dis nog onvoltooid met 'n klein kantoortjie en badkamer wat uitloop uit 'n groot, veeldoelige leefarea. Een aand was ek en Colton in die kelder terwyl ek aan my preek gewerk het met die gerusstellende klanke van my kleuter se speelgoedman-oorlog in die agtergrond.

Toe Colton geopereer is, was hy drie jaar en tien maande oud, maar in Mei het ons sy verjaarsdag gevier en hy was nou amptelik vier. 'n Groot seun. Die klein partytjie wat ons vir hom gehou het, was ekstra spesiaal omdat ons hom amper verloor het.

Ek kan nie onthou presies watter dag van die week ons in die kelder doenig was nie. Ek onthou wel dit was aand en Cassie was nie daar nie; dus moes sy by vriende oorgeslaap het. Terwyl Colton om my speel, het ek teruggedink aan ons gesprek by Arby's oor Jesus en die engele. Op daardie ouderdom gee seuntjies jou nie juis lang, gedetailleerde terugvoer nie. Maar hulle sal 'n direkte vraag beantwoord, gewoonlik met 'n direkte antwoord. Indien Colton werklik 'n bonatuurlike ontmoeting gehad het, wou ek beslis nie leidende vrae vra nie. Ons het Colton sy hele lewe lank geleer van ons geloof. Maar as hy regtig Jesus en die engele gesien het, wou ek die leerling wees, nie die leermeester nie!

Ek het vanaf my lessenaar na my seun gekyk terwyl hy Spider-Man op 'n lelike kreatuur van Stars Wars laat spring het. "Colton, sê my bietjie gou iets," het ek gesê. "Onthou jy toe ons in die kar was en jy gepraat het van om op Jesus se skoot te sit?"

Steeds op sy knieë het hy na my opgekyk. "Ja."

"Wel, het daar nog iets gebeur?"

Hy het met blink oë geknik. "Het Pappa geweet Jesus het 'n nefie? Jesus het vir my gesê hy het Hom gedoop."

"Ja, jy is reg," het ek gesê. "Die Bybel sê Jesus se neef is Johannes."

Ek het myself betig: Moenie inligting aanbied nie. Laat hom net praat...

"Ek kan nie sy naam onthou nie," het Colton opgewek gesê, "maar hy was baie gaaf."

Johannes die Doper is "gaaf"?!

Net toe ek besig was om die implikasies van my seun se stelling te oorweeg - dat hy Johannes die Doper ontmoet het - het Colton 'n plastiekperd tussen sy speelgoed bespeur en dit na my uitgehou sodat ek daarna moes kyk. "Pappa, het Pappa geweet Jesus het 'n perd?"

'"n Perd?"

"Ja, 'n reënboogperd. Ek het hom gevryf. Daar's baie kleure."

Baie kleure? Waarvan praat hy?

"Waar is daar baie kleure, Colton?"

"In die hemel, Pappa. Dis waar al die reenboogkleure is."

My kop het gedraai. Ek het besef dat ek tot op hede nog gedink het Colton het dalk 'n goddelike besoek gehad. Miskien het Jesus en sy engele in die hospitaal aan hom verskyn. Ek het al verskeie male van soortgelyke gebeure gehoor wanneer mense so naby aan die dood was as wat Colton was. Nou het dit tot my deurgedring dat my seun nie net gesê het hy het sy liggaam verlaat nie; hy het gesê hy het die hospitaal verlaat!

"Was jy in die hemel?" het ek die vraag uitgekry.

"Ja, Pappa," het hy gesê asof dit voor die hand liggend is.

Dit was te veel vir my. Ek het by die trap opgevlieg, die foon opgetel en Sonja op haar sel gebel. Sy het geantwoord en ek kon musiek en sang in die agtergrond hoor. "Weet jy wat jou seun nou net vir my gesê het?"

"Wat?" het sy bo-oor die geraas geskree.

"Hy het my vertel hy't Johannes die Doper ontmoet!"

"Wat?!"

Ek het die res van my en Colton se gesprek vir haar opgesom en ek kon die verwondering in haar stem hoor.

Sy wou meer besonderhede weet, maar die musiek in die konferensiesaal was te hard. Uiteindelik het ons dit maar daar gelaat. "Sal jy my vanaand na ete bel?" het Sonja gevra. "Ek wil alles hoor!"

Ek het afgelui en teen die kombuistoonbank geleun terwyl ek alles verwerk het. Stadig het ek die moontlikheid dat dit dalk waar mag wees, begin aanvaar. Het ons seun gesterf en teruggekom? Die mediese personeel het nooit so iets laat blyk nie. Tog was dit duidelik dat iets met Colton gebeur het. Dit het hy beaam deur vir ons dinge te vertel wat hy nie kon geweet het nie. Dit het tot my deurgedring dat ons dalk 'n geskenk gegee is wat ons nou stadig en versigtig moes oopmaak, om te sien wat binne-in is.

Op die onderste verdieping was Colton steeds op sy knieë, besig om ruimtewesens te bombardeer. Ek het langs hom gaan sit.

"Colton, kan ek jou nog iets oor Jesus vra?"

Hy het geknik, maar nie opgekyk van sy vernietigende aanval op 'n hopie X-Men nie.

"Hoe het Jesus gelyk?"

Plotseling het Colton sy speelgoed neergesit en na my gekyk. "Jesus het skribbels."

"Wat?"

"Skribbels, Pappa ... Jesus het skribbels. En Hy het bruin hare en Hy't hare op sy gesig," het hy gesê en met sy handpalm om sy ken gewys. Ek het geraai hy het nog nie die woord "baard" geken nie. "En sy oë ... sjoe, Pappa, sy oë is so mooi!"

Terwyl hy dit gesê het, het hy 'n veraf uitdrukking in sy oë gekry asof hy iets besonder mooi in die herinnering roep.

"Wat van sy klere?"

Colton het teruggekeer na die hede en vir my geglimlag. "Hy het pers aangehad." Hy het sy hand op sy linkerskouer geplaas en dit na sy regterheup beweeg, en toe die beweging herhaal. "Sy klere was wit, maar dit was pers van hier tot hier."

Nog 'n woord wat hy nie geken het nie: lyfband.

"Jesus was die enigste een in die hemel wat pers gedra het, Pappa. Het Pappa dit geweet?"

In die Skrif is pers die kleur van konings. Ek het aan 'n vers uit die Evangelie van Markus gedink: "sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie" (Mark. 9:3).

"En Hy het 'n goue ding op sy kop gehad ..." het Colton entoesiasties verder vertel. Hy het albei sy hande in die vorm van 'n sirkel op sy kop geplaas.

"Soos 'n kroon?"

"Ja, 'n kroon, en dit het 'n ... 'n diamantding in die middel gehad wat pienkerig was. En Hy het skribbels, Pappa."

My kop het behoorlik gedraai. Ek het gedink ek lei my kind stadig op hierdie gesprekspaadjie, maar hy het die leisels geneem en weggalop. Beelde uit die Skrif het voor my geestesoog afgespeel. Die manifestasie van Christus in die boek Daniël, die verskyning van die Koning van die konings in Openbaring. Ek was verbaas dat my seun Jesus basies as mens beskryf het. Toe was ek verbaas dat dit my sou verbaas, aangesien ons geloof gebaseer is op die idee dat die mens in God se beeld geskape is, en Jesus het as 'n mens na die aarde gekom en teruggegaan hemel toe.

Ek het al die Bybelstories wat ons oor die jare vir Colton gelees het, uit my kop geken. Baie daarvan kom uit 'n reeks wat ek ook as kind gehad het. Ek het ook ons kerk se Sondagskoollesse geken en geweet hoe vereenvoudig dit was op kleutervlak: Jesus is lief vir jou. Wees mooi met ander. God is goed. As jy dit kon regkry dat 'n kleuter net een konsep op 'n Sondag snap wat uit drie of vier woorde bestaan, was dit 'n reuse prestasie.

Nou was my kind besig om op sy saaklike kleutermanier dinge vir my te vertel wat nie net op die oog af merkwaardig was nie, maar wat ook tot in die fynste besonderhede ooreengestem het met die Skrif. Hy het selfs die reënboogkleure wat in Openbaring (21:19-20) beskryf word aan my beskryf - beslis nie onderrigmateriaal vir kleuters nie. En terwyl hy opgewonde voortgebabbel het, het hy my - sy leraar-pa - elke nou en dan gevra: "Het Pappa dit geweet?"

Dan het ek gedink: Ja, maar hoe weet jy dit?

Ek het 'n paar oomblikke in stilte gesit terwyl Colton weer bomme op sy speelgoed laat val het. Dit sou ook die patroon vorm vir die volgende paar jaar: Ek sou sit en dink wat ek hom nog kon vra. Ek het sy woorde tot dusver oordink ... Johannes die Doper, Jesus en sy klere, reënboë, perde. Dit het ek alles verstaan. Maar wat van die skribbels? Wat het Colton bedoel met Jesus se skribbels?

Wat beteken skribbels vir 'n kindjie?

Skielik het ek geweet. "Colton, jy sê Jesus het skribbels. Bedoel jy soos kleurskribbels met 'n pen?"

Colton het sy kop geknik. "Ja, soos kleure. Jesus het kleure op Hom gehad."

"Soos wanneer jy inkleur?"

"Ja."

"Watse kleur is Jesus se skribbels?"

"Rooi, Pappa. Jesus het rooi skribbels."

My keel het byna toegetrek toe ek begin begryp wat Colton probeer sê het. Versigtig het ek gevra: "Colton, waar is Jesus se skribbels?"

Sonder om te huiwer het hy regop gestaan. Hy het sy regterpalm uitgehou en met sy linkerhand na die middel daar van gewys. Toe hou hy sy linkerpalm uit en beduie daarna met sy regterhand. Daarna het hy na die bokante van albei sy voete gewys.

"Dis waar Jesus se skribbels is, Pappa."

Ek het my asem skerp ingetrek. Hy het dit gesien. Hoe anders?

Ons weet waar die spykers Jesus deurboor het toe Hy gekruisig is, maar 'n mens bestee nie baie tyd aan hierdie grusame feite wanneer jy peuters en kleuters van Jesus leer nie. Om die waarheid te sê, het ek nie geweet of my seun al ooit 'n kruis gesien het nie. Katolieke kinders word groot met die beeld, maar Protestantse kinders, veral kleintjies, word net groot met die algemene begrip: "Jesus het aan die kruis doodgegaan."

Die spoed waarmee Colton my vrae beantwoord het, het my ook opgeval. Hy het met die oortuiging van 'n ooggetuie gepraat, nie versigtig, soos iemand wat die "regte" antwoorde wat by die Sondagskool of uit 'n boek geleer is, probeer onthou het nie.

"Colton, ek gaan boontoe om water te gaan haal," het ek gesê om die gesprek te beëindig. Of hy nou klaar was of nie, ek was klaar. Dit was vir eers al die inligting wat ek kon hanteer.

"Goed, Pappa," het Colton gesê en verder gespeel.

Bo in die kombuis het ek uit 'n waterbottel gedrink. Hoe is dit moontlik dat my seuntjie hierdie goed weet?

Ek het geweet hy het dit nie uitgedink nie. Ek was redelik seker nie ek of Sonja het al ooit met Colton gepraat oor Jesus se kleredrag nie, beslis nie oor wat Hy dalk in die hemel dra nie. Kon hy sulke besonderhede kry uit die Bybelstories wat ons vir die kinders lees? Colton het meer van ons geloof daaruit geleer as uit 'n maand se Sondae by die kerk. Maar die stories in die Kinderbybels wat ons vir hom gelees het, was baie vertellend en net 'n paar honderd woorde lank. Daar was nie baie detail in soos dat Jesus wit gedra het nie (maar die Skrif sê Hy het). En geen detail oor hoe die hemel dalk lyk nie.

Ek het nog 'n slukkie water geneem en kop gekrap oor die neef-affêre en die "skribbels". Hy het nie hierdie dinge by ons gehoor nie. En Colton het volgehou met die besonderhede wat ek aanvanklik nie verstaan het nie, soos die "skribbels". Daar was nog iets omtrent die skribbels wat my gepla het. Toe ek Colton gevra het hoe Jesus lyk, was dit die eerste ding wat hy genoem het. Nie die pers lyfband, die kroon of selfs Jesus se oe nie, alhoewel Colton duidelik daardeur bekoor is. Hy het uit die staanspoor gesê: "Jesus het skribbels."

Ek het eenmaal 'n geestelike "raaisel" gehoor wat so gegaan het: "Wat is die enigste ding in die hemel wat dieselfde is as wat dit op die aarde was?"

Die antwoord: die wonde in Jesus se hande en voete.

Dalk was dit waar.

Vervolg...