DIE HEMEL IS WERKLIK (19)

Todd Burpo

Lees reeks by Die hemel is werklik

OM TE LEEF EN OM DOOD TE GAAN

'n Jaar na Colton in die hospitaal was, het die lente van 2004 aangebreek. Goeie Vrydag het daardie jaar in April geval en Colton sou die volgende maand vyf word. Ek het altyd van Goeie Vrydag gehou, want ek het 'n "kom- en-gaan-gesinsnagmaal" gehou. Dit het beteken dat ek by die kerk was vir 'n paar uur terwyl gesinne opgedaag het om saam nagmaal te hou. Ek het dit vir 'n aantal redes geniet. Een daarvan was dat dit ons kerkgesinne die geleentheid gegee het om spesiale tyd saam deur te bring gedurende die Paasweek. Dit het my ook die ge­leentheid gegee om individuele gesinne te vra of hulle gebedsversoeke gehad het en dan kon ek sommer daar en dan saam met hulle bid.

Daardie oggend moes ek 'n paar dinge gaan doen, en ek het Cassie en Colton in my rooi Chevy gelaai en die paar blokke dorp toe gery. Colton was nog klein genoeg om in 'n kinderstoeltjie langs my te sit en Cassie het by die venster gesit. Terwyl ons afgery het met Broadway, die hoofstraat deur die dorp, het ek aan die gesinsnagmaaldiens en my verpligtinge vir die dag gedink. Toe het ek besef dit was 'n godsdienstige vakansiedag en ek het die ideale geleentheid gehad om met hulle te praat.

"Colton, vandag is Goeie Vrydag," het ek gesê. "Weet jy wat Goeie Vrydag is?"

Cassie het op en af op die karsitplek gehop en haar hand in die lug gewaai soos 'n ywerige student. "Ek weet! Ek weet!"

"Ek weet nie," het Colton gesê.

Ek het na Cassie gekyk. "Oukei, wat is Goeie Vry­dag?"

"Dis die dag toe Jesus aan die kruis dood is!"

"Jip, dis reg, Cassie. Weet jy hoekom Jesus aan die kruis gesterf het?"

Sy het ophou hop en begin dink. Toe sy nie dadelik 'n antwoord gee nie, het ek Colton gevra: "Colton, weet jy hoekom Jesus aan die kruis doodgegaan het?"

Hy het tot my verbasing geknik.

"Hoekom?"

"Wel, Jesus het vir my gesê Hy het aan die kruis dood­gegaan sodat ons sy Pa kon gaan sien."

Ek kon in my geestesoog sien hoe Jesus Colton op sy skoot tel en Hom nie steur aan kweekskoolgrade en teologiese verhandelinge nie. Deftige woorde soos soenoffer en soteriologie het Hy saamgevat in 'n verduideliking wat 'n kind kon verstaan: "Ek moes doodgaan aan die kruis sodat die mense op aarde my Pa kon kom sien."

Colton se antwoord was die eenvoudigste en mooiste verklaring van die evangelie wat ek nog ooit gehoor het. Ek het weer gedink aan die verskil tussen 'n volwassene en 'n kind se geloof.

Terwyl ek met Broadway afgery het, het ek besluit ek hou meer van Colton se verduideliking. Vir 'n paar minute het ons in stilte voortgery. Toe draai ek na hom met 'n glimlag: "Is jy lus om Sondag te preek?"

Later daardie maand het Colton my weer uitgeboul. Hierdie keer het dit oor lewe of dood gegaan.

Ek en Sonja het 'n teorie: Vandat 'n kind kan loop tot hy omtrent in graad een is, is een van 'n ouer se belangrikste take om die kind lewendig te hou. Geen vurke in kragsokke nie. Geen haardroërs in die bad nie. Geen koeldrankblikkies in die mikrogolf nie. Met Cassie het ons ons goed van ons taak gekwyt. Sy was teen daardie tyd sewe jaar oud en nie meer 'n gevaar vir haarself of ander nie. Colton was egter 'n ander storie.

So slim soos wat hy was wanneer dit by so baie dinge gekom het, was daar een beginsel wat hy maar net nie kon kleinkry nie: As 'n menslike liggaam met 'n bewegende kar in aanraking kom, is die gevolge nie lekker nie.

Al was hy al amper gereed vir graad nul, was hy steeds 'n kompakte mannetjie, wat 'n mooi manier is om te sê hy het sy pa se gene geêrf en was kort vir sy ouderdom. Hy was ook 'n bondel energie wat, die oomblik wat ons by 'n winkel uitstap, na die kar begin nael het. Ons was baie bang dat ander bestuurders hom nie sou raaksien nie en hom sou raakry as hulle by 'n parkeerplek uitry. Dit het gevoel of ons hom ten minste een of twee maal per week moes terugruk na die sypaadjie of agter hom aan skree: "COLTON, STOP!" Sodra ons hom dan ingehaal het, het hy raas gekry: "Jy moet vir ons wag! Jy moet Mamma of Pappa se hand vashou!"

Laat in April het ek en Colton eendag stilgehou by die Sweden Creme vir iets om aan te peusel. Dis 'n inry-restaurant wat deur 'n familie besit word en dit is ons kleindorpweergawe van 'n wegneemete-restaurant, omdat die wegneemete-kettingwinkels ons altyd oorslaan. Elke dorpie in Nebraska het so 'n winkeltjie. McCook het Mac's; Benkelman het Dub's; Holyoke het Dairy King. En by almal word dieselfde bedien: hamburgers en skyfies, hoendervingers en draairoomys.

Ek het daardie dag vanielje-roomyshorinkies vir my en Colton gekoop. Toe ons by die deur uitstap, het hy soos gewoonlik sy lekkerny geneem en na die parkeerterrein, wat net 'n paar meter van Broadway af is, gehol.

Met my hart in my keel het ek gegil: "COLTON, STOP!"

Hy het gestop en ek's seker ek was rooi in die gesig toe ek by hom kom. "Seun, jy kan dit nie doen nie! Hoeveel keer het ek jou dit al gesê?"

Toe sien ek 'n hopie pels in die middel van Broadway lê. Ek het die oomblik aangegryp om Colton iets te leer. "Kyk net daar."

Colton het sy roomys gelek en gekyk waarna ek beduie.

"Dis 'n hasie wat probeer het om oor die pad te hardloop en dit nie gemaak het nie. Dis wat met jou kan gebeur as jy uithardloop en 'n motorbestuurder sien jou nie! Jy kan seerkry, of selfs doodgaan!"

Colton het breed geglimlag bo sy roomys. "O, jippie! Dan kan ek weer hemel toe gaan!"

Ek het my kop net moedeloos geskud. Hoe kweek jy verstandigheid by 'n kind wat nie bang is om dood te gaan nie?

Toe het ek gekniel en na my seuntjie gekyk. "Dis nie waaroor dit gaan nie. Hierdie keer gaan ek eerste hemel toe. Ek's die pa; jy's die kind. Ouers gaan eerste!"

Vervolg...