DIE HEMEL IS WERKLIK (25)

Todd Burpo

Lees reeks by Die hemel is werklik

DIE NADERENDE OORLOG

'n Paar maande later moes ek besigheid gaan doen in McCook, 'n dorp omtrent 100 km van Imperial af. Die naaste Wal-Mart was ook in McCook. Vir baie Amerikaners is 'n uur se ry om by 'n Wal-Mart uit te kom baie ver, maar hier op die platteland raak 'n mens dit gewoond. Ek het Colton saamgeneem en sal nooit die gesprek vergeet wat ons op pad terug gehad het nie, want hoewel ons seun al oor die hemel en selfs oor my verlede met my gepraat het, het hy nog nooit vantevore laat blyk dat hy geweet het wat in my toekoms lê nie.

Ons het teruggery deur Culbertson, die eerste dorp wes van McCook, en was besig om by 'n begraafplaas verby te ry. Colton was nie meer in 'n karstoeltjie nie en het vanuit die passasiersitplek na die rye en rye grafstene gekyk.

"Pappa, waar is Pop begrawe?"

"Wel, sy liggaam is in 'n begraafplaas in Ulysses, Kansas, begrawe. Daar waar ouma Kay bly”, het ek geantwoord. "As ons weer daar is, kan ek jou neem om te gaan kyk waar dit is, as jy wil. Maar jy weet dis nie waar Pop is nie."

Colton het steeds by die venster uitgestaar. "Ek weet.

Hy's in die hemel. Hy het 'n nuwe liggaam gekry. Jesus het vir my gesê as jy nie hemel toe gaan nie, kry jy nie 'n nuwe liggaam nie."

Wag 'n bietjie, het ek gedink. Hier kom nuwe inligting.

"Regtig?" is al wat ek gesê het.

"Ja," en toe voeg hy by: "Het Pappa geweet daar kom 'n oorlog?"

"Wat bedoel jy?" Het ons steeds oor die hemel gepraat? Ek was nie seker nie.

"Daar gaan 'n oorlog wees en dit gaan hierdie wêreld vernietig. Jesus en die engele en die goeie mense gaan teen Satan en die monsters en die slegte mense baklei. Ek het dit gesien."

Ek het gedink aan die oorlog wat in Openbaring beskryf word, en my hart het vinniger geklop. "Hoe het jy dit gesien?"

"In die hemel kon die vroue en kinders terugstaan en kyk. Toe staan ek en kyk." Snaaks genoeg was sy stem nogal opgeruimd, asof hy gepraat het van 'n goeie fliek wat hy gekyk het. "Maar die mans moes veg. Ek het vir Pappa gekyk. Pappa moet ook veg."

Probeer om dit aan te hoor sonder om van die pad af te ry. Die geluid van die bande op die teerpad het skielik onnatuurlik hard geklink, 'n hoë kermgeluid.

Hier was die "hemelse tyd" weer ter sprake. Voorheen het Colton oor my verlede gepraat en hy het "dooie" mense in die teenwoordige tyd gesien. Nou het hy gesê dat hy te midde van dit alles ook die toekoms gesien het. Ek het gewonder of die beginsel van verlede, hede en toekoms slegs op die aarde geldig was. Miskien is tyd in die hemel nie liniêr nie.

Maar iets anders het my ook gepla. "Jy het gesê ons het teen monsters baklei?"

"Ja" het Colton vrolik gesê. "Soos drake en goed."

Ek is nie een van daardie predikers wat net eindtyd-profesiee verkondig nie, maar 'n besonder duidelike deel uit Openbaring het my bygeval:

6 En in dié dae *sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; en

hulle sal verlang om te sterwe, en die dood sal vir hulle wegvlug.

7 En *die voorkoms van die sprinkane was soos dié van perde wat

vir die oorlog toegerus is, en op hulle koppe was iets soos krone wat

net soos goud gelyk het, en hulle gesigte was soos die gesigte van

mense.

8 En hulle het hare gehad soos vrouehare, en *hulle tande was

soos dié van leeus.

9 En hulle het borsharnasse gehad soos van yster, en die gedruis

van hulle vlerke was *soos die gedruis van baie strydwaens met

perde wat opruk na die oorlog.

10 En hulle het sterte gehad soos dié van skerpioene, en daar was

angels in hulle sterte, en hulle mag was om die mense vyf maande lank skade aan te doen. (Op. 9:6- 10).

Vir eeue het teoloë die simboliek in hierdie soort Skrifgedeeltes gesoek: Miskien het die kombinasie van al die verskillende liggaamsdele op 'n soort land gedui, of dalk het elkeen op die een of ander soort koninkryk gedui. Ander het voorgestel dat "ysterharnasse" op moderne militêre masjinerie dui, wat Johannes nie kon beskryf nie omdat dit buite sy verwysingsraamwerk was.

Maar dalk het ons gesofistikeerde volwassenes pro­beer om dinge meer gekompliseerd te maak as wat dit regtig is. Dalk is ons te geleerd, te "slim", om die kreature in die eenvoudige taal van 'n kind te benoem: monsters. "Colton ... waarmee baklei ek teen die monsters?" Ek het gehoop hy sê 'n tenk of 'n bomwerper. lets waarmee ek van 'n afstand af kon veg.

Colton het my glimlaggend aangekyk. "Pappa kry of 'n swaard, of 'n pyl en boog - ek kan nie onthou watter een nie."

Ek het hom verslae aangekyk. "Bedoel jy ek moet met 'n swaard teen monsters veg?"

"Ja, Pappa, maar dis oukei," het hy my bemoedig. "Jesus wen. Hy gooi Satan in die hel. Ek het dit gesien."

20

OPENBARING 20

Die Satan duisend jaar gebind. Die gelowiges heers saam met

Christus.

1 EN ek het ’n engel uit die hemel sien neerdaal, *met die

sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand.

2 En hy het *die draak gegryp — *die ou slang wat die duiwel en

die Satan is — en hy *het hom gebind duisend jaar lank,

3 en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en *dit bo hom

verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend

jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ’n kort tydjie ontbind

word.

Die Satan word losgemaak en vir altyd oorwin.

7 EN wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan *uit sy

gevangenis ontbind word;

8 en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van

die aarde is, *die Gog en die Magog, *om hulle te versamel vir die

oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see.

9 En *hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer

van die heiliges en *die geliefde stad omsingel, en *vuur het van

God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.

10 En die duiwel wat hulle verlei het, *is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet (Op. 20:1-3, 7-10).

Colton was besig om die slag van Armageddon te beskryf en te sê dat ek daarin sou veg. Vir die soveelste maal vandat Colton die eerste keer aan ons vertel het dat die engele in die hospitaal vir hom gesing het, het my kop gedraai. Ek was sprakeloos terwyl ek vir 'n paar kilometer gery het en hierdie beelde oordink het. Ook het Colton se ongeêrgdheid my opgeval. Sy houding was so half: "Wat is die probleem, Pa? Ek het mos gesê op die ou einde wen die goeie ouens."

Dit was ten minste 'n troos. Ons het net die buitewyke van Imperial binnegery, toe ek besluit het om net so ongeêrgd soos hy te wees. "Wel, seun, ek skat as Jesus wil hê ek moet veg, sal ek veg."

Colton het weggedraai van die venster en sy gesig was ernstig. "Ja, ek weet," het hy gesê. "Pappa sal."

Vervolg...