GESEËNDE JONGDAE BAAR GESEËNDE OUDAE
Ds Andrè van den Berg
Ouderdom is ʼn voorreg wat almal nie beskore is nie. Baie mense sterf jonk. Alhoewel ouderdom aan lewensjare gemeet word, word dit deur ʼn positiewe lewensingesteldheid bepaal en behoort mense ryper vir die lewe te maak. Ongelukkig laat sommige mense toe dat vader tyd en moeder natuur hulle te vinnig inhaal en word hulle in werklikheid oud voor hul tyd.
Die ouderdom is ʼn tyd waarin die mens na rus en vrede smag. Goeie jeugjare is hier onontbeerlik. Ons moet in die oggend van ons lewe al vir die aand daarvan voorberei. Wie sy lewe in sy jongdae nie in orde kry nie, slaag nie maklik op sy oudag daarin nie.
Roekelose jeugjare baar hartseer oudae. Wie die bloeisels in die lente van sy lewe afpluk, kan mos nie vrugte in die winter daarvan verwag nie. Die blare van ʼn roekelose jeug veroorsaak ʼn aaklige geritsel op die oudag. ʼn Jongmens wat ʼn sinvolle lewe lei, geniet feitlik altyd ’n onvernietigbare stuk somer in die winter van sy lewe.
Gelowiges moet met die verganklikheid van die lewe vrede maak. Geliefdes sal sterf. Ja, dis hartseer om met ʼn volgende hoofstuk aan te gaan en te weet dat die persoon in die vorige een nie daarin sal wees nie. ʼn Melkboer het gesê dat jy ’n koei net vir ʼn tyd lank kan hê, waarna jy net die melkemmer oorhou.
Ouderdom is ook voordelig. Al is jy nie meer op die verhoog nie, kry jy dikwels die beste sitplek in die gehoor en hoe ouer jy word, hoe meer mense glo wat jy sê. Al vernietig ouderdom skoonheid, vernietig dit gelukkig nie styl nie. Dit laat hoogstens plooie op die gesig maar nie op die hart nie.