DIE UURGLAS LOOP UIT (2)

Ds Andrè van den Berg

2. As God ingryp

“En ek het ’n groot stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê: Gaan gooi die skale van die grimmigheid van God op die aarde uit. Toe gaan die eerste een weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het”(Openb.16:1,2)

“En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is”(Luk.21:28).

Al lyk dit vir baie mense asof die boosheid van die mensdom onbepaald gaan voortduur, gee die Bybel gelowiges die versekering dat dit wel einde gaan kry. Daar kom ʼn dag deur God bepaal, dat Hy so kragtig gaan ingryp, dat die mensdom sal erken dat Hy die ware God is en elke knie voor Hom sal buig:

Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom 'n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God...” (Fil.2:9-11).

Die dag as God ingryp, sal gelowiges jubel en goddeloses kruipend voor Hom erken dat hulle die ewige hel oor hulleself gebring en geen verskoning vir God se oordeel hê nie. Deur die eeue het die meerderheid mense hulle nie aan God se roepstem van bekering en genade gesteur nie. Wie wel daarop ag gegee en Jesus in hul lewe ingelaat het, juig van vreugde. Die goddelose sidder in afwagting van ewige pyniging en in verhouding baie meer as die gelowiges.

Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Mt.7:13,14).

As God oordeel, keer niemand Hom nie. Hy het alreeds voor die skepping van die aarde die einde daarvan bepaal. Gevolglik loop die uurglas stadig maar seker uit. Een ding moet gelowiges weet - dit wat God begin het, voer Hy enduit uit.

Geen menslike instansie of owerheid kan dinge eerbaar op aarde afrond nie. Die Bybel leer juis dat die menslike magte van die laaste dae kop in een mus met die Antichris gaan wees en derhalwe niks van God se regverdige standaarde wil weet nie. Daarom gryp God met die sewe engele in wat die sewe laaste plae oor die aarde uitgooi. Daarmee lui die klok vir die laaste rondte waarin die straf van God oor die goddelose voltrek word.

Omdat hierdie tye baie moeilik gaan wees, gee God gelowiges vyf vertroostings:

  1. die oop Boek,
  2. 7 engele,
  3. die goue skale,
  4. 4 lewende wesens en
  5. die uitwerking van die plae.

(i) Die oop boek is die Bybel. Gelowiges sal dit biddend en met blydskap lees omdat God daarin die antwoord vir alles wat in die laaste dae gebeur, gee. Daarom moet die boek oop bly waardeur God,wat alles weet, in besonder met die laaste gelowiges gaan praat sodat hulle nie moedeloos word en verslap nie.

(ii) Die sewe engele in die blink linne en goue gordels om die bors laat ʼn mens dink aan die visioen waarmee Openbaring van Jesus begin:

               “en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met ’n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ’n goue gordel”(1:13).

Dit sê dat hierdie engele in die Naam van Jesus optree. Hulle is in priesterlike drag geklee en wys na Jesus heen wat die volmaakte hoë priester is en Homself as ʼn volkome versoening vir sondes geoffer het. Met hierdie beeld herinner die sewe engele gelowiges daaraan dat Jesus ʼn besondere paadjie in die eindtyd met hulle gaan stap. Hy is immers onder alle omstandighede by gelowiges. Die laaste gelowiges gaan egter ʼn baie sterker ervaring daarvan hê.

(iii) Hierdie engele moet die laaste plae op die aarde bring. Die goue skottels is volgens Openb.5:8 simbole van die gelowiges se gebede voor God. In dae van groot benoudheid antwoord Hy sy kinders se gebede baie duidelik.Die Heilige Gees maak hierdie behoefte aan gebede in die laaste gelowiges se harte wakker en laat gebed nuwe betekenis kry.

Let op Israel toe hulle slawe in Egipte was en bitter swaar gekry het. Wat doen ʼn mens in sulke tye? Jy Bid!   En dis wat Israel gedoen het. God het hulle versugtinge gehoor en daarna plae oor Egipte laat kom. Egipte moes gestraf word om Israel te bevry. Iets soortgelyks gaan aan die einde van die tyd gebeur. God gaan die goddelose straf ten einde die gelowiges te bevry. Daarvoor gebruik Hy sewe engele met sewe laaste plae. Alhoewel lewensomstandighede baie swaar sal wees, moet gelowiges rustig raak en soos oud-Israel juig om van Satan se slawediens bevry en op pad na die beloofde stad te wees – die Nuwe Jerusalem.

(iv) Een van die vier lewende wesens gee aan die engele die goue skale met die laaste plae. Van hulle weet ons baie min en kom hulle ondermeer in die visioene van Esegiël teë en dan eers in Openbaring. Hulle vertoon die gelaatstrekke van ʼn leeu, ʼn bulkalf, ʼn mens en ʼn arend. Hulle is God se persoonlike agente. Die leeu verteenwoordig die ongetemde oerwoud, die kalf die getemde aarde, die mens die kroon van die skepping en die arend die koning van die voëls.

In die beeld van die arend sien ons van God se innige betrokkenheid by Israel se tog deur die woestyn. By die berg Horeb sê God vir Israel:

Ek het julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring (Ex. 19:4).

Openb.12:14 sê dat God in die laaste dae arendsvlerke aan gelowiges sal gee. Die vier lewende wesens wat die skottels aan die engele gee, is oorgehaal en gereed vir die laaste oordeel. Wat sê dit? Dat alles onder God se almagtige beheer is en alles derhalwe volgens sy ewige plan verloop.

By die uitgieting van die eerste van die sewe plae word iets troosvol genoem; bose swere het aan mense gekom wat die merk van die dier gehad en sy beeld aanbid het (Openb.16:2). Onthou dat oud-Israel destyds ook deur die plae wat God oor Egipte getuur het, geraak is. Die Egiptenare het egter die spit afgebyt. Dieselfde gaan met die laaste plae gebeur as die bose swere net oor hulle kom wat die merk van die Antichris het en sy beeld aanbid. Dit gaan nie toevallig wees nie. Alles is deeglik onder God se beheer.

Die wat in Christus is en met die bloed van die Lam gemerk is, word uitgesonder. Dit herinner ʼn mens aan die bloed van die paaslam met die uittog uit Egipte.

“En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel, aan die huise waarin hulle dit eet.Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref.... Maar die bloed sal vir julle ’n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan...”(Ex.12:7,1)

Ons sal sekerlik geraak word, maar dit sal baie anders wees as met die goddeloses wat hulle nog verder sal verhard, weier om die knie voor God te buig en Hom nog verder belaster soos wat Farao en sy mense gedoen het. Hierdie laaste plae sal wêreldwyd plaasvind sodat niemand dit kan miskyk nie. Sodra dit gebeur, sal gelowiges weet dat hul hemelse Vader ingryp!

Gelowiges moenie aan die slaap gevang word en onvoorbereid wees nie. Paulus skryf:

“En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het” (Rom.13:11).

As Paulus al in sy tyd daarvan praat, hoeveel nader is dit nie vandag nie!

Dinge is aan die gebeur. Openbaring is ons padkaart na die Nuwe Jerusalem. Moenie dit toemaak nie want die einde is naby en oë van geloof gaan ʼn reuse verskil maak. Oral loop mense kop onderstebo; ontnugter, radeloos en neerslagtig. Tree as kind van God anders op.   Tel jou kop op want ons is in die pylvak van die wederkoms, die verlossing naby en die Nuwe Jerusalem in sig. Jesus sê:

“En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is”(Luk.21:28).