DIE UURGLAS LOOP UIT(9)

As die duiwel losgelaat word

Ds A.E. van den Berg

“En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word” (Openb.20:7).

Dis erg om in ʼn land te leef waardie owerheid booshede vrye teuels laat geniet. So ʼn owerheid beantwoord nie aan God se doel van owerheidsinstelling nie:

“Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang. Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf” (Rom.13:1-4).

Die owerheid is juis deur God ingestel om booshede te stuit sodat mense in rus en vrede kan leef. Die Bybel waarsku egter dat sodra Satan net voor die wederkoms losgelaat word, owerhede werktuie in diens van Satan sal word.

Jesus waarsku gelowiges om die Openbaringboek nie toe te maak nie, want dan gaan booshede hul onverhoeds betrap. Openbaring gee nie ʼn volledige relaas van wat in hierdie kort tydjie van loslating gaan gebeur nie, maar slegs aanduidings wat ons met inligting elders uit Openbaring en die res van die Bybel moet aanvul.

Die eerste ding wat Satan na sy loslating doen, is om nasies wêreldwyd vir ʼn oorlog teen diegene wat aan Jesus behoort, te monster. Hierdie leërmag is so talryk soos die sand van die see en word simbolies die Gog en die Magog genoem word. Wie is hulle? In Esegiël hoor ons van ʼn eindtyd-profesie oor hulle.

“Dit sal in die verre toekoms wees dat Ek jou my land sal laat aanval en wanneer Ek jou, Gog, laat ervaar dat Ek die heilige God is, sal al die nasies My erken” (Eseg.38:16).

Gog en die Magog dui op die verpersoonliking van die bose mag teen die gelowiges van die eindtyd. Hierdie mag trek “teen die laer van die heiliges”saam en omsingel “die geliefde stad”. Dan word kortweg gesê dat God vuur uit die hemel laat neerdaal en die goddelose verteer om geen verdere invloed uit te oefen nie.

Hierdie toedrag van sake duur ʼn kort tyd. Jesus verseker gelowiges herhaaldelik dat God hierdie dae t.w.v. sy uitverkorenes verkort het.   Die vervolging is noodsaaklik om die kaf van die koring te skei en sodoende die wêreld vir Jesus se wederkoms reg te kry.

“Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe. En hierdie woord: nog een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly. Daarom, omdat ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees” (Hebr.12:26-28).

Wat gee aanleiding tot hierdie oorlog?   Daar word gesê dat die Gog en Magog “die laer van die gelowiges en die geliefde stad omsingel”. ʼn Laer is nie ʼn permanente blyplek nie. Israel het tydens hulle woestyntog op verskillende plekke laer opgeslaan. Gelowiges het geen vaste verblyf op aarde nie. Hulle is op pad na die hemelse Jerusalem. Gelowiges moenie aan aardse dinge gebonde wees nie. Des te meer nie die laaste gelowiges nie!

Al word gelowiges wêreldwyd vervolg en lyk dit asof Satan die oorhand kry, tree God met vuur uit die hemel in waarna geen goddelose oorleef nie. Almal kom om, maar word nie summier in die hel gewerp nie. Daar moet eers ʼn regverdige verhoor plaasvind. Al wie op hierdie stadium in die poel van vuur en swawel gewerp word, is Satan omdat sy doel uitgedien is. Hierna hoor ons niks weer van hom in die Bybel nie.

Satan het geen mag oor die siele van gestorwene gelowiges nie. Daarom sê Jesus:

“En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat siel sowel as liggaam kan verderwe in die hel” (Mt.10:28).

Met die dood breek die oomblik van waarheid vir elke mens aan:

“ʼn Mens is bestem om net eenmaal te sterf, en daarna kom die oordeel” (Hebr.9:27).

Dis ook die strekking van Paulus se woorde:

“Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood” (1 Kor.15:26).

Met die eindoordeel verdwyn die dood in die niet. Paulus verwys daarna as ʼn vervulling van die profetiese uitsprake in Jes.25:8 en Hos.13:14:

“...dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: die dood is verslind in die oorwinning. Dood, waar is jou angel? Doderyk waar is jou oorwinning?”

Die dood is vir elke mens ʼn afsnypunt, maar nie die einde van alles nie. Dis slegs die grens wat elke mens oorsteek waarna niks aan sy ewige lot verander kan word nie. Jesus sê:

“...daar kom ʼn uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling”.

Die dood het geheel uit die prentjie verdwyn.

Maar wat van die gelowiges in die oordeelsproses? Alhoewel in die gelese gedeelte nie direk daarna verwys word nie, het gelowiges genoegsame Bybelse inligting hieroor. Paulus verseker gelowiges dat hulle met die wederkoms by Jesus vergader en daarna altyd by Hom sal wees. In Openb. 20:6 word gesê:

“Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie.”

In Openb. 14:13 word ons verseker:

“Salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hulle arbeid en hulle werke volg met hulle.”

Bowendien word in Openb.17:14 en 19:14 aangedui dat gelowiges reeds in Jesus se teenwoordigheid is.

Jesus leer ons in Openbaring soveel as wat ons nodig het om oor die wederkoms te weet. Mense moenie na leuens oor ʼn duisendjarige vrederyk of ʼn wegraping luister nie. Dis dwaalleer en die byvoeging waarteen Jesus duidelik waarsku!

“Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Openb.22:18.19).

Satan sal volgens God se plan losgelaat word om sy rol enduit te speel. Dit gaan bittere gevolge hê maar noodsaaklik wees. Moenie die Openbaringboek toemaak nie. Jesus sê self: die tyd is naby! Sonder kennis van Openbaring sal die tyd en omstandighede van die eindtyd geen sin maak of mense enige hoop gee nie. Openbaring is soos ʼn lig in die donker en ʼn vuur van hoop:

“Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ʼn mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet (1 Kor. 2:9).

Een ding moet gelowiges opnuut besef - die wêreld is nie hul woonplek nie. Jesus sê:

“Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Mt.6:19-21).

As jou hart reg is, sal jou ewige tuiste ook reg wes. Laat ons soos die Psalmdigter bid:

“Ek is ’n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie” (Ps.119:19).