’n Studiehandleiding by die lees van die Nuwe Testament
Die Evangelie van Matteus
Anita Joubert
Matteus 4:1-11 Dit is belangrik om hier reg aan die begin van hierdie gedeelte, te kyk na die presiese betekenis van die woord “versoeking”. Die Griekse woord wat met “versoeking” vertaal is, is peirazein. “Versoeking” het ’n baie negatiewe betekenis. Dit beteken om iemand te versoek om hom te laat sondig of verkeerde dinge te doen. Die Griekse woord peirazein beteken baie eerder om “getoets” te word.
Een van die bekende stories in die Ou Testament is dié van Abraham wat amper sy seun Isak aan God geoffer het (Gen 22:1-18). God het Abraham se lojaliteit getoets. Net soos wat metaal se sterkte getoets moet word, veel verder as die weerstand wat dit sal moet bied, net so moet mense ook deur God getoets word voordat Hy hulle vir ’n spesiale doel gebruik.
Die groot en opbouende waarheid is dus dat versoeking nie bedoel is om ons in sonde te laat val nie, maar om ons te help om sonde te oorwin. Dit is nie bedoel om ons swakker te maak, maar om ons sterker en suiwerder aan die ander kant te laat uitkom. God toets diegene wat Hy graag wil gebruik. Ons moet dus nie aan die gebeure in die woestyn dink as die “versoeking” van Jesus nie, maar as die “toetsing” van Jesus.
Al wat ons weet van die plek waar dit plaasgevind het, is dat dit in die woestyn was. Tussen Palestina en die Dooie See, lê die uitgestrekte woestyn. Dit is ’n area bestaande uit geel sand en is bloedig warm.
Jesus het daarheen gegaan om alleen te wees. Hy het sy taak ontvang, God het met Hom gepraat en Hy moes dink hoedat Hy sy taak gaan aanpak.
Dit gebeur dikwels dat ons dinge verkeerd aanpak omdat ons nie genoeg tyd alleen in God se teenwoordigheid spandeer nie. Daar kom tye in ’n mense se lewe dat niemand se raad goed genoeg is nie, maar dat ons net by God ons taak en leiding kan ontvang.
Al drie die Evangelies beklemtoon die feit dat Jesus onmiddellik nadat Hy deur Johannes gedoop is, in die woestyn versoek is. Dit lyk asof dit ’n lewenswet is, dat net nadat ons geestelike weerstand op sy hoogste was, dit onmiddellik daarna grond toe duik. Lees gerus die verhaal van Elia wat, net nadat hy die grootste wonderwerk van sy tyd op die Berg Karmel beleef het, vir sy lewe gevlug het (1 Kon 18:17-40). Hier het die duiwel ook baie slu en versigtig die tyd uitgekies om vir Jesus aan te val.
Ons moet ook nie aan hierdie gebeure dink as net ’n uiterlike, sigbare gebeurtenis nie. Dit was ook ’n innerlike stryd wat in Jesus se eie hart, gedagtes en siel plaasgevind het. Die bewys daarvoor is dat daar geen moontlike berg in Palestina is, waarvandaan al die koninkryke van die wêreld gesien kan word nie.
Dit is dikwels deur sulke innerlike gedagtes dat die duiwel ons aanval. So ’n aanval is so werklik dat ons amper die duiwel self kan sien. In die Kasteel van Wartburg in Duitsland, is daar tot vandag nog ’n inkkol teen ’n muur waar Martin Luther die duiwel met ’n inkpot gegooi het terwyl hy hom so getreiter het. Die duiwel vind altyd sy wapens in ons eie gedagtes en begeertes.
Ons moet ook nie dink dat Jesus die duiwel hier vir eens en vir altyd oorwin het en dat hy nie weer probeer het om Hom te veroek nie. Ons lees van Petrus wat vir Jesus probeer oorreed het om nie sy kruispad te stap nie (Matt 16:23). Aan die einde kon Jesus vir sy dissipels sê: “Julle is die mense wat deur My beproewings altyddeur by My gebly het” (Luk 22:28). Ook was daar nog nooit in die geskiedenis so ’n geveg soos in Getsemane, toe die versoeker probeer het om Hom van die kruis af weg te keer nie. Selfs ’n engel moes uit die hemel verskyn om Hom te versterk (Luk 22:42-44).
Soms is Christene bekommerd daaroor dat hulle nie op ’n punt kom in hulle lewens waar die krag van die versoeker verbreek is nie. Jesus het self nooit daardie punt in sy aardse lewe bereik nie. Van die begin tot die einde, moes Hy die geveg veg. Daarom kan Hy ons help om ons gevegte te veg.
Dit is belangrik om te onthou dat ons altyd deur ons eie gawes en vermoëns versoek word. Hulle wat met groot talente en gawes geseën is, sal altyd in die versoeking wees om daardie gawes vir hulself te gebruik, en nie vir ander nie. Hulle sal altyd die versoeking moet weerstaan om ander daarmee te probeer beheer, in plaas daarvan om ander daarmee te dien. Die wrede werklikheid van versoeking, is dat ons altyd op die uitkyk moet wees daar waar ons van nature die sterkste is.
Ons kan ook nooit hierdie storie lees nie, sonder om te onthou, dat die bron van die verhaal, die Here Jesus self is. Daar was niemand by Hom toe Hy hierdie stryd gestry het nie. Ons weet daarvan net omdat Jesus dit self vir sy dissipels vertel het. Ons moet hierdie gebeure altyd met die grootste ontsag benader, want Jesus het sy diepste innerlike blootgelê. Hy kan ons help deur ons versoekings, omdat Hy self ook versoek is.
Die duiwel se versoekings het na Jesus toe gekom uit drie verskillende hoeke.
- Daar was die versoeking om klippe in brood te verander. Hierdie was ’n dubbele versoeking. Die duiwel wou hê dat Hy sy krag vir eie selfsug moes gebruik. Dit was presies wat Jesus nog altyd geweier het om te doen. Ons word altyd versoek om die vermoëns wat God aan ons gegee het, op ’n selfsugtige manier, net vir onsself te gebruik.
Jesus was die Messias, en Hy het dit geweet. In die woestyn moes Hy kies op watter manier Hy mense na Hom toe sou trek. Watter metode sou Hy gebruik om die taak wat God aan Hom gegee het, uit te voer? ’n Baie seker manier om die mense te oorreed om Hom te volg, sou wees om vir hulle materiële dinge te gee. Die geskiedenis het dit al bewys. Die Here het vir Moses gesê: “Ek sal elke keer vir julle kos uit die hemel laat reën. Dan moet die volk elke dag gaan en dié dag se vooraad optel. So sal Ek toets of hulle my opdrag wil nakom of nie.” (Eks 16:4). Om egter vir die mense kos te gee, sou ’n dubbele fout gewees het. Eerstens sou Hy daarmee die mense omkoop om Hom te volg; om dit te doen net vir dít wat hulle daaruit kon kry. Jesus het gekom om mense te roep tot ’n lewe van gee, en nie neem nie.
Tweedens sou wees soos om net die simptome van ’n siekte weg te neem en nie die siekte gesond te maak nie. Mense is honger as gevolg van hulle eie dwaasheid en selfsug. Sommige het te veel en ander te min. Die oorsake vir hulle honger lê in die harte van mense, en materiële dinge kan dit nie bevredig nie. Jesus antwoord die duiwel se versoeking met presies dieselfde woorde wat Moses vir die volk in die woestyn gesê het: “Hy het dit gedoen om jou te leer dat ’n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom” (Deut 8:3). Die enigste manier waarop ’n mens volkome bevrediging kan kry, is deur volkome afhanklikheid van God te leer.
- Die duiwel het ook vir Jesus na die hoogste punt van die tempel geneem. Dit kon die staanplek van die priester, wat elke oggend met ’n trompet die tyd van die oggendoffer aangekondig het, op die tempel se dak gewees het. Jesus kon maklik daar afgespring het en vertrou het op die belofte in Psalm 91:11-12, dat sy engele Hom op hulle hande sal dra sodat Hy nie sy voet teen ’n klip sal stamp nie. Maar dit is nie hoe ons met die krag van God te werk mag gaan nie, en Jesus se antwoord aan die duiwel is: “Julle mag nie die geduld van die Here julle God nie op die proef stel, soos julle by Massa gedoen het nie” (Deut 6:16). Hy het daarmee bedoel, dat om te kyk hoe ver jy met God kan gaan deur jouself roekeloos in ’n gevaarlike situasie te plaas en dan van God te verwag om jou te red, is baie gevaarlik. God verwag van ons om risiko’s aan te gaan in ’n poging om aan Hom getrouheid te bewys, maar nie om ons eie eer te probeer bewerkstellig nie. Geloof kan nie op sensasie gebaseer wees nie. God se reddende krag is nie iets om mee te speel of te eksperimenteer nie.
- Die duiwel het ’n derde manier van aanval probeer deur vir Jesus al die koninkryke van die wêreld aan te bied as Hy hom sou aanbid. Hy wou eintlik daarmee vir Jesus sê dat hulle ’n ooreenkoms moet aangaan. Jesus moes nie sy vereistes so hoog stel nie. Hierdie was die versoeking om net bietjie soos die wêreld te wees, in plaas daarvan om God se standaard sonder kompromie te volg. Jesus se antwoord was: “Die Here jou God moet jy aanbid, en Hom alleen dien” (Deut 6:13). Christene kan nooit op die vlak van die wêreld funksioneer nie. Hulle moet altyd die wêreld na hulle vlak toe oplig. Niks anders kan werk nie.
Die pad wat Jesus gekies het, het onvermydelik op die kruis uitgeloop, maar die kruis het die finale oorwinning beteken.
Matteus 4:12-17 Dit was nie baie lank nie, of die rampe het vir Johannes getref. Hy is gearresteer en in die kelders van die kasteel van Machaerus, by koning Herodus opgesluit. Sy oortreding was dat hy openlik vir Herodus betig het, omdat hy sy broer se vrou verlei het en haar sy eie gemaak het, nadat hy van sy eie vrou ontslae geraak het. Dit is nooit veilig om ’n tiran soos Herodus te betig nie, en Johannes se waagmoed het hom eers in die tronk laat beland, en toe later tot sy dood gelei.
Die tyd vir Jesus om met sy opdrag te begin, het nou aangebreek. Toe Hy Nasaret verlaat het en in die dorpie Kapernaum gaan woon het, was daar ’n simboliese finaliteit sigbaar. Hy het nooit weer terug gekeer om daar te gaan woon nie. Dit was ’n skoon breuk met die oue en ’n begin van die nuwe. Daar kom soms oomblikke van besluite in ’n mens se lewe wanneer dit beter is om ’n skoon breuk te maak, eerder as om op twee gedagtes te hunker.
Toe Jesus na Galilea gegaan het om sy bediening te begin, het hy geweet wat Hy doen (vers 12). Galilea was nie baie groot nie, maar baie digbevolk. Dit was die vrugbaarste streek van Palestina en die geskiedskrywer, Flavius Josefus, skryf dat daar tweehonderd en vier dorpies was, met elkeen nie minder as vyftienduisend inwoners nie. Jesus het sy bediening begin in die deel van Palestina waar daar die meeste mense was wat na Hom kon luister.
Galilea was nie net digbevolk nie, maar sy inwoners was ook mense van ’n sekere soort. Hulle was oop vir nuwe idees en gereed om ’n nuwe leier te volg. Hulle was nie lafhartig nie, en dit was dus ’n vrugbare plek vir die verkondiging van die evangelie. Daar is drie redes waarom dit so was:
- Die naam “Galilea”, kom van ’n Hebreeuse woord wat beteken dat dit deur heidene omsirkel was. Dit was dus dié een gedeelte van Palestina wat in besonder in aanraking met nie-Joodse invloede en idees was.
- Die groot paaie en al die verkeer van die destydse wêreld het deur Galilea gegaan. Af na die suide, in ’n hoek, het Judea gelê. Judea was afgesny van nuwe invloede, maar nie Galilea nie.
- Galilea se geografiese posisie het ook sy geskiedenis bepaal. Dit is talle kere deur ander nasies oorwin en oorstroom. Oorspronklik is hierdie streek aan die stamme van Aser, Naftali en Sebulon toegesê, toe die Israeliete die land ingeneem het (Jos 19). Hierdie stamme het nie daarin geslaag om die oorspronklike inwoners van Kanaän uit te roei nie, en van die begin af het die inwoners van Galilea uit gemengde volkere bestaan.
Galilea was dus ’n plek waar ’n nuwe leermeester, met ’n nuwe boodskap, ’n goeie kans gehad het om gehoor te word. Dit was daar waar Jesus sy bediening begin het. Jesus het Homself in Kapernaum gaan vestig (vers 13). In vers 17 gee Matteus vir ons in een sin ’n opsomming van die boodskap wat Jesus verkondig het: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Dieselfde vers sê ook dat Hy begin “preek” het. Die Griekse woord wat gebruik is, is kērussein. Dit beteken die “boodskap van ’n koning, wat deur sy boodskapper aangekondig word.” Wanneer ons die betekenis van hierdie woord verstaan, dan verstaan ons die eienskappe van Jesus se prediking. Dit is dié eienskappe wat in elke preek teenwoordig moet wees, naamlik ’n boodskap van die Koning van alle konings, aan die mense. Hierdie Boodskapper het die volgende eienskappe geopenbaar:
- In sy stem was daar sekerheid. Hy het nie gekom met miskien of dalk nie, maar Hy het gekom met ’n baie definitiewe boodskap.
- In sy stem was daar outoriteit. Hy het namens die Koning gepraat en sy wette, opdragte en besluite neergelê. Iemand het eenmaal gesê ’n goeie prediker raai nie, hy weet. Goeie prediking is die toepassing van God se gesag op ’n huidige situasie.
- Hierdie Boodskapper se boodskap het van ’n bron gekom wat buite Homself was. Dit het van die Koning gekom. Jesus het met die stem van God met die mense gepraat.
Jesus se boodskap was: “Bekeer julle! Draai weg van julle verkeerde weë. Draai na God toe. Lig julle oë van die aarde af op en kyk na die hemel.” Die boodskap was dringend, want God het na die mense toe gekom in Jesus Christus. Daarom was dit van die uiterste belang dat elke mens die regte rigting moes kies.
Matteus 4:18-22 Die hele Galilea was rondom die See van Galilea gesentreer. Dit is een en twintig meter lank, van noord na suid, en dertien kilometer breed, van oos na wes. Die See van Galilea is dus eintlik klein, en dit is interessant om op te let dat Lukas, wat ’n groot deel van die wêreld gesien het, nooit daarvan as ’n see praat nie, maar altyd van ’n meer. Dit is ovaalvormig en lê seshonderd en tagtig voet onder seevlak. Dit is waarom die klimaat daar besonder warm is, en die omliggende landbougebied ook besonder vrugbaar.
In Jesus se tyd, was daar baie vissersbote. Josefus het geskryf dat dit nie vreemd was om tot tweehonderd en veertig vissersbote gelyktydig op die See te tel nie. Daar was drie metodes waarop daar vis gevang is. Een was met ’n gewone visstok, die ander twee metodes was met nette. Die een manier was om met ’n ronde net te vang, ongeveer drie meter in deursnee. Die visse is in die vlakwater, aan die kant van die meer daarmee gevang, deurdat die net deur die water gesleep is. Die ander metode was met ’n net wat tussen twee bote vasgemaak is. Wanneer die bote dan stadig deur die water beweeg het, het die net ’n vanghok gevorm waarin die visse gevang is.
Dit is hierdie tweede metode waarmee die vier dissipels besig was, toe Jesus hulle gesien het. Dit kon nie die eerste keer gewees het dat Hy hulle gesien het nie, want ons lees dat sommige van die dissipels reeds volgelinge van Johannes die Doper was (Joh 1:35). Daar is geen twyfel daaroor dat hulle al in die verlede met Jesus gepraat het of na Hom geluister het nie, maar op daardie oomblik het hulle net die drang ervaar om Hom te volg.
Dit is interessant om op te let dat hierdie dissipels nie mense was met geleerdheid nie. Hulle het nie rykdom, bekendheid of sosiale status gehad nie. Hulle was arm, hardwerkende mense gewees, met geen besondere toekoms nie. Jesus het sulke gewone mans en vroue nodig wat hulleself aan Hom kan gee. Met sulke mense kan Hy baie doen.
Verder was hulle vissermanne. Dit was mense wat oor sekere karaktereienskappe beskik het, wat van hulle ook goeie vissers van mense gemaak het.
- Hulle moes geduld hê. Hulle moes geduldig kon wag totdat die visse die aas gevat het. Om mense vir God se koninkryk te vang, verg ook geduld.
- Hulle moes deursettingsvermoë hê. Hulle moes leer om nie moedeloos te raak nie, maar om altyd weer te probeer. Goeie predikers en leraars moet ook altyd bereid wees om weer te probeer.
- Hulle moes moed hê om die gevare van die See te trotseer. Net so moet ’n goeie prediker weet dat dit gevaarlik is om vir mense die waarheid te vertel.
- Hulle moet, deur ondervinding, die oog hê vir die regte oomblik. Hulle moet weet wanneer dit die regte tyd is om die net uit te gooi. ’n Wyse prediker weet ook wanneer dit tyd is om te praat, en wanneer dit tyd is om stil te bly.
- Hulle het ook geweet watter aas vir watter soort vis geskik is. Paulus het gesê dat hy vir almal alles geword het om in elk geval sommige te red (1 Kor 9:22). ’n Wyse prediker moet sy eie beperkinge ken en weet wat hy kan doen en wat nie.
- Hulle moes hulself onopvallend hou sodat die visse nie hulle skaduwees sien nie, want dan byt hulle nie sommer nie. Net so moet ’n prediker vir Jesus Christus aan mense voorstel, en nie ander se oë op hulleself probeer vestig nie.
Matteus 4:23-25 Ons het reeds gesien hoe gereed die mense van Galilea was om die saad te ontvang. Die sinagoges was die belangrikste plek in die lewe van elke Jood. Daar was ’n groot verskil tussen die sinagoges en die tempel. Daar was net een tempel in Jerusalem, maar op elke plek waar daar net ’n klein groepie Jode saam gewoon het, was daar ’n sinagoge. Die tempel is net gebruik vir die slag van die offers, terwyl die sinagoges vir lering gebruik is. Die sinagoges is soms die godsdienstige universiteite van daardie tyd genoem.
Die verrigtinge in die sinagoge het uit drie dele bestaan. Daar was eerstens die gebede. Tweedens is daar uit die Wet en die Profete voorgelees. Daarin het die hele gemeente deelgeneem. Derdens is die gemeente toegespreek. Daar was geen professionele prediker soos ons dit ken nie, en enigeen kon aanbied om dit te doen. As die president van die sinagoge gedink het dat die persoon geskik is daarvoor, dan het hy toestemming gegee. So het die deure en die preekgeleenthede in die sinagoges vir Jesus oopgegaan. Na die tyd kon die mense vrae vra en die boodskap bespreek. Dit was die ideale plek om ’n nuwe boodskap aan die mense oor te dra.
Jesus het egter nie net gepreek nie, maar ook die siekes gesond gemaak. Dit is geen wonder dat die nuus van wat Hy gedoen het, vinnig versprei het nie, en dat skares van oral oor aangestroom het om na te kom luister nie.
In hierdie paar verse kry ons ’n kort opsomming van die drie groot aktiwiteite van Jesus se lewe.
- Jesus het gekom om die evangelie te verkondig, of, soos sommige vertalings dit vertaal het, Hy het gekom om te preek. Hy het dus gekom om die mense se onkunde oor God weg te neem. Hy het vir hulle kom vertel en kom wys wie God is, en hoe Hy is.
- Hy het in die sinagoges kom preek. Wat is die verskil tussen prediking en lering? Prediking is die suiwer verkondiging van sekere vaste feite. Lering is die verduideliking van die betekenis van daardie sekerhede. Jesus het gekom om aan die mense die betekenis van ware godsdiens te verduidelik.
- Jesus het ook gekom om mense gesond te maak en hulle pyn te oorwin. Hy het sy woorde in dade omgesit.
Jesus het dus gekom om deur sy prediking, die mense se onkunde te oorwin. Hy het deur sy lering die misverstande oorwin en Hy het, deur die mense te genees, die pyn oorwin.
Bron: The New Daily Study Bible deur prof William Barclay, Glasgow University, Skotland
Prof William Barclay (1907-1978) was ’n wêreldbekende Nuwe Testamentiese kenner en professor aan die Universiteit van Glasgow in Skotland. The New Daily Study Bible is ’n kosbare reeks studie-Bybels wat hy aan die nageslag agtergelaat het en dit word reeds vir meer as jaar lank deur miljoene mense gebruik wat ernstig is met Bybelstudie.