STUDIE- HANDLEIDING – MATTEUS 8

’n Studiehandleiding by die lees van die Nuwe Testament

Die Evangelie van Matteus

Anita Joubert

Matteus 8:1-4 In die antieke wêreld was melaatsheid die ergste van alle siektes gewees. Een soort melaatsheid het met klein seertjies begin wat later so ontsteek het dat dit ’n onaangename reuk afgegee het. Die persoon se wenkbroue het uitgeval, sy oë het begin staar, sy stembande het ingegee, sy hande en voete het gesweer en geleidelik het die persoon een groot, swerende vergroeisel geword. Die gemiddelde tydperk wat so ’n siekte geduur het, was nege jaar. Dit het geëindig in verstandelike agteruitgang, ’n koma en uiteindelik die dood.

’n Ander soort melaatsheid het begin met die verlies van gevoel in die ledemate soos wat die senuwees aangetas is. Die spiere het inmekaar getrek, sodat die hande later soos kloue gelyk het. Die vingers en tone het geleidelik begin afval totdat daar later sommer ’n hele hand of voet afgeval het. Die duur van hierdie soort melaatsheid het enigiets van twintig tot dertig jaar geduur. Die lyer daarvan het letterlik, sentimeter vir sentimeter, doodgegaan.

Die fisiese toestand van so ’n lyer van melaatsheid was verskriklik, maar dit was baie erger vir hulle om soos dooie mense behandel te word. Die Joodse historikus Josefus, vertel dat onmiddellik wanneer so ’n persoon gediagnoseer is, is hy uit die samelewing verban. Solank as wat sy siekte geduur het, is hy as onrein beskou (Lev 13:46). In die tyd van Jesus moes persone buite die ommuurde dorpe in afsondering en verwaarlosing gaan woon. Daar was geen ander siekte wat mense so ernstig van mekaar geskei het, soos melaatsheid nie, en dit was na so ’n persoon dat Jesus sy hand uitgesteek het en hom aangeraak het. Vir ’n Jood kon daar geen meer verstommende sin in die hele Nuwe Testament wees as Matteus 8:3 nie: “Toe steek Jesus sy hand uit, raak hom aan en sê: ‘Ek wil. Word gesond!”

In hierdie storie is daar twee dinge waarna ons moet oplet, naamlik die melaatse se gesindheid en Jesus se antwoord:

  1. In die melaatse se gesindheid, sien ons drie dinge raak:
    1. Hy kom met vertroue na Jesus toe, alhoewel hy geweet dat enige ortodokse skrifgeleerde of rabbi hom met klippe sou gooi as hy naby hulle gekom het. Hy was oortuig daarvan dat Jesus vir hom kon doen wat niemand anders kon doen nie.
    2. Hy kom met nederigheid na Jesus toe, en hy sê: “As U wil, kan U my gesond maak.” Hy eis niks van Jesus nie, want dit is die nederige hart, wat van niks anders bewus is as sy nood nie, wat sy pad na Jesus toe vind.
    3. Hy kom met eerbiedna Jesus toe. Hy sou nie vir enigeen kon vertel wie Jesus was nie, maar hy het net geweet toe hy in Jesus se teenwoordigheid kom, dat hy in die teenwoordigheid van God is. Deur met Jesus Christus in aanraking te kom, kom ’n mens ook in aanraking met die liefde en die krag van die almagtige God.
  2. Jesus se eerste reaksie op die melaatse se gesindheid, is meegevoel.Hy het die gevaar geloop om ’n dodelike siekte op te doen, maar Hy steek sy hand uit en raak die man aan. Jesus het net een begeerte in sy lewe gehad, en dit was om ander mense te help. Vir Hom was daar net een wet, en dit was die wet van liefde; en dit het alle ander reëls en regulasies oorheers. Ons, as sy volgelinge, behoort ook enige risiko te trotseer om iemand anders te help.

Waarom sou Jesus vir die man gevra het om stil te bly? Ons vind ook op heelwat ander plekke in die Nuwe Testament dat Jesus dit vir mense vra (Matt 9:30; 12:16; 17:9; Mark 1:34; 5:43; 7:36; 8:26).

Die rede daarvoor was dat Palestina ’n baie digbevolkte landstreek was en die Jode het nooit vergeet dat hulle God se uitverkore volk was nie. Hulle het gedroom van die dag wanneer daar vir hulle ’n bevryder sou kom wat hulle van die Romeinse oorheersing sou bevry. Daarom was Palestina die mees ontvlambare land in die hele wêreld en rewolusies was aan die orde van die dag. Leier na leier het na vore gekom en na ’n oomblik van glorie deur die mag van die Romeinse Regering weer verdwyn. As hierdie melaatse man nou vir almal sou gaan vertel wat Jesus vir hom gedoen het, dan sou die mense onmiddellik probeer het om van Hom ’n politieke leier en militêre bevelvoerder te maak.

Jesus moes eers die mense se idees en denke verander en opvoed. Hy moes hulle in staat stel om te sien dat krag in liefde gelê het, en nie in wapens nie. Daarom moes Hy in die geheim werk totdat hulle geweet het wie Hy was, die liefhebber en nie die vernietiger van menselewens nie.

Die Jode was so ontsettend bang vir melaatsheid, dat daar ’n voorgeskrewe ritueel bestaan het vir wanneer iemand dalk daarvan gesond geword het. Hierdie ritueel word in Levitikus 14 uiteengesit, en Jesus stuur die man om dit alles net so te gaan doen. Wanneer hy dan vir ’n laaste maal ondersoek is, en hy gesond bevind is, dan kon hy ’n sertifikaat van genesing ontvang.

Matteus 8:5-13 Alhoewel hierdie offisier ’n baie kort verskyning maak op die verhoog waarop die verhaal van die Nuwe Testament afspeel, is hy een van die meer aantreklike karakters in die Evangelies. Die offisiere was die ruggraat van die Romeinse Weermag. Hulle was die permanente amptenare en was verantwoordelik vir die dissipline van die gewone soldate. In vredestye, sowel as in oorlogstye, het die moraal van die Romeinse Weermag van hierdie mense afgehang. Dit is interessant dat elke offisier waarna daar in die Nuwe Testament verwys word, met eer vermeld is. Hulle was die uitgesoekte lede van die Romeinse Weermag.

Daar was die offisier wat vir Jesus aan die kruis herken het as die Seun van God (Matt 27:54). Daar was Kornelius, die eerste bekeerling uit die heidendom tot die Christelike kerk (Hand 10:22); daar was die offisier wat skielik ontdek het dat Paulus ’n Romeinse burger was en hom van die woedende skare gered het (Hand 22:26). Daar was ook die offisier wat te hore gekom het dat die Jode beplan het om vir Paulus te vermoor tussen Jerusalem en Sesarea, en wat toe hulle planne verongeluk het (Hand 23:20). Daar was ook die offisier wat van Feliks opdrag gekry het om vir Paulus op te pas (Hand 24:23), en dan was daar die offisier wat hom ook op sy laaste reis na Rome vergesel het (Hand 27:1-3). Hy het vir Paulus met hoflikheid behandel en hom aanvaar as leier van die skip toe die storm hulle getref het (Hand 27:43).

Daar was iets baie spesiaals aan die verhouding tussen hierdie offisier en sy slaaf. Die offisier was baie bekommerd omdat sy slaaf siek was, en hy was gedetermineerd om alles in sy vermoë te doen om hom te red. Hierdie situasie was die omgekeerde van wat gewoonlik in die Romeinse Ryk te sien was. Slawe was nie vir die Romeine belangrik nie, en niemand het omgegee of hulle swaarkry, en of hulle leef of sterf nie. ’n Slaaf was net ’n ding, en hy het geen regte gehad nie. Sy eienaar kon hom mishandel net soos wat hy wou. Een van die Romeinse skrywers het geskryf dat daar net een verskil tussen ’n slaaf en ’n dier is, en dit is dat die slaaf kan praat.

Hierdie offisier was dus ’n uitsonderlike man, met sy liefde vir sy slaaf. Dit moes Jesus geraak het. Liefde bedek altyd ’n menigte sondes. Hulle wat vir ander omgee, is altyd baie naby aan Jesus Christus.

Hierdie offisier was nie net buitengewoon in sy gesindheid teenoor sy slaaf nie, maar hy was ook ’n man met ’n buitengewone geloof. Hy het begeer dat Jesus hom help en sy slaaf gesond maak, maar daar was net een groot probleem. Hy was ’n heiden en Jesus was ’n Jood. Ooreenkomstig die Joodse wet, mag ’n Jood nie in die huis van ’n nie-Jood ingegaan het nie, omdat dit, volgens hulle, onrein sou wees. Hierdie wet van onreinheid het egter vir Jesus geen betekenis gehad nie, en Hy was bereid om te gaan. Dit was toe dat die offisier se geloof sy hoogtepunt bereik het. As ’n offisier het hy goed geweet wat dit is om ’n opdrag te gee en dat daardie opdrag onmiddellik uitgevoer moet word sonder dat dit bevraagteken word. Daarom sê hy vir Jesus: “Sê maar net ’n woord, en my slaaf sal gesond word” (vers 8). Ons hoor die stem van geloof hier praat, en in Jesus se antwoord aan hom, hoor ons dat die paspoort na God se seëninge, geloof is.

In vers 11 gebruik Jesus ’n bekende en beeldryke Joodse prentjie. Die Jode het geglo dat wanneer die Messias kom, dan sal daar ’n baie groot eetmaal plaasvind waaraan al die Jode sal deelneem. Hulle het baie daarna uitgesien, en nooit daaraan gedink dat enige nie-Jood ooit nie deel daarvan sou wees nie. Hulle het gedink dat hulle God se uitverkore volk is, en dat dít op sigself genoeg was om vir hulle redding te bewerkstellig. Jesus het vir hulle kom leer dat Hy die besitting is van elke man en elke vrou, afkomstig uit enige ras, in wie se hart daar geloof is.

So het Jesus dan net gepraat, en die offisier se slaaf het gesond geword. Hierdie was ’n wonderwerk wat die mense stom gelaat het. Dit was nie so moeilik om te dink dat Jesus iemand kon genees wanneer Hy en die persoon bymekaar was nie, maar dat Hy iemand op ’n afstand kon genees net deur ’n woord te spreek, was vir hulle ondenkbaar. Hulle is gekonfronteer deur ’n krag wat nie deur normale kanale gewerk het nie.

Matteus 8:14-15 Wanneer ons Markus se weergawe van hierdie gebeure in Markus 1:29-34 vergelyk met dit wat Matteus hier vertel, dan sien ons dat dit in Kapernaum gebeur het, op ’n Sabbat, nadat Jesus in die sinagoge aanbid het. Wanneer Jesus in Kapernaum was, was sy hoofkwartier in Petrus se huis, want Jesus het nooit ’n huis van sy eie gehad nie. Petrus was getroud, en volgens oorlewering was sy vrou later sy helper in die werk wat hy gedoen het. Die kerkvader Clement van Aleksandrië het geskryf dat Petrus en sy vrou saam gemartel is. Hy moes aanskou hoedat sy vrou eers gemartel word, voordat hy self ’n marteldood moes sterf. Hy het skynbaar aanhoudend uitgeroep om haar te bemoedig: “Dink net aan ons Here, Jesus!”

Met hierdie geleentheid was Petrus se skoonmoeder siek en het koors gehad. Daar was drie soorte koors wat baie algemeen was in Palestina. Die eerste was Maltakoors, wat deur swakheid en bloedarmoede gekenmerk was en wat maande geduur het. Dit het dikwels tot die dood gelei. Dan was daar ’n koors wat gekom en gegaan het, amper so iets soos tifuskoors, en laastens was daar malaria. Kapernaum was ’n malariagebied en die moontlikheid was baie goed dat dít was waaraan Petrus se skoonmoeder gely het.

Ons lees nie baie van die vrou wat genees is nie. Van Jesus se doen en late verneem ons heelwat in hierdie Skrifgedeelte. Hy het pas teruggekeer van die sinagoge waar Hy die duiwelbesete man gesond gemaak het (Mark 1:21), dan vertel Matteus vir ons van die offisier se slaaf wat Hy genees het op pad terug huis toe. Hierdie wonderwerke het nie niks van Jesus geverg nie. Krag het van Hom uitgegaan met elke genesing, en Hy moes verseker moeg gewees het. Hy het na Petrus se huis gegaan om te rus, maar daar het nog ’n taak op Hom gewag.

Hier was geen skare wat Hom dopgehou en verbaas was oor wat Hy gedoen het nie. Hier was net ’n eenvoudige huis en ’n arme ou vrou wat baie siek was. Die menslike nood was nooit vir Jesus te veel nie. Geen situasie was vir Hom te eenvoudig of te nederig nie. Hy het nie toeskouers nodig gehad om sy krag en sy liefde tot die beskikking van iemand wat Hom nodig gehad het, te stel nie.

Ons lees ook iets belangrik van die vrou wat genees is. Onmiddellik nadat sy genees is, het sy begin om na Jesus en die ander gaste se behoeftes om te sien. Sy het haarself duidelik gesien as “Gered om van diens te wees.” Sy het die geskenk van haar herstelde gesondheid gebruik in diens van haar Here.

Matteus 8:16-17 Uit Markus se weergawe van hierdie reeks gebeure, kan ons baie duidelik aflei dat dit op ’n Sabbat plaasgevind het (Mark 1:21-34). Dit verduidelik vir ons waarom hierdie genesing so laat in die dag plaasgevind het. Volgens die Joodse wet, wat alle werk op ’n Sabbat verbied het, was dit onwettig om op ’n Sabbat te genees. Slegs diegene wat in lewensgevaar verkeer het, mag aandag geniet het. Die Sabbat het amptelik verstryk wanneer daar twee sterre in die lug sigbaar was, want daar was nie horlosies om die tyd aan te dui nie. Dit verklaar vir ons waarom die skare in Kapernaum gewag het totdat dit aand was, voordat hulle na Jesus toe gekom het om genesing te vra.

Jesus het alreeds ’n hele aantal mense genees op daardie Sabbat. Hy het sonder twyfel ook die hele dag geleer en gepreek, en Hy was verseker baie moeg. Sonder om te kla en met goddelike vrygewigheid, het Hy egter almal se behoeftes vervul. Solank daar iemand was wat in nood verkeer het, was daar geen rus vir Jesus nie. Met die vertelling van hierdie gebeure, dink Matteus terug aan dit wat Jesaja gesê het: “Tog het Hy óns lyding op Hom geneem, óns siektes het Hy gedra” (Jesaja 53:4).

As volgelinge van die Here Jesus kan ons nie gaan rus terwyl ander mense in nood verkeer nie. Die vreemdste van alles is dat ons moegheid verdwyn en ons met nuwe krag verkwik voel wanneer ons ander mense dien. Op een of nader manier kry ons altyd nuwe krag wanneer daar eise aan ons gestel word, en vind ons dat ons kan voortgaan terwille van ander mense.

Matteus 8:18-22 Met die eerste oogopslag lyk dit asof hierdie gedeelte nie in ’n hoofstuk hoort wat net van ’n reeks wonderwerke vertel nie. Waarom sou Matteus dit hierin neergeskryf geskryf het? Dit mag wees omdat Matteus se gedagtes, nadat hy Jesaja 53:4 aangehaal het, aanbeweeg het en hy verder aan Jesus gedink het as die lydende Dienskneg. Die teoloog, A Plummer, het gesê dat Jesus se aardse lewe begin het in ’n geleende stal en geëindig het in ’n geleende graf.

Tog is dit meer waarskynlik dat Matteus hierdie gedeelte in ’n hoofstuk van wonderwerke geplaas het, omdat hy dit ook as ’n wonderwerk gesien het. Dit was ’n skrifgeleerde wat vir Jesus wou volg. Hy gee aan Hom die hoogste titel van eer wat hy geken het, naamlik “Leermeester.” Die Griekse woord is didaskalos, wat die algemene vertaling is vir die Hebreeuse woord, rabbi. Vir hom was Jesus die grootste leermeester wat hy nog ooit gehoor lering gee het. Dit was inderdaad ’n wonderwerk dat enige skrifgeleerde aan Jesus daardie titel gee en Hom graag wil volg. Jesus het gestaan vir die beëindiging van al daardie kleinlike wettisisme waarop die skrifgeleerdes se godsdiens gebaseer was. Dit was dus inderdaad ’n wonderwerk dat hierdie skrifgeleerde enigsins iets mooi en begeerlik in Jesus gesien het.

Dit het al dikwels deur die eeue gebeur dat mense die Here Jesus gevind het, deurdat iemand anders wat die Here dien, ’n groot invloed op hulle lewens gehad het. Dit is dikwels nie nodig om met mense oor Jesus te praat nie, maar om hulle met Jesus te konfronteer en om Jesus se persoonlikheid toe te laat om die res te doen.

Daar is egter meer as net dit. Jesus vertel baie vinnig vir die skrifgeleerde dat jakkalse gate het en voëls neste om in te rus, maar dat die Seun van die mens nie ’n rusplek vir sy kop het nie. Dit is asof Jesus vir hom sê dat hy baie mooi moet dink voordat hy besluit om Hom te volg. Hy moet eers die koste bereken.” Jesus wil nie volgelinge hê wat deur emosie voortgesweep word nie, wat vinnig opvlam en weer net so vinnig doodgaan nie. Hy wil dissipels hê wat weet wat hulle doen. In Matteus 10:38 sê Hy dat diegene wat nie sy kruis opneem en Hom volg nie, nie werd is om aan Hom te behoort nie. In Lukas 14:26 sê Hy dat elkeen wat na Hom toe wil kom en sy dissipel wil wees, moet afstand doen van sy eie familie en selfs ook van sy eie lewe. In Matteus 19:21 sê Hy dat ons bereid moet wees om alles wat ons het, weg te gee vir die armes voordat ons Hom kan volg. Ons moet bereid wees om die prys te betaal.

Jesus was absoluut eerlik en niemand sal ooit kan sê dat hy om die bos gelei is nie. Ons doen ander mense nie ’n guns om hulle te laat dink dat die pad van ’n Christen ’n maklike pad is nie. Aan die einde van daardie pad wag daar vir ons die heerlikheid van God. Die pad na sy heerlikheid bevat egter altyd ’n kruis.

Een man wat graag vir Jesus wou volg, wou net eers graag sy vader gaan begrawe. Jesus se antwoord aan hom klink hard en ongevoelig: “...laat die dooies hulle eie dooies begrawe.” Vir die Jode was dit ’n heilige taak om vir ’n afgestorwe ouer ’n goeie begrafnis te gee. Toe Jakob dood is, het Josef vir Farao toestemming gevra om sy pa te gaan begrawe (Gen 50:4-6). Deur die eeue is daar al heelwat verduidelikings deur Bybelnavorsers gegee vir hierdie woorde van Jesus. Sommige het gesê dat dit nie goed vertaal is nie. Ander het gesê dat Jesus net bloot bedoel het dat die man so vinnig as moontlik uit die sondige wêreld moes padgee, al sou dit beteken dat sy vader nie begrawe word nie. Barclay sê egter dat die ware verduideliking lê in die manier waarop die Jode gepraat het. Hulle sou byvoorbeeld sê dat hulle eers ’n vader moet begrawe, terwyl hy nog springlewendig en gesond is. Daarmee bedoel hy dat hy nog eers sy pligte teenoor sy pa en sy familie moet nakom, al sou dit nog baie jare kon duur om af te handel. Hy het ongetwyfeld bedoel dat hy vir Jesus eendag sou volg, wanneer sy vader dood is en hy vry is om te gaan. Hy het dit dus vir baie jare uitgestel.

Jesus het geweet as die man nie onmiddellik besluit om Hom te volg nie, dat hy dit nooit sal doen nie. Telkemale kom daar in ons lewens die begeerte om ewige dinge na te streef, maar so dikwels laat ons dit verbygaan sonder om op die begeerte te reageer.

Die tragedie van die lewe is so dikwels die tragedie van ’n onbenutte kans. Ons word so dikwels beweeg om op te tree, om met sonde of ’n swak gewoonte te breek, om iets bemoedigend vir iemand te sê, om iemand te waarsku, maar as die kans verby gegaan het, dan is daar nie met die sonde gebreek nie en die persoon is nie bemoedig of gewaarsku nie. In die beste van ons is daar ’n mate van luiheid en ’n neiging om uit te stel. Daar is in ons ’n mate van vrees en besluiteloosheid, maar daardie oomblik kan nooit weer terug gedraai word nie.

Jesus sê eintlik vir hierdie man dat as hy voel dat hy moet padgee uit die dooie gemeenskap waarin hy vasgevang is, moet hy dit nou doen, anders sal hy dit nooit doen nie.

Mag God aan ons die krag gee om die regte besluit te neem wanneer die geleentheid hom voordoen wat ons sal bewaar van die tragedie van ’n onbenutte kans.

Matteus 8:23-27 Hierdie toneel was baie algemeen op die See van Galilea. Die See is klein: een en twintig kilometer van noord na suid en dertien kilometer van oos na wes op sy wydste deel. Die Jordaanvallei vorm ’n diep kloof in die aarde se oppervlakte en die See van Galilea maak ’n deel van daardie kloof uit. Dit is ongeveer tweehonderd meter onder seespieël. Dit veroorsaak dat dit baie warm, maar ook baie gevaarlik word. Aan die weste kant is daar heuwels en valleie waardeur die wind baie skielik met verwoede geweld kan waai en geweldige storms op die See van Galilea veroorsaak. Gedurende so ’n storm voel dit asof die wind van alle kante af waai soos wat dit deur die nou klowe kom en die water tref. Die helder sonskyn kan maklik binne dertig minute in ’n verwoede storm ontaard. Dit is wat met Jesus en die dissipels gebeur het. Die Griekse woorde wat Matteus gebruik om die gebeurtenis te beskryf, is kleurvol. Die golwe was so hoog dat die boot weggesteek was daaragter, en Jesus was vas aan die slaap! Volgens die beskrywing van hierdie gebeure deur Markus (Mark 4:1; 35), sien ons dat Jesus die boot gebruik het as ’n kansel sodat Hy vir die mense kon preek. Hy was ongetwyfeld moeg en uitgeput. Sy dissipels maak Hom wakker, en die storm bedaar.

Daar is egter baie meer in hierdie gebeure as net dat Jesus ’n woedende storm stilgemaak het. As dit al is wat ons in hierdie verse kan lees, dan skep dit vir ons baie probleme vandag. Dan kan ons vra waarom doen Hy dit nie vandag nie en waarom gebeur dit dat Christene soms verdrink in die see of in vloede, sonder dat Jesus inmeng en hulle red. Die bedoeling van hierdie verhaal is egter veel groter as dit. Jesus het nie net ’n storm op die See van Galilea stilgemaak nie. Die betekenis van hierdie gebeure, is dat oral waar Jesus is, die storms van die lewe bedaar. In Jesus se teenwoordigheid verander die ergste lewenstorm in vrede. Wanneer die koue, grougrys wind van hartseer waai, dan is daar troos in Jesus se teenwoordigheid. Wanneer die warm wind van woede en ontsteltenis waai, dan is daar vrede en sekuriteit in Jesus se teenwoordigheid. Wanneer die storms van twyfel dreig om die fondament van ons geloof te ondergrawe en te laat intuimel, dan is daar vastigheid in die teenwoordigheid van Jesus. In elke storm wat ’n mens se hart kan skud, is daar vrede saam met Jesus Christus.

Matteus 8:28-34 Daar moes beslis onsekerheid gewees het in die herinneringe van die skrywers van die Evangelies, oor presies waar hierdie gebeurtenis plaasgevind het. Ons kan dit aflei uit die weergawes van die eerste drie Evangelies. Matteus praat van die “land van die Gadareners,” terwyl Markus en Lukas sê dit het in “die land van die Geraseners” plaasgevind. Niemand kon die regte plek nog ooit bo alle twyfel identifiseer nie, maar dit is baie onwaarskynlik dat dit die land van die Geraseners kan wees. Die enigste Gerasa waarvan daar inligting bestaan, was ongeveer agt en vyftig kilometer vanaf die See van Galilea af die binneland in. Jesus het verseker nie so ver die binneland in gereis nie. Gadara was net so ongeveer 10 kilometer die binneland in en sou ’n baie geskikte plek gewees het vir ’n begraafplaas. Daar was egter ook ’n plek met die naam Gergesa, en van die latere kerkvaders glo dat dit eerder die plek was waar die wonderwerk plaasgevind het. Die mense wat die manuskripte oorgeskryf het, het Palestina nie goed geken nie, en daarom het daar verwarring ontstaan.

Die mense in die antieke tyd was baie bewus van die bestaan van bose geeste, en ook hoe gevaarlik hulle was. Daar was, en is vandag nog, verskillende sieninge vir die oorsprong van hierdie bose geeste. Sommige mense glo dat hulle reeds daar was toe God die aarde geskep het, en dat hulle engele was wat saam met die duiwel in opstand teen God gekom het en saam met hom uit die hemel uitgeskop is. Daar is ook ’n verbintenis met die vreemde storie in Genesis 6:1-8.

Aan hierdie bose geeste is alle siektes toegeskryf, en hulle het ook van mense besit geneem.

Toe Jesus aan die ander kant van die meer gekom het, is Hy tegemoet gekom deur twee demoonbesete mans wat tussen die grafte gewoon het. Hierdie mans was so aggressief dat hulle gevaarlik was vir verbygangers en hulle het wye draaie om hulle geloop. Jesus toon buitengewone moed wanneer Hy stop om met die mans te praat. As ons werklik die fynere besonderhede van die storie wil lees, dan moet ons dit in Markus se weergawe doen (Mark 5:1-19). Hierdie is ’n wonderwerkstorie wat deur die eeue baie bespreking uitgelok het, en die bespreking het altyd gegaan oor die vernietiging van die trop varke. Baie mense het dit as harteloos beskou dat Jesus toegelaat het dat ’n hele trop varke in die see beland en verdrink. Tog het Jesus dit nodig geag om vir hierdie mans op ’n sigbare wyse te wys dat hulle van die demone bevry is.

Ons kan nooit die waarde van ’n mens se siel, wat tot in alle ewigheid leef, opweeg teen die waarde van ’n trop varke nie. Ons moet oppas om nie oordrewe te wees in ons simpatie met die varke nie. Wanneer ons ’n lekker stukkie ontbytspek kan eet, dan verhoed ons simpatie met die varke ons nie om dit te doen nie. Dit beteken nie dat ’n mens wreedheid teenoor diere aanmoedig nie, maar ons moet balans in die lewe handhaaf.

Die tragiese van die gebeure lê eintlik in die einde daarvan. Toe die wagters in die dorp gaan vertel wat gebeur het, was die resultaat dat die mense van die dorp vir Jesus gesmeek het om asseblief weg te gaan. Hier sien ons selfsug in sy uiterste vorm. Dit het glad nie saak gemaak dat twee mense van bose geeste bevry is nie, al wat vir hulle saak gemaak het, was dat die varke daarmee heen is. Ons sien so dikwels mense wat sê: “Dit maak nie saak wat met iemand anders gebeur nie, solank my gemak en my finansies net nie daardeur geraak word nie.”

(Matteus 9 vervolg)...